Nuwe Bundels 2021
Ander digbundels in die jaartal:
2020, 2019, 2018, 2017, 2016, 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.
Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2000 – 2012
Kyk ook na ander lyste op hierdie webtuiste. Resensies van digbundels verskyn gereeld.
Smee
Gerhard Barkhuizen
In sy debuut as digter ontgin die sielkundige en visuele kunstenaar Gerhard Barkhuizen (1956) onder meer die wisselwerking tussen woord en beeld. Net soos metaal kan woorde gesmelt, gegiet, gesmee en gesweis word om nuwe en verrassende vorms te skep. Die afgebeelde kunswerke in dié uitsonderlike bundel is almal van sy hand.
Benewens die beeldende kuns handel sy gedigte ook oor ervarings uit sy nomadiese jeug, sy buitelandse reise en praktyk as sielkundige. In Smee is ’n ambagtelike en woordvaardige kunstenaar aan die werk. Dit is verse dié waaruit die vonke spat.
Oor die outeur
Gerard Barkhuizen werk voor sy aftrede as sielkundige in Worcester terwyl hy tussendeur skryf en tyd aan sy visuele kuns spandeer. Sy kunswerke van yster en metaal asook sy linosneë en skilderye is in groepuitstallings opgeneem. Smee is die eindproduk van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Joan Hambidge aan die Universiteit van Kaapstad.
[Turksvy Publikasies 2021. Prys: R250.00, 98 Bladsye. ISBN 978-0-620-97149-2]
Teen Helderberg
Louis du Plessis
Teen Helderberg is Louis du Plessis se debuutbundel. In die bundel beleef die skrywer – sedert sy jong dae teen Helderberg met boeiende rym, ‘n reeks uitdagende kontraste:
-
-
-
-
- tussen natuur en stad
- tussen verstening en herlewing
- tussen konflik en vrede
- tussen slagofferskap en veerkrag
- tussen die magtige kosmos en die skeppende enkeling
-
-
-
Oor die outeur
Louis du Plessis doktoreer, doseer en publiseer in politieke wetenskap en krygskunde, terwyl enkele van sy gedigte op LitNet verskyn.
[Naledi 2021. PRYS: R240. FORMAAT: SAGTEBAND, 213 x 137 MM. 144 BLADSYE. ISBN: 9781928530862]
Liedjes / Liedjies
Nachoem M. Wijnberg
Vertaal deur Daniel Hugo
Wijnberg se poësie word gekenmerk deur helder, byna deursigtige taal. In hierdie bundel is daar ’n durende soeke na die regte woorde waarmee ragfyne verhoudings, vervlietende oomblikke en eenvoudige dinge soos die geur van appels, ’n tuin, ’n voël in die lug, ’n sonsondergang of die nabyheid van mense bestendig kan word. Liedjies moet soms herstel wat gebreek het, soms die vergeet besweer, soms naboots wat net half onthou word. Al is daar musiek, dans en grappe, soek die digter steeds na dié liedjie wat dalk iewers bly lê het en wat dalk die droefheid oor wat verbygaan en verlore is, kan besweer.
Oor die outeur
Nachoem Wijnberg debuteer in 1989 as digter en het sedertdien 18 digbundels en vyf romans gepubliseer. Vir sy poësie het hy onder meer die Ida Gerhardt-, VSB- en P.C. Hoofdprys ontvang.
Wijnberg is hoogleraar in Kulturele Ekonomie en Ondernemerskap aan die Sakeskool van die Universiteit van Amsterdam.
Oor die vertaler
Daniel Hugo het sedert sy debuut in 1981 reeds 17 digbundels gepubliseer. Hy het talle pryse vir sy werk as radio-omroeper ontvang, onder meer tien ATKV-pryse, Artestoekennings en die Akademie se Erepenning vir Radiohoorbeelde. Vir sy vertaling van Nederlandse literêre werke in Afrikaans is die Van Ewijck-stigting se prestasiebeurs vir die bevordering van kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland in 2015 aan hom toegeken. Sy vertalings is reeds twee keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon, naamlik vir romans van Tom Lanoye (Sprakeloos) en Stefan Hertmans (Oorlog en terpentyn).
[Imprimatur, 2021]
Meer as woorde
Rina Cascione
Cascione maak haar debuut met Meer as woorde. Dit ontgin aspekte van die liefde, reise na Europa, weduweeskap en jeugherinneringe. Aan die einde van die bundel is daar vertalings uit Italiaans, haar derde taal, asook uit Engels en Spaans.
Oor die outeur
Rina Cascione het haar professionele loopbaan, en die jare daarna, aan die kunste gewy. Sy het musiek op Stellenbosch studeer, met ’n verdere drie jaar oorsee, in Strasbourg en Genève. Sy het ’n B.A.graad, met onder andere kunsgeskiedenis, Frans en Duits by Unisa behaal. Met haar terugkeer het sy klavier en musiekgeskiedenis aan die Musiekdepartement van die Technikon in Pretoria (die huidige TUT) doseer en landwyd as musiekeksaminator vir Unisa opgetree. Sy het ook op die keuringspaneel van Unisa se Internasionale Klavierkompetisie gedien.
[Naledi 2021 Formaat: SAGTEBAND, 213 mm x 137 mm, 113 bladsye. Prys: R240.00. ISBN: 9781928530824]
VRUGBEGINSEL
De Waal Venter
Die titel verwys na ’n tipiese vrugbeginsel van ’n plant. Die vrugbeginsel sit in die hart van die blom en daaruit ontwikkel die vrug wat uiteindelik ryp word en weer saad voortbring. ’n Gedig kan die begin van ’n vrug vir die leser wees – ’n vrug van verbeelding, van ’n beter soort verstaan van die wêreld om jou.
Oor die outeur
De Waal het in verskeie genres gepubliseer: poësie, kinderboeke, jeugromans, TV- en radio-vervolgverhale, film, literêre kortverhale en verhoogdrama. In 1984 het hy ’n erepennning ontvang vir sy radiodrama “Die werklike Buys Buys”. Sy ander radiodramas het ook Idem-pryse verower.
Sy jongste digbundel, Oop sirkel, het in 2017 verskyn en ’n bundel verse van Pablo Neruda wat hy uit Spaans vertaal het, Vandag is boordensvol het in 2019 verskyn, albei by Naledi.
In 2020 word die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Prys vir Vertaalwerk aan Vandag is boordensvol toegeken.
[Naledi 2021. Formaat: sagteband, 213 mm x 137 mm. Bladsye: 100. Prys: R240.00. ISBN: 9781928530855]
Splintertyd
Dolf van Niekerk
Splintertyd verskyn in Van Niekerk se twee-en-negentigste lewensjaar terwyl die koronavirus woed. Dié bundel staan in die teken van verlies aan kragtigheid maar ook ’n triomf van lewe waarin
… sintuie
soos vingers
uiteindelik my oë sal wees.
Intense bewustheid van die mens se plek in sy omgewing en die heelal spreek uit gedigte waarin die mens se roekelose oorbenutting lei tot die aarde wat
… soos ’n verskrompelde ertjiepit
sy baan kwytraak in die ruim.
– Jeanette Ferreira
Oor die outeur
Dolf van Niekerk het sy loopbaan begin as omroeper by die destydse Afrikaanse diens en later oorgeskuif na Landbouradio. By sy aftrede was hy Direkteur van Landbou-inligting in die Departement van Landbou. As skrywer is hy veral bekend vir sy prosawerke Die son struikel (1960), Skrik kom huis toe (1968), Die haasvanger (1985) en Kroniek van turf (2016), maar is ‘n baie veelsydige skrywer wat ook dramas en digbundels gepubliseer het. Berigte uit die skemer is die jongste toevoeging tot die lys digbundels, wat ook Nag op ‘n kaal plein(20016), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013) en Portrette in my gang(2016) insluit.
[Imprimatur Uitgewers 2021. ISBN 978-0-620-94670-4]
de laatste framboos
Elly Stolwijk
In de laatste framboos schetst de schrijver in proza en poëzie de beleving van een vrouw die, in de negende maand van de zwangerschap, moet constateren dat haar ongeboren kind overleden is. In 1986 verblijft Elly Stolwijk (1957) als vogelwacht twee maanden op een onbewoond eilandje in de Waddenzee. Daar, midden in de wildernis, besluit ze toelatingsexamen te doen voor de Gerrit Rietveld Academie. In 1993 studeert zij af aan de afdeling Autonoom. In haar werk zoekt ze in tekeningen, installaties en gedichten naar de verbinding tussen de woorden en de beelden. Ze debuteert als dichter succesvol in 2020 met de bundel liefde de vluchtige holte.
Het Poëziecentrum te Gent nomineerde deze bundel voor de Poëziedebuutprijs 2021.
[In de Knipscheer 2021. 90 blz. € 19,50. ISBN 978-94-93214-52-1]
mag die diep slaap jou dan
Hilda Smits
Soos Hilda Smits se eerste, bekroonde bundel die bome reusagtig soos ons was betrek die verse in hierdie bundel die leser by die hoogs persoonlike en gee dit terserfdertyd betekenis aan die universele belewenis. Die verse is magies soos bewussynstroom, soos drome waar die kloutjie nie altyd by die oor uitkom nie, ʼn mens ervaar dit met jou onderbewuste, in jou maag. Dis dromerig soos meditasie, dis soos sit en staar na reën teen ʼn ruit. Sinne is onvoltooid, werkwoorde hang in die lug sonder naamwoorde, byvoeglike naamwoorde is bedrieglik eenvoudig; “gewone” woorde soos mooi, sterk, fyn, jonk – dis egter die onverwagse beelde wat verras, en woorde wat buite hul normale konteks ingespan word, wat jou uitknikker.
Oor die outeur
Hilda Smits is ’n boorling van Potchefstroom, maar het haar nagraadse studie in Sielkunde in Londen gedoen. Ná ʼn dekade van (onder andere) wortels pak in Londen bevind sy haarself deesdae in Philadelphia, VSA, waar sy as psigoterapeut praktiseer.
Van haar gedigte verskyn in New Contrast, Vonkverse en Nuwe Stemme 5. Smits debuteer in 2016 met die bome reusagtig soos ons was. Dit is in 2017 met die Ingrid Jonker-prys vir poësie bekroon. Dié bundel is deur beoordelaars beskryf as “‘n boeiende debuut”.
[Protea Boekhuis 2021. PRYS: R220.00. FORMAAT: 164 x 194 mm. Sagteband. AANTAL BLADSYE: 80. ISBN: 978-1-4853-1294-9]
Inferno
Dante Alighieri
Vertaal en verklaar deur Cas Vos
Wie met Cas Vos se Die goddelike komedie (2017) kennis gemaak het, sou ’n smakie gekry het van sy uitnemende vertaling van gedeeltes uit die Inferno (I, 1-6; XXVI, 112-120), asook toeligting in sy inleiding en aantekeninge ten opsigte van die historiese en kulturele konteks en die bepaalde verspatroon (die rymende tersine). Sy meesterlike Il Paradiso (2018) het hierop voortgebou en verder bewys gelewer van sy vernuf om vorm en taal te beheer en ’n ware tour de force te skep. Met die huidige bundel kry die leser die volledige Inferno, weer eens met vertaling in rymende tersines, ’n inleiding en verklarende aantekeninge.
Hierdie vertaling van Dante se Inferno is die eerste rymende versvertaling in Afrikaans en ’n unieke bydrae tot die groeiende skat van Afrikaanse vertalings van die wêreld se meesterstukke. Vers-vertaling op hierdie vlak en skaal vereis hoë tegniese vaardigheid, sterk skeppingsdrang, volgehoue toewyding en besondere taal-vermoë – en ’n groot dosis entoesiasme, passie en liefde. Dit is ’n prestasie wat in die voorsienbare toekoms onherhaalbaar is en lank ’n standaardwerk sal wees.
– W. J. Henderson
Oor die outeur
Cas Vos is ’n bekende digter en ook ’n gerekende vertaler. Hy het hom bewys as meestervertaler uit Hebreeus, Grieks en Italiaans. Sy vorige werke sluit in: Die goddelike komedie (2017) en Il Paradiso (2018). In albei het hy homself bewys as meestervertaler van die wêreld se meesterstukke. Sy nuutste bundel, Inferno, is die eerste rymende versvertaling van die meester Dante Alighieri in Afrikaans.
Cas Vos ontvang reeds die volgende pryse: Die Andrew Murray-prys, die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Orde van die Goue Pen deur die Cordis Trust. Hy was vanaf 2004 – 2006 die President van die Internasionale Homiletica Societas. Hy het reeds 12 digbundels die lig laat sien. Sy vertalings sluit in: Die vertaling van Hooglied uit Hebreeus, Fragmente uit die Ilias en die Odusseia van Homeros uit Grieks. Hy het ook Dante se Il Paradiso uit Italiaans vertaal.
[Naledi 2021. Formaat: Sagte band, 213 mm x 137 mm, +/- 484 bladsye. Prys: R260.00. ISBN: 9781928530565]
Wat ek van klippe weet
Jan Wagner
Vertaler: Robert Schall
Gedigte van Jan Wagner (gebore 1971), die veel bekroonde en by die leserspubliek waarskynlik die gewildste hedendaagse Duitse digter, verskyn nou vir die eerste keer in Afrikaanse vertaling. Uniek in Afrikaans bevat hierdie enkele bundel vaste digvorms soos die sonnet, kwatryngedig, Sapfiese strofe, sestina, tersine, villanelle, haikoe en rondeel, maar ook die vrye vers en prosagedig. Uniek is ook dat die Afrikaanse vertalings Wagner se omvangryke en speelse gebruik van tradisionele rymvorme, maar ook ongewone rymvorme soos die skuinsrym, pararym en anagramrym weergee.
Oor die vertaler
Robert Schall is in Duitsland gebore en het daar groot geword. Hy het aan die Universiteite Karlsruhe (Duitsland) en Kaapstad gestudeer, en was Professor in Wiskundige Statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat tot sy aftrede in 2018.
Hy het GR von Wielligh se Boesmanstories in Duits vertaal as Die Sterne sind glühende Kohlen und Asche, gepubliseer in 2005. Sy vertalings van Afrikaanse gedigte in Duits en Duitse gedigte in Afrikaans het in die letterkundige tydskrif Stilet en op versindaba.co.za verskyn. Hy het Jan Wagner se gedigte vertaal as deel van ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat.
[Naledi 2021. Formaat: SAGTEBAND 213 mm x 137 mm. Prys: R260.00. ISBN: 9781928530633]
Na die wette van Afskeid en Herfs
Eddy van Vliet
Vertaler: Daniel Hugo
Die Vlaamse digter Eddy van Vliet is een van die kragtigste stemme in die Nederlandse digkuns van ná die Tweede Wêreldoorlog. Sy gedigte word gekenmerk deur universele temas soos die liefde en dood. Die digter bou met beeldende taalgebruik ‘n brose binneplaas in ‘n bedreigende wêreld, ‘n tydelike verblyf tot en met die onafwendbare verval. Sy bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet.
Van Vliet se gedigte is intens outobiografies, veral ten opsigte van die afwesige vader. Die digter is ‘n romantiese genealoog wat diep put uit ‘n veelbewoë lewe, maar hy bly weerbaar met ironie en selfrelativering.
– Yves T’Sjoen (Universiteit Gent)
[Protea Boekwinkel 2021. Prys:R200.00. Formaat: Sagteband, 100 bladsye. ISBN: 978-1-4853-1179-9]
I Wish I’d Said… Vol. IV
Anthology
Life under lockdown has been a dramatic event. The fourth annual AVBOB Poetry Competition coincided with the first year of the COVID-19 pandemic in 2020. Yet the competition attracted a record number of entries. An excess of 41 000 poems were entered by writers between 7 and 98 years of age. Six specially commissioned poems by established poets in each official language (66 poems with English translations) appear in this volume, as well as the three winning poems in each of South Africa’s 11 official languages (33 poems with English translations). To round out the collection, those 99 poems are completed by 4 contemporary Khoikhoi poems. As voices from the past reach into the present, so the voices in this anthology will stretch into the future, when they will be read as a reflection of this terribly interesting time. These words of beauty and balm by some of South Africa’s finest poets will offer readers a definite taste from diverse voices. The poems on these pages will comfort and console the bereft. Immerse yourself and be inspired, as these flights of imagination uplift your spirit.
About the compilers
Johann de Lange made his debut with Akwarelle van die dors (1982) for which he received the Ingrid Jonker Prize. In 2009 he received the Hertzog Prize for Poetry for his volume of poetry, Die algebra van nood. He lives in Cape Town.
Dr Rethabile Possa-Mogoera is a lecturer at the University of Cape Town in the school of African Languages and Literatures. She obtained her Ph.D. at the University of South Africa in 2013.
[Naledi 2021. Prys: R240.00. Formaat: Sagteband, 210 mm x 148 mm / A5. 360 bladsye. ISBN: 9781928530541]
Landluisteraar
Carina van der Walt
Landluisteraar is Carina van der Walt se debuutbundel in Suid-Afrika. Die bundel bevat toeganklike gedigte soos strome klank deur ’n dorre landskap. Stilspraak, Strijdom van der Merwe en Landkuns is in 2020 deur Carina van der Walt gepubliseer. Landluisteraar is ’n voortsetting van Stilspraak met gedigte oor Van der Merwe en sy landkuns.
Oor die outeur
In 2015 debuteer Van der Walt as Afrikaanse digter in Nederland met Amalgaam, ’n tweetalige digbundel. Enkele van haar gedigte is opgeneem in Nuwe Stemme 5 (2013).
Carina van der Walt verwerf in 2004 haar meestergraad in die letterkunde aan die Noordwes Universiteit.
Lees meer op www.carinavanderwalt.com .
[Naledi 2021. Prys: R240.00. Formaat: sagteband 213 mm x 137 mm. 100 bladsye. ISBN: 9781928530527]
Derde gety
Zandra Bezuidenhout
Derde gety dui op ‘n oorgang waarin hede en verlede versmelt. ‘n Nuwe tydruimte van ewewig, besinning en tuiskoms breek aan, waarby uiteenlopende onderwerpe uit ‘n ryk ervaringswêreld betrek word.
Die bundel behels ‘n verskeidenheid beeldryke verse, met ‘n fyn aanvoeling vir o.m. skoonheid in al haar manifestaties, menslike verhoudings en deurgaans ook ‘n maatskaplike bewustheid. Die taalgebruik is vindingryk maar helder, en die gedigte getuig van ‘n besonderse poëtiese vakmanskap.
Oor die outeur
Zandra Bezuidenhout se debuut, Dansmusieke, is met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Haar letterkundestudies aan die Universiteite Stellenbosch en Leiden was die aanloop tot ‘n doktorale proefskrif oor die poësie van eietydse Afrikaans en Nederlandstalige vroue. Sy is tans ‘n vryskutvertaler. Derde gety is die digter se derde digbundel.
[NB Uitgewers 2021. Prys: R250,00. Bladsye: 96. Formaat: 234mm x 152mm. Sagteband Kategorie. ISBN13: 9780798181709]
Die slingerplant se wintergroei
Rosa Smit
Nou val vere uit die lug van dooie voëls, riviere
rittel met koue skouers en hulle
vingers grou ’n lêplek in die sand.
Rosa Smit se gedigte bied, in die woorde van Marianne Moore, werklike paddas (“toads”) in verbeelde tuine, ook met die “noodsaak” wat Opperman van ’n gedig vra.
Hierdie digbundel dek ’n wye spektrum: van liefde, groei, gebed, opstanding tot skeiding.
Oor die outeur
Rosa Smit is ’n wydgepuliseerde skrywer van o.a.Krone van die narsing in 1987, waarvoor sy die gesogte Ingrid Jonker-prys ontvang. Van haar verse is in verskeie bundels opgeneem, o.a. Die braambos brand, Die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans en ’n Honderd jaar later.
Vers oor vers, gedigte wat gedeeltes uit die Bybel verhelder, is ook ’n vrug van Rosa se pen.
[Naledi 2021. Prys: R240.00. ISBN: 9781928530442]
Een engel aan de deur
Aly Freije
In haar dichtbundel Door het vanggat en de novelle De vloeivelden in ging Aly Freije op zoek naar de impact van ontheemd raken en cirkelde ze rond de betekenissen van leven met verlies. In deze nieuwe gedichten in Een engel aan de deur dringt ze daar dieper in door. In de spanning tussen spreken en zwijgen stuit ze op de draagwijdte van gemis en rouw. In flarden van stiltes duiken stemmen op. Tussen de polen van verwondering en wanhoop dwaalt ze door aangetaste landschappen, stuit op sporen, is ze op zoek naar een zeker evenwicht. Veel is in beweging, de fantasie stuwt voort, paarden draven, voertuigen versnellen, een luchtbed verandert in een watervliegtuig. En altijd zijn er de vogels, de gevleugelden die boodschappen overseinen.
Wat doet het meisje aan een keukentafel
dat over ijsschotsen de overkant wil halen.
Ze trotseert gezichten, spreekt de honden toe, zingt
zigzagt langs scherpe randen, waagt de sprong…
Veel is in beweging, de fantasie stuwt voort, paarden draven, voertuigen versnellen, een luchtbed verandert in een watervliegtuig. En altijd zijn er de vogels, de gevleugelden die boodschappen overseinen.
Oor die outeur
Aly Freije publiceerde in 2009 de Groningstalige poëziebundel Wondpoeier, uitgeverij kleine Uil. Daarna volgde Nederlandstalig werk bij uitgeverij In de Knipscheer, in 2016 de poëziebundel Door het vanggat en in 2018 de novelle De vloeivelden in. Poëzie van haar hand verscheen in literaire tijdschriften als Het Liegend Konijn, Krakatau, Brakke Hond, Extaze, Gierik & Nieuw Vlaams Tijdschrift (G), Meander en Tzum. Ze trad vooral veel op noordelijke podia op, o.a. bij Dichters in de Prinsentuin, Explore the North, Het Grote Gebeuren en Grasnapolsky.
[In de Knipscheer 2021. 58 blz. € 17,50. ISBN 978-94-93214-18-7]
die Vlug van ʼn Vreemdeling
Magmoed Darwiesj (soos vertaal deur Bester Meyer)
Magmoed Darwiesj (1941-2008) se werk is letterkundig uitsonderlik. Die krities bekroonde digter word gesien as een van die belangrikste digters in die Arabiese taal. Meer as twintig digbundels en tien prosawerke verskyn uit sy pen, en hy was redakteur van die internasionale letterkundige tydskrif al-Karmel in Rammallah. Hy word beskou as die stem van sy mense en ’n legende. Sy verse het wêreldwyd aanklank gevind by verskillende groeperinge en word deur sowel arbeiders as skoolkinders voorgedra.
Die Vlug van ʼn Vreemdeling is omdigtings van Darwiesj se belangrikste verse, en veral van sy latere werk. Vir die eerste keer kan die Afrikaanse leser die trefwydte en impak van die werk van hierdie belangrike digter in sy spreektaal ervaar.
In Darwiesj se woorde: die mensdom ly aan ʼn ongeneesbare kwaal: hoop. Deur die vreemdelingskap van ander te probeer verstaan kan daar (weereens in Darwiesj se woorde): verhoed word dat hierdie ‘vrede’ ons as ʼn hopie stof sal agterlaat.
‘As jy slaap en die sterre tel, dink aan ander
(dié wat nêrens het om te slaap nie).
As jy jouself bevry in ’n metafoor, dink aan ander
(die wat hulle reg om te praat, verloor het).
As jy aan ander ver weg dink, dink aan jouself –
(sê: “was ek maar net ’n kersie in die donker”).’
Oor die vertaler
Bester Meyer is in Alberton gebore. Hy studeer regte by RAU. Bester het hom voorheen toegelê op musiek en neem ’n kortspeler met sy eie komposisies, Ontmoet jou onder ’n harvest moon (2010), saam met die musikant Albert Frost op. Bester se debuutdigbundel die Testament word deur Naledi uitgegee in 2020 tesame met ses toonsettings van onder andere Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker genaamd Musiek vir jou ure. Bester is tans besig om die Testament in Engels te herskryf en beplan om dit Rebel Song te noem en is verder besig met ʼn Engelse vertaling van André P Brink se roman Lobola vir die Lewe.
[Naledi 2021. ISBN: 9781928530206]
Vlieg vorentoe
Irize Loots
Die digter, wat in Johannesburg gebore is, woon sedert 1993 in Amsterdam waar sy ’n Gestaltterapiepraktyk het, klavierles gee en deeltyds by ’n uitgewer van wetenskaplike, tegnologiese en mediese tydskrifte werk. Dit is haar debuutdigbundel, nadat sy reeds twee novelles en ’n liefdesroman gepubliseer het. In Vlieg vorentoe praat Loots onder meer oor haar verlange na haar vaderland en haar geliefdes hier, terwyl Amsterdam (en Europa) haar terselfdertyd ’n nuwe, kreatiewe lewe, loopbaan en tuiste bied wat sy omarm en liefgekry het.
[Turksvy Publikasies 2021. Prys: R220.00. 124 bl. ISBN: 978-0-0620 920193]
Hierdie Maandag is abstrak
Anita van der Walt
Hierdie digbundel neem die leser op ’n reis deur die digter se geliefde natuurplekke in Suid-Afrika en na lande soos Italië en Nederland, maar ook na binne waar die liefde, afskeid en die dood besoek word. Die poësie-webblad Versindaba en die jaarlikse digkunsfees Tuin van Digters het die digkuns vir haar ontsluit, sê sy.
Hierdie Maandag is abstrak is Anita van der Walt se debuutbundel waaraan sy die afgelope aantal jare gewerk het. Sy het meer as sewentig van haar gedigte, wat ’n aantal haikoes en tankas insluit, hiervoor uitgesoek.
Van der Walt is ’n mediese dokter wat aan die voet van Tafelberg woon. Weg van haar praktyk oes sy olywe in die Baviaanskloof.
[Turksvy Publikasies 2021. Prys: R220.00. 116 bl. ISBN 978-0-620-90301-1]
Maskers en mure
Samestellers: Daniel Hugo en Francois de Jongh
Die Covid-19-pandemie het die hele wêreld onkant gevang. Dit het die afgelope agttien maande gelei tot lewensverlies en werksverlies, ’n inperking van ons bestaan en ’n algehele verandering in ons leefwyse. Te midde van een van die ergste rampe wat die mensdom getref het, moet ons probeer kophou, ook positief bly, al weet ons dié virus wag voor ons hekke en ons vensterruite. Ons moet agter maskers skuil en binne mure bly om onsself en ons gesin en ons bestaan te beskerm.
Maskers en mure is ’n omvattende digbundel oor dié pandemie: Dis die skeppende skryfwerk, in versvorm, van 142 Afrikaans digters (80 gepubliseerde digters en 62 debuutdigters) om perspektief aan dié ramp te probeer gee – hetsy deur hul ervaring van persoonlike verlies, deur hul verwoording van eensaamheid, alleenheid en vrees … maar ook deur humor en ’n soeke na perspektief en begrip.
Die digters dig in Standaardafrikaans, Griekwa-Afrikaans en Kaaps. Hulle kom nie net van reg oor Suid-Afrika nie, maar ook uit Engeland, Skotland, Kanada, Nederland, België, Pole en Taiwan.
Oor die bundel:
Maskers en mure is Covid-19 in poësie. ’n Universele pandemiese tydgleuf van inperking, vereensaming, vrees en sterftes. Statistieke word name, vriende en familie. Persoonlike ruimtes word beproef, tuisbly en saamwoon in kwarantyn is ’n nuwe dimensie. Ekonomiese rampspoed en armoede heers en politici raak stiller in hul retorika. Maskers en mure laat die digters hieroor spreek.
– Francois de Jongh
Deesdae leef ons almal agter maskers en mure, het min sosiale kontak en daar is ’n streep getrek deur ons daaglikse aktiwiteite. Vrees oorheers, en ons doen alles moontlik om onsself te beskerm teen ’n vyand wat onsigbaar in die strate rondsluip op soek na die volgende prooi.
Niemand kyk deur presies dieselfde lens na die pandemie en die maande van afsondering nie. Elkeen probeer dit op sy eie manier verwerk – met óf ontsteltenis, óf optimisme, óf berusting, óf humor. Die skryf van gedigte is ’n manier om te verstaan wat met die wêreld gebeur.
– Daniel Hugo
Maskers en mure is ’n uitsonderlike digbundel wat ’n blik gee op ’n waterskeidingstyd toe die wêreld deur ’n pandemie lamgelê is. Die emosies en perspektiewe van 142 uiteenlopende digstemme maak hiervan ’n tydkapsule vir toekomstige lesers. Hoofsaaklik bekende digters, maar ook nuwes, neem ons op ’n emosionele reis waarmee ons eie ervaring van Covid-19 sal resoneer.
– Hugo Theart, Artistieke Direkteur: KKNK
[Turksvy Publikasies 2021. Prys: R275.00. 271 bladsye. ISBN 978-0-620-92707-9]
Heenkoms
Meyer van Rensburg
38 jaar na Klankmanwoordboom verskyn Heenkoms, ’n beleë bundel waarin taalspel steeds ’n rol speel, maar die leser veral raak met die eerlike worsteling met kwessies soos emigrasie, geloofsvrae en die naderende ouderdom.
Die omslagskildery is deur die skrywer self. Heenkoms is sy tweede digbundel.
Oor die outeur
Meyer van Rensburg is op 4 Julie 1944 in Upington gebore en word groot in die Noord-Kaap en Noordwes. Hy begin sy loopbaan as klankingenieur by die SAUK. Hier maak hy kennis met musiekkunstenaars vir wie hy liedjies skryf. Dit lei weer tot die skryf van poësie, en hy debuteer in 1983 met die digbundel Klankmanwoordboom, wat baie goed deur die literêre kritiek ontvang is.
Ná 1982 word Van Rensburg omroeper by Punt Radio en Radio Kansel. Hy werk ook as deeltydse Bybelskoolleraar en studeer teologie. In 2004 verhuis die gesin na Engeland waar Van Rensburg by verskillende universiteitskolleges doseer en ’n doktorsgraad in Teologie verwerf. Sewe boeke oor teologiese onderwerpe verskyn uit sy pen.
Onder aansporing van Daniel Hugo begin hy weer in Afrikaans skryf.
Hy woon tans in Engeland en skilder in sy vrye tyd.
[Imprimatur 2021. Formaat: Sagteband. ISBN: 978-0-620-92969-1]
Onder die vlerke van jou liefde
Cas Vos
Hierdie bundel handel oor die wonder en heerlikheid van die liefde. Cas Vos is reeds bekend as uitmuntende vertaler. Die hoogtepunt hier is sy vertaling van die Hebreeuse “Hooglied” in Afrikaans. Ná die Hoogliedbundel volg liefdesgedigte uit antieke Egipte. Die liefdesgedigte is ’n uitnodiging aan die leser: “Kom onder die vlerke van die liefde na my tuin toe.” Die bundel is as ’n hegte eenheid op die maat van die liefde gekomponeer.
Prof Jacques van der Elst skryf oor die digbundel die volgende:
Hierdie bundel van Cas Vos handel oor die wonder en heerlikheid van die liefde. Liefdesgedigte is so oud soos mensetaal, in geskrewe vorm so oud soos die skryfambag self. Ons lees en hoor die liefdesklanke in ’n ou Egiptiese liefdesgedig:
My hart se allerliefste
is daar, aan die anderkant!
Die stroom is tussen (ons),
die vloed is oorweldigend in (hierdie) oomblik.
Cas Vos is reeds bekend as uitmuntende vertaler. Daarom is dit geen verrassing nie dat hierdie bundel liefdesgedigte hoofsaaklik vertalings bevat. Die hoogtepunt van die bundel is die vertaling van die Hebreeuse Hooglied in Afrikaans. Die Hoogliedteks word deur begeleidende en ophelderende aantekeninge vergesel. Op verrassende wyse kry die Hebreeuse gedigte ’n nuwe klank en ritme. Dit is veral die veelvoud Hebreeuse poëtiese strategieë wat die trefkrag van die eiesoortige vertaling verhoog. Hooglied is ’n weldeurdagte komposisie, wat vir die mens op sy en haar liefdesreis soos Mozart se musiek in die ore klink. Ná die Hoogliedbundel volg ’n aantal liefdesgedigte uit antieke Egipte. As slotbeweging dek die digter se eie liefdesgedigte die skoonheid van die liefde met verwondering oop.
In hierdie bundel hoor ons Cas Vos se eie en unieke stem, maar ons herken ook die reste van ’n ou vlam. Die helder en ligtende vlam van die liefde. Die bundel is as ’n hegte eenheid op die maat van die liefde gekomponeer.
Oor die outeur
Cas Vos ontvang reeds die volgende pryse: Die Andrew Murray-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Die Orde van die Goue Pen deur die Cordis Trust. Hy is vanaf 2004 – 2006 die President van die Internasionale Homiletica Societas. Hy het reeds 11 digbundels die lig laat sien. Sy vertalings sluit in: Homerus se Ilias en Odusseia uit Grieks, en Dante se La Divina Commedia en Il Paradiso uit Italiaans.
[Naledi2021. Formaat: SAGTEBAND. 210mm x 148mm. 182 BLADSYE. Prys: R240.00. ISBN: 978-1-928518-57-0]
Swatland
Ashwin Arendse
In Swatland, Ashwin Arendse se debuutbundel (2021, Kwela), dien die Swartlandse dorp, Malmesbury, as agtergrond vir ’n versameling gedigte wat die spreker volg deur sy grootword- tot universiteitsjare in Stellenbosch.
Arendse bring klank tot lewe deur die vernuwende vergestalting van die bry-r-klank in Swartlandse Afrikaans wat hy met ’n ġ-simbool aandui — die geromantiseerde ghaynsimbool uit Arabies-Afrikaans. Deur hierdie uitbeelding van die bry-klank word die spreker se vertellings van die bladsy afgelig; dialoog word eerlik en onmiddellik uit die karakters in die gedigte se monde gehaal. – Elodie Troskie
Arendse se gedigte ontplof in klank en kleur soos kortfilms. Hy neem nie net as toeskouer ruimtes en karakters fyn waar en verbeeld dit digterlik nie; hy is ook onlosmaaklik deel van die gebeure en verwoord grepe uit die lewe van die Swartlandse bruin gemeenskap waar hy grootgeword het deur beeldryke kontraste en vergelykings te skep. Die narratiewe struktuur van sy gedigte bied ruimte vir lang stories maak, maar hy skryf met ’n intuïtiewe aanvoeling vir spaarsamigheid – gestroop, ja, maar allermins terughoudend. Die gedigte sê wat dit moet en sóveel meer, maar altyd in ’n baldadige en bedrieglike eenvoud wat onverwags sekuur tref en die leser tegelyk asemloos en denkend laat. Hiérin lê die digter se sjarme – onskuld gemeng met die siniese en lakoniese, fyn galgehumor om pyn en onreg in voorgegeede ongeërgdheid te verpak en sosiale kommentaar wat die gewete uitdaag en die leser soms selfs ongemaklik laat. – Louise Viljoen
Oor die outeur
Arendse het in 2018 sy dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en was daarna een van die eerste studente wat in 2020 ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns in Kaaps aan Rhodes Universiteit voltooi het. Volgens Arendse was Swatland egter klaargeskryf voor hy met die meesterskursus begin het, en is die werk wat hy gedurende dié jaar onder die leiding van Nathan Trantraal gedoen het, ’n moontlike publikasie vir die toekoms.
[Kwela 2021. Prys: R 225.00. Formaat: sagteband, 72 bladsye. ISBN: 9780795710070]
Klinkklaar
Daniel Hugo
Geslepe, fyn afgeronde verse van ‘n woordsmid wat slim speel met klank, taal, beelde en verwagtinge. Op toeganklike, klankryke wyse ontgin Daniel Hugo verskillende temas – verblyf in die Lae lande, die liefde, die seisoene, die natuur, die dood, die skryfproses, die taal waarin hy skryf, die pandemie wat ons tans ervaar, die rol van die digter – op speelse wyse en sonder om te skroom om met homself die draak te steek. Met enkele verbluffende vertalings van klassieke gedigte.
Oor die outeur
Daniel Hugo (1955) het Afrikaanse en Nederlandse letterkunde studeer aan die universiteite Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Leuven. In 1989 word ’n DLitt aan hom toegeken vir ’n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Hy was ’n literêre programmaker by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK en is deesdae ’n voltydse vertaler en digter. Sy jongste digbundel, Openbare domein, het in 2018 verskyn. Hy het reeds meer as vyftig boeke uit Nederlands en Engels vertaal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee keer bekroon vir sy vertalings uit Nederlands, naamlik vir Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn.
[Protea Boekhuis 2021. PRYS: R200.00 (BTW ingesluit). FORMAAT: 137 x 213 mm. HARDEBAND/SAGTEBAND: Sagteband. AANTAL BLADSYE: 100. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1260-4]
Nomadiese sterre
Joan Hambidge
Nomadiese sterre bied ʼn terugkyk op Hambidge se net meer as 60 jaar en veral ʼn blik op haar plek in die Hambidge-huisgesin (soos in die gedigreeks “Witbank-Blues” waarmee die bundel afgesluit word). Dié blik word ’n lamentoso, ’n pynlike terugkyk (“Antigone”) en die “blues” ʼn tint wat die stemming van die bundel kleur. Johan Myburg merk op: “Wat deurgaans opval is Hambidge se omgaan met “hartenswoorde”: woorde wat ʼn duidelike persoonlike betekenis het, maar só geboetseer word dat dit die leser toelaat om ʼn eie “hartensbegrip” daaraan te koppel. Wat veel vreugde bied is die spel en dikwels speelse manier waarmee sy omgaan.”
Die verwysing na sterre in die titel open verwysingsvelde van sterre, gesterntes en swerwers.
Oor die outeur
Joan Hambidge het geen bekendstelling nodig nie. Sy is op 11 September 1956 in Aliwal-Noord gebore en is ‘ʼn Suid-Afrikaanse digter, akademikus en letterkundige kritikus. Sy is welbekend vir haar uit-die-kas-skryfstyl. Haar teoretiese bydraes handel meestal oor Roland Barthes, dekonstruksie, post-modernisme, psigoanalise en die metafisiese.
Vir haar tweede bundel, Bitterlemoene (1986), ontvang sy die Eugène Maraisprys vir letterkunde. Meer onlangs ontvang sy ook die Litera-prys vir haar poësie. Van hierdie prolifieke digter is al meer as 25 bundels uitgegee, onder andere by Protea.
[Protea Boekhuis 2021. PRYS: R200.00 (BTW ingesluit). FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband. AANTAL BLADSYE: 88. ISBN: 978-1-4853-1263-5]
Seisoene op parool
Hans Pienaar
Bekende digter en resensent Louis Esterhuizen het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: “Kenmerkend is die ironiese, selfs sardoniese, toon terwyl die stem se personasie in die gedigte dikwels skollieagtig is; iets wat direk verband hou met die titel se verwysing na parool: Iemand wat voorwaardelik vrygelaat is, dog streng by beheermaatreëls moet hou ten einde daardie gewaande vryheid te handhaaf en hernieude tronkstraf te voorkom. Die digter slaag om indrukwekkende wyse daarin om dié filosofiese beskouing van vryheid vs gebondenheid verteenwoordigend van die mens se algehele lewenslot te maak.”
Oor die outeur
Hans Pienaar het naam gemaak as ʼn skrywer oor verskillende genres: Poësie, prosa, drama en ondersoekende joernalistiek, in Afrikaans en Engels. Hy het sy digbundels meestal self uitgegee en veral die eerste, Die taal van voëls, het aandag getrek. Sy roman Die Generaal het tweede prys in NB se Groot Romanwedstryd gewen en is deur hulle uitgegee. Sy boek Die derde oorlog teen Mapoch, ‘n ondersoek na die staat se geheime oorloë teen die Ndebele, verower in 1992 die Rapport-prys vir nie-fiksie.
[Protea Boekhuis 2021. PRYS: R220.00. FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, Bladsye: 100. ISBN (GEDRUKTE BOEK): 978-1-4853-1170-6]
Laramie – ‘n Terugblik op Eugène N. Marais
Jeanette Ferreira (Samesteller)
Eugène N. Marais is in 2021 honderd en vyftig jaar gelede gebore en het vyf en tagtig jaar gelede aan eie hand gesterf. Hy het ’n breë terrein bestryk as prosaskrywer, digter, dramaturg, natuurkundige, hipnoterapeut, regsman en joernalis. Sy Versamelde werke het twee uitgawes beleef en ouer sowel as jonger lesers vind steeds daarby aanklank.
Laramie bevat bydraes deur eietydse skrywers in die vorm van prosa, poësie en essays uit die regte, natuurwetenskappe, sielkunde, filosofie en geskiedenis. Standaardafrikaans, Gariepafrikaans en Kaaps, selfs Nederlands, loop saam op Marais se spoor. Lof en meelewing maar ook fel kritiek bied ’n gebalanseerde kyk op hierdie geroemde, omstrede en tragiese figuur. Dit bevat iets vir almal.
“. . . ’n prikkelende, toeganklike bundel met ’n ryke verskeidenheid . . . fiksie en niefiksie en literêr gewigtig sowel as populêr. Dit is die ideale manier om die erf-lating van Eugène Marais lewend te hou en om selfs Marais-aanhangers verder te laat dink – krities én verbeeldingryk te laat dink oor hierdie belangrike literêre figuur. – Dr. Francois Smith, bekroonde skrywer en letterkundige.
Bydraes deur:
Martjie Bosman Dominique Botha Pierre Cronje Thomas Deacon Piet de Jager Clinton V. du Plessis Hans du Plessis J.C.M.D. du Plessis Erik Holm Daniel Hugo Johan Kruger Johan Marais Johann Lodewyk Marais Jean Meiring Johan Myburg Chase Rhys R.R. Ryger Gerard Scharn Carel van der Merwe Christo van der Westhuizen Ernst van Jaarsveld Ben Viljoen Cas Vos
[Minimal Press 2021]
disteltyd
Marlise Joubert
Met haar nuutste bundel, disteltyd, neem die digter Marlise Joubert bestek op haar lewe; die verouderingsproses met gepaardgaande fisieke aftakeling en verlies, maar ook besinning oor familie, eie kinderjare en die onlangse inperking, beurtkrag en geweld. Dit is gedigte met ’n sterk poëtiese en visuele inslag en word gekenmerk deur ’n introspektiewe, selfs nostalgiese, toonaard. Soos die distel as onkruid ’n saadpluim lewer wat lig, dartelend en lieflik is, is hierdie gedigte ook. Disteltyd is ’n bundel wat weens die geskakeerdheid daarvan ’n belangrike bydrae lewer tot die steeds groeiende korpus van laatwerke; gedigte wat meestal ontroer weens die menslikheid en humor daarin verwoord, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte kenmerkend van ons tyd.
Oor die outeur
Marlise Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Sy het in haar leeftyd drie romans gepubliseer: Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Verder is sy die samesteller van In a burning sea, ’n bloemlesing met 30 Afrikaanse digters se verse wat in Engels vertaal is. Haar agtste digbundel, bladspieël, verskyn in 2015 en word genomineer vir die Elisabeth Eybers Poësieprys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Haar bundel, grondwater, is in 2020 met sowel die ATKV Woordveertjie vir Poësie as die Suid-Afrikaanse literêre toekenning vir digkuns (SALA) bekroon. Sy was vir tien jaar lank die webmeester van Versindaba tot einde 2019 en het ook in die tyd verskeie kinderboeke vertaal. Sy skryf en skilder tans voltyds.
[Protea Boekhuis 2021. PRYS: R220.00. FORMAAT: DEMI 213 x 137 mm, sagteband. AANTAL BLADSYE: 112. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1259-8]
Nootvat. Kwashaal. Stapel.
Bernard Odendaal
In sy eerste bundel sedert hy in 2007 met Onbedoelde land gedebuteer het, besin Bernard Odendaal oor woordkuns, Afrikaans en die voortbestaan daarvan; gedenk hy die heerlikheid én verganklikheid van die mens, die natuur en die liefde; registreer hy maatskaplike verwording. ’n Verlore jeugwêreld en vriende word onthou; daar word gedink aan kinders wat in diaspora verkeer. Stemminge, toonaarde en digvorme wissel mekaar af.
respiratoriek
uit die lug gesnak, uit niks te sien of hoor:
asem: gees in vlees geword, deur fluite uitgevlegsel
en tot blydskap of verlange ontknoop – vlae, haarlokke –
of wat uitvaar, kordaat of klagend, bekkige kopergeskal die al in
en tot niet
uit die niet geslaak: die lied:
lýf gegee, longblasiediep
verinnig – wat, langs brongieë vereen
en strotwaarts opgewel, tril oor stembande,
plooi langs wange, tong en lippe, ’n verleigedaante
in versgewaad, in die arms van die melodie op die kadans
aan ’t asem uitblaas
Oor die outeur
Bernard Odendaal is die direkteur van die ATKV-Skryfskool in Potchefstroom. As digter debuteer hy in 2007 met Onbedoelde land, wat vir die Ingrid Jonker-prys benoem word. Sy gedigte is in verskeie bloemlesings opgeneem, onder andere die Groot verseboek en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
[Tafelberg Uitgewers 2021]
Joan Hambidge
Konfessies, kaarte en konterfeitsels
Hierdie gedigte verteenwoordig van die beste elegiese verse in Hambidge se oeuvre. Dit beskik oor emosionele diepte sonder om ooit in sentimentaliteit te verval. Verder skroom die spreker nie weg om die soms problematiese en komplekse verhouding met die moederfiguur te belig nie.
– Neil Cochrane
Waarvan die verse wel spreek, is diep menslike deernis en ’n treurende gemoed, verslae gelaat deur die verlies van die moeder in haar lewe en die moeder wat aan enige lewe beslag en vorm gee.. … uiteindelik klink die treursang deur alles heen …
– Jeanette Ferreira
Oor die outeur
Joan Hambidgeis een van die bekendste literêre figure in SA. As kritikus skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy is professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die UK. In 2012 is haar bundel Visums by verstek met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon.
[Imprimatur 2021]
Veronique Jephtas
Soe rond ommie bos
Veronique Jephtas verteenwoordig die kraakvars stem van ’n nuwe generasie Afrikaanssprekendes – die born frees, gebore ná 1994 – wat grootgeword het in ’n land met meer geleenthede vir almal maar waar die wonde van die verlede halsstarrig bly sweer. In Soe rond ommie bos skryf Jephtas protespoësie en verbeel ’n gemeenskap wat vry is van gesprekke wat rondom die bos loop.
Oor die outeur
Veronique Jephtas is ’n 24-jarige skrywer, aktivis, digter, “spoken word”-kunstenaar, regisseur en aktrise van die Paarl. Sy het haar honneursgraad in drama en teaterstudies in 2019 by die Universiteit Stellenbosch voltooi, waar sy in kreatiewe skryfwerk spesialiseer het. Sy het haar debuut as dramaturg by Woordfees 2020 gemaak met Hoe change hulle. Sy was ook onlangs te sien in die Fiësta-bekroonde produksie Jakkals en Wolf Onbeperk deur Malan Steyn. Veronique is een van die ses skrywers wat gekies is om deel te wees van die Jakes Gerwel-skrywersresidensie.
Die skrywer het meer as 5000 volgelinge op sosiale media. Haar gedig “Dear Mr President”, waarin sy pres. Ramaphosa direk aanspreek, was ’n YouTube-sensasie. Sy is besig om ’n naam vir haarself te maak as regisseur en dramaturg en daar word met groot entoesiasme uitgesien na haar debuutdigbundel. Sy beplan om ’n paar van die gedigte voor te lees en op sosiale media te versprei en op dié manier die bundel te bemark.
Skakel na haar profiel of Facebook: https://www.facebook.com/Veroniquebj13
[Protea Boekhuis 2021. Prys R200.00. Formaat: 137 x 213 mm, sagteband, 64 bladsye. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1224-6]