Louise Cilliers is gebore en getoë in wat in die goeie oud dae as Pretoria bekend gestaan het. Daar het sy haar voorgraadse opleiding voltooi, om daarna eensklaps vanuit ’n Afrikaans-georiënteerde omgewing te moes gaan instaan vir gedeporteerde dosent in Latyn aan die Universiteit van Natal. Sy het egter gou tuis geraak in die Engelse omgewing en gevind dat nie alle Engelssprekendes staatsvyande is nie. Na ’n jaar en ’n half is sy oor na UNISA waar sy een van vier jong dosente was wat 2000 Latyn Spes-werkstukke kwartaalliks moes nasien. Vandaar na die nuutgestigde Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg), waar sy haar toekomstige eggenoot ontmoet het. Op aansporing van die destydse rektor, prof. Gerrit Viljoen, is die egpaar na Nederland vir verdere studie. Nadat hulle daar albei hul doktoraal eksamens met lof aan die Universiteit van Leiden voltooi het (1976), het hulle na Suid-Afrika teruggekeer en na die Vrystaat verhuis waar hulle betrokke geraak het by die Dept. Latyn van die Universiteit van die Vrystaat; na ʼn MA-breek van 5 jaar om kinders groot te maak, begin sy klasgee en word in 1985 Professor en Departementshoof van die Dept. Latyn wat later die Dept. Klassieke Tale word. Louise se eerste kennismaking met Grieks was toe sy vir haar M.A. in Latyn ingeskryf het waarvoor Grieks I ’n voorvereiste was. Dit het haar egter aangegryp en sy het eventueel haar doktorsgraad in Grieks behaal (1983). Tydens die jare aan die RAU het die departementshoof, prof. E.L. de Kock haar betrek by die vertaling van die kriptiese Griekse teks van Aristoteles se Poëtika, waarvoor hulle in 1992 die S.A. Akademie se Prys vir Vertaalde Werk ontvang het. ’n Behoefte aan die vertaling van vroeë Latynse mediese tekste is vir haar uitgewys, en in ’n interessante wending het sy haar na die studie van antieke geneeskunde gewend en die tekste van ’n aantal mediese outeurs in die vierde/vyfde eeu n.C. in die florerende Romeinse provinsie van Noord-Afrika vertaal en gekommentarieer; dit het gelei tot die boek Roman North Africa. Environment, Society and Medical Contribution, uitgegee deur Amsterdam University Press in 2019. Intussen was sy reeds vir jare al besig met ’n projek saam met Francois Retief, eertydse rektor van die UV, om inligting oor interessante antieke mediese aspekte aan die publiek bekend te stel, wat gelei het tot meer as 70 artikels in geakkrediteerde tydskrifte. ’n Twintigtal is geïnkorporeer in ‘n boek, Health and Healing, Disease and Death in the Graeco-Roman World, uitgegee as supplementband van Acta Theologica in 2005, waarvoor die S.A. Akademie in 2006 die Stalsprys vir Interdissiplinêre Samewerking aan hulle toegeken het. In die afgelope jaar of twee het sy, geïnspireer deur die aangrypende gedig Ithaka van die moderne Griekse digter Konstantinos Kavafis (1863-1933) meer van sy gedigte begin vertaal, wat eventueel gelei tot die bundel Konstantinos Kavafis. Van Alexandrië na Ithaka. Gedigte uit Grieks vertaal deur Louise Cilliers, wat in 2023 deur Naledi uitgegee is. Louise is getroud met Johan, ook ’n klassikus, en hulle het twee kinders, Jaco, ’n neuroloog in Bloemfontein, en Marianne, ’n violis woonagtig in Keulen in Duitsland, en vyf kleinkinders.
|