NUWE BUNDELS 2020
Marc Chagall. The Promenade.
Ander digbundels in die jaartal: 2020 2019 2018 2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010 .
Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2000 – 2012
Kyk ook na ander lyste op hierdie webtuiste. Resensies van digbundels verskyn gereeld.
Luuk Gruwez
Vertaler Hennie van Coller
Weerbare weemoed
Gruwez gebruik die skoonheid van die taal om oor aktuele lewenskwessies te besin en om te vergoed vir ’n onvolkome bestaan. Taal bring dus weerbaarheid en pantser jou teen die lewe – ’n universele tema waarmee ook Suid-Afrikaanse en Afrikaanse lesers kan identifiseer.
Met Weerbare weemoed bied Van Coller ’n leesbare en onafhanklike teks, met gedigte gesitueer in hul oorspronklike geografiese en historiese konteks – teks wat ook vir die Afrikaanse leser bekend en eie sal klink en bewys dat taal in staat is om grense oor te steek.
Enkele jare gelede was Luuk Gruwez – een van die mees gebloemleesde digters in die Nederlandse taal – nog ’n relatiewe onbekende naam vir die Afrikaanse poësieleser. Die bekroonde digter en letterkundige Hennie van Coller se eerste versameling vertaalde Gruwez-gedigte, Bandelose gedigte (2007), het veel gedoen om dié skrywer ook aan die Suid-Afrikaanse gehoor bekend te stel. Die insluiting van drie van Van Coller se vertalings in André P. Brink se Groot verseboek het boonop verseker dat Gruwez se werk nóg wyer gelees is.
In Weerbare weemoed sit die bekroonde digter Hennie van Coller sy vertalings van Luuk Gruwez se gedigte uit sy jongste bundels – Lagerwal (2008), Wijvenheide (2012), De eindelozen (2015) en Bakermat (2018) – voort en bring nog nagenoeg vyftig gedigte tuis in Afrikaans.
[Kraal Uitgewers 2020.Formaat: 220 mm x 160 mm; sagteband; 154 bladsye. ISBN: 9781990915055]
Johann de Lange
Duimnaelsketse
Duimnaelsketse is die tweede bundel wat sy ontstaan het in my liefde vir die kwatrynvorm. Die eerste een was Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het.
Die kwatryn met sy gedronge segging wat uitloop op ’n epifanie, ’n insig, die een of ander soort onthulling, is saam met die sonnet (waarmee dit raakpunte het) een van die gewildste versvorms en kom voor in die werk van die antieke skrywers tot die hede. Die vorm is gepopulariseer deur Omar Khajjam met sy Roebajat.
My ervaring is dat die kwatryn saam met die skryf van ander, langer verse ontstaan, dikwels doen ek dit as vingeroefening om skryffiks te bly. My kwatryne dek al die temas wat in my werk voorkom: liefde, erotiek, kuns, die natuur, en die dood. Ek dink ook die kwatryn bevredig die moderne tydsgees waar mens nie altyd die tyd het om aan die lees van ’n langer vers of bundel te bestee nie. Dit dien as ’n soort voëlvlug oor die temas waarmee die digter gemoeid is.
Oor die outeur
Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore.
Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonkerprys vir debuutpoësie ontvang. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang, Nagsweet (1990), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). In 1996 maak hy sy prosadebuut met Vreemder as fiksie. Sy tweede kortverhaalbundel is Tweede natuur (2000).
In 1997 stel hy ’n bloemlesing gay kortverhale uit die laaste honderd jaar saam getiteld Soort soek soort, en in 1998 ‘n bloemlesing erotiese poësie saam met Antjie Krog, getiteld Die dye trek die dye aan.
Benewens die Ingrid Jonker- en Rapportprys vir Poësie wat vir individuele bundels toegeken is, ontvang Johann de Lange ook die Pankratorprys vir sy gedig “Skerpskutter” in ’n internasionale poësiekompetisie deur UNESCO uitgeskryf, en ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”).
Sy vertalings van Afrikaanse gedigte verskyn onder meer in The Penguin book of Southern African Verse (1989), Breaking the silence – a century of South African women’s poetry (1990), Soho Square: a collection of new writing from Africa (1992), The heart in exile: South African poetry in English 1990-1995 (1996) en The lava of this land: South African Poetry 1960-1996 (1997). In 2007 verskyn The wisdom of water, ’n keur uit sy vertalings van Wilma Stockenström se gedigte.
[Naledi 2020]
Churchil Naudé
Drol innie drinkwater
Met sy briljante albums Kroeskop vol geraas en Kroesifaaid het Churchil Naudé hom in die voorste linie van Suid‑Afrikaanse rap gevestig en nuwe, opwindende dimensies van Afrikaans ontgin. Partykeer is sy woorde soos die kartetse van masjiengewere, ander kere is dit weer balsem vir die siel teen ’n wêreld wat van sy trollie af geraak het. Hy vlek nie net ongeregtighede, blinde vooroordele, maatskaplike probleme en die stommiteite van die mensdom vlymskerp oop nie, maar dring ook deur tot diep in die hart van gewone mense se swaarkry en drome. Die stories wat hy vertel bly by ’n mens spook lank nadat jy dit gelees en gehoor het.
Churchil Naudé se woorde sny soos ’n lem deur die mees geharde harte. Hierdie unieke kunstenaar is nie net ’n rymkletser wat sy eie ego streel met ongekunstelde woorde nie, nee, hy is ’n digter in eie reg. Sy vlymskerp sosiale kommentaar draai nie doekies om nie. Hy spreek die waarheid soos hy dit sien. Sonder verskoning, sonder aansien des persoons. Sy kommentaar is onpartydig, maak nie saak of dit wit-, swart- of bruinmense aanspreek nie. Almal word oor dieselfde kam geskeer en soos hyself tereg sê, hy is gemeng en sy voorouers is beide die stigters van apartheid sowel as die slagoffers van apartheid. Hy sien homself eerder as ’n mens met ’n opinie as ’n mens met ’n sekere velkleur wat ’n opinie het.
-Theunis Engelbrecht
Drol innie drinkwater is ’n versameling van 50 gedigte en liedere waarvan sommige op sy albums Kroeskop vol geraas en Kroesifaaid verskyn het.
Oor die outeur
Churchil se woorde word as uitstekende poëtiese tekste beskou, wat nie wegskram van belangrike sosiale kwelpunte nie, dog is dit gemik op ’n alledaagse gehoor en hoogs verstaanbaar en glad nie snobisties nie.
Churchil se lirieke raak ’n verskeidenheid onderwerpe aan. Hy rap oor iets so werklik kwellend soos die kultuur van huishoudelike geweld in ons land in sy treffer “Meisie”: “meisie, jy wil dit glo as hy sê ‘I love you still’ / meisie, lyk my jy like dit om te hop as hy brul / meisie, hy se hy’s lief vir jou dan sluk jy die pil / meisie, gooi weg die sleutel girl en kap toe die grill” tot iets so groot soos die mens se eie eksistentialisme in sy lied “As” wat hy saam met Frazer Barry van Tribal Echo doen: “maak oop jou mind en raak onstlae van jou las / want as ons dood gaan is ons maar net as.” En alhoewel hy ernstige sosiale probleme aan die strot gryp, is sy lewensuitkyk nietemin positief en sê hy aan ’n gekwelde jeug: Daar is iets jy aan jou eie omstandighede kan doen.
Churchil beplan om Afrikaans verder te vat as wat dit tot dusver kon gaan om dit ‘cool’ te maak, om ook stem te gee aan veral mense van die Kaapse vlakte. “Ek wil jong laaties wys dat ons nie die Amerikaners hoef na te boots nie want ons het ons eie stories om te vertel.”
Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 6 opgeneem.
[Naledi 2020. Prys: R240.00. Formaat: 210mm x 148mm, sagteband, 230 bladsye. ISBN 9781928518853]
Bester Meyer
die Testament
Daar is nou, soos nog nooit tevore nie, ʼn uitnodiging in die gesig van die tye om saam te staan as wêreldburgers. Dié uitnodiging kom ontbloot homself in verskeie gedaantes en die huidige maskerade is seker maar die mees gepaste voorbeeld op almal se lippe. die Testament is ʼn oproep om die uitnodiging te aanvaar.
Die verse poog om oortuiging daar te stel. Om verder te soek as wat die rigtingwysers van vandag ons toelaat. Die padkaart van dit wat ons is, is, alvorens ons ʼn verskil kan maak, ʼn reis na binne. Camus praat van ʼn metafisiese revolusie. die Testament probeer daardie spoor volg. Soms is dit dan ook uiteraard nodig om weer die ritme van gister te volg; die aflosstokkie van onthou aan te gee. As sulks maak die skrywer gebruik van interaktiewe intertekstuele samespel om ʼn soort samehorigheid daar te stel
Te midde van kunsmatige intelligensie en die huidige inperkingsmaatreëls, asook die gevolge dáárvan, is dit wat in die Testament verwoord word ʼn herlewing van die eksistensieel nihilistiese beskouing van ʼn paar dekades gelede. En die vraag, op almal se lippe, bly steeds: (en) die kind is nie dood nie?
die Testament is an open invitation to find a better tomorrow. Are you liberated enough to be free?
Man is born free but he is everywhere in chains. – Jean-Jacques Rosseau
Man was fashioned in His likeliness, but soon dwelled to the outer regions of loneliness. It is time to break the chains and travel back to the source. The route is known to the heart, but what about your mind? die Testament is a rebel song for the nameless listener.
Oor die outeur
Bester Meyer is in Alberton gebore. Hy studeer regte by RAU, en word daarna prokureur by ʼn firma in Kaapstad wat destyds opgetree het as Nelson Mandela se regsverteenwoordiger. Bester het hom voorheen toegelê op musiek, en neem ʼn kortspeler op saam met musikant, Albert Frost, met van sy eie komposisies: Ontmoet jou onder ’n Harvest Moon (2010). Die oorblyfsel van Magmoed Darwiesj (se woorde/siel) soos lewe gegee deur Breyten Breytenbach in Oorblysel/Voice over het ʼn groot impak op die digter en hy begin, in aanloop tot die Testament, van Darwiesj se werk in Afrikaans vertaal. Die vertalings sal eersdaags deur dieselfde uitgewer die lig sien. die Testament is die digter se debuutbundel, en hy werk tans aan ʼn Engelse herskrywing dáárvan: Rebel Song.
[Naledi 2020. Prys: R240.00. Formaat: 213mm x 137mm, sagteband. ISBN: 978-1-928518-63-1]
Alles keer om
Tomas Tranströmer
VERTALER: De Waal Venter
AGTERGROND
Tomas Gösta Tranströmer (15 April 1931 – 26 Maart 2015) was ’n Sweedse digter wat in 2011 die Nobelprys vir sy poësie ontvang het. Sy poësie het dikwels die lang, koue winters in Swede beskryf en die uitsonderlike natuurskoon van sy land. Dele van sy oeuvre is in meer as sestig tale vertaal. Hy het ’n baie ingrypende invloed gehad op digters en digkuns reg oor die wêreld, iets wat nog steeds geld. Tranströmer het in sy jonger jare heelwat gereis en lande in Asië, Afrika en Europa besoek. Hy het ook bekend geraak in die VSA en daar lesings gelewer. In 1990 het hy ’n beroerte gekry wat hom aan die regterkant verlam het en sy spraak feitlik onverstaanbaar gemaak het. Hy het egter bly skryf daarna.
Tranströmer het sy hele lewe lank klavier gespeel. Na sy beroerte het hy homself geleer om die klavier met sy linkerhand te bespeel. Daar is spesiaal vir hom klavierstukke gekomponeer vir die linkerhand. Talle van sy gedigte is ook deur verskeie komponiste getoonset.
OOR DIE OUTEUR
Charl-Pierre Naudé skryf oor die digter:
Tomas Tranströmer is een van die belangrikste digters wat ná die Tweede Wêreldoorlog in Europa op die toneel gekom het. In sy gedigte neem die natuur, en die vervloeiing van wakker- en slaaptoestande die sentrale posisie in. Tranströmer se werk is tipeerbaar met die woord “post-surrealisties”. Hier is amper niks te sien van die “ontsporing van die sintuie” van die vroeë surrealisme nie, waarin grillige verbande en ‘n enigmatiese woord-“chaos” die botoon gevoer het soos by Arthur Rimbaud, byvoorbeeld. By Tranströmer is daar ‘n versigtige soeke na nuwe geordenhede maar nié nuwe sekerhede nie. Dít is vir altyd op sy kop gekeer. Die gedigte is baie beeldryk en sintuiglik, maar tegelyk oorwoë en deurdink. Elke gedig beding van nuuts af die individu se psigiese oorlewing.
Dis tentatiewe, misterieuse gewaarwordings wat die leser telkens oorbluf laat – gedigte gewy aan ‘n sublieme onrustigheid.
OOR DIE VERTALER
De Waal venter (1942) het sy eerste digbundel “Kiem” in 1963 gepubliseer en deur die jare opgevolg met ’n paar ander. Sy jongste bundel “Oop sirkel” het in 2017 verskyn. Hy het feitlik sy hele loopbaan as reklameskrywer deurgebring. Nadat hy uitgetree het, het hy vyf jaar lank as stadsraadslid in Krugersdorp gedien (2011 – 2016). Hy het ook kinderverhale, jeugromans en kortverhale gepubliseer en radiodramas en TV-reekse geskryf. In 2019 het hy ’n bundel gedigte van Pablo Neruda “Vandag is boordensvol” wat hy uit Spaans vertaal het, gepubliseer. Hiervoor het hy in 2020 die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Vertaalprys ontvang.
[Bundelinligting later by Protea beskikbaar]
Henriëtte van Wyk
’n Bruin blaar tuimel
Henriëtte van Wyk verbeeld uiters raak (en nie sonder humor nie) die naderende wegtuimel vanaf dit wat ons lewe noem. Enersyds word daar oop-kop vrede gemaak met die erosieproses. Andersyds verwonder die liriese spreker haar daaraan dat sy dit wat voorheen misterieus en onsienbaar was, juis nóú – vanweë die stadiger pas – kan uitken en geniet.
– Dr. Chrisna Beuke-Muir, Senior Lektor (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit van Namibië en medestigter van Windhoek Woordfees (2013)
Oor die outeur
Henriëtte van Wyk is gebore en getoë in Namibië. Mense, musiek, Afrikaans en haikoes is haar passie. In haar 33-jarige loopbaan as onderwyser het sy verskeie vakke onderrig (Gr. 1 tot Gr. 12). Daarvoor, asook vir haar poësie, ontvang sy sedert 2007 verskeie ATKV-toekennings.
Henriëtte is die stigter van ’n nasionale skoolskryfkompetisie. Sy tree ook op as digkunsbeoordelaar.
In 2016 publiseer sy ’n digbundel, Padhaikoes uit Namibië. Van haar gedigte is in 2018 en 2019 in Stemme uit Namibië 1&2 opgeneem. In die 2019 Windhoek Woordfees-skryfkompetisie deel sy die tweede plek in digkuns.
’n Bruin blaar tuimel is haar volwaardige debuut.
[Minimal Press 2020. Prys: R220.00. Formaat: 198,4 x 128,5 mm, sagteband, 94 bladsye. ISBN: 978-1-990989-24-7]
Charlotte van den Broeck
Kameleon
VERTALER: Daniel Hugo
Die Belgiese digter Charlotte van den Broeck het eers haar merk as voordragkunstenaar in Europa gemaak. Met die verskyning van haar eerste poësiebundel Kameleon in 2015 is sy geloof as vernuwende en oorspronklike nuwe stem. Kameleon is ’n reeks op die eerste oogopslag naïewe maar ironiese, speelse en subversiewe gedigte wat ’n meisie se identiteitssoektog na vrouwees kaart. Dit is ’n ontdekking van die lyflike en van taal, en delf deur herinneringe, landskappe en vorms. Van den Broeck se poësie strek van speelsheid tot introspeksie, en onheilspellende verbeelding kenmerk elkeen van dié treffende gedigte.
Oor die outeur
Charlotte van den Broek is gebore in Turnhout, België, in 1991. Nadat sy Engels en Duits studeer het, doen sy haar meesters in woordkuns en teater by die Koninklike Konservatorium in Antwerpen. Sy het twee bundels publiseer: Kameleon (2015), wat die Herman de Coninck debuutprys vir poësie ontvang het, en Nachtroer (2017), genomineer vir die VSB Poësieprys 2018 en die Ida Gerhard-prys. Haar poësie is in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies vertaal. Sy het in 2016 die Frankfurt Boekebeurs geopen, saam met Arnon Grunberg. In 2017 was sy van daardie jaar se Versopolis-digters, en het opgetree in verskeie Europese feeste, insluitend die Ledbury in die VK. Sy is bekend vir haar unieke voordragkuns.
Charlotte van den Broeck het Woordfees in 2018 besoek as besoekende Nederlandse skrywer. Sy is ’n jong digter wat tot ’n jong generasie lesers sal spreek. Haar voorlesings kan op YouTube en elders op die internet besigtig word.
Oor die vertaler
Daniel Hugo (1955) het Afrikaanse en Nederlandse letterkunde studeer aan die universiteite Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Leuven. In 1989 word ’n DLitt aan hom toegeken vir ’n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Hy was ’n literêre programmaker by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK en is deesdae ’n voltydse vertaler en digter. Sy jongste digbundel, Openbare domein, het in 2018 verskyn. Hy het reeds meer as vyftig boeke uit Nederlands en Engels vertaal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee keer bekroon vir sy vertalings uit Nederlands, naamlik vir Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn.
[Protea Boekhuis 2020. PRYS: R195.00 (BTW ingesluit). FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, 64 bladsye. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1021-1]
Hennie Meyer
Winkel van wanklanke
Winkel van wanklanke is ’n versameling konkrete poësie – gedigte wat die grense van die gedig as teks en as visuele kunsobjek ophef. Dit is ’n versameling (“’n winkel”) van gedigte, maar is terselfdertyd een kunswerk met onderstaande komponente of bewegings wat tot die geheel bydra. Dit word gedeeltelik in kleur uitgegee, het ’n gedig wat in braille gedruk is, ’n gedig wat op papier gebosseer is, ’n gedig met papier wat in konsertinavorm met die hand deur die digter self gevou is, asook verskeie skakels na die skrywer se webwerf waar videogedigte besigtig kan word. Sodoende word die bundel as objek op papier beklemtoon, maar word die bundel ook na die ruimte buite die papier geneem.
Nie slegs die teks is dus in Winkel van wanklanke belangrik nie, maar ook die ruimte waarbinne dit geplaas word, hóé die woorde op papier gespasieer is, hoe die gedig vertoon, die effek en sensasie van die letters op papier. Deurlopend word die gedigte vergesel met humoristiese en sardoniese kommentaar, woordspel en fyn humor. Vele gedigte is kodes wat deur die interaktiewe leser ontsyfer moet word, en lei tot verskeie interpretasiemoontlikhede.
Winkel van wanklanke is Meyer se debuutbundel en hy skram nie weg daarvan om sowel groot figure in die Afrikaanse digkuns as internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ’n konseptuele bundel wat die idee van wat ’n bundel is of kan wees bevraagteken. Dit is nie bloot ’n bundel nie, maar kan as ’n kunsobjek gesien word. Dit word besonder mooi uitgegee en is elkeen afsonderlik met die hand versorg.
Oor die outeur
Hennie Meyer het homself die laaste dekade as digter van konkrete poësie in die Afrikaanse literêre sisteem gevestig. Sy gedigte het reeds op Versindaba, LitNet, Pomp, Ons Klyntji en Nuwe Stemme 4 (2010) verskyn.
In 2007 neem hy deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge kompetisie met die konkrete gedig ‘Onder die Belt’. Hy het sy eerste uitstalling van sy konkrete poësie by die Tina Skukan gallery in 2008. Hy neem deel aan ’n projek in die maak van kunsternaarsboeke van die Noordwes Universiteit, Oor die einders van die bladsy, in 2009 en in 2012 neem hy deel aan die Melville Poetry Festival met sy uitstalling ‘Winkel van Wanklanke’.
Winkel van wanklanke is sy debuutbundel.
[Protea Boekhuis 2020. Prys: R250.00. Formaat: Sagteband, 137 x 213 mm, 80 bladsye. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1031-0]
Ryan Pedro
Pienk ceramic-hondjies
In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy eie familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf.
Oor die outeur
Ryan Pedro is in 1993 gebore en bring sy grootwordjare deur in Kakamas en op die Weskus. Hy woon tans in Gordonsbaai saam met sy partner, Suzanne, en hulle hond, Onyx. Sy gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn. Pienk ceramic-hondjies is sy debuutbundel.
[Kwela 2020. Prys: R 220,00. Formaat: Sagteband, 72pp. ISBN: 9780795709869]
Antjie Krog
‘n Vry vrou
Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word.
‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.
Oor die outeur
Antjie Krog is op 23 Oktober 1952 op ’n plaas naby Kroonstad in die Vrystaat gebore. Sy was agtien toe haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, verskyn het. Haar tweede bundel, Januarie-suite, is met die Eugène Marais-prys bekroon en Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon. In 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne.
Antjie het ook as joernalis en prosaskrywer naam gemaak. Country of My Skull (1998), haar verslag oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, ontvang verskeie pryse: Booksellers’ Choice-toekenning, die Hiroshima-stigting se toekenning vir vrede en kultuur, die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys. Dis ook verwerk tot ’n film. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê ‘tsau’ en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys (UJ-prys) vir skeppende skryfwerk bekroon.
[Human & Rousseau 2020. Prys: R 300,00. Formaat: Hardeband, 192pp. ISBN: 9780798180511]
Kry afslag op die bundel by Graffiti Boeke
Hennie Aucamp
Oopkardoes
‘n Bundel guitige verse wat aansluit by die kabaret-wêreld, die sewe doodsondes, ‘n ganse galery bevlektes word ten tonele gevoer met Aucamp se onverbeterlike humor.
‘n Jaar of drie voor sy dood het Hennie vir Johann de Lange dié manuskrip gegee met die opdrag, “Doen daarmee soos jy goeddink.” Dit was vier A4 notaboeke; die verse was met die hand uitgeskryf, en in afdelings opgedeel. Hennie het selfs ‘n kunswerk gekies wat hy vir die omslag wou hê, ‘n werk van Theo Paul Vorster.
Waarom nou? Johann de Lange sê: “Daar het nou genoeg tyd verloop dat ek die nodige afstand gekry het en na die manuskrip as bundel gekyk het. Ek het besluit om benewens die nuwe, ongepubliseerde verse in die bundel ook ‘n aantal vroeër verse in te sluit wat by die wêreld van die verse aansluit, verse wat saamhoort.
Die bundel is vir gedeë liefhebbers van Aucamp se poësie en sy humoristiese, satiriese verse.
Oor die outeur
Hennie Aucamp is een van die veelsydigste kunstenaars in Afrikaans en het op alles wat hy gedoen het sy waarmerk afgedruk. Hy was bekroonde kortverhaal skrywer, dramatis, kabarettis, essayis en digter.
Thomas Deacon
Swartslang
Die lewe spoeg vir Bohato bitterwater. Vir hom, wat met die vlies om sy kop gebore word, geskied daar nie geregtigheid nie. Swartslang is altyd daar en hy vrees hom. Maar Bohato gee nie moed op nie, nie eens op die myne wanneer die pad te lank word vir hom nie. Net toe hy dink sy voete roer op die pad wat die Modimo vir hom oopgekrap het, is Swartslang se skadu terug.
Oor die outeur
DEACON is ’n digter, dramaturg en prosaïs met sewe publikasies op sy kerfstok en van sy werk is al by kunstefeeste opgevoer, waarvoor hy ’n Dubbelgoue toekenning ontvang. Hy skryf in verskillende variëteite van Afrikaans. Swartslang is ’n verwerking van sy vroeëre Rooigrond in beeldryke Sotho-Afrikaans.
[Minimal Press 2020. Formaat: E-boek. SKU: 9781990957284]
Louis Esterhuizen
Die gladde stiltes in glas
Digter en resensent Nini Bennet het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: “Hierdie bundel betrek glas as uitgebreide metafoor in al sy betekenisassosiasies, byvoorbeeld, lig, water, klip, rots, sterre, prismas, kristal, ensovoort. Glas is sterk, dog broos en breekbaar. Verse oor die natuur, die liefde en die aard of besinnings oor poësie as ambag – oftewel Ars poëtikale poësie – vind hul beslag … dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die manuskrip konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is.”
Oor die outeur
Louis Esterhuizen is ’n geliefde en gerespekteerde digter. Sy oeuvre bestaan uit tien bundels en heelwat van sy verse is opgeneem in gesaghebbende versamelpublikasies. Hy is sedert 2017 teksredakteur en manuskripontwikkelaar nadat hy vir jare werksaam was as boekhandelaar by Protea Boekwinkel, Stellenbosch. Saam met sy vrou, die digter Marlise Joubert, is hy medepionier en stigterslid van die webblad, Versindaba. Esterhuizen is in 2011 bekroon met die Protea Poësieprys vir Wat die water onthou. Die gladde stiltes in glas sal die elfde digbundel op die digter se kerfstok wees.
[Protea Boekhuis 2020. Prys: R195.00. Formaat: Sagteband, 137 x 213 mm, 128 bl. ISBN 978-1-4853-1155-3]
Cas Vos
Beskut teen vrese
Beskut teen vrese is heg gekomponeer en ryk aan vars en verrassende beelde. Dit is ’n eiesoortige bydrae tot die Afrikaanse poësie. Die bundel is méér as aktueel. Dit is in en vir hierdie tyd van vrese waarin ons leef geskryf. Dit word ingelei deur Verse teen vrese. Corona het ons almal se insigte, vooruitsigte en drome oorgeneem. Daarom kan ons ons vereenselwig met die bedreigdes. Ons hede en toekoms word deur Corona bedreig. Alles is onseker. Die vraag is: hoe kan en moet ons leef in die tyd van Corona? Is daar nie tog sprankies hoop nie? Hoe lyk en waarheen lei die omweë van die liefde ons? Waar Corona is, is daar ook elegieë – uit die antieke en huidige wêrelde. Kan die towerfluit ons help teen Corona? Is die mens (ons) nie net ’n waagstuk nie?
Hierdie bundel wemel van ontroerende verse in die tyd van Corona. Met die verse in die hand en hart mag ons Corona in die gesig kyk, al sien ons niks nie. Die gedigte laat ons die onsienlike van Corona sien.
Eindig alles net met die lied
Who wants to live forever?
Wees stil, wag maar, alles word nuut.
Oor die outeur
Cas Vos het reeds 11 digbundels die lig laat sien. Daar het ook sy vertalings van Homerus se Ilias en Odusseia uit Grieks verskyn. In 2017 het hy grepe uit Dante se La Divina Commedia uit Italiaans vertaal in sy publikasie Die Goddelike komedie en in 2018 verskyn sy vertaling van Dante se Il Paradiso. Dit is deur Ernst Kotzé met “Magnifico!”begroet. In 2019 verskyn sy elfde digbundel,
Vlug van die gees. Johan Myburg, digter en resensent, skryf oor die bundel: “Die bundel getuig van harmoniese bedrewendheid én van verse wat ontwrigtend lyk en gestroop voorkom van poëtiese eienskappe. In die vertalings van Dante is “soepel omskrywings waarin sy eie poëtiese hand seëvier”. Hy woon in Pretoria.
[Naledi 2020. Prys: R 240.00. Formaat: Sagteband, 210 mm x 148 mm. ISBN: 978-1-928518-60-0]
Johann de Lange
Die meeste sterre is lankal dood
Die meeste sterre is lankal dood is die bekroonde digter Johann de Lange se dertiende bundel. Dit bestaan uit ses afdelings, deurgaans gewy aan vlietende oomblikke vasgevang in ‘n vers (‘om met woorde die onsegbare te sê’). Die bundel het ‘n elegiese toonaard, en word oorheers deur ‘n bewustheid van verlies & verganklikheid, van “inskaduwings van die lig”. Verse oor die skryfproses figureer as teenvoeter vir die verbygaande aard van mens wees. Dit is verse vir “my mooi dooies”. In “Oggendmusiek” beskryf die digter ‘n vroegoggendkoor van voëls voor sonsopkoms, elders ‘n koorddanser, voetjie vir voetjie oor die spantou. Soos in sy vorige werk is die erotiese verse ‘n hoogtepunt in die bundel, bv. in “Ode aan die mielie”: ‘Nét so, nog aan die oggend tussen die syige bene van die dag staan hy, volryp, pittig & reg.’
Bloed & sneeu
Bloed op sneeu is ‘n pasgebore rooi,
van iets gewond, ‘n struikelende spoor.
En die sneeu? Is daar énigiets so mooi,
so prilwit gespits, as ‘n haseoor?
Oor die outeur
Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Sy debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy vierde bundel, Wordende naak, word met die Rapportprys vir Poësie bekroon in 1990. Die algebra van nood, wat in 2009 verskyn het, is in 2011 met die Hertzogprys bekroon.
[Human & Rousseau 2020. Prys: R 250,00. Formaat: Sagteband, 96pp. ISBN: 9780798181235]
Susanne Pike
Gisterwinter
As jy asemhaal, hét jy mos ’n gister. Sonder jou gister kan jy nie jou unieke vandag wees nie. Elke gister het ook immers sy eie winter. Ervaringe, belewenisse en geheimenisse, wat soos winter, jou tot standbeeld vries om te besin oor jou menswees en hoekom jy op hierdie aarde is. Amper soos ’n vlinder wat terugvlug na die fases van sy metamorfose, net om seker te maak dat hy regtig Lepidoptera is.
Gisterwinter is ’n bundel verse waarin die spreker die soms pynlike introspeksie van kind- en grootmenswees blatant eerlik, anders-kreatief en woordekonomies weergee. Die verse is gestroop van oordrewe sentiment, maar sonder om die nodige sensitiwiteit rondom sake soos mishandeling, egskeiding en lewensverlies prys te gee.
’n Aantal liefdesverse in die bundel sinspeel ook slim op die bestaansreg van Lente wat wag na die swartryp op mislukte verhoudings.
Jong adolessente sowel as ouer generasies sal eenparig aanklank vind by hierdie bundel, want uit elk se eie gisterwinter wink daar steeds nuwe beloftes van hoop op ongeknelde groei.
Oor die outeur:
Susanne Pike is in Groblersdal, Mpumalanga gebore. Sy matrikuleer in 1980 aan Hoërskool Ben Viljoen en verwerf in 1984 haar BA(Ed)-graad, met Afrikaans en Bybelkunde as hoofvakke.
In 1985 begin sy skoolhou by Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, waar sy vir 18 jaar Afrikaans onderrig. Na ’n persoonlike tragedie verhuis Susanne in 2003 na Mtunzini in KZN, waar sy vir ’n kort tydperk by Empangeni-hoërskool skoolhou. Vanaf 2004 is sy weer terug in Pretoria en is sedertdien ’n onderwyseres by Pretoria High School for Girls.
In 2015 begin Susanne ernstig verse skryf en in 2016 debuteer sy met die bundel Inkspoor.
Susanne geniet dit om in die tuin te werk en te verf. Haar filosofie oor die lewe? “Die lewe gebeur met ’n mens. Dit is hoe jy dit hanteer wat die verskil maak.”
[Minimal Press 2020. Prys: R200. Formaat: Sagteband, 64 bladyse. ISBN: 9781990968945.]
Johann Lodewyk Marais
Ondertussen
Met Ondertussen verras Johann Lodewyk Marais die leser met diverse temas wat wissel tussen Oos -Vrystaatse jeugherinneringe; reise en belewenisse deur Afrika en Europa; liefdesvinjette en lykdigte. Die spreker in die verse word gids en getuie van die sirkelgange van verlede en hede en lei hy die leser deur verskeie stemminge: melancholie, sensualiteit, die verlange na liefde asook skerp humor.
Marais is ’n digter van die oorwoë woord en dikwels word die spel met klank ingespan soos gesien in die sonore kwatryn, “Ou wyn”:
In ’n welbedagte bottel rooiwyn
op die tafel het skoon sonlig verskyn,
want in elke druppel uit dié wingerd
loop ’n geheime Bolandse tydlyn.
Ondertussen is ’n evokatiewe bundel wat getuig van ’n berese, maar ook peinsende digterstem. Gisela Ullyatt, digter en letterkundedosent
Oor die outer
Johann Lodewyk Marais studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 2001 ’n DLitt-graad oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf en in 2013 die graad DPhil in Geskiedenis behaal met ’n proefskrif oor internasionale reisliteratuur oor Kenia sedert 1963. Hy het vroeër onder meer ’n MA-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal, waarvoor die Marius Jooste-medalje aan hom toegeken is. Hy het reeds elf digbundels gepubliseer en het die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2010) ontvang. Hy het ook drie poësiebloemlesings saamgestel, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek. Sedert 2003 is hy ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van Pretoria. In 2013 was hy Innibos se eerste feesdigter.
Naledi 2020. Prys: R 240.00. Formaat: SAGTEBAND, 84 p. 213 X 137MM. ISBN: 9781928518556.
Jolyn Phillips
Bientang
Van Bientang het net die naam van ‘n restaurant in Hermanus oorgebly: Bientang’s Cave, asook ‘n weggooi-opmerking: die laaste Strandloper. Uit hierdie gegewens sny die digter se verbeelding spoor in ‘n kontra-epos. Wie was Bientang? Te midde van historiese geskrifte, kontemporêre angste en oorlewerings verskyn buitelyne om haar vir oomblikke binne bereik te bring. Die toonaard van die bundel is egter verlies oor ‘n verlede wat geen spoor laat in die opgeskryfde geskiedenisse van die land nie.
Oor die outeur:
Jolyn Phillips is gebore en getoë in Blompark, Gansbaai. Haar debuutkortverhaalbundel, Tjieng Tjang Tjerries and other stories, verskyn in 2016 en haar eerste digbundel, Radbraak, in 2017. Haar werk is telkemale bekroon. Jolyn is tans besig met haar doktorale tesis aan UWK. Sy doseer Afrikaans aan UJ en is ook ‘n sanger van formaat.
[Human & Rousseau 2020. Prys: R 220,00. Formaat: Sagteband, 64pp. ISBN: 9780798180948.]
Eunice Basson
By die dag
Eunice Basson se tweede bundel staan in die tradisie van haar liriese en suggestieryke debuut Leiboom, in 2014 deur Queillerie gepubliseer. By die dag handel oor die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan en die wonder van die kleine moment. Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar is ontdaan van sentimentaliteit – klein stillewes en portretstudies van stadstuine, voëls, ’n Life Esidimeni-slagoffer, Dimitri Tsafendas, ’n transitorooftog, Poppie van der Merwe, en kring wyer uit na die honde van Delhi, die papawerbruid van Afghanistan en Alan Kurdi. Soos te verwagte van ’n kunshistorikus tree die digter ook op natuurlike wyse met die beeldende kunste in gesprek. Elke gedig is gestroop maar dawer nog lank by die leser na.
Oor die outeur
Eunice Basson is ’n kunshistorikus en voormalige dosent aan UP en Unisa. In 2011 behaal sy die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UP. Sy debuteer einde 2014 met die digbundel Leiboom en in 2015 behaal dié bundel die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys. In 2018 is haar gedig getiteld Almanak een van die drie wenners in Litnet se Tyd- Skryfkompetisie.
[Protea Boekhuis 2020. PRYS: R200.00. FORMAAT: Sagteband 137 x 213 mm. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1117-1]
Jacobus van der Riet
Die heimlike heiligdom
Soos sy debuutbundel, Die onsienlike son, in 2012 uitgegee deur Protea Boekhuis, bevat Die heimlike heiligdom ’n vyftigtal bepeinsende sonnette oor heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is, sowel as bykomende biografiese aantekeninge wat inligting oor die meer onbekende heiliges verskaf. Hierdie publikasie sluit wat inhoud en vorm betref dus nouliks aan by Die onsienlike son, en die twee bundels kan dus gesien word as ’n eenheid wat saam klem plaas op ritualistiese en meditatiewe gemeenskap met heiliges. Hierdie is diep besinnende, maar ook toeganklike verse wat die leser uitnooi om sy of haar geloofswêreld te verbreed.
Vir liefhebbers van religieuse poësie, soos bv. die werk van Sheila Cussons. Die bundel kan ook vir meditatiewe en besinnende doeleindes gebruik word.
Oor die outeur
Jacobus van der Riet is ’n geordende priester in die Griekse Ortodokse kerk. Hy is in Stellenbosch gebore waar hy ook skoolgegaan en studeer het. Hy het grade in Teologie en Klassieke Tale en ’n Ph.D. by Wits oor die digkuns van Horatius, Catallus en Tibullus. Hy kombineer tans die Ortodokse priesterskap in die bisdom van Johannesburg en Pretoria met werk as bibliotekaris in Johannesburg.
[Protea Boekhuis 2020. PRYS: R200.00. FORMAAT: Sagteband 137 x 213 mm, ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1022-8.]
Jeanne Goosen
Het jy geweet ek kan toor
Die opspraakwekkende nuwe bundel met meer as 100 voorheen ongepubliseerde gedigte van Jeanne Goosen is vuurwarm op die rak. Die gedigte is deur die uitgewer en redakteur Petrovna Metelerkamp tussen Jeanne se dokumente ontdek toe sy navorsing gedoen het vir haar biografie oor Jeanne, Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne. Dis die eerste keer in 13 jaar dat gedigte van die Ons is nie almal so nie-skrywer verskyn.
Volgens Metelerkamp beslaan die bundel ‘n tydperk van meer as vyftig jaar en bevat dit “argiefmateriaal” wat vergete of onvoltooide fragmente van gedigte insluit. Die bundel kan as navorsingsbron gebruik word vir lesers wat Goosen se gepubliseerde werke wil vergelyk: watter motiewe herhaal, hoe word beelde gesirkuleer?
Marietjie Coetzee, kundige oud-uitgewer brei hierop uit: “My gevoel tot dusver is dat jy alles moet insluit omdat sommige versreëls of strofes ook as ‘konsepte’ van latere gedigte beskou kan word. Vir ’n navorser dus belangrik omdat dit iets van die skeppingsproses van die gedigte vergestalt. Daar resoneer selfs versreëls of langer gedeeltes van haar prosawerk in die versameling. Gedeeltes wat dalk nie op peil is nie, openbaar Jeanne as mens, as ‘rare voël’. ”
Die bundel sluit bekende temas in, o.a. die skryfproses, liefde, verlange en depressie.
Oor die outeur
Jeanne Goosen volg na haar skoolopleiding ’n paramediese rigting, maar het ook musiek- en dramaopleiding ontvang. In 1971 debuteer sy met die digbundel ’n Uil vlieg weg. Sy begin as verslaggewer by Perskor werk en word later die kunsredakteur by ’n Gautengse dagblad.
Goosen het veertien boeke geskryf, wat poësie, essays, prosa en drama insluit. Sy het onder meer die volgende pryse gekry vir skeppende werk: Die M-Net en Rapportprys vir prosa, die Rapportprys vir drama, die CNA-prys vir prosa, ’n KKNK-toekenning vir skeppende Afrikaans en Athol Fugard se Helen Martens Fellowship. Sy het reeds vyf dramas en drie kabarette geskryf. Haar jongste digbundel Elders aan diens het in 2007 by Genugtig! Uitgewers verskyn.
[Protea Boekhuis 2020. Prys: R130.00. Sagteband. ISBN 978-1-928283-38-6]
Fanie Olivier
ou laaie
Fanie Olivier se nuwe bundel van, ou laaie, is ’n tematiese bundel waarmee hy terugkeer na een van sy ou liefdes: liefdesgedigte. Die titel verwys enersyds na die gedigte wat in ou laaie rondlê en nou saamgebring word, maar wil ook die ander betekenis van laaie, nl. streke, slimmig- of onnutsighede, byroep.
In hierdie lywige bundel is daar gedigte opgeneem wat oor ’n baie lang tydperk geskryf is, soms op versoek van vriende of geleentheidsgedigte. Baie van die gedigte handel oor verhoudings in die virtuele ruimte waarin kitsgesprekke ontstaan, verliefdes letterlik via Skype inkyk op mekaar se lewens en daar dikwels nie ’n wag voor die mond geplaas kan word nie.
Die identiteit van die spreker in die gedigte verskuif voortdurend en daar is geen verhoudingspatroon wat binne die bundel ontwikkel nie; die gedigte word alfabeties volgens die beginreël georden. Verstegnies is die digter hier op sy betroubare beste, gaan speels om met ou geykte versvorms om so nuwe gedaantes aan ’n óú wêreld te gee.
Oor die outeur
Fanie Olivier is gebore in Pretoria, word groot in die Kaap & leer skryf in Durban. Hy studeer Regte en Afrikaans op Stellenbosch en debuteer met gom uit die sipres. Hy doseer by die ou Universiteit van Natal en [eweneens] Durban-Westville, gee daarna onderwys op Graaff-Reinet en maak ’n draai by die ou Skiereilandse Technikon. Kunsredakteur by Rapport vir drie jaar, en dan weer dosent by die [nou nog bestaande] Universiteit van Venda. Praktiseer ook om den brode daar as advokaat. Hy werk vir amper twee jaar by Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole en dan, die dood ter wille, weer as advokaat in Durban. Sedert einde 2007 terug by die nou nuwe Universiteit van KwaZulu-Natal, maar hy loop in Maart weer die Poolse paadjie terug. Hy tree af in Stilbaai.
Hy publiseer naas sy debuut vyf ander bundels wat insluit om alleen te reis, paradysrigting van die wind, skimmellig, verklarings 1967-1987 en apostroof. Ou laaie is sy sewende bundel. Stel ’n geleentheidsbundel of twee saam, en hou kers vas met Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Hy vertaal in 2009 JM Coetzee se Disgrace.
[Naledi 2020. Prys: R240.00. ISBN 978 192 951 8341]
Lynthia Julius
Uit die kroes
In Lynthia Julius se debuutdigbundel, Uit die kroes, word die NoordKaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende manier inkorporeer. Die gedigte aan die begin van die versameling verwys na die geskiedenis van SuidAfrika en belig die sentrale dog geringgeskatte rol van die bruin vrou daarin. Die Kaap se slawegeskiedenis, Distrik Ses en apartheid word opgeroep aan die hand van figure soos Amria van Bengale en Dulcie September. Die hedendaagse posisie van die jong bruin vrou in SuidAfrika word ook bekyk – hoe daar byvoorbeeld steeds van die giftige erflating van apartheid, veral hardnekkige persepsies oor ras en skoonheid, ontsnap probeer word.
Jy ís nie soos jou ma nie;
jy rook Marlboro op die stoep.
Jy glo, maar jy weet nog nie in wat nie.
Jy dra jou kroes hare so laat mense kan sien
glad alleen beteken nie mooi nie.
Oor die outeur
Lynthia Julius is gebore op Springbok, het grootgeword in Kimberley en woon tans in Bloemfontein. Sy beskik oor ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. In 2018 is sy bekroon as die wenner in die Afrikaanstaalkategorie in die AVBOB-digkunskompetisie. Uit die Kroes is haar debuutbundel.
[Kwêla 2020. Prys: R220,00. Formaat: Sagteband, 198mm x 130mm . ISBN13: 9780795709531]
Kleinboer
Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels
Kleinboer skuil agter ’n skrywersnaam omdat hy, as Fanie de Villiers, te dikwels die vraag “Is jy die krieketspeler?” moes beantwoord,en om sy romans, waarin die hoofkarakter in-diepte navorsing in bordele doen, geheim te hou van sy vrou. Kleinboer het BSc studeer en toe vir langer as 20 jaar in IT gewerk, maar weens ’n begeerte om nouer met taal om te gaan, hom na die uitgewerswese begeef, waar hy as ’n taalversorger werk. Sy drie romans was Kontrei (bekroon met die Jan Rabie Rapportprys), Werfsonde en Hierdie huis. Met Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels debuteer hy as digter. Sy gedigte bevat huislike toneeltjies (nie altyd vredig nie), bedenklike groenkrui-gedagtes, en geheueflitse na wilder jare. Hy woon in Yeoville, Johannesburg. Hy probeer minder as twee maal oor naweke braai en kry dit soms reg.
[Naledi 2020, Prys: R240.00, Formaat: sagteband 213 mm x 137 mm, 120 bladsye, ISBN: 9781928518327]
.
Johann van der Walt
Persverslag Parlement van uile
Parlement van uile is die debuutbundel van die wenner van die Ingrid Jonker A’La Poétique- kompetisie van 2019. Díé bundel delf diep in rou emosies, menswees en skyn ’n lig op eksistensiële vrae oor ons verhouding tot mekaar en teenoor die liefde. Met ’n uiters moderne benadering tot poësie in sy geheel, word gedigte in die bundel in ’n oorspronklike en teatrale wyse deurgegee en daag lesers uit om sélf die betrokke emosies in die verse tot persoonlike ervarings te verbind. Die digter daag die grense van Afrikaanse poësie uit met die bundel, ignoreer reëls en kloof sy eie unieke plek in die spektrum oop.
Oor die outeur
Johann van der Walt is ’n vryskutskrywer en video-redigeerder in Johannesburg. Hy debuteer ook in 2020 in Amerika met sy Engelse kortbundel, This Place Doesn’t Lead Home (Red Mare Press). Tans het hy twee kinderboeke op die kerfstok, Frankie Learns To Fly & Bhubesi waarvan albei onlangs deur ’n plaaslike uitgewer oorgeneem is en later in 2020 op die rakke sal verskyn.
[Naledi 2020, Prys: R240.00, ISBN: 978-1-928518-31-0]
Jerzy Koch
Pleks van plaas
In sy digbundel Pleks van plaas skryf Koch onder meer oor sy familiegeskiedenis in Pole, maar die grootste deel van die bundel word in beslag geneem deur verse oor Suid-Afrika. Indrukwekkend is veral die seegedigte. Dit is nie net die branders wat sy “oor vang en oorrompel” nie, maar ook die Afrikaanse taal. Selfs wanneer hy in Europa op die strand loop, verlang hy na Suid-Afrika:
hier
staan ek
op my strand
hier
stap ek
langs die ander see
en prewel gedigte
in ’n vreemde taal (“keerty 3”).
As teenpool van die Europese fisant skryf hy oor die hadida wat ”godsgruwelik skreeu” en hom aan Kaapstad en sy berg “vaspen”. Die fisant maak sy verskyning in ’n gedig opgedra aan Totius. Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde vergesel en volg hom dus soos ’n skaduwee, selfs al bevind hy hom in die Noordelike Halfrond.
In die afdeling “Literatuurgeskiedenis” staan talle gedigte opgedra aan Afrikaanse digters: Leipoldt, Opperman, Eybers, Blum, Kirsch, Van Wyk Louw, Breytenbach, Hambidge en natuurlik C.M. van den Heever, die skrywer van plaasromans. Daar is ’n ontroerende gedig oor die dood van J.C. Kannemeyer wat as vriend en literatuurhistorikus ’n groot invloed op Koch uitgeoefen het. Een van die mees meevoerende verse handel oor Abraham H. de Vries.
Pleks van plaas is ’n versameling boeiende gedigte oor plekke (in Europa en Suid-Afrika) en verplasings. Dié verplasings behels uiteraard ook taalverplasings (Pools, Nederlands, Afrikaans), soos beleef deur Koch.
Oor die outeur
Jerzy Koch is ’n vertaler, digter, akademikus, en hoof van die Afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies by die Fakulteit Engels van A. Mickiewicz-Universiteit in Poznan. Hy doseer veral Nederlandse literatuur, koloniale literatuur en Afrikaans. Hy is ook die skrywer van ’n omvattende literatuurgeskiedenis oor Afrikaans. Hy besoek Suid-Afrika gereeld sedert 1992 en het die Afrikaanse taal sodanig sy eie gemaak dat hy dit vlot praat en gedigte daarin skryf.
Hy het werke vertaal van H. Claus, J. Bernlef, H. de Coninck, S. Hertmans, G. Kouwenaar, Lucebert, H. Mulisch, Multatuli, L. Nolens, P. Rodenko, F. Timmermans e.a. Vir sy vertaal-oeuvre het hy in die Lae Lande die M. Nijhoff-prys ontvang. Hy het ook Ingrid Jonker (1993) vertaal en sy onlangse vertalings in Pools is bloemlesings uit Antjie Krog (2017) en Breyten Breytenbach (2018) se gedigte.
[Naledi 2020, Prys: R240.00 (sagteband)/ R200.00 (e-boek), 66 bladsye, formaat: 213 mm x 137 mm, ISBN: 978-1-928518-36-5]
Francis Grobler
Nagblind
Francis Grobler skuif die sluier van ’n verskuilde wêreld met ʼn afgerigte werklikheid en konformiteite oop met ’n moderne benadering tot digkuns. Die digbundel se outentieke benadering dra by tot ‘n skaars, maar nodige kommoditeit in Afrikaanse poësie.
Nagblind is ’n kragtige, eiesoortige en eenmalige leserservaring. Die woord word verhelder deur retoriek en metafore wat vonk en word sterk beeldend verwoord. Dit delf in die geestelike dimensie en verfyn en rond die eindproduk tot ’n “andersheid” af wat ver verby die grense van konvensies gaan en aan die geskrewe woord ’n nuwe betekenis gee.
Nagblind breek behoorlik die skedels tot nuwe denke.
Oor die outeur
Francis J Grobler is ’n spelterapeut, eggenote en ma van drie seuns. Sy is ook ’n kunstenaar, liriekskrywer en besigheidsvrou in ’n kommersiële saai, vee-en-wildboerdery. Sy bekwaam haarself as onderwyseres en opvoedkundige kinesioloog. Haar debuutbundel verskyn in 2007, waarna andere volg. In 2019 word sy as algehele wenner aangewys deur die Genootskap van Handhawing van Afrikaans en verower die NP van Wyk Louw-prys. Sy woon op ’n plaas naby Bethal.
[Naledi 2020, Prys: R240.00, ISBN: 978-1-928518-26-6]
Thomas Deacon.
Duifiedorings
Die meerderheid Afrikaanse bundels word in Standaardafrikaans geskryf met enkeles wat in Kaapse Afrikaans geskryf word. Dit is dus opvallend dat Deacon soos met sy vorige bundels weer Griekwa-Afrikaans (as subvariëteit van Noordwestelike Afrikaans) besig. Dit is ’n pragtige en klankryke variëteit kenmerkend aan die gebruik van palatalisasie, die dubbele meervouds- en verkleiningsvorme asook die besitskonstruksie met “se”.
Die Noordweste (Namakwaland) kom sterk na vore in Duifiedorings. Die titel verwys na ’n wilde blom (Tribulus terrestris) wat in Namakwaland voorkom en na reënval in Desember en Januarie daarvoor bekend is om dikkopsiekte onder skape te veroorsaak. Die titel op sigself dien dus as simbool van die outentieke Namakwalandse landskap. Hierdie ongenaakbare landskap wat met uitermatige droogte en ’n amper woestynagtige verlatenheid geassosieer word, word deur Deacon verwoord tot unieke skoonheid waarop die fyn waarnemer bedag moet wees.
In die bundel dra die Griekwa-Afrikaans by tot die sterk klankrykheid van Deacon se gedigte. As geheel is Thomas Deacon se Duifiedorings ’n geslaagde bundel waarin die oorgrote meerderheid verse besonder knap daar uitsien. Deacon se deeglike kennis van die landskap waarvoor hy soveel liefde koester, word elegies beskryf. Die gedigte is toeganklik en onopgesmuk, dog is die duidelike hand van ’n ervare en bekwame digter te bespeur.
(’n Uittreksel uit die resensie deur Dewald Koen)
Oor die outeur
Thomas Deacon is ’n Afrikaanse digterstem wat elke dan en wan vanuit die agterbanke van die Afrikaanse poësie te voorskyn kom – maar die lang gewag is ongetwyfeld die moeite werd. Deacon debuteer in 1989 met Sand uit die son gevolg deur Die predikasies van Jacob Oerson in 1993. Alhoewel sy volgende bundel Maagmeisie eers in 2003 verskyn, word van hom ’n roman asook twee kortverhaalbundels gepubliseer.
duifiedorings
toe duifiedorings laatmiddag
die aarde geel-geel koggel
agterbank ek in die kerk op pella
piets die son ’n spatsel bloed
teen die witgekalkte muur
hang Christus naak
aan grootrivier se afgekapte hout
sing ’n koor van kinders hallelujah ave maria
word elke noot ’n doringprik
(Uit Duifiedorings, 2020)
[Minimal Press 2019, Prys: R165, ISBN 9780639808868]
Daniel Hugo
Tuin van digters. ’n Bloemlesing uit eie werk
Daniel Hugo (1955) het die afgelope veertig jaar talle gedigte geskryf oor digters wat hom geïnspireer en geïrriteer het. Tuin van digters is ’n persoonlike keuse daaruit en kan as ’n klein literatuurgeskiedenis-in-versvorm beskou word. Die bundel bevat ’n register met die 53 digters wat daarin figureer: van Gerrit Achterberg tot George Weideman.
Hierdie bloemlesing verskyn by geleentheid van die digter se vyf-en-sestigste verjaarsdag op 26 Februarie 2020. Die foto op die voorplat is geneem deur Marlene Malan; die agterplattekening is gemaak deur André Letoit (Koos Kombuis).
Die boek sal nie in die handel beskikbaar wees nie. Die uitgewer is Christel Foord Selfpublikasies (cfoord@yebo.co.za)
Bladspieël
Vir André Letoit
in die verbygaan sien ek soms
by dié kafeetafel ’n eensame man
wat skryf – dan verbeel ek my
hy skryf oor sy weerkaatste self
die tafel en die verbyganger
wat hom verbeel: daar sit ’n man
wat oor sy eensaamheid skryf
Grapevine, Pretoria, 1978
(Uit Die Boek Daniel, Human & Rousseau, 1986)
Nathan Trantraal
Oolog
In die bekroonde digter Nathan Trantraal se derde bundel, Oolog, word stryd, konflik en oorlogvoering op verskeie vlakke ondersoek –nie net met verwysings op ’n nasionale en internasionale skaal nie, maar veral in die beskrywing van intieme, persoonlike ruimtes. ’n Dreigende atmosfeer by die huis en op straat word opgeroep. Soos met sy vorige bundels word die realiteite en leefwêreld van die Kaapse Vlakte oopgeskryf. Met sy kenmerkende narratiewe verse, geskryf in verrykende Kaaps, vertel Trantraal stories wat dikwels met ’n vuishou in die verrassende slotreëls tref. Hierdie gedigte is vindingryk en vreesloos, met donker humor maar nie sonder deernis nie.
“Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, inyourface en nie ’n moment eendimensionaal nie.” – Alfred Schaffer
“Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek.” – Tertius Kapp
Oor die outeur
Nathan Trantraal is in Kaapstad gebore. In 2008 publiseer Tafelberg Stormkaap, ’n grafiese roman. Sy debuutdigbundel, Chokers en survivors, is bekroon met die Ingrid Jonkerprys (2015) en ’n ATKVWoordveertjie vir digkuns (2014). Alles het niet kom wôd is sy tweede digbundel. Hy is tans besig met ’n MAgraad aan Rhodesuniversiteit.
[NB Uitgewers 2020, prys R220.00, 80 bladsye, sagteband, formaat 198mmx130mm , ISBN13: 9780795709517]
Marius Crous
Tussenganger
Bekende digter en resensent Louis Esterhuizen het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: Duidelik is tussenganger die werk van ʼn digter wat in die volle krag van sowel sy eie kreatiewe denke as vakkundige vernuf staan. Dit is ʼn digverweefde, deurgekomponeerde en uitdagende teks wat die leser nie net met die totaliteit van sy/haar menswees konfronteer nie, maar ook dwing om afstand te doen van geykte opvattings en veral verwagtings. Genadelose poësie, inderdaad, en by uitstek hermeties van aard met geen “gemaklike” toegewing aan die leser óf die aangesprokene nie. Trouens, nog selde was TS Eliot se uitspraak “Genuine poetry moves before it is understood” só van toepassing as met hierdie gedigte.
Liefhebbers van ‘ernstiger’ poësie sal verheug wees oor hierdie aanvulling tot Crous se oeuvre.
Oor die outeur
Marius Crous (1965–) is ‘n bekroonde Suid-Afrikaanse digter en dosent aan die Nelson Mandela Universiteit. In 2004 het het hy die RAU-Mardene Marais- (UJ-)debuutprys vir Brief uit die kolonies (2003) ontvang.
Sy gedigte word opgeneem in die versamelbundels wat jaarliks ná Versindaba uitgereik word, asook in Groot verseboek en ander bloemlesings soos My ousie is ‘n blom.
Hy verower in 2014 derde prys in Versindaba se lykdigte kompetisie oor gestorwe digters met Lykdig vir Wisława Szymborska.
[Protea Boekhuis 2020, prys R180.00, 152 bladsye, sagteband, formaat 137 x 213 mm, ISBN 978-1-4853-1088-4]
Gisela Ullyatt
Die waarheid oor duiwe
Die waarheid oor duiwe is Gisela Ullyatt se debuutbundel oor intieme ruimtes, jeugherinneringe en verlies. Die sentrale tema wat deur die bundel aangespreek word, dui op ’n proses van vervreemding van die alledaagse, toenemende vereensaming, verlies en verlange. Sekerhede word opgeskort en die donker ondertone van die daaglikse, dikwels teleurstellende en selfs ontstellende werklikheid word ontbloot. Hierdie aanbod vind plaas teen die agtergrond van onder andere ’n religieuse onderbou van Bybelse en ook Boeddhistiese verwysings (veral in afdeling drie se haikoegedigte), wat ’n rol speel om die gegewe saam te snoer en bepaalde temas uit te bou.
Oor die outeur
Gisela Ullyatt is in 1977 in Bloemfontein gebore en behaal die grade MA (Duits) en MA (Engelse taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy behaal haar PhD (NWU) in 2013 en haar tesis handel oor die Amerikaanse digter Mary Oliver, gesien vanuit ’n Boeddhistiese raamwerk. Sy dig sedert haar hoërskooldae en van haar gedigte is in Nuwe Stemme 5 opgeneem waardeur sy bewys gelewer het van haar vaardighede as digter. Sy en haar man, Tony, hou hulle soms besig met literêre vertaling en was deel van die vertaalprojek In a Burning Sea, met Marlise Joubert as samesteller. Sy behartig ook ’n blog op die poësiewebwerf, Versindaba waar sy gereeld bydraes lewer. Daar word met afwagting uitgesien na haar debuut.
[Protea Boekhuis 2020, prys R200.00, 92 bladsye, sagteband, formaat 213 x 137 mm, ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1066-2]