![]()
Hennie Nortjé is gebore in George in 1956. Hy studeer as internis en diabetoloog en gaan woon op Stellenbosch. Hy volg ’n kursus in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Kaapstad onder leiding van prof. Joan Hambidge. In 2012 debuteer hy met In die skadu van soveel bome (Queillerie), en wen daarmee die Ingrid Jonker Prys vir Poësie asook die Eugène Marais prys vir ’n debuutwerk. Sy belangstellings sluit in Natuurwetenskap, Geskiedenis en Antropologie. Hy is getroud en het drie kinders. |
fans
ek woon nou in ‘n stad
‘n verligte stad hoog bo-op ‘n berg
en orals in die strate stap die mense hand aan hand
so aangedaan wals hulle al agter hulle glimlagte aan
want in elke sak
af in elke steeg en laan
dra die fans uitbundig
my bundel met hulle saam
want almal hier
is gek oor poësie
en elkeen lees Afrikaans
wil jy glo
besoekers gebruik dit as ‘n gids
op pawiljoene keer toeskouers daarmee
die son uit hul oë
op die bloedige plein waai ‘n vrou haar koud
met ‘n sweterige eksemplaar
dis selfs beskikbaar neffens die kleinkoekie-tafel
jaarliks by die kerkbasaar
kleuters resiteer dit in ‘n koor
(oor en oor en oor)
ook vir hoërskoolleerlinge skryf hulle dit gereeld nou voor
en sjoe
op die rak van elke supermark
pryk dit tussen die Huisgenoot, die Garden and Home en die You
leeskringe bespreek die inhoud week vir week
op Radiokansel weef die pastoor
my teks treffend in in sy preek
en êrens onner ‘n muwwe brug hoor ek ‘n bergie sug:
“Nou hoe maak ‘n man dan vuur met sulke kak papier?”
(© 2007 Hennie Nortjé)
Baie dankie,hier is die potgooi as nog iemand sou wou luister
Vers en klank 16 Julie 2024 https://omny.fm/shows/vers-en-klank/vers-en-klank-16-julie-2024
Het die voorlesings oor die Wildtuin op Rsg vanaand baie geniet. Was baie spesiaal, rakend en emosioneel. Dankie. Herman van Niekerk. herman@ertsasolburg.co.za