Ryan Pedro is in 1993 in die Kaap gebore. Meeste van sy grootwordjare is in Kakamas en Vredenburg/Saldanha deurgebring. Tans is hy besig met sy MA in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Hy woon in Gordon’s Baai, waar hy voltyds as skrywer werk (draaiboeke vir televisie, persoonlike skryfprojekte). In 2017 is van sy gedigte opgeneem in Nuwe Stemme 6 en sy debuutbundel, Pienk ceramic-hondjies, verskyn in 2020. Op die vraag hoekom hy gedigte skryf, antwoord hy: “Die skryf van poetry is en sal altyd vir my ’n alluring practice wees. Dis challenging, dis fun en dit het ’n soort urgency wat ek nie met ander forms experience nie. Beteken nie ek sal nooit short stories of novels skryf nie. Poetry is net my first love. Dit allign perfectly met my personality. Especially omdat ek ’n introvert is. Dis soos om die enigste persoon met ’n hoodie aan in ’n crowd mense te wees. Jy kan kies wat jy aan hulle wil reveal, hoe en wanneer.” |
die dag toe uncle fanta vir homself opgestaan het
was almal geskok: oom stefaans
haai nee ralph kan dit wees vra aunty bekkie
maar daddy belowe godsewaarheid
en teen die tyd
wat hy die graaf neergesmyt
en die kruiwa omgetrap het
was daddy en uncle tinkie so dik van die lag
vir hulle eie corny ass jokes
hoe ’n dop vir oom stefaans
in uncle fanta laat morph
is soese steroid ou pel
dan breek hulle vir hulle as
uncle fanta op die grond neerval
en met sy vingers
die grond en klippe en blare
wat rondom hom lê teen sy knieë ophark
oor sy basbruin corduroy tot in sy skoot
terwyl hy skree
ek het hard gewerk,
ek soek my geld
maar daddy sê
net nuu man fanta man
staan op haa en kô haal vi jou nogge dop
maar uncle fanta begin te ween en te skop
en daddy en uncle tinkie te lag en te lag.
weke later is oom stefaans weer terug
om te hark, blare weg te ry, walletjies
op te spit
alles asof niks gebeur het nie.
ek’t altyd vir hom gewag om
een vrydagmiddag net die graaf
op te tel en casually
hulle gesigte in te kap.
hy het nooit.
hy’t soos altyd net gestop vir sy dop
terwyl daddy en uncle tinkie gesels oor uwk se dae
in woorde waarin hy net sy Boxertwak kan oprol
tot sy binneste eendag swart geraak het.
*
mamma maak ’n plate vir alex
met van die leftovers
ek wietie waantoe hy nouwee issie
sieke wee al agte haai meid an hie op
innie hopland in
tussen dai see van hyse
hoe kô jy daa yt as haai plek vi jou insluk
sy hande op jou bôs druk ek wietie
ma sê my pa maa ek is op vi daai klong se kak
en net daar kom alex sopnat ingestap
ek is honge ma en mamma sê
ja jy gan nog vi my
ytie hys yt vriet
voo jy my hie yt syp
alex lag en daddy lag
ek sit op die settee en lag
toe alex bord op sy skoot
langs my kom sit en ’n hadder
se oë uit sy kop uit grawe
en begin eet en hy skielik ’n graat insluk
sy hande op sy bors druk
terwyl mamma en daddy in die kombuis lag
en lag
en alex na sy asem snak
soos ’n viskop bo water
die bangste wat ek hom al gesien het
die nodigste wat hy al vir mamma gehad het
toe sy finally met ’n stuk droë brood
ingehardloop kom dé vriet
waavoo ek jou help wiet die Here allien
môre oomôre issit ek wat
hie oppie mat
lê en spartel
en snak
na my asem.
*
somer
vir Pulani
Look at the sun, all we need to see to know our freedom
Open up your heart, if we don’t love then we fall apart
– Vince Staples, Summertime
soms kan jy net sien
as iets uit plek uit is.
soos die bloekoms by die seunstoilette
wat lank na die wind al weg is
steeds met hul maer arms
dieselfde rigting in strek.
of wanneer hulle wortels
uit die grond uit klim,
soos tone uit ’n skoen
terwyl hulle staan en droom
van mooier plekke
as hier.
© Ryan Pedro / 2020