Louis Esterhuizen behaal ’n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Van 2002 tot einde 2016 was hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Sedert Januarie 2017 is hy voltyds ‘n vryskutwerker wat as teksredakteur alle vorme van taalversorging en manuskripontwikkeling hanteer. Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg. Sy agtste digbundel wat die water onthou verskyn in 2010 by Protea Boekhuis en word bekroon met die Protea Poësieprys vir 2011. Die bundel was ook genomineer vir die UJ prys vir Letterkunde en die ATKV Woordveertjie vir Poësie (2011). Hierna volg Amper elders (2012) en Die afwesigheid van berge (Human & Rousseau, 2014). In 2020 verskyn sy bundel Die gladde stiltes in glas by Protea Boekhuis. Van sy verse is in verskeie bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ’n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ’n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen was ook die inisieerder van die jaarlikse poësiefees Versindaba. Vertalings/translations: Nederlandse vertalings van Afrikaanse gedigte English translations of some Afrikaans poems
|
.
Toe was die wind daar en sê …
Wees horison, klip of sand, maar nooit nie
rots, berg of klipskeur nie, nooit iets
wat afbaken nie. En die reën het gekom, en die reën
het gegaan: Wees holte, het dit gesing,
wees dit wat gevul word,
dan oorloop
en vloei, wees vlakte of vlei, maar nooit nie iets
wat blokkeer of skeiding bring nie.
Ysberge was daar ook, sneeu en gletsers –
al die agente wat splinter
en verbrokkel in ʼn trae ritme
van verweer.
Tot die vuur uiteindelik na vore tree.
Wees tog maar net
wat jy wil, het dit ligvars
bly knetter.
Stof is jy.
Tot stof sal jy brand.
[Uit: Die gladde stiltes in glas. 2020]
.
By die harteenheid
(Vergelegen, 2 Julie 2010)
.
Meteens is daar dié duif pik-pik teen die ruit van die waaksaal.
Wat reiernek hy so, wonder jy, wat soek hy hier in die pandemonium
van gekneusdes, elkeen met ‘n eie, gelapte hart?
Vermoed dan: met die sagte haas van morfienpote trippel hy haar
na buite waar die duiwedanser op haar wag –
Jy sien hom met sy lang jas en arms na weerskante gestrek.
Jy sien hom met ’n enkele gewrigaksie die duiwe na hom toe roep –
Ja, vanuit omliggende dakke, uit alle bome, die gefladder
wat twee-twee om hom tros en dan: woerts. Weer weg.
Bleekgeskrik hou jy haar hand stywer vas –
Moenie gaan nie, Hartlief, fluister jy by haar droom. Die korrels
in die sak waarmee hy jou lok
is verbeelde saad en lánkal muf verby.
Bly nog by my.
© Louis Esterhuizen. Julie 2010
Tema met veertien variasies
1
Om die dag te aanvaar. Met alles wat op hande mag wees.
Om die water te verdeel en deurgang te vind.
Sonder dat daar genoeg grond is om dit in te neem.
2
Soveel strominge is daar tussen mens en mens.
Droombewegings van ’n akkedisrivier in eerste lig.
3
Om die deur agter jou op knip te trek, deur die verloop
te bloei na ’n verbeelde kant op ’n ander oewer.
Rondom jou word die landskap
onder sirene byeengebring en jy vind
waar jy eindig, is waar jy begin het. By ’n deur
wat toegetrek word.
4
Soms val ’n druppel op die grond tussen julle.
Asof dit ’n afskeid wou wees. Om die dag te aanvaar.
Sonder waarborg of die toegewyde ywer
van grond
onder jou voete.
5
Terwyl die dag jou maak en breek
bly jou gedagtes by haar. Jy vou haar toe, snags,
en soggens is dit koud wanneer jy gaan.
Altyd vra sy na waar jy was
en hoekom die paaie nie meer
huistoe kring nie.
6
Jy verklee asof sy reeds op jou wag om haar alles te vertel.
Tog bly stilte danig met jou lyf.
Help haar dan eerder om jou dors te wees.
7
Vele nagte sal jy nog met hierdie dae verwyl.
Met geure wat sy tussen die lakens vir jou gelos het.
8
’n Stad wat snags van die oorkant bekyk word, is sy.
Met asemhaling brug julle na mekaar toe. Julle weet van niks.
Daarom moet jy jou vreugde liewers nie
by die deur los nie, jou glimlag. Laat haar eerder
jou lelie van dale wees.
9
Dadels wat grond toe reën.
Die pit wat soet gerol word in die mond.
Onkunde is ’n blom in die woestyn.
En julle weet. Niks.
10
Op die strand skryf ’n seun met skulpe. Hy formuleer
maniere om die sand te ontsyfer. Alles rol weg van hom.
Dit is die see se aard.
11
En hy weet nie waar hy hawe gaan vind
tussen gister en
wat hy nog gaan wees nie.
12
Niks behoort aan jou nie.
Nie eens die woorde waarmee jy die water heg nie.
13
Miskien is die liefde dan net ’n verstelling
in frekwensie, om die naald ’n aks
na links te draai en meteens musiek te vind. Helder
te midde van distorsie. Want hier waar jy
ontbreek, word jy gerig
deur die wete
dat sý jou opvangs wil wees.
En jou verloop.
14
In weerwil van –
© Louis Esterhuizen. Oktober 2009
[Uit: Wat die water onthou, Protea Boekhuis, 2010]
Weerkaatsings
.
Stad van lig en water. Van ruimte, lig en water.
Stad – op pilare gebalanseer – wat kniediep
in eie refleksies bly staan. Stad van brûe en kanale.
Van fietse, brûe en kanale.
Stad met ’n linie van huise teenoor mekaar
opgestel: vensters wat noodberigte
na mekaar toe
kaats –
Stad van lig en water. Van bome, lig en fietse.
Stad met kerktorings sonder klokke, bome
sonder voëls. Waar is jou musiek? Die musikante
op die Leidseplein: wat het geword,
waar is hulle dan nou? Al wat hier te hore is,
saans, is fietse wat nooit ophou
klingel nie –
Stad van lig en water. Van stilte, lig en sirkels.
Stad – om kerke genetwerk – wat dromerig
in name bly naklink: Damrak, Spui en Amstelveen.
Nieuwmarkt en Oude Schans. Gelate,
soos die stem wat haltes
aankondig op ’n tram. Stad van
blomme, ruimte
en geur –
Soos ’n klip deur water sink jy
deur die geheue stadig
ondertoe, na dieptes wat jy helaas
selde indien ooit
reflekteer
in jou moeë spieël van mis
en verbeelde vloei.
© Louis Esterhuizen. April 2009.
Sirkelgang
Party sê dié stad is die duimafdruk van God
wat konsentries ingegroef lê teen die stinkende Ij.
Ander reken weer dis eerder Dante se simbool
vir die hel wat jou deur etlike dwaalstrate heen
lei na waar die hoop kniediep in flou water staan.
Party sê dié stad is die duimafdruk van God
met ’n ingedykte vervlegting van waterkanale
wat kapsie maak teen die tyd se ontydige verloop.
Ander reken weer dis eerder Dante se sirkels
wat jou verlei om dieper in te dwaal na waar
aanwysing en verbod iets is wat nouliks bestaan.
Party sê dié stad is die duimafdruk van God
wat deurstraal is met lig en die elegansie
van verdraagsaamheid te midde van oude gang.
Ander reken weer dis eerder Dante se tekens
waarmee die mot ingereken word by die vlam –
’n heuningpot van selftevredenheid en eigenwaan
wanneer daar gesê word
dié stad is die duimafdruk van God, rygdrade
waarmee jy rigting vind
en verloor
© Louis Esterhuizen. April 2009.
Repos Ailleurs
Skuins na drie is dit en jy staan
buite ’n opstal in die Wamakersvallei,
terwyl Wellington iewers
agter die horison in opgedamde lig
verwater. Duskant die hoogte na links
sukkel ’n motor douvoordag reeds
teen Bainskloof se stiltes in, en kyk:
die sterre is rosyne
wat tydsaam by die donker
ingevou word. Nietemin, skuins
na drie is dit, en jy
luister na die volgehoue gedruis
van stromende water
uit al die klowe om ’n afgeleefde huis,
die honde se onsekere geblaf
wanneer die rooi oog van ’n eerste vliegtuig
suidwaarts flikker. Maar jy, steeds droom
jy noord vanuit die wamaker se vallei.
Asof jy Piet Retief is, kompleet
met skaaf en tuig. En waens wat wag.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007
1e kommentaar op “Louis Esterhuizen”