![]() Selwyn Milborrow is op 21 Augustus 1967 in Port Elizabeth gebore. Ná matriek werk hy by die plaaslike biblioteek as assistant bibliotekaris. Hy volg daarna ‘n BA-kursus in letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit. Sy eerste kortverhaal is deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gepubliseer. Sy gedigte verskyn in publikasies Ons kom van vêr – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans by Naledi, As die son kom oogknip, Vensters van die hart, en Weaving the Fabric, ‘n projek tussen Swede en Suid-Afrika. Selwyn is ’n stigterslid van SKOP (Skrywerskring van die Oostelike Provinsie). Hy was vyf jaar lank ’n rubriekskrywer vir Die Burger se ‘Van alle kante’ rubriek. In 2005 is hy gekies om onder die toesig van Daniel Hugo en Joan Hambidge, deel te neem aan Sanlam/LitNet se aanlyn-skryfskool in die poësie afdeling. Milborrow het ook slypskole saam met Belgiese jeugskrywers by plaaslike hoërskole in Port Elizabeth aangebied. Sy digbundels Poësiepalet, en Drieluik, met onder andere Vincent Oliphant en Diana Ferrus, verskyn later by Vivlia Uitgewers. Albei bundels was vir hoërskole voorgeskryf. Sy nuutste digbundels sluit in The Write Side (2015), Diglossos (2019), en Poetryopia (2022). |
Die vredemaker
18 Julie is vir elke landsburger ’n oomblik vir stilstaan. Dan móét ons mooier luister om mekaar beter te verstaan; nederig en sonder enige kwaad. Madiba het vrede en versoening gepreek en gespreek. Hy het saam met Betsie tee gedrink en met Diana geselsies gehad oor mensehaat en sy Springboktrui by die 1995-rugbywêreldbeker. Madiba se heengaan laat ’n leemte, en hierdie reënboognasie stort hartseertrane. Lala ngoxolo, Madiba.
©Selwyn Milborrow /LitNet 2017