![]() Meyer Janse van Rensburg is op 4 Julie, 1944, in Upington gebore as die jongste seun in ’n familie van sewe kinders. Hy het as plaasseun in Noordwes grootgeword, eers in Upington en later in Kimberley omgewing, voordat die familie na Brits toe trek, waar hy gematrikuleer het. Hy sluit in 1962 by die SAUK aan en werk as musiekopname-ingenieur, totdat hy tien jaar later by RPM-platemaatskappy aansluit as hoofmusiek-ingenieur. Toe die televisiediens begin, word hy herroep om die lewendige musiekuitsending by televisie te hanteer. Hy begin lirieke vir musiekkunstenaars skryf, onder andere vir Glenys Lynne, Sias Reinecke, Malie Kelly, Maria en Gene Rockwell. Dit lei dan tot die begin van sy skryfloopbaan as digter en in 1983 verskyn sy eerste digbundel, Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat baie gunstig deur die kritici ontvang was en bestempel was as ’n bundel waar “die taalklank en die semantiese waarde van die woord kommunikatief gebind word” (T.T. Cloete: “Die digbundel is meer as die gewone”, (Oosterlig, 27Okt., 1983), asook dat dit ’n vernuwing in die Afrikaanse digkuns bring as gevolg van die bybring van die tegniese sy van die klankwêreld in die poësie. In 1982 ondergaan van Rensburg se lewe ’n groot omwenteling omdat hy ’n weergebore Christen word en hom toespits op die teologie. Hy word ’n Bybelskoolleraar en deeltydse omroeper by Radio Kansel en Punt Geselsradio. Nadat hy sy doktorsgraad in teologie verwerf het, verhuis hy oorsee na Engeland, waar hy by universiteitskolleges as lektor klasse gee in teologie en handleidings vir die teologiese studente skryf en hom verder toespits op die skryf en publikasie van sewe Engelse Christen boeke, reise in Europa en om in olieverf te skilder. Nadat Gisella Ulyatt hom in 2015 in Londen opspoor en vier rubrieke oor hom in Versindaba plaas, kontak Daniel Hugo hom ’n paar jaar later en hits hom aan om weer in Afrikaans te begin skryf. Die gevolg was die verskyning van sy bundel, Heenkoms (Imprimatur) in 2021, wat besondere goeie verslae van Joan Hambidge (“ …’n woordvaste digter wat uit ’n vreemde landskap terugkyk na Van Wyk Louw en Opperman…. en daar is nie een swak vers in die bundel nie”), Nini Bennett (die fonologiese, semantiese, morfologiese of sintaktiese moontlikhede van die taal word maksimaal geëksploiteer… in ’n digterlike vernufspel”), asook Cas Vos (wat die oorspronklike keuring gedoen het) (“…’n gerypte en volwasse bundel, sonder motgevrete gedigte… van ’n bedrewe woordman”). Heelwat van sy gedigte handel oor die lewe in die vreemde, soos “This green and pleasant land”;“Thomas Boleyn”; “Winston Churchill”; “Parlementsplein”, “Londen”; en “Bournemouth-strand” (onderwerpe wat nie baie in die Afrikaanse poësie behandel word nie), maar daar is ook verskeie ander gedigte wat terugkyk na die digter se heenkoms uit Suid-Afrika, bv. “Ganspan”; “Wolhuterskop”; en die tweede afdeling bevat steeds gedigte uit van Rensburg se werk as klankman by die televisie. Van Rensburg se volgende bundel is op pad, en hier is ’n paar van die gedigte wat daarin sal verskyn, want die wêreld van klanke en kleure en krieket maak nog steeds ’n groot gedeelte van sy lewe uit, soos ’n mens kan waarneem in die omslagskildery van Heenkoms, wat die digter self geskilder het.
Lys van publikasies:
Afrikaanse poësie: Klankmanwoordboom, (Human en Rouseau, 1983) Heenkoms, (Imprimatur, 2021)
Engelse Christen prosa: Brother to Brother: A Handbook for the Study of Covenants (Whitmore Publications,, Pittsburgh, Pensylvania, 2006) A Dwelling Place for God: A Handbook for the Study of the Tabernacle (WPS; London, 2008) God & sons: A Study in the the Fatherhood of God (WPS, London) 2012 Images of Christ in Genesis, Volume One (WPS, London) 2012 Images of Christ in Genesis, Volume Two (MvR publishing, London) 2 014 Images of Christ in Genesis, Volume Three (MvR Publising, London) 2014 The Cure for Today’s Dying Church: The Wellspring of Life (Revival Waves of Glory Book Publishing, Litchfield, Illinois.), 2018 |
Vincent: Sonneblomme en sipresse
behep met kleur en lig en son
in elke verfhaal wat jy maak
soek jy die lewensbron
van die geheel
daarom die geel-op-geel-op-geel:
stamp die kwas in elke blomgesig
sodat die plakke olieverf
kan blok en stol en krul
tot stam en blaar en bloeisel
elke blanko seildoek en houtskilderbord opvul
en vir nou eers nié die koringland en kraaie
of knoestige stamme en geknakte wortels
wat dorstig kronkelkoers vir water
nie dis vir veel later
nou net sonkleurblomme
met harlekyngroen stingels
impressionistiese strepe, fleurige diepkrapvore
van dartelende kwasstele en paletverfmesse
om die donker sepia blommestamper
en kadmiumgroen kelkblare
met vrolike saffraan- en ambergeel botsels
te verenig, te versoen
en só jou bloeiselsonveld te laat straal
om die geel huis op te kikker
die ligspel neem jou só geheel in beslag
dat jy sommer vir dié somer twaalf sonneblomskilderye maak
en ek is gek oor almal en nog meer
selfs die later sterlignagsipresse
met hul abnormale krulstam-semi-esse
en karinkelstrepe wat die maan omkring
en krukwiel ry
sodat dit lyk asof die besterde hemeldak vergaan
maar een ding moet ek nog verstaan:
dié besnydenis van die oor
wat jy doen met eie hande:
was dit ’n geskenk, ’n korbanofferande
of het jy toe al klaar te veel verdriet gehoor?
*
Beeldbouer
aanvanklik moet ek
die dooie growwe klei
met my vingers knie
en goed vermeng
met ’n sagter pappery
om die regte digtheid te verkry dan die ronderige
bal
van die
kop beplan
neus oë
mond
ken
met nek skouers arms
aangelas aan
die
dun
ge-
raam-
te
heupe bene
met spiere
wat bult
of ontspan
tot by
die
hak en tone
wat platvoet(s) op die aarde
staan
eers dan kan ek daaraan dink
om dit verder te verfyn
sodat persoonlike eienskappe
begin verskyn
ek wil so graag polsende
lewe
in die hart laat klop
die oë laat flits
die brein laat dink
en dié mensbeeld laat spring en rits
laat sit en staan en dink
en loop
as ek asem in die longe blaas
maar weet dat ek myself
dan as mens sou misplaas
daarom bak ek hom ’n tydlank in die oond
om hom hard en stil en dood
te kry
en ek gewoond
om net na-aper, bouer van beelde, te bly.
*
Digterboulwerk
(i)
As die veldwerkers my boulbal reg kan lees
sal daar nog ’n paaltjie vir ons wees
maar hulle werk beter met my mee
as ek hulle die regte plek en tekens gee:
met my woordklanke korrek getint
kry die leser soveel makliker die .
(ii)
my vingergreep, hoe ek vat
aan die bolrondsfeer: hoe ek dit laat draai,
dit los en, digterby, waar dit land op die blad,
bepaal die uitkoms en swaai
voor verklaarders dit vertolk en laat weerklink
met naklanke van al die gedink
©Meyer van Rensburg