Thérèse Bartman
Thérèse Bartman is ‘n terapeut en gemeenskapswerker. In 2006 begin sy ‘n skrywersgroep met jongmense van Scottsville in Kraaifontein. Hul eie toneelstuk oor die gevare van Tik in hul gemeenskap, is in 2008 onder andere by die Woordfees opgevoer. Met haar aanmoediging skryf hulle ook poësie en woon haar gereelde werksessies in die gemeenskap by. Thérèse voltooi tans haar DTh (UNISA) proefskrif getiteld: Pastoral care and the challenge of poverty: when opening hearts and minds create possibilities in a marginalised school community.
Thérèse het gedebuteer in “Nuwe Stemme 3” in 2005. |
Stilte 2
In die skool van baie ure en trofeë in glaskaste
seker tabelle en roosters en
asseseringsvorms
en keerdatums waarna vakhoofde gebukkend staar
en dan hul eie herevalueer
soos honde wat in die gebreekte strate buite hul eie kots opsoek
is nie plek gemaak
vir die skaam begeerte na meer verstaan.
vir die verlange na die woord wat uit die dood opstaan
nie.
Daarom dra jy dag in dag uit
alleen die vormlose stilte
wat later soos ‘n gehakte sweetpaktop ruik na jou
en so word – termyn op grys termyn – die onverskilligheid vervul
teenoor grootmens
woord
en wonderwerk.
© Thérèse Bartman