Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer. Haar debuutbundel, Bloot mens, het in 2009 by Protea Boekhuis verskyn.
|
Die sondes van die vader
vir Helen Martins
As mens, tot pyn in staat, wil ek leef,
die uiterste mens, gesertifiseer mal.
– Wilma Stockenström *
Was jy maar dood Pa
respektabel kon ek jou begrawe
want dooies bly onder die kluite
en met vrot vleis slaap jy nie
newwermaaind
laat daar lig wees:
my politoerbliksonne glimlag geel
na die spieëls van harte en sterre
ontbrand tienduisende juwele lig
op plafonne mure kaste deure
saans steek ek die son aan
in my dosyne doppies glas
kaats die kleure oral
waar die gesplete hoef wag
maar te veel lig en kleur
kerf jou oë dof
om ’n leeftyd nog
die donker in te kyk
newwermaaind
laat daar lig wees:
die koplampe van die leeu weet
die uile dra dit in hul oë
die meerminne bewaar dit geskub
in hul sterte en die gasvroue
in die kleur van hul bottelrokke
die kamele herkou dit in hul hompe
elke kreatuur hier
die konings kamele die Kind
almal weet en
die toring van tyd
het tyd gehou van
die haan wat sy broek aftrek
sement is swaar
Pa swaar en glas
verpoeier die lig
ek lig die beker hoog
brandend na die Lig.
* Uit die gedig “Gesertifiseer”; Vir die bysiende leser, Wilma Stockenström. Reijger Uitgewers, 1970
© Jelleke Wierenga. Jan. 2011
Swart-wit skoolfoto
Nog taamlik vars van God af
skadu’s al onder jou oë:
Wangevoed van witbrood
en margarien met ’n botteltjie gekleur?
Tog, jou oë blink; donkerder
as vandag lyk hulle.
Was hulle blougroen?
Groenblou? Grougroen?
Stoot gal geel op
uiteindelik tot in die oë?
(Ma se oë het blouer
geword toe sy roep
die engele moet haar haal
maar jy was ook mos daar.)
Swart en reguit jou wenkbroue
nou dunner geboog
die mode neem jou onder hande
teen wil en weet
jou voorkop hoog en blink
met slim horinkies vol
van wil weet van wat
in die watte verpak is
jou hare skeefgeknip in geen styl nie
so was dit mos en sonwit punte
kort genoeg vir los wees
ferm weggevee met ’n knippie
die wit langmouhemp en kraag
hoe onprakties het Ma altyd gekla
moue opgerol halfpad teen die bo-arm
sterk en slank soos kind
en blou met wit speldekoppe
die oortrekrokkie met bootnek (is die hals genoem)
die sakkie links sonder sakdoek
o en die romp moes baie rygplooitjies hê
want dis selfgemaak en die moulose moue
sit knap as ek fyn kyk
sien ek aan die teenoorgestelde kant
van die sakkie stoot dit op of uit
maar dis so privaat en God weet
hoe het jy alles probeer wegskrop
wat skielik opstoot en uitgroei
oral skuldige skaam plekke
kón God maar nie ’n uitsondering maak nie?
sóú die wêreld wankel?
kón jy nie onder elf bly nie?
maar chauvinisties het Hy klaar gekies
vir Peter Pan sy eie soort
en Jesus was ’n man
Maria was maagdelik
Martha het bedien
maar hoor, kind, vandag gee ek jou
borsbelas absolusie vir jou opgroei
en deelname aan die goddelose
geslagtelike grap
dan verder:
vingertoppe gevou om die punt van ’n pen
oor ’n oop biblioteekboek:
hoe kon hulle jou so argeloos
poseer in die daad van doodsonde!
As agtergrond rye boeke
ag woorde woorde is daar
my kind wat grootmense eet
maar hulle word vet dom moeg
en depressief die of daardie
ses van die een
’n halfdosyn van die ander
vinkel of koljander
min of meer ongeveer
heen en weer
ons probeer
naastenby nietemin
en voorts:
jou neus knop téén die
fyn familielyn in toe al
en jy glimlag blink
toe-mond donkerlip.
My kind, hoe vol van weet
is jou horinkies al?
© Jelleke Wierenga. April 2010
Die dag breek
Die nagmasjinerie van paddas
en krieke wat kettingsaag
en die plons van
’n ster in die swart dam
’n saamgestelde geur van vars
vat kalm aan my gesig
vee die windklok
in die donker soet tyd
wat vinnig uitruis in die opgewektheid
van verbete voëls
die kraai van ’n uitgespaarde
haan en uit die grougeslaapte lakens
roer die monsters
na die lig.
Onversoenbare verskille
Wanneer die skille soos pampoene
van jou oë afpit
en elke vers killer word
en geen soen
’n brug baar
tussen ver en ver
en on- voor alles voegsel …
dan skei die liefde oor
onversoenbare verskille.
© Jelleke Wierenga. November 2009
vir bb
intieme anonieme vriend,
vir hierdie oomblik onder jou hand
klop-klop my vier diepkamers
en in my lang bloedgange omhels ek
jou versuipte donker engel
in die swart wyn of asyn
wat uit jou vyf vriende
hondsgetrou drup en soms
stol tot drolle rol
ek in ontsettende vreugde
in jou woordtorinkie dig
dooldraai ek lig:
dít is die ondenkbare verskil: die sig
in en uit, want jou woordsaad skiet
soos sterre met sterte
in hierdie geknelde land
vou jou leë vertel-vel vér oop
en wyd wapper die tapyt
waarop ek hop vir ’n trip en ’n half
deur ’n duisend-en-een nagte
vir hierdie oomblik, vir altyd,
Woordvoël, sug en snak
jou vlugverslag
die oë op my vlerke oop
Uit: Bloot mens. Protea Boekhuis, 2009