![]() Hennie Aucamp (1934 – 2014) het op die plaas Rust-mijn-ziel in die Jamestown-distrik grootgeword. Hy studeer Afrikaans, Engels en Drama aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy debuteer in 1963 met die kortverhaalbundel Een somermiddag en het sedertdien 18 kortverhaalbundels uitgegee asook verskeie beskouings, essays en samestellings van prosa. In 1984 debuteer hy as digter met sy eerste bundel kwatryne, Die blou uur. Benewens vertalings van Bertold Brecht se werk het Aucamp dertien digbundels gepubliseer. Sy laaste bundel, Skulp, verskyn in 2014. Onder die talle literêre pryse wat Aucamp verower het, is die Hertzogprys (1982), die Fleur du Cap-prys (1987 en 2004), die Recht Malan-prys (1997), die ATKV-Veertjie-toekenning (2004) en die Afrikaans-Onbeperk-toekenning van die KKNK. In 2005 ontvang hy die Gustav Preller-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Lees gerus ‘n meer uitgebreide biografie op Litnet: https://www.litnet.co.za/hennie-aucamp-1934/ |
Somerdwaasheid
Ek sny ‘n dik pampoensteel af
en maak vir my ‘n fluit,
en pluk ‘n groot pampoenblaar
om die somerson te stuit.
Teen twaalfuur hang my hoed verlep
en gee my fluit die gees,
maar wat, ek gee nie om nie,
môre sal ek slimmer wees.
Môre dra ek Pa se strooihoed
vol gate en al oud,
en sny vir my ‘n nuwe fluit
uit sagte wilgerhout.
Uit die see in die pan
‘n Wit boot soos ‘n huis
sit op die watervlak,
en heeldag vang die bootsman
vet visse wat hy bak.
En raak die visse skaarser
soek hy ‘n ander plek,
met swarter, dieper water
waar hy kolosse trek.
Só kry ons bootsman op ‘n dag
‘n walvis aan sy hoek –
en boot en bootsman, o genade,
is tot vandag toe soek.
© Hennie Aucamp. 2 gedigte, April 2011
Sterrereën
Poësie, wat is dit nou eintlik?
‘n Mededeling, ja,
dikwels ontsier deur struktuur –
en gedagtebreuke.
‘n Oorgehewelde droom, ja,
snel ervaar
en net halfpad begryp.
Maar soms,
danksy Athena en al die muses,
word poësie sublieme kommunie
tussen planete en gelykgestemdes
en sidder en ruis die heelal.
Maanwyser
Vanaand brand soos in vroeër tye
die maan weer soos ‘n lamp:
‘n reisiger hoef hierdie nag
geen voet of toon te stamp,
en kry hy dalk ‘n maanligwyser
– dié soort het ook bestaan –
kan blootsoog hy die ure lees
tot nog ‘n nag vergaan.
Mentor †
Hy was die albatros om my nek.
Nou, in sy goedkoop greinhoutkis,
is hy onverskillig en verwyderd
en kan ek my versadig kyk
aan sy grys broue en hoë jukbene,
sy ingesonke mond,
sy stoppelken,
terwyl ek met my halsketting speel
en afgetrokke voel
hoe onder my vingerpunte glip,
een na die ander,
seevoëls uit elpebeen gekerf
en ingeryg op goud.
Plaassolder
“‘n Plaashuis moet ‘n solder hê,
waar stof soos meel oor alles lê” –
van wie dié reëls, en weet die spreker
dat myte juis in stof belê?
Dít daar gelate. Skryf maar op:
één sodawaterbottel, in ‘n korset van ogiesdraad;
één tregtergrammofoon, met ‘n paisleykleed gestop
teen die fanfare op ‘n plaat
wat hoeka nie meer speel
nie, sy rewolusies afgeloop;
één afpoot-ottoman, verskiete pruisiesblou,
van glans en plek-plek pluis gestroop.
Solders spel verleefde tyd:
‘n argeologie van triestigheid.
© Hennie Aucamp. Januarie 2010
Aan Barnie ‘n paar vrae
Weerskant van jou haakneus
was jou oë sienersblou:
Kan hulle, waar jy nou is, Barend,
‘n heideveld oorskou?
En groei daar sneeu-op-die-berge
in Saron aan die Anderkant?
En neem suurkanol oor en pypies
in die rante ná ‘n brand?
En is daar, soos destyds op Steenwerp,
elke aand die ou ritueel
waar jy, neem ek aan, regstellend,
nou sélf die voetwasser speel?
Deuskant Skerpioenpoort
Skerpioenpoort moet jy deur
op pad na die Doodsvallei,
en dit, op jou eie, sal smoor gaan,
want sê nou jy stommel of gly?
My vrees het kwalik meriete:
mens is, soos die spreekwoord ook sê,
net één dood skuldig, en mag dit
die een wees wat almal wil hê:
Oornag in jou slaap, aan jou hart,
of opgeneem in jou bloed – Warfarin! –
want só kan jy sonder omhaal
jou tweede lewe begin.
© Hennie Aucamp. Oktober 2009
Die Koorwedstryd
‘n kinderversie
Al die paddas in die park
gorrel teen verkoue
met pekelwater en anys:
só bly die stem behoue.
Kom die Groot Eisteddfod
ding hulle lustig mee
met ander kore in die buurt
om die Stadsraad se Trofee.
Elke koor sing twee maal,
iets vrooms, en dan iets guitigs;
oor een ding is die jutse eens:
hou links verby iets stuitigs.
Die Parkspan hop tevrede
terug na hul waterplas
waar bekers onder modder
nog altyd veilig was.
© Hennie Aucamp. September 2009
“Fatima”
Haar oë loer oor haar jasjmak,
en is duidelik omlyn met swart;
wag laer af daar ‘n glimlag
wat oopgedoek wil tart?
“Boesman – I.D.”
Sy handdruk teen ‘n rotswand
wou nooit ‘n grot versier;
bevestig bloot, en oor en oor:
eenmaal was ek lyflik hier.
Onder die sand
‘n Nama-oorlewering
Die Here had min van sy dinge oor
toe hy die Richtersveld gemaak het;
net sand en klippers
en witgatbome.
En toe Hy afkyk in die leegte
wat Hy geskep het,
het Hy baie bedroef geword,
en sy trane
het diep in die sand geval,
die een na die ander:
elkeen ‘n diamant.
Digterlike remedie
Digters het altoos
dwaalbos gerook
en jantwak oor ‘n misvuur
tot tinkture verkook.
Beelde gaan kop toe
okkult surreëel:
dis hoe digters en sjamane
bestaansbreuke heel.
© Hennie Aucamp. Julie, 2009.
Die eensame wasgoedpennetjie
Dertien wasgoedpennetjies
sit op ‘n wasgoeddraad,
een van die wasgoedpennetjies
is sonder lewensmaat.
Hy treur en sug maar skielik
wip ‘n sprinkaan op die draad.
“Ook ek,” sê juffrou Sprinkaan,
“is sonder lewensmaat.
“Ek kan nie altyd by jou sit nie,
ek moet tog vlieg en eet,
maar as ek op ‘n toer is,
mag jy my nooit vergeet.”
Nou sit die eenkant pennetjie
gelukkig en verloof,
en raai, sy sprinkaan-nooientjie
het hom ‘n blaar beloof.
Sonnet vir Topsi Venter
Die kleureoordaad van ‘n najaar
vind sy weg na haar altaar,
‘n skoon geskropte tafel waarop geel
en knaloranje smeul:
‘n mandjie kwepers, ‘n boerpampoen,
en as ‘n skerp aksent, die vermiljoen
van bessies, en bruin, vol klossies aarde,
bospaddastoele, en prei met bleekwit baarde.
Uit elke kleur damp reeds ‘n geur,
maar alchemié móét nog gebeur
in pot en pan, bo vlam en vuur,
hoe lank ómtowering ook mag duur.
Die priesteres staan stil opsy:
weer is ‘n dis volmaak berei.
Nature morte
by ‘n akwarel van Jan Voerman [1890]
Die ware stillewe
word nie opgestel nie:
dit wag reeds vir sy kunstenaar.
Dinge
– blomme, visse, brood –
ontmoet mekaar astraal in die tyd,
word aangeraak deur die ligval
op ‘n bepaalde uur;
ruil energieë uit
en sluit ‘n stil verbond:
en so ontstaan ‘n skildery.
Soos díe stillewe:
uit ‘n gemmerpot
– verdigte aarde –
ontspring ‘n bos kappertjies,
put uit díe pot hul geel
en reik uit sy donkerblou glasuur
na hoër lugte
en staan verheerlik teen die lig.
Die ware stillewe is ‘n essay:
altyd metafisies, altyd
deurtrokke van sterflikheid.
Flikker, flakker sterretjie
‘n sterfliedjie
Flikker, flakker sterretjie
jou lig word aans gedoof:
probeer met elke selletjie
vir laas die Ruimte loof –
die groot heelal, die hemeltrans,
met sterre om jou, soms verskans,
wat net soos jy aanhoudend wiel
op soek na ‘n sentrale Siel.
Flikker, flakker sterretjie
jou battery is oud;
en straks is jy geskiedenis
en word ons wêreld skielik koud.
© Hennie Aucamp. Junie, 2009.
Drieankerbaai
‘n Koue wind het opgesteek
en vul die baai met mis
tot dit jou lyk of meeue
bloot dobbervlokke is.
Was hul die aand teenwoordig,
kop onder vlerk gesteek,
toe Ingrid deur die wiere beur
en haar as offer breek?
Hoe kon hul weet, met oë toe,
skuimvlokke wat ook meeue is?
Die see stoot slissend oor die sand:
‘n Selfmoord is skoon uitgewis.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008