![]() Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en matrikuleer aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer mediese wetenskap aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou. Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool is. Sy gedigte word ook in verskeie bloemlesings opgeneem waarvan o.a. Nuwe stemme 2 en Groot verseboek. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg met die digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg en word met die ATKV Poësieprys bekroon. Hierna verskyn nog twee bundels vii (2011) en Vry- (2015). Luister na ‘n video-greep van Gibson se voorlesing tydens Versindaba 2007. |
[12]
pieter het ‘n sleutel of iets aan die
punt van ‘n lang tou vasgemaak en
die gedoente so wirrrwirrr bokant sy
kop geswaai plaasskoolwapen totdat
die lyn gebreek het daar trek die sleutel.
toe attie en willie die tweeling mekaar
met pendorings in hulle windties geskiet het
moes sy pa willie vashou dat hulle een met
‘n tang kon uittrek. by die van rooyens se
lyndraad het hansiereinecke van sy perd vertel
net een sprong beweer hy sanet
pieter se sussie het saam met orna pouses
op die bord geteken, die
skooltjie se voorstoep beywer onder
klere en voete wat
soos gewigdraende stutte van
ons maer lywe hang. die nagels
van port nolloth loop huistoe oor die
gras soos die haastige wip
van ‘n kwikkie wat net so vinnig verdwyn
soos ek, die kind,
en die sleutel aan pieter
se tou
se punt
[14]
jou oë lê soos dooie vullens bokant
jou wange na ‘n uitbraak van perdesiekte
die wenkbroue daaroor die kleur van brommers
in die son. soos klippe in die veld
lê jou oë, en ‘n wind wat die aanheg
van gras tot skaduwee roer, waai deur jou mane.
jou oë dryf in die bloed onder jou voorkop
die wimpers geril tot inkennigheid
ek wil jou ribbe inval soos runderpes, die lyf
infekteer en stilletjies wegsluip voor die vlerkklap
van aasvoëls. ek neem jou besit soos ‘n slaak
van verligting, jou oë ‘n gestorwe graal:
jou keel is blinkvos
jou mond ‘n splinternuwe saal
© gilbert gibson. [ongepubliseerde verse] Oktober 2010.
anatomieles
my hart groei in jou liggaam
ingekiem soos ‘n oorlog.
my organe lê in jou, bevlees
omhul deur logiese liefde
gekuis ontbeen van vel en spier
my longe lê in jou soos ‘n gelate
my nier onwillig gekoester deur insnydings.
soos oor riviere is my
vingers aan jou hande vas, my mond
oor jou dooie gesig gesper. en so
veilig soos ‘n loopgraf teen
die kant van die kop luister leweloos
my oor. my hart lê in jou liggaam,
van liefde en bloed uitstedig.
en die hart groei, in sterfte, uiteraard
ook welig.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007