Vincent Oliphant is op 8 April 1954 op Alicedale naby Grahamstad gebore. Hy het in die vroeë sewentiger jare sowel ’n B.Sc.-graad met Wiskunde en Fisika as hoofvakke as ’n Sekondêre Onderwysdiploma aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Gedurende hierdie tyd het hy gedigte in die kampusblad begin publiseer. Die persoonlike aard van sy gedigte het ’n polemiek laat ontstaan oor die aanvaarbaarheid van sulke werk te midde van ’n politieke stryd. Die gedigte van hierdie periode is in 1982 in sy debuutbundel Bloed vloei in stilte deur Tafelberg uitgegee. Na ’n lang stilte het hy in 1994, kort na die eerste demokratiese verkiesing, weer begin dig. Hierdie gedigte verskyn in die bundel Die sagte vlees wat in 1998 deur Tafelberg uitgegee is. Sy gedigte word opgeneem in verskeie bloemlesings insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Versindaba 2005 en 2006 en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Hy maak bydraes tot rubrieke in Taalgenoot en Die Burger en publiseer ook van sy gedigte op die Internet op webwerwe soos PoësieNet, die poësie afdeling van LitNet, Kletskerk, southendmuseum en in Meander, ’n Nederlandse tydskrif. By verskeie geleenthede lees hy ook van sy gedigte in die openbaar voor, soos by die Wordfest by die Rhodes Universiteit in Grahamstad en die Versindaba op Stellenbosch. Vincent Oliphant werk vir die Oos-Kaapse Onderwysdepartement as ’n kurrikulumadviseur. Hy is ook besig met navorsing oor die onderrig en leer van Wiskunde. |
vertigo
soos ’n lamppaal staan sy op die hoek
oë aangeskakel
hart donker
sy kon sy tong soos ’n slang van sy mondvloer af hoor lig
toe hy slymerig “hi sweetie” sê
skraps en skraal staan sy net-net
op haar vorentoe-tuimel hakke
só lank al
val sy met dié vertigo
soos klokslag
skuif sy grys skip om die draai
met ’n oogknip in die ligte
in ’n stil straat waar dit boomryk is
sak haar gesig weg in sy lende
sy hartklop
stoot die hemel by sy oë uit
sý bly op die grond
lig haar kop
sien teen ’n mosbegroeide muur
die TV-oog/oor
wat oor ver ruimtes sien en hoor
maar hier niks van wis nie
deur ’n venster wat wyd is soos ’n silwerdoek
speel die storie van suburbia
in haar handsak knip sy die offerande toe
wat sy aan die voete van haar kinders neer gaan lê
daar in haar kamp van blik en hout
sy trek haar skouers toe
dis koud
Uit: Versindaba 2006, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2006