|
Lina Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore waar sy die middelbare skoolloopbaan deurloop.In 1958 begin sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy in 1963 haar meestersgraad behaal met ‘n skripsie oor Elisabeth Eybers. Vanaf 1968 tot 1970 studeer sy aan die Vrije Universiteit (Amsterdam) in die Nederlandse Taal en Letterkunde. Sy verwerf aan die einde van hierdie studies die titel van “doctorandus” deur die finale mondelinge eksamen te slaag en met ‘n skripsie oor die beroemde Nederlandse digter Martinus Nijhoff se sonnettesiklus Voor dag en dauw waarvoor sy groot waardering van verskeie Neerlandici ontvang. Sy publiseer ook naas artikels oor die Afrikaande letterkunde gereeld artikels oor die Nederlandse poësie .In Maart 1982 promoveer sy aan die Universiteit van Pretoria op ‘n proefskrif oor D.J. Opperman. Lina Spies het gedoseer aan die Universiteit van Port Elizabeth, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria. Vanaf 1987 tot 1999 was sy professor aan die Universiteit van Stellenbosch in die Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde. Uit haar pen het agt digbundels verskyn: Digby Vergenoeg (1971); Winterhawe (1973); Dagreis (1976); Oorstaanson (1982); Van sjofar tot sjalom (1987); Hiermaals (1992); Die skaduwee van die son (1998) en Duskant die einders (2004). Vir Digby Vergenoeg het sy die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Ingrid Jonker prys gekry. Die skyn van tuiskoms – ‘n Keur verskyn in 2010 by Human & Rousseau. In 2010 verskyn Tydelose gety by Protea Boekhuis. |
Naderende winter
Die herfs kon ek nooit rym
met treurigheid en dood nie:
daarvoor het die kleuregloed in die bome
en die oorstelpende blou van die lug
my nog altyd te veel verruk.
En die strakheid van die winterbome
laat my sien wat deur digte loof onsigbaar is:
die sierlike skadu’s van hul takke
op gewels wat wit glinster in die son.
Waarom sal ek dan krampagtig vasklou
aan my somerblare
en nie die wisseling vertrou
van die seisoene in ‘n menselewe,
my oorgee aan die eb en vloed
wat stu in elke gety
waarvoor net een ding nodig is: die liefde?
Die rivier
Dit is nie die water wat die rivier maak nie;
dis sy vloei wat bome voed
dat hulle hul takke lowend strek
of soos obeliske reik na bo:
die groen katedraal vir mens en dier.
Die rivier weet die veld verlang
dat hy diep in haar in sal dring
om hul verbintenis te komsumeer
dat sy versadig haar groen kleed
oor heuwels en valleie sprei.
En dit is die see waarna die rivier verlang
as hy kronkel oor vlaktes
en dawerend oor rotse tuimel
om in sy val nog ‘n reënboog op te vang
wat bly skitter wanneer hy verder stroom
totdat hy aankom by die bestemde plek
waar ‘n rivier hom druisend in die golwe stort
en lispel oor spoelklippe en skoon sand,
maar waar hy stik in wat hy met hom saam moes sleur
aan wat in hom gemors is op sy lang tog
deur die besoedelende hande van die mens
waarteen hy nou in moet beur
om met die magtige waters een te word.
© Lina Spies. Feb. 2010
Welkomsgroet aan die herfs
Ek weet jy is hier,
want meteens beskik ek
weer oor elke sintuig
en al hou jy jou nog skuil
sien ek jou tog
in die skaarse geel
van die populiere
en die aarselende roesbruin
van die winderde;
o ja, ek weet jy is hier
want met geen see in sig
kry ek sy soutreuk
en trek ek dit
uit jou bruisende lug
diep in my longe in.
12 April 2004
Uit: Versindaba 2005, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2005

