![]() Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 2001 ’n DLitt-graad oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf en in 2013 die graad DPhil in geskiedenis behaal met ’n proefskrif oor internasionale reisliteratuur oor Kenia sedert 1963. Hy het vroeër onder meer ’n MA-graad oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde universiteit behaal, waarvoor die Marius Jooste-medalje aan hom toegeken is. Hy het reeds twaalf digbundels gepubliseer en het die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2010) ontvang. Sy jongste bundel Ondertussen verskyn in 2020 by Naledi. Hy het ook drie poësiebloemlesings saamgestel, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). Marais se gedigte word opgeneem in verskeie versamelbundels, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Die dye trek die dye aan, Kraaines, Goudaar, Honderd jaar later en Nuwe verset. In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek. Sedert 2003 is hy ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van Pretoria. In 2013 was hy Innibos se eerste feesdigter. |
ELSAMERE
Joy Adamson-huis
Die koorsbome om die Naivashameer
staan penregop en klad hulle koelte
oor die tuiste van haar wat vermoor is,
sy wat op die kikoejoe van die werf
met die vuur van leeus gespeel, stomp-ape
uit die rotskoppies na haar aangelok
en bosveldvisvangers bewonder het.
In die sitkamer, met ‘n uitsig oor die meer,
het sy skilderye van stamlede
soos trofeë gehang, ‘n sebravel
oor die klipvloer gegooi en met George,
William en Bill ‘n geding gevoer,
maar buite roer die skrif van die ruigte
nog al die tyd teen die buitemure.
© Johann Lodewyk Marais. Maart 2011
*
THE YELLOW KIOSK
‘n Vis swem verby in die bloedrooi aand
en gemsbokhorings verleen hulle steun.
‘n Hiëna staan gestol en snuif aas
onder die skrefie maan aan ‘n boomtak.
‘n Bokkop hang skeef teen die buitemuur
en droom die nag deur sy dowwe oë.
© Johann Lodewyk Marais. Jan. 2011
*
FORT JESUS, MOMBASA
1593-
Aan die voet van die verhewe bouwerk
van João Batista Cairato
is skeepskanonne kriskras neergesit
om ‘n ogie oor die hawe te hou.
Agter koraalmure bied barakke,
wagkamers en ‘n sisterne skuilplek
vir die dapper seuns van Portugal
wat vir koning João ‘n ryk moet stig.
Met ‘n uitsig vanaf die borswering
sien Pedro Leitao de Gamboa
ver weg Muhammad Yusif bin Hassan
met ‘n bende volgelinge aankom.
Maar Portugese bloed was maklik af;
die sultan word ultiem ‘n seerower
en die bolwerk verwissel om die beurt
van verowerde na veroweraar.
Graffiti van Portugees, Omaniet
en Swahili skilfer van die mure
by die bastions van St. Mathias,
Matheus, Alberto en Phelipe af.
Waar opeenvolgende vlae gehys
en algou met geweld afgestroop is,
dring die wortels van ‘n tamarinde
van later jare diep in die grond in.
Agter my hou die gids aan met vertel,
terwyl ek lank deur ‘n geskutpoort kyk
hoe begelei die Keniase kuswag
‘n slu seerowerskip die hawe in.
© Johann Lodewyk Marais. Des. 2010
*
SLUIPMOORD
Nairobi, 1969
Die man van Rusinga, Tom Mboya,
is soos ‘n hond in Goewermentsweg
platgeskiet toe hy uit die apteek kom
met Alpha-Kiri vir ‘n droë vel.
O, kyk na die blink seun van die Luo
wat by die ingang agteroor gestort
en rustig en gelate gelyk het
vir Mohamed Amin, die fotograaf.
Onder sy mangoboom in Gatundu
het Jomo Kenyatta die begrafnis
noukeurig beplan en met ‘n beesstert
die vlieë van hom af weggewaai.
Huil julle harte uit vir die jong man
wie se stamgenote saamgeloop het
agter die stoet aan op pad na die meer
van waar hy te vroeg na sy vaders gaan.
By die modderhutte van Rusinga,
die eiland van trane, is sy doodkis
laat sak onder die gedreun van tromme
en die gebulk van duisend beeshorings.
© Johann Lodewyk Marais. November 2010
*
KONING LEOPOLD II
Die bloedjong hertog van Brabant
dra uniform en ‘n baard
om bejaarde senatore
te wen vir sy sake en aard.
Die ondernemende koning
regeer die Kongo met ‘n sweep
en behou vanuit België
sy onbarmhartige greep.
Toe hy in Brussel te perd ry
na verminkte hande se boog
stapel op Antwerpen se kaai
rubber en ivoor hemelhoog.
© Johann Lodewyk Marais. Okt. 2010
*
IBN BATTútA
1330
In ‘Aden seën hy die koopliede
uit Kinbáyat, Kawlam en Cálicút
en seil met ‘n jalba langs die kus af
via die stinkende Berberstad Zayla‘
waar kamele op straat geslag word
en verder suid tot by Moqdashaw.
In die hawe ontvang sumbuqe hom
en as gas van die qádi bring ‘n slaaf
skottels betelblare, pienangneute
en provisie uit die Shaykh se paleis.
Ná die jumaa stap hy onder sonkappe
met goue voëls versier na ‘n feesmaal.
Gelukkig is jy onder die stede,
Mombasá, want ook hier kom hy oornag
en van die ryke vis en piesangs eet.
Die vromes, eerlikes en opregtes
sien hy raak en bekyk die houtmoskees
voordat hy sy reis na Kulwá aanpak.
© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010
*
NELSON MANDELA
Jare lank al weier u om te swig
by Mvezo oorkant die Mbashe.
Ek was u voete in hierdie gedig.
Hier het u voorvaders ‘n kraal gestig
en het u u heel eerste tree gegee.
Jare lank al weier u om te swig.
Bedags het u gedroom van stedelig
terwyl u drentel agter spikkelvee.
Ek was u voete in hierdie gedig.
Ver hiervandaan was iets duisters in sig
toe u leer van mense se bitter wee.
Jare lank al weier u om te swig.
Hulle – mý mense – het u selfs verplig
om na dié te luister wat op u skree.
Ek was u voete in hierdie gedig.
Toe u uit die donker kom na die lig
het u met ons nasie ‘n band gesmee.
Jare lank al weier u om te swig.
Ek was u voete in hierdie gedig.
© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010
*
REISIGERSBOOM
Ravenala madagascariensis
Met my aankoms by die hotel
word die geraamde skildery
van Marianne North by ontvangs
‘n teken dat ek weer tuis is.
Dié boom met blare uitgesprei
soos ‘n groot Chinese waaier
vang in sy oksels water op
waarmee hy reisigers verkwik.
Maar in my verbeelding reis ek
verder na ‘n warm eiland
waar ‘n lemur met sy spits bek
die waswit blomme binnedring.
© Johann Lodewyk Marais. Sept 2010
*
Heilige skrif
Mombasa
Die vrou wat onder die tamarinde
die Qur’ān sit en lees, keer my opsluit
wanneer ek buk en met my wysvinger
aan die mooi karakters voor haar wil raak.
Sy gru en hou haar hande beskermend
oor die letters wat vir haar heilig is.
“Elke ayat is wonders en tekens
en het net so uit die hemel gekom,”
sê sy en prewel Mohammed se gebod.
Ek verkyk my aan die boek en bemerk
die arabeskpatrone wat die son
deur die boomtakke en -blare teken.
© Johann Lodewyk Marais. Augustus 2010
*
DIE BREIN
Die grootte van die brein kan akkuraat
bepaal word deur droë kanariesaad
deur die tregter van die rugmurgkanaal
te laat invloei tot elke hoek en draai
volgeloop het en mens dit gaan afweeg
op ‘n haarfyn gekalibreerde skaal.
Só beskryf Phillip V. Tobias dit.
Maar wat vermag ek met die afmetings
van dié doodse skedelholte waar taal
wortelgeskiet het en ánder klanke
soos bewerkte klip deur ‘n spleet kan val?
Of is spraak ‘n anatomiese kwaal?
© Johann Lodewyk Marais. Feb. 2010
*
FOSSIELJAGTER
Gaan roep Kamoya Kimeu
in sy huis tussen die mielies
sodat hy die Turkanameer
se oewers deeglik kan bekyk
en op hierdie songebakte
gryslandskap die spore kan kry
van die eerste regop wese
wat ons aanmekaar wil las.
Kyk na Kamoya Kimeu
met sy oë stip op die grond
voor hom: hy soek ‘n beentjie hier,
‘n beentjie daar en, ja, siedaar!
Hier op die droë rivierwal
het ‘n soetdoringboom sowaar
gestam uit ‘n goed bewaarde,
klam Homo erectus-skedel.
Jy kan nou gerus huis toe gaan,
Kamoya Kimeu, dis laat
en ons gaan hierdie klong nog lank
van alle kante ondersoek.
© Johann Lodewyk Marais. Feb. 2010
*
OLIFANT
Loxodonta africana
“Kom ons laat die olifante met rus,”
stel sy voor ná die soveelste verwyt.
“Daaroor en oor die dood van Diana
het in gesprekke te veel bloed gevloei.
Ek het al gesien hoe olifante
bome en struike breek en hooghartig
oor die Wildtuin se paaie voortdrentel
sonder om ‘n enkele blaar te vreet.
Laat die jagters maar onder hulle maai!
Jammer om te sê,” gaffel sy na my,
“maar waarom moet húlle grootkop kry
en doen net wat hulle wil? Vergeet jy
al die mooi plante wat hulle verniel?
‘n Mansmens wat soos ‘n paparazzo
halflyf by sy venster uitgehang het
toe ek na die soveelste trop moes staar,
het byna in my motor vasgery.
Waarom olifante se lof trompet?”
© Johann Lodewyk Marais. November 2009
*
KOURIE
Cypraea mappa
‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man in Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.
© Johann Lodewyk Marais. Junie 2009
*
FRANSKRAAL
[V]er van elke Jan Rabie en sy maat.
D.J. OPPERMAN
Op die strand
raak ek verstrooi
oor ‘n stuk Japannese net
met ‘n grootmalmok
in die maas verstrik.
Met my knipmes
wil ek die heerser van die wind
lossny vir my versameling,
maar die reuk van die dood
dryf my terug.
Verder weg tel ek op:
‘n meermin-se-beursie,
‘n seekomkommer,
‘n lampskulp
en ‘n stuk spons.
Op ‘n rots sien ek
‘n man met ‘n visstok
afgeëts teen die melkhout
en gaan nader om te groet:
“Dr. Opperman, veronderstel ek?”
© Johann Lodewyk Marais. Junie 2009