Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009).

Sy is ’n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ’n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad. Hambidge behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman – ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer.

Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ’n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugéne Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

Luister na die video-greep hier van ‘n voorlesing van haar verse tydens Versindaba 2007 in Stellenbosch.

Die volgende tekste het sedert 1995 verskyn:

Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.

Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995.

Swart koring. Human & Rousseau, Kaapstad.1996.

Ewebeeld. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1997.

Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998.

Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998.

Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001.

Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002.

Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004.

En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005.

Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2006.

Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2008.

Kladboek. Protea, Pretoria. 2008.

Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad.2009.

Visums by verstek. Human & Rousseau, Kaapstad. 2011

 

Gustave Flaubert (1821 – 1880)

“Madame Bovary, c’est moi”.

Altyd op soek na “le mot juste”.

Immer geskryf in afsondering en stilte.

Lewe geen Kasteel van Harte

nadat Louise Colet jou verlaat;

uitgespeel in die Revue de Paris.

Altyd op soek na “le mot juste”.

Teenstand word jou muse:

vriende en vertrouelinge

afwysend oor jou kontrapunt.

Immer geskryf in afsondering en stilte.

Skryf vir jou ‘n perpetuele orgie,

‘n onnoembare, steurende ekstase,

beter as ‘n Sentimentele Opvoeding.

Altyd op soek na “le mot juste”.

In vele hoerhuise besoek jy

prostitute van beide geslagte:

dra ‘n Kaïnsmerk van dié vergrype.

Immer geskryf in afsondering en stilte.

Niemand kon soos jy afwysing verdoesel,

‘n afsêbrief onder ryp appelkose plaas,

én liefdesonvreug uitspeel tot ‘n slotakkoord.

Altyd op soek na “le mot juste”.

Immer geskryf in afsondering en stilte.

© Joan Hambidge. April 2011

*

 

Liz Taylor

One take Liz”,

altyd perfek, reg

en so gereed vir die kamera:

so two-step sy deur die mynveld

van kritiek, vele huwelike én omstredenheid.

“Sukses is ‘n deodorant”, meen sy nonchalant.

Gooi haar blouswart hare terug, stal juwele uit,

fnuik nog ‘n siekte, troef gladdebek Larry King

met ‘n vinnige rughandhou. Advantage, Ms Taylor.

Kinderster, Cleoptra en ‘n latter day-Koningin

van glans: voor en agter die kameras,

toe dit nog rol, kon sy met presiese tydsberekening

‘n mede-ster (of opponent) van die baan af speel.

Hartsiektes, osteoporose; niks bring haar van stryk.

“Roll on Liz”, bits ‘n koerantopskrif neffens haar in ‘n rolstoel.

O ja, sy was ‘n glimmerende koket-van-die-baan,

sal dit altyd bly, met of sonder Richard Burton,

minnaars wat kom en gaan, in ‘n verbete afslaan

of ‘n bal wat net-net oorbons: selfs laat vir haar eie begrafnis,

‘n weergalose ster, flonkerend oor die media-baan.

Forty-love 

 

© Joan Hambidge. April 2011

*

 

Derdeoog

Op ‘n markplein in Athene

sit ‘n ou man met pêrels op sy oë:

in sy ónsienlike bestaan kyk

hy na die gewerskaf, hoor die geredekawel

en, glo my vry, voorspel hulle

dat hy eendag weer sal sien.

Op die vismark glinster ‘n visoog,

kieue oopgeskeur, skubbe afgekrap.

In daardie blindeoog,

in daardie visoog, staar iets terug.

‘n Siener voorspel reise na orals

en nêrens, ‘n lewe van oorvloed.

Op daardie markplein in Athene

was daar ‘n man en ‘n vis,

beide was kortstondig hier,

vasgevang in die lens van ‘n kamera,

in die blindekol van ‘n optelvers,

presies in die derdeoog se hoek.

© Joan Hambidge. Maart 2011

*

 

The well-wrought urn

Vir Breyten Breytenbach

Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks

die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.

‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,

verlore drome en veral ónwillige lesers.

Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand

dink ek na oor die gedig se lewensloop:

uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!

Hef aan lê voor, want die gedig

mag kruikvormig, dus urkeolaties

met ‘n eerste oogopslag lyk;

of soos die uvea van kleur verander,

dog word met elke lesing ge-usukap,

bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…

Boonop word vertelle ‘n vers se uvula

word deur stiksienige kritici uitgekap.

Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks

die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.

© Joan Hambidge. Feb. 2011

*

Droom

 

In die vertreksaal van ‘n lughawe

versoek jy my om jou tasse

op daardie reis saam te neem.

Jy praat woordeloos met my

deur die koue glas waar geliefdes

afskeid neem, terugdraai, vir oulaas omkyk

hoe iemand deur die doeanepunt beweeg.

Jy het my alles geleer van om-alleen-te-reis,

van die gedig wat swaardra aan stempels,

visums na onbekende streke van die hart.

In daardie vertreksaal van my droom

soek ek vervaard na my eie bagasie,

ontdek my tas in die aankomssaal

volgeprop met verse en drome

en mites en kleitablette en vrese.

‘n Droom is ‘n apostroof, ‘n palindroom,

dit laat iets weg én voeg by.

Dit is ‘n vingerwysing, ‘n dubbelpunt,

‘n weerkaatsing – dalk ‘n aankomssaal

waar die geliefde, allesbegrypende leser

jou woordoordadig dog in stilte ontvang?

© Joan Hambidge. Jan. 2011

 

*
Bookmark and Share
  •