![]() Izak Louis de Villiers (1936 – 2009) het 19 jaar lank as predikant gedien in verskillende gemeentes van die NG Kerk. Hy is berymer van 69 gesange in die nuwe Liedboek van die Kerk en was ook medewerker en -berymer van die Gesangboek van 1978. In 1982 word hy redakteur van Sarie en in 1991 is hy aangestel as hoofredakteur van Rapport en lid van die direksie van Rapport-Uitgewers. Sy gereelde politieke rubriek – Sondag met Izak de Villiers – is wyd gelees, asook die politieke hekelrubriek, Pollux, wat hy tot 1997 hanteer het. Vier digbundels het reeds van De Villiers verskyn – Leitourgos (1972), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en Vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). Verskeie pryse is aan hom toegeken, onder andere die D.F. Malan-medalje (vir diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2002. In 2003 ontvang hy die Best Publication Award van die Christelike Boekhandelaarsvereniging en in 2005 die Goue Toekenning van dié vereniging. Die digbundel Jerusalem tot Johannesburg is met die MNet-prys vir Poësie (2006) bekroon. Sy jongste digbundel Vervreemdeling, verskyn in 2008 by Tafelberg uitgewers. Lees gerus ’n meer in diepte biografie oor die digter op Litnet: |
Rondom die Pêrel is wingerde en berge Heildronk
groter, groen- en blouer as Jerusalem,
en ná die winterreën drup dae oor die nat graniet,
helder soos porselein wat uit diep, warm seepskuim kom,
met blinkheid soos Boheemse fyn wynglase van kristal
wat glans in sagte lig op winkelrakke by die Karelsbrug in Praag:
dié helderheid rúík soos bokale glas wat pas geblaas is
in kleur vir ouerige toeriste op Murano.
Ek kom uit die aarde van eike en olienhout,
en diamantdae waar die rivier bly kronkel deur die wingerde,
dié rye ware manteldraaiers met die blare van seisoene,
waar die mosruik elke somerherfs oor wit kelders hang.
Ek sal weer teruggaan, na die geil aarde van Dal Josafat,
langs die landgoed van Nederburg waar wyn geproe word
uit die blink glase van kristal. En die groot granietberg sal glinster
as ek deel word van die dae en saam groei in wingerd, olienhout en eik –
heel moontlik opgesuig word in die sap van druiwe.
En iets van my, ek, sal in ’n glas saggies geskud word:
in die geure van God van die wonders en wingerde
en Jesus sal weer wyn maak en my proe soos by die bruilof,
sy kop effe skud oor te veel vaste suur, maar tog ’n vrugtesmaak
– appelkoos en nartjies, olyf – en dink aan sy dae by Kapernaum
en sy vriende by ’n meer met waters wat blink in die Oosterse son,
ook sal Hy my bewaar in die Katedraalkelder van sy gedagtes,
dalk vir ’n Pêrelse heildronk met dienende engele
op ’n hemelse kristaldag.
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006