Loftus Marais
![]() Loftus Marais Loftus Marais is in 1982 gebore en het in die Paarl grootgeword. Hy verwerf ’n BA-graad in taal en kultuur, ’n honneursgraad in Engels en later ook ’n MA-graad in Kreatiewe Afrikaanse Skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy verse is in Nuwe stemme 3, My ousie is ’n blom en Tydskrif vir letterkunde gepubliseer. In 2008 verskyn sy debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters waarvoor hy o.a. die Eugéne Marais-, Universiteit van Johannesburg- en Ingrid Jonker-prys ontvang het. SY tweede bundel, Kry my by die gewone plek aguur (2012) was in 2013 ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjie vir Poësie. Jan, Piet, Koos en Jakob is Loftus Marais se derde digbundel sedert sy debut en is met die Elisabeth Eybersprys vir Afrikaanse en Engelse poësie bekroon in 2020. Marais was ook een van die samestellers van Nuwe Stemme 5 saam met Heilna du Plooy. As vryskutjoernalis het ’n hele paar letterkunde-artikels in verskeie publikasies onder sy naam verskyn. Hy het by NB Uitgewers in die Kaap gewerk, maar werk tans weer op vryskutbasis. Lees gerus ‘n meer uitgebreide biografie oor Loftus Marais op LitNet. |
Hawe
kapenaar, leser, wieookal, só haal die geboude wêreld homself
uitmekaar
kyk daar: die laaikrane is die stad se enigste eerlike torings
gebeenterig maar ook kinderlik die kleure
van candy canes
besig met inpak of losmaak en die weeg van aankoms/vertrek
sonder drama
sonder die kitsch en stralende eindervaarwelle
van bv. o wee die betraande emigrante van weleer
(eerder die see se rand nes gehamerde staal)
slegs die sopperigste digter
sien die wuif van sakdoekies
in stukke plastieksakke gehaak aan die omheinings, want hierso
slyt en kraak die enorme dinge
en enigiets kan geweeg, belas, gegee word
aan die geskuif van masjiene en getye
“Please note: This is a loading zone. Parking
at own risk.”
’n stad wat uit homself uit verhuis:
kratte en bakke en tenks, trokke
is lego gestapel
sodat die laat kapitalisme homself êrens anders
weer kan inmekaarsit
ja, die onderdele van stede in skure, maar hierso
blink dit nie, want die weelderigheid behoort
aan die see
tog ook net sóms lyk haar helder gegly van afstand
na iets belangriks, meestal net
’n tipe fondament
vir die hawe se geloof in vertikale:
lere
maste
spreiligte se pale
skaduweestrepe word breër en breër in riffelsink
en dan, hoe die wêreld hier klink
die klank van kettings, ’n roep, ’n roep, ’n toet, stoordeurgerammel
voëlgeluide vreemd soos die geknip van skêre
en die klap van water, asof die see so heeldag haarself
in die stad bly skink
en êrens lag ’n dokwerker
in hierdie plek van koue, souterige eggo’s
in hierdie plek van droogdok-, sleephelling-, kielkurwe-
akoestieke
apart van die dag sit ’n vispakker en rook
(teen waterpatrone op ’n baksteenmuur
langs turquoise bondels net)
sy’s oud, sy’s moeg, sy rol nou ’n tweede
verbeel ek my: haar hande wat bewe?
sy rook asof sy bydra tot die dofheid van die dag
want mis is ’n hawe se éérste element
en vandag, lig-lig mistig soos in ’n foto overexposed
stelasies in ’n onduidelikheid
maar kyk, die dwarsstawe moerbeknop, en gevlek, geskraapmerk, geroes
roes
godweet oral is roesblasies, soos herpes, hier
op die privates van die kaap
en die silwer krake in die vuilste ruite
en ook daai droewige pienk van gebleikte verkeersteken-
rooi, en onkruid in die verlede se tremgroewe …
spandeer ’n dag tussen die besonderhede van verweer
dit sal jou mal maak, skryf dit op, skryf dit op
want jirre daar kan iets bestaan
soos ’n blomkunde van getorringde tou-ente!
daar is buitebande teen die kaai en in een van hulle
lê ’n rob
in die draai van sy kop
is amper vermaak?
vermaak deur die bohaai van ’n hawe
voor hy perfek weer terugglip soos iets
wat vergeet word
maar dit word weer opgeneem in die ritme van ’n trein in die verte
’n reëlmaat van slytasie
nes voetval wat sloof
oor ’n betonvlak vol slik, en stukke draad
seemeeue, en ’n boei, oopgekraak
’n dokwerker loop huistoe … daarteenoor
vérder, ’n verkrimping in die rigting van daai atlantiese blootheid
’n front ’n horison verdik tot blouer blou lae
en ’n windjie en ’n rilling
deur die grander bote
se kleurvolle vlae
© Loftus Marais. Sept. 2010
Kloofstraat, perspektief
vir Kabous
kloofstraat eindig in ’n kerktoring geraam deur ’n flatblock
maar hoe om te begin? het ’n straat as ’n enkele ding
enige sin? bo die gelaste sypaadjies sit balkonne, houers
van ’n laaste bietjie intieme ruimte, rustig, tussen
straatligte en kragpale en diefwering en pilare:
’n stad, vertikaal in ’n soort barcode vertaal, alleen
op ’n hoek trap ’n man sy sigaret met ’n frons
asof hy álles bedink, die gegons van verkeer
en karre se metaal buig die son tot ’n flits,
’n straat wat ervaring kan fokus tot ’n punt
soos ’n kerktoring, kyk, hier word elke kleur
geadverteer, en ’n winkelpop bekyk niks
vanuit ’n boutique, klere-reklame wat sê
“be unique”, en dan ’n kar se alarm:
’n stuk musiek op één aparte noot
en dis ook hoe dit hoort, want
vanmiddag is kloofstraat
’n teenargument
in teer en sement,
wat jy afstap
is ’n anti-
landskap
© Loftus Marais. Maart 2010
aan die fontein in ons flatblock se quad
Vir Inge en James
tussen geparkeerde karre en twee stelle trappe
ingedruk, koi-loos, jy
met geen klaarblyklike doel behalwe versiering
jy, ’n reus se bidet, jou sement gekraak
slik-verdik en gorrelend, drinkplek vir hawelose katte
met een vuil vlegsel lig wat val, jou rimpels
weerkaats almal bewend en grys: eternal youth, ha!
betesda sal haar vir jou skaam
jou geklots laat mens vroegoggend dink dit reën
jy het ’n geringe stem vir een van jou soort –
o, die refreine van pissende gerubyne
klein herrysende atlantisse sis kaskades
ganse operettes van borrels in parke!
maar jy, jy besig jou met murmelary
ek’s verbaas: ’n muntstuk op jou bodem
van een of ander dwaas, maar
ek moet ook seker dankbaar wees vir jou
in ’n tyd van beknopte bestaan:
tussen studente-flats:
ons muwwe afgodsbeeld van water
herskryf tog daagliks duidelik teen die mure
‘n vryhandgedig in die helderste lig
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008