marius swart
Marius Swart: Ek is ‘n kind van die Overberg wat op Bredasdorp gebore is en daar in die distrik my verstand gekry het. Daarna is ek Stellenbosch toe. Ek het in 2008 my Meestersgraad in Vertaling voltooi oor die vertaling van Afrikaanse romans in Engels. Van my gedigte het in 2006 en 2007 in die studentedigbundel Penseel, asook in die 2008-Versindababundel, verskyn. Deesdae werk ek by die departement Afrikaans en Nederlands aan die US. In my vrye tyd het my naastes vreeslik ergernis om my weg te hou van die plaas af, want dis waar dinge vir my begin en eindig.
|
Skipskop
klippers, skulpe
geroeste bottelproppe
kraak hier ondervoets
strandhuise
hul oë, littekens
en swart monde
halfbegrawe
in die harde grys veld
’n rondomtaliewasgoeddraad
geroes
op ’n lap kikoejoe
in ’n agterplaas
’n bietoubos gegord
in die plankvloer
van ’n klaskamer
duskant die skool die hawe
sy uitsleepplek
brokke gebreekte beton op die strand,
en ’n saal met ’n stoep
in die muurpleister ’n spinnerak
van ’n Saterdagaandsetees
en die naderende sand.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008