Johannes Lodewikus Myburg is ‘n Suid-Afrikaanse skrywer en is op 17 Julie 1957 op Pietersburg in Noord-Transvaal (tans Polokwane in Limpopo) gebore en word groot in die Transvaal. Myburg begin reeds op jong ouderdom te skryf. In 1984 debuteer hy met Vlugskrif. Na tien jaar word Kontrafak uitgegee waarmee hy die Eugène Marais-prys verower. Kamermusiek verskyn in 2008 by Lapa. Die kamer vorm in dié bundel die sentrale ruimte waarbinne handeling afspeel. Maar die kamer sluit ook die ruimtes verby die leefruimte in. In die kamer word optekening van reise tot poësie getransformeer. In 2017 verskyn Uittogboek, ’n hoogtepunt in die digter se oeuvre. Dit is ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower. Uittogboek is in 2018 bekroon met die ATKV-Prys vir Poësie en in 2020 met die Hertzog-prys. Benewens digter is Myburg ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en teologie gestudeer met nagraadse studies in visuele kunste. |
Nagwaak
Ek gaan slaap, word nanag wakker met ’n bejaarde oor
veel ouer as my gesig. ’n Behaarde skulp soos ’n koolblaar
sprei oor die sloop. Dié oor hoor in ’n ander register, ander goed
as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in ’n sleutelgat
die knip van ’n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbraak
en betreding – dis nie die trilling van stewel in stiebeuel
van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril
nie – die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese
wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:
om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.
Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip
die vasdraai die pad wat eindig in ’n slop.
Uit: Uittogboek, Johan Myburg, Protea Boekhuis, 2017.
Of rage and remembrance
Simfonie no. 1, John Corigliano
Die deur maak oop op ’n party
aan huis van ’n galante paar.
Musiek dra gaste deur ’n portaal,
deur etlike vertrekke waar
mense ritmies dans, bolangs
gesprekke voer, uitgelate lag,
koketterig flankeer; deur skuifdeure
tot buite in die nag,
tot op die terras waar uitgelate
gaste – dié wat om die dood
ongenooid bly – skaduwerig
teen mure beweeg soos groot
akkedisse. Dieper in die tuin
is ’n klavier besig om veraf en flou
die hunkerende melodie
van Albeniz se tango te onthou.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008