Susanne Pike is in Groblersdal, Mpumalanga, gebore. Sy matrikuleer in 1980 aan Hoërskool Ben Viljoen en verwerf in 1984 haar BA(Ed)-graad, met Afrikaans en Bybelkunde as hoofvakke. Sy is in 2002 met Wayne Pike getroud. Hulle het nie kinders nie, maar ’n praatsiek papegaai, Zinzi. Skoolhou is haar passie. Dit was reeds op ’n baie vroeë ouderdom duidelik toe sy vir haar ma se spogroosbome begin “skoolgee” het. Sy hou daarvan om leerders bewus daarvan te maak dat die letterkunde oor die lewe handel en dat dit jou as mens goed kan toerus op jou lewensreis. Terwyl sy haar beroep beoefen, moet sy op ’n duisend take gelyk fokus. Verse skryf is ongelukkig nie een daarvan nie, hoewel sy sommer baie daarvan sou hou om heeldag op ’n stoep te sit en na die see te staar, wyn te drink en net te skryf – daardie luukse, dink sy, is maar vir min mense beskore. Sy het eers in 2015 ernstig begin verse skryf. Haar eerste bundel, Inkspoor, is ’n selfpublikasie wat baie vinnig uitverkoop het. Sy is in 2019 en 2020 aangewys as een van die top 20-finaliste vir die Ingrid Jonkerprys in die gewilde L’Art Poétique-kompetisie. Skryf moenie vir haar soos werk voel voel nie. Sy is geheel-en-al woordbesete. Sy vind dat sy haar emosies en gevoelens beter deur digkuns kan verwoord. Woorde groei oornag soos sampioene in haar brein. Grepe uit daaglikse gebeure, besielende foto’s of tonele dien gewoonlik as sneller vir haar skryfwerk. Soms in die stort, soms as sy haar hare droogblaas of as sy sommer net na haar digborrel ontsnap, verskyn woorde en reëls soos spoke aan haar. As sy dit nie dadelik neerskryf nie, verdwyn dit. Sy sal worstel met woorde totdat dit gemaklik lêplek vind. Heel dikwels word ’n onbeplande vers gebore wat sy eie loop neem nadat sy daaraan getimmer en geskaaf het. Sy sê altyd: “Woorde gebeur met my – ek drentel net agterna.” Soos enige skrywe, wil sy graag hê dat mense van verskillende agtergronde en ouderdomme met haar verse kan identifiseer Dit is baie bevredigend as mense jou verse geniet en dit hul inspireer. Dit is tog so dat die oomblik as wat iemand anders jou werk lees, dit nie meer in jou besit is nie. Die leser kan daaruit haal wat hy of sy wil. Sy geniet dit ook om in haar vrye tyd in die tuin te werk en te verf. Haar filosofie oor die lewe? “Die lewe gebeur met ’n mens. Dit is hoe jy dit hanteer, wat die verskil maak.’’ |
die skedel breek oop
oogkaste loop soos uitgepeulde erte oor teerbane:
ingesuurdes skuur skouers, skif skilfers, peu(p)el
geelwitbruinswart; konkas nanagvuur om
sinkplaat-shacks talm swaar,
Chanel N° 5 walm oor die stad
plastieksakke bult in Checkers, die brood
en melk is op, die kinders maak my op met
die geneul oor nuwe tablets, sê die ma, die pa
bedel tablets by Dis-Chem vir sy kop, die medies
is op, sug die pa, die vrou by die till ril oor die bedrag
straatkakofonie bemoedig musikante se Fresco-blikke, klingel leeg o, bengel die kasregisters!
munte val tussen voete op winkelvloere op busse op oop hande – gotweet die land is arm
die skedel breek oop
die nasie lag
eksamentoesig is ‘n kubus vol klank
vanuit die gim hoor ek
jet-enjins die lug oopreep
die Gautrein snel-gly
onverstoord geyk in tyd
‘n paar domverdomde duiwe vlug
teen grootoogruite vas
êrens tinktinkel windklokkies
uit-plek-uit deur ver-af varsity-gewoel
mossies kweel uitheems soos adolessente
in Amerikaanse Lewensbome
langs die leë tennisbaan
harrrk… harrrk… harrrk
iemand iewers herfs op ‘n hoop
matrieks genommer gery soos kraaie:
pik geboekte krummels sugtend
met krashale op
swanger aan stilte baar die klok
stomp staccato-se-kon-des –
kraam dan swaar aan die uur
van afrekening
toe vind ek jou
tussen ou telefoonboekblaaie se
dikgetikte nommers
(alfabetiesbelys)
vingerlees ek
op soek
na jou –
in Sunnyside se hokkies onthou ek
my woorde deur geld in gleuwe glip
as jou stem weg-stip
op ’n grens waar jou diens
my waardeloos sien;
ek het o-so-bliksemsbang
jou japon om my gehang;
ek het sinneloos gebid dat
Old Spice ons sou bind
ter wille van ’n ongebore kind
toe vind ek jou :
in-staatsie-rou
© Susanne Pike / 2020