philip de vos
Philip de Vos is ’n oud-onderwyser, operasanger, fotograaf en versiemaker. Sy foto’s van boekmense is landwyd uitgestal en verskyn op die CD-Rom Verswêreld. Hy is veral bekend vir sy lawwe verse en limericke en het sedert 1984 twintig boeke en verskeie rymvertalings gepubliseer.
Mallemeuleman [2004] bevat ’n keur van meer as 300 van sy versies. Sy eie Engelse weergawe van die Karnaval van die Diere het in die VSA verskyn asook in vertaalde vorm in Italië, Duitsland en Nederland. Hy het ook reeds hierdie verse saam met simfonieorkeste voorgedra. Veertien komponiste het van sy werk getoonset en sy CD Brommer in die Sop, waarop hy die Albie Louw-toonsettings van sy versies sing, is in 1998 vrygestel. Luister na ‘n video-greep op YouTube van Philip de Vos & Albie Louw [klavier] tydens sy optrede by Versindaba 2007. |
Die Tsitsikammamamma
in die Tsitsikammabos
voer
haar Tsitsikammakietsie
Tsitsikammakietsiekos.
Toe sê die tsitsikietsie:
“Ek is Tsitsikatjielus
vir ’n Tsitsikatjiepiering
vol van Tsitsikatjievis.”
die Tsitsikammamamma
maak toe kamma
’n verskoning
en sê daar is g’n Kietsiekos
in die Tsitsikammawoning.
Toe sê die Tsitsikietsiekat:
“O Kietsiekatgedorie!”
En dis die end
van die
Tsitsikammatsitsikietsiestorie.
Uit: Mallemeuleman (2004),
opgeneem in Versindaba 2005, Marlise Joubert, Protea Boekhuis, 2005