Petra Müller is ’n Overberger bekend vir haar kortstories, kinderboeke en gedigte. Sy het aanvanklik kortverhale in tydskrifte gepubliseer en later verskeie kortverhaalbundels die lig laat sien. Tussendeur het haar digbundels verskyn: Obool (1977), Patria (1979), wat met die Eugène Marais-prys bekroon word, Liedere van land en see (1984), My plek se naam is Waterval (1987), Swerfgesange vir Susan (1997) en Die aandag van jou oë (2002), waarvoor sy in 2005 die Hertzogprys ontvang het. Daarna verskyn ’n bundel gedigte in Engels, Night Crossing. In 2012 verskyn Om die gedagte van geel wat met die ATKV-poësieprys en die Suid-Afrikaanse literêre toekenning vir poësie bekroon word. Van haar gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Miskien sal ek die wingerd prys, en Digters en digkuns. Saam met Nelleke de Jager stel sy die versamelbundel Nuwe stemme 2 saam. Haar gedigte is onder andere in Frans, Nederlands en Russies vertaal en dit word ook getoonset, onder andere deur Lize Beekman, wat “Die aandag van jou oë” opneem op die CD “Draadkar oor die see”. Petra Müller is in 1995 aangewys as die Boekjoernalis van die Jaar, aangesien sy ook ’n aansienlike oeuvre aan resensies en letterkundige essays gelewer het. |
Stadig sweef
As ek soms nog die paar pelikane oor die stad sien gly
dan voel dit my Verloorvlei is tog nog steeds aan Rondevlei verbind;
ook dieper in Afrika, Chobe byvoorbeeld, waar ek pelikane
soos trosse ou en jong rose langs die waters sien sit het
om dan met klepperende bekke in groepe die stroom in te sak
en onsigbare vis in te hok vir die vangs.
Ronding na ronding was dit.
Wat gebeur hier: visse wat silwer, voëls wat roos is
en kringslaan soos vlote van skepe?
Die toeval, geslepe soos altyd,
bring my ook hier in …
Pelikane moet aanhaal en swaar styg en hoog sweef.
Moet altyd afstand opweeg teen vlerkspan; moet elke aan-haal
opweeg teen die moontlik voortydse afdaal na onder,
al roep ek ook die lengte van ’n Groot Meer vir jul op
en ’n vlugtige skittering onsigbare vis.
Selfs ék het eenmaal in die nag in Vloorvlei se riet
tussen julle gestaan en gevoel hoe vis
verwilderd om my skiet. Die eenmaal was ook ek omkring
deur geweldig die vlerke wat my toe nog nie geskik bevind
het vir die gevleuelde werk.
Ons sal nog sien wat eendag gebeur
as ek my op my eie bevind
bo die eventuele oopte van die Meer.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008