![]() Lucas Malan is in 1946 in Limpopo gebore en voltooi sy skoolopleiding in 1963 op Pietersburg (Polokwane). Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria en werk vyftien jaar lank as Afrikaansonderwyser in Johannesburg. Vanaf 1984 is hy dosent in Afrikaans aan die Johannesburg College of Education, waar hy in 1997 as hoof van die departement uitgetree het. Sy eerste digbundel, ’n Bark vir die ontheemdes, verskyn in 1981, en daarna publiseer hy Tydspoor (1985), Edenboom (1987), Kaartehuis (1990), Hongergrond (1994) en Afstande (2002). Sy sewende bundel, Vermaning, verskyn in 2008. Hy woon vanaf 1997 op Darling in die Wes-Kaap waar hy as vryskut meegewerk het aan Afrikaanse boeke vir die skolemark. Lucas Malan is op 15 April 2010 oorlede. |
Werfbesoeke
- Sterfgeval *
Die pragtige geveerde,
die vlieënde sierlikheid
met die smal stert as sleep
lê op die gras met vlerke slap
en sy kop in gebed
op die oker bors ingevou.
Is dit hý wat vanoggend nog
so rats hier buite baljaar
en skerp geskerts het? Wat
het hom so plots laat stort
en sy uitroepe opgeskort?
– Lucifer het ‘n aandeel aan
die val van gevleueldes –
Stil, met ‘n dalende slag afgebring
aarde toe, lê die veersagte vlugteling
op die gras gestol. Was dit nodig
dat daardie kloutjies, nou opgekrul,
so gou hul greep moes verloor?
En sal die werfse a capella-groep
môre tóg met leedwese na hom roep?
* Gevlekte muisvoël, Colius striatus
Mei 2009
- Besoek
Van kleintyd af het dié kostuum geboei:
die hoep-hoep met sy bont swart-en-wit
vlerkstrepe langs die oker bors gestik
en die helmkuif wat hy soms opruk
waar hy vreedsaam en so ontstellend
opvallend op die gras loop en pik.
Ná ‘n nag van Adamastor se woedende wind
en vloede, het hy ‘n weiding in die agtertuin
gevind. Daar pik hy rond. Ek staar verruk
dat só iets moontlik is, dat ‘n klein soldaat
so sierlik uitgevat, hiér kom pronk. Hy skrik,
vou sy veerkroon oop in saluut – en vlug.
Ek ril: ‘n Vors het my so pas besoek.
© Lucas Malan. Junie 2009
Bestek: 2009
Diep middeljarig het ek geword
bo alle lus en verwagting, oud;
met vratte op die voorkop en ‘n klont
in die skrotum. Onbegeerlik. Lélik
oud het ek geword
met gate in die gebit. Mikro-spatare
in ‘n fyn borduurwerk op die enkel
aan die linkerkant, stempel die stand
van oorgewig. Die ander een, regs,
swel weer op in die stygende hitte
van drié swelgende somermaande –
‘n Sorgwekkende geval het ek geword,
jaar na jaar. Maar die geheue, die taai
ou bondel in die brein, dié hou nog kop.
Met elke lente, met iedere skemerdop
kom ál die tam wetters weer aangekruip
om aan die geil uier van ons jeug,
die lyf se óú speenvreugdes te suip.
© Lucas Malan. Junie 2009
Flater
’n Glas val van die tafel af;
dit bars in skerwe skerp
geslyp met snykant-stukke.
Die tulpgevormde glas
lê só haar funksie af
in een van talle ongelukke.
Vee die splinters op, skraap
die letsels bymekaar en smyt
dit in die asblik in. Gaan raap
’n ander een op. Jammer tog,
so iets kom ons almal oor –
So is dit. Geen verwyt.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

