Martjie Bosman is op Groblersdal gebore. Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1985 ’n meestersgraad in Afrikaanse letterkunde behaal. Sy gee twee jaar Wiskunde aan die Hoërskool Warmbad. In 1981 word sy as letterkundenavorser by die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing van die RGN aangestel, maar doen later veral navorsing oor sosiale vraagstukke en landelike ontwikkeling. Sedert 2000 is sy argivaris vir Afrikaanse radioprogramme by die SAUK en word in 2004 as redakteur by Protea Boekhuis aangestel.
Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang.
’n Aantal artikels en ander publikasies oor sosiaal-wetenskaplike en literêre onderwerpe het ook uit haar pen verskyn. In 2010 verskyn haar bundel Toevallige tekens by Protea Boekhuis.
INSTALLASIE: KISPAK
vir Jan van der Merwe
Die intieme klein gebaar van die hand
wat die skeermes in die skottel spoel
word eindeloos in flikkerblou herhaal,
word monument vir Jan en Alleman
wat dalk maar eenmaal die kispak dra:
’n spogpak, ’n troupak, ’n aandpak,
’n pak vir ’n okkasie, met gepoetste skoene,
skoongeskeerde gesig en gekamde hare.
Dan word die pak diep weggepak
tot dié dag as die kis
die pak weer waardig is.
INSTALLASIE: VERTOONKAS
vir Jan van der Merwe
Hier sou hulle die beste goedjies hou
in so ’n hoekige halfmaankas
met ’n klein kopersleutel en ruite van glas:
die blomkoppies met randjies van goud
die klein kelkies vir Sondag se soet wyn,
miskien ’n hondjie of herderinnetjie,
’n blombakkie van kleurige porselein
en ’n lepeltjie van ’n vreemde plek.
Hier ook was die vergete kommetjies
wat gebeure moes herdenk, in die geheue
nou verbleik soos die vaal prent bo die kas.
Hier moet ons ook die hande onthou
wat sou vryf en vryf om iets te herwin
van ’n dowwe glans onder lae patyn.
© Martjie Bosman. Mei 2009.
Wena Naudé
‘n Mens sou wel kon wonder wat het jou besiel
om die geliefde plaas te verlaat en aan te tou
agter die voortvarende Hollander aan.
Wat het jou laat vermoed dat jy so goed sou pas
in die rolle van vroue uit vreemde lande?
‘n Mens sou ook kon vra wat dit was
wat jou kon dra deur die desperate depressiedae,
wat het jou gees bly voed toe jy moes oorleef
deur honger, huwelike wat nie hou nie, slenterslae.
‘n Mens durf skaars dink hoe sou dit in jou klere sit
toe jy vernederd en vergeet in Foschini moes gewaar
hoe winkeljuffers agter hande fluister en veelseggend knik.
Sou ‘n mens jou vra, weet ons nou, sou jy met jou oë
steeds vertrouend blou, sonder twyfel sê:
“Dis omdat ons almal verliefde dromers was.”
Uit: Versindaba 2005, Marlise Joubert, Protea Boekhuis, 2005