2015 Publikasies
Ander digbundels in die jaartal: 2018
2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.
2015 Publikasies
.
Atropos
Hendrik J. Botha
Soos die draad van die menslike lewe, gespan in die hande van Zeus se dogter Atropos, só verloop hierdie debuutdigbundel van herinneringsgedigte oor die jeug deur verse oor liefdeswedervaringe en die mediese professie tot by die punt waar die draad geknip word – gedigte oor sterflikheid en verlies.
.
Die wêreld van die geneeskunde word ryklik ontgin met gedigte wat strek van die toediening van narkose tot orgaanoorplantings. By uitnemendheid is die gedigte in Atropos noukeurige waarnemings van die natuurlike en die menslike kondisie.Hierdie is die gedigte van ’n fyn stilis, gekenmerk deur die vernuftige interaksie tussen betekenis en klank.
.
“Daar is geen twyfel oor die hoë standaard van hierdie bundel nie; ’n ware vonds vir die Afrikaanse digkuns” – Henning Snyman
.
.
Morfinis
By ’n nagedagte aan Eugène N. Marais
Eeue terug uit papawersaad gepars
drup die amber nou sinteties
teen die pyn,
laat jou op die koop toe
op wolke loop,
raaisels ontknoop
deur al hegter te bind
met reseptore in die brein,
tot die spel hom uiteindelik voltrek:
’n dubbelslag uit ’n twaalfboorloop.
.
Narkose
’n Stem stel jou gerus,
’n anonieme naald se prik
laat jou dobber soos ’n vissersboot
of wandel op die water.
Tussen rots en klip
lê jy uiteindelik gestrand,
verblind deur kuswagligte
wankel jy aan land.
(Uit: Atropos, Quillerie, 2015) .
Biografiese inligting: Hendrik Botha het aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer. Hy het medies aan die Universiteit van Pretoria studeer en later gespesialiseer in narkose. Hy praktiseer as spesialisnarkotiseur, eers in Klerksdorp en nou in Pretoria. In 2013 verwerf hy ’n MA (kreatiewe skryfkuns) aan die Universiteit van Kaapstad. [Queillerie, 2015; Prys : R175, Bladsye : 96, Sagteband; ISBN-13 : 9780795801020, Epub-ISBN : 9780795801037.]
.
.
Portrette in my gang
Dolf van Niekerk
In Dolf van Niekerk se sesde digbundel kyk hy terug op mense, dinge en gebeurtenisse wat ’n betekenisvolle rol in sy lewe gespeel het. Die digbundel word as ’t ware ’n klein galery van skilderye wat momente in die skrywer se lewe vasvang. Die openingsgedig “Vergange” bevat ’n sleutel: Die gedigte handel wesenlik oor daardie oomblikke wat huiwer tussen “aankoms en vertrek”, oomblikke waarin die tyd “saamvloei in die nou / se durende verlede.” Daarom dra die beroemdheid of uiterlike belangrikheid van die onderwerp nie gewig nie: Gedigte oor figure soos pous Julius II, Albert Schweitzer en Peter Blum staan naas gedigte oor die skrywer se moeder wat hy vroeg verloor het, oor sy vader, ’n stoere wildeseringboom en ’n gunsteling-posduif. Daar is ook gedigte oor magiese oomblikke, soos ’n besondere orkesuitvoering in Tel Aviv, ’n nag by die see en ’n oesdag in die Overberg wat herinner aan ’n Van Gogh-skildery.
Dit is ’n ontroerende bundel waarin die digter nie net sin uit sy eie lewe probeer maak nie, maar ook besin oor beskawing en by monde van Bartolomeus Dias “vermoed: / Afrika duld nie vreemde goed”.
OOR DIE OUTEUR
Dolf van Niekerk is ’n bekende en geliefde skrywer van prosawerke soos Die son struikel (1960), Skrik kom huis toe (1968) en Die haasvanger (1985). Sy betrokkenheid by radiowerk het gelei tot talle radiopraatjies, hoorspele en vervolgverhale. Hy is meermale vir sy werk bekroon en het onder andere die Eugène Marais-prys, die M.E.R.-prys en die Scheepersprys ontvang. PRYS: R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-4853-0230-8 (gedrukte boek); 978-1-4853-0231-5 (e-boek); 978-1-4853-230-8 (ePub); FORMAAT: 213 x 137 mm; Sagteband; 62 bls. Protea Boekhuis, 2015)
.
.
Voor-bode
Cas Vos
Die titel van Cas Vos se nuutste bundel dui nie op ’n onheilsboodskap nie, maar eerder op die draer of draers van boodskappe van hoop. Dié tema word reeds in die openingsgedig in die vooruitsig gestel, waar die môrester die opdrag kry om deur die donker te kyk na waar “duister soos ’n vlermuis / vlug voor die nag hom verlaat.” Alhoewel die nag, donkerte, pyn en ellende die grondstof van baie gedigte is, word hierdie gegewe as die vertrekpunt na iets anders gesien, soos Plato se grot in die gedig “In die begin …”. Hier, “waar misteries teen die wand flikker”, het die spreker reeds “voorspooksels” gekry van sy taak. Uit hierdie donker maar veilige ruimte word die mens van sy geboorte af met al sy erflike belastheid gestoot om met sy woorde die wêreld te verken, sy ervarings op te teken en ’n boodskap oor te dra. Saam met ander bodes, soos engele, heiliges, skeppers en geliefdes verken die bundel oorloë, rampe en pyn, maar ook liefde, medemenslikheid en skoonheid. Ten slotte bely die digter dat al sy vermoëns net “ten dele” is, maar dat hy wel verskans is teen die pyn van ’n geknakte liggaam “tot die volheid my / onverhoeds verras.”
Die bundel bevat ’n aantal knap vertalings uit die werk van die Griekse digters Konstantinos Kavafis en Giorgios Seferis, wat in aansluiting met die temas van die digter se eie werk deur die bundel versprei is.
OOR DIE OUTEUR
Cas Vos het reeds sewe digbundels op sy kerfstok en het naas poësie ook teologiese publikasies die lig laat sien. Sy vertaling uit klassieke Grieks, Fragmente van die Ilias (2014), sy mees onlangse literêre werk, is goed deur die kritiek en die publiek ontvang. (PRYS: R180.00 (BTW ingesluit), FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, pp 140, ISBN: 978-1-4853-0542-2 (gedrukte boek), 978-1-4853-0543-9 (e-boek), 978-1-4853-0544-6 (ePub), Protea Boekhuis, 2015.)
.
.
Skryn
Emma Bekker
Die woord “skryn” het verskillende betekenisse: ’n Skryn is ’n klein kissie of houer waarin kosbaarhede soos juwele bewaar word, en as werkwoord kan die woord dui op afskuur of -skaaf (soos wat ’n skrynwerker doen) of op ’n pynlike wrywingsproses (vandaar die beskrywing van ’n ervaring as “skrynend” of “skrynerig”). Alhoewel al hierdie betekenisse geaktiveer word in Emma Bekker se debuutdigbundel, sal die leser vergeefs soek na konvensionele “vroulike” skatte soos juwele, klere en meubels. Reeds in die tweede gedig is daar ’n aanduiding van wat in die res van die bundel te wagte gaan wees: In hierdie herinnering aan ’n ontwrigtende kinderervaring, word die dogtertjie se krytblikkie, versier met ’n afbeelding van die Taj Mahal, ’n soort skryn word waaraan sy kan vashou. Algaande ontvou die beweging tussen die skrynende en die kosbare wat as gedigte bewaar word en word die bundel self die skryn.
’n Tweede belangrike tema in die bundel is die verkenning van ’n enigsins ongewone, onkonvensionele vroulikheid. Al open die bundel met ’n kwatryn oor die gewone buurt met “’n drankwinkel, ’n pawn shop en die Spar” waar die digteres woon, word hierdie skynbaar gewone voorstedelike bestaan gou die vertrekpunt van waar verskillende enigsins alternatiewe en onkonvensionele vroulikhede ondersoek word. Sy maak die luike van die binnekamer oop en ervaar tuin, veld en stad; sy herken die tierboskat in haar skootkat én in haarself; in die liefdespel wil sy niemand se baby wees nie; sy waag dit om op ’n tweede wittebrood die jas van “onverpoosde verantwoordelikheid” uit te trek en in die kombuis gee sy haar oor aan die sinnelike vreugde – en soms selfs wrede – van kosmaak. Bewaring en blootstelling, kwesbaarheid en krag, sinnelikheid en spiritualiteit word in hierdie bundel verwoord deur ’n vaardige digteres wat sowel die tug van die kwatryn, die liriese van kabaretagtige verse as vryer, narratiewe verse beheers.
Biografiese inligting: Emma Bekker het in Bulawayo, Newcastle en Standerton grootgeword en aan UP gestudeer. Sy woon tans in Johannesburg met haar gesin. Sy het as televisieteksskrywer en ‑televisieregisseur gewerk en het ’n hele aantal kabarettekste op haar kerfstok. Tans bedryf sy haar eie masseerterapiesaak. Skryn is haar eerste digbundel. (Protea Boekhuis, 2015; R150.00 (BTW ingesluit), FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, 88 pp. ISBN: 978-1-4853-0477-7 (gedrukte boek), 978-1-4853-0478-4 (e-boek), 978-1-4853-0479-1 (ePub) )
.
.
Vry-
Gilbert Gibson
Die titel van Gibson se vyfde bundel verwys na die Vrystaatse ruimte waarin die digter grootgeword het en steeds woon, maar dit dui ook op die ontglippende aard van betekenis in die alledaagse lewe, selfs te midde van die ervaring van die gesinslewe, die spreker se lewe as mediese dokter en sy jeugherinneringe. Soos in Gibson se vorige bundels is daar gedigte wat intense intellektuele betrokkenheid eis voor dit die leser ryklik beloon, maar daar is ook heelwat gedigte wat onmiddellik tref, en liefdesgedigte wat kers vashou by die beste in Afrikaans.
(ISBN: 9780798170536, Publ. datum : 24 Julie, Prys (insl. BTW): R195.00, Formaat: Sagteband, 96pp; Human & Rousseau, 2015)
Biografiese besonderhede: Gilbert Gibson is in 1963 op ’n plaas naby Marquard in die Vrystaat gebore. Hy studeer medies aan die Universiteit van die Vrystaat en praktiseer vandag as internis in Bloemfontein. Hy debuteer in 2001 in Nuwe Stemme 2 met 12 gedigte. Sy eerste bundel Boomplaats ontvang in 2006 die Protea-poësieprys vir die beste Afrikaanse digbundel wat die vorige jaar verskyn het. Boomplaats was ook op die kortlys vir die Ingrid-Jonker-prys. Sy tweede bundel, Kaplyn, het in 2007 verskyn.
stil op die werf
stil op die werf, wind gaan lê
diere laat my met rus
aarde strek uit soos môre hele dag
voor die venster staan
ʼn bottlebrush/ kom binne, sê boom
gemerk gereed gaan
(Uit: Vry- , gilbert gibson, 2015)
.
.
Uithoeke/Outcorners
Hans Pienaar
“Toweragtig” is die woord wat gebruik word om die vermoë van fotografie te beskryf, die kwaliteit wat ons laat staar na die eenvoudigste kiekies, want ons weet daar is altyd meer te siene as wat ons geheue ons kan vertel van die toneel wat afgeneem is. Dit het vroeg reeds in die geskiedenis van fotografie ’n kunsvorm geword, want dit het gou geblyk dat sekere fotograwe beter in staat is om foto’s te laat “spreek”, om dinge daarin te suggereer wat deur ’n waardering van vormlike elemente soos komposisie, fokuspunt en jukstaposisie ekstra betekenisse en estetiese plesier kan skep.
Dit het by Hans Pienaar in hierdie bundel die gevolg dat teks by foto’s noodsaaklik is, anders raak hierdie openheid te oorweldigend en tree verwarring in. Die alledaagse manifestasie daarvan is die onderskrif by ’n foto in ’n koerant, of die advertensiespreuk by ’n beeld op ’n kennisgewingbord. Met fotogedigte is die gedagte dat “misterieuse” foto’s saam met “misterieuse” gedigte afgebeeld word, maar dat dit gaan oor dieselfde persoonlike gewaarwording oor of omgang met wat ookal daardie “misterie” is. Die wedersydse verwysing na mekaar lewer ’n lesing of ervaring op wat nie moontlik is as een van die twee elemente afwesig is nie. Die geheue as tussenganger ontbreek – ten goede.
Die sleutel tot die bundel is in die eerste plek: plesier. Van lees, van ’n misterieuse foto, die kleure daarvan, die onverwagse komposisie, die skielike insigte. Die plesier van woorde, gedagtes en beelde in ’n nouer verband as net dié van kommunikasie. (R260 + VAT; ISBN: 978-0-620-64443-3; Altoviolet, 2015, altoviolet@mweb.co.za)
.
.
Skynskadu
Christine Barkhuizen le Roux
Skynskadu is ʼn uitsonderlike versameling van Christine Barkhuizen le Roux se nuutste gedigte. Met gedigte wat opgedra word aan onder meer Breyten Breytenbach, vorm die kritiese beskouing van lig teenoor donker ook deel van ʼn groter digterlike diskoers. Op die ingevoegde CD is daar toonsettings deur Olga Leonard, Babette Viljoen en Trudie Leonard Prinsloo saam met Christine se eie voorlesing van haar werk. Opnames gedoen deur Henk Steenkamp van Music@Work.
Biografiese inligting: Christine Barkhuizen le Roux is ʼn erkende skrywer, digter en vertaler. Twee van haar boeke is al op RSG voorgelees en enkele titels word ook in die Laelande uitgegee. Sy woon saam met haar man, Bertus, op ʼn plaas naby Barrydale en skilder graag. Christine gaan skryf jaarliks in die buiteland, aangesien die spanning tussen dit wat bekend en onbekend is, ʼn groot invloed op haar kreatiwiteit en skryfwerk het. (Naledi, 2015; R179 (BTW Ingesluit) – CD INGESLUIT; BLADSYE: 108, FORMAAT: sagteband; ISBN: 978-0-928316-11-7; EPUB; PUBL. DATUM: 15 Junie 2015)
.
.
’n knypie twak
vir Braam op sewentig
hy roer die geure om en om
stryk oor die wit kenbaard en kop
druk hier en daar knippies tabak
verbode feit met duim en vingers vas
blaas ring op ring gedagtes uit
soos wat hy aansteek teug en trek
’n nuwe stopsel vir ’n dampie-slaan
meng hy en maak dit vurig brand
totdat die hele Kannaland se berg
van swart tot rookwit wolke skuim
die Klein-Karoo se kind sal eeue lank
met duimsuig uit sy pruimpies pronk
toorstories uit dié heer se pyp:
Abraham de Vries van Donk
(Uit: Skynskadu, Naledi, 2015)
.
.
Boekstaaf
Nini Bennett
Reeds met die omslagkuns, Another world is calling deur die skilder Liekie Fouché, word Boekstaaf geaktiveer as ’n digterlike bestekopname wat die bevryding van die verbeelding voorop stel. Die bundel besin oor die siklusse van die lewe, digterskap, liefde, verlies, familie en die dood. Binne die oënskynlik strak opgaaf van die bundeltitel leef ’n ryk skakering waarin liriese en elegiese poësie afgewissel word met natuurgedigte wat versny in ’n sober ekobewussyn. Enigmatiese historiese figure byvoorbeeld Leni Riefenstahl, J. Edgar Hoover, Alan Turing en John Nash word belig, en daar word intertekstueel met filmkuns geflankeer. ’n Wye register temas word noukeurig ondersoek en te boek gestel: só kom die digitale media, joernale, dossiere, geskrifte, epitawe en ander rekords aan die bod. Die lotgevalle van slagoffers van oorloë, siekte en maatskaplike ellende word vanuit ’n spirituele hoek beskryf, terwyl die vaslegging van persoonlike belewenisse verwerk word tot tekstualiteit. Eindelik word die digter verbeeld as die magiër wat met die vrystel van die metafoor die omdigting van sy boustof bewerk.
.
Ars poetica
Die suiwerste poësie is sonder taal.
Dis die begeerte om stof tot stilte
om te dig, om digterwordend
die stilte te stoffeer, dis die metamorfose
van die metafoor as hout fossiele word:
steenkool vra om te brand, of water
hoogty in branders vlam; dis die friksie
van asem in fynhout
aangehits deur wind –
Die digter, die magiër van ouds,
dek die altaar en alles
neig van vooraf na vuur.
Biografiese besonderhede: Nini Bennett is in 1972 in Pretoria gebore. Sy behaal die MA-graad in Skeppende Skryfkuns (met lof) aan die Universiteit van Kaapstad (2001). In 2002 debuteer sy met ’n bundel kortverhale Stoornis, wat bekroon word met die UJ-debuutprys (voorheen die RAU-Mardéne Marais-prys). In 2008 wen sy die internasionale Room to Read-prys in die kategorie Afrikaans, en die jeugverhaal, Die storie van Vusi se orkes, sien die lig in elf amptelike landstale. In 2011 verskyn haar debuutdigbundel, Kodeks. Sy is tans besig met voorbereiding vir doktorale studie in ekokritiek, werksaam as skrywer en vryskut-resensent, en is ’n bekende digmentor. Sy woon in Kaapstad.
(Cordis Trust Publikasies, 2015; prys: R160; formaat: sagteband; 87 pp.; ISBN: 9 780992 205744)
.
.
bladspieël
Marlise Joubert
In bladspieël – die digter se agste digbundel – verken Marlise Joubert in ’n kenmerkend vloeiende styl temas soos verganklikheid en verval, onthou en verewiging, liefde en familieverhoudings, reise en maatskaplike bewuswording, digterskap en die skryfproses. Die digter is intens bewus van die naderende dood, maar hierdie besef maak die belewenis van die lewe des te meer intens, die verlange om te blý leef des te meer dringend. bladspieël is ’n sensitiewe en sensories bewuste verkenning van die eie psige en belewenisse. Die vroulike ervaringswêreld is ’n belangrike voedingsbodem vir die bundel. Sensoriese gewaarwordinge, asook primordiale prikkels vanuit die onderbewussyn, word op ’n bedrewe wyse tot taal gemaak.
Die gedigte verwoord, en word as’t ware ’n afbeelding van die ervarings van die digter as belewende subjek, en betrek só die leser op intieme wyse by haar ervarings van die alledaagse.
Biografiese besonderhede: Marlise Joubert is gebore in Elim, Limpopo, en het grootgeword in Warmbad (Bela Bela). Sy het Biblioteekkunde en Filosofie aan die Universiteit van Pretoria studeer, was joernalis, en daarna bibliotekaresse van die Departement Visuele Kunste se biblioteek aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is die outeur van 11 publikasies (8 digbundels en 3 romans), die samesteller van 4 Versindaba bloemlesings en ’n antologie met Engelse vertalings van gedigte van 30 Afrikaanse digters wat in 2014 verskyn het. Sy is die mede-webmeester van versindaba.co.za. Vanaf 2001 tot 2006 het haar radiodramas eerste, tweede, en derde pryse in die Sanlam/RSG radiodramakompetisie gewen. (Human & Rousseau, R185, ISBN 978-0-7981-6954-7, 2015)
agenda
die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees
ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop
wat jou opraap ver verby
die stingelende dood
(Uit: bladspieël. marlise joubert)
.
.
Narokkong
Riël Franzsen
In hierdie debuutbundel word die verhouding tussen vader en seun vanaf geboorte tot by volwassenheid verken. Dit is egter ’n besonder komplekse verhouding omdat die seun outisties is. Die tema van outisme, wat nog nie voorheen in die Afrikaanse poësie neerslag gevind het nie, word deurgaans vanuit die subjektiewe ervaring van die vader verwoord, wat voortdurend op soek is na maniere om deur te dring tot die bykans geslote wêreld van die kind. Die narokkong van die bundeltitel verwys na ’n geheimsinnige voël van die nag wat ook in D.J. Opperman se gedig “Koggelbos” figureer, maar eintlik verder terugverwys na ’n kortverhaal, “Koors”, deur Sangiro. Vir die siek kind in die verhaal is die narokkong ’n bringer van onheil, maar in die kind se koorsdrome word hy self ook ’n narokkong wat deur die giftige nabome gelok word. In Franzsen se bundel is daar ook ’n vreemde band tussen die outistiese kind en die voël wat alles met sy afsydige swart oë dophou en is dit nie altyd duidelik of die voël bedreiging of beskerming inhou nie. Die gedigte bring die leser te staan voor die wêreld van die ouers en hul radelose pogings om deur te dring tot die kind, om iets te verstaan van die manier waarop hy die werklikheid ervaar, en hul bekommrnis omdat hul besef dat hy nooit selfstandig sal kan leef nie (“Paasfees”). Voor hierdie verskynsel is die mediese wetenskap magteloos (“Hippokrates het sy hande vol”). Die leser sien ook iets van die kind se ontuisheid in ’n wêreld wat vir hom onbegryplik is – “Hoe dans mens in sirkels/in hierdie vierkantige plek?” word in “Outisme I”gevra, en sy afgeslotenheid en opgeslotenheid (“Kerker”). Daar is egter ook momente van troos (“Engel in die bos”), van humor (“Beseringstyd”) en deernis (“Denmar”). Die bundel eindig met ’n aangrypende gebed (“Slotgesang”). ’n Besonder debuut wat talle lesers sal aangryp. Die vervlegting van literêre, Bybelse en natuurkundige motiewe bied ook genoeg uitdagings aan die fynproewer, sonder om gewone lesers te vervreem.
OOR DIE OUTEUR
Riël Franzsen is hoogleraar in Belastingbeleid en –bestuur aan die Universiteit van Pretoria en is ’n internasionale kenner op die gebied van belastingreg. Voëlkyk en natuurlewefotografie is van sy stokperdjies. (Protea Boekhuis, 2015; R150.00 (BTW ingesluit) FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, pp 64; ISBN: 978-1-4853-0410-4 (gedrukte boek), 978-1-4853-0411-1 (e-boek) 978-1-4853-0412-8 (ePub) )
.
.
Matriks
Joan Hambidge
Die digter se poging tot lewe-deur-poësie, tot skrywende sinmaak uit wat tans gebeur en gebeur het en die ewige wordingsproses van ’n skrywerslewe kom in hierdie ryk bundel aan bod, met al die elemente wat aanhangers van ’n Hambidge-bundel verwag: Die verhouding met die ouers en familie, gesprekvoering met ander skrywers, liefdesverhoudings en hul eindes, reise na verre plekke en gedigte met beelde en bekende sterftes as vertrekpunt. En altyd ’n flink digterlike reaksie op gebeure wat die tydvak ontwrig of ontstem, veral waar dit afskeid en aflegging behels.
Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ’n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. In 2012 is haar bundel Visums by verstek met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon. (Human & Rousseau, R175)
.
.
Analepsis
.
Verslaaf aan die parentese, dit is ek,
wagtend op die finale punt, ook dit is ek.
Niks word ooit ópgehef, niks word vergeet,
aan herinneringe vasgebind soos jy weet.
Ons skeiding (’n soeke na rus) word ’n kommapunt.
Eer ek opnuut begin, tel ek sillabes, dalk ’n amfibrag?
Anadiplosis? Herhaling, liewe leser, my knelpunt.
Geen Pindarus, geen anti-strofe, net ek wag.
Ek is net dit: aan die parentese verslaaf.
.
(Uit: Matriks. Joan Hambidge)
.
.
Skadu oor die sonwyser
Kobus Lombard
Kobus Lombard se vierde digbundel word gekenmerk deur ’n sterk gevoel vir plek. Soos te verwagte is daar verwysings na bekende plekke in Namibië, soos Gobabis, Rundu, Swakopmund, die stad Windhoek, die Kavango- en Nossobrivier, die woestyn en die seekus van die dood. Selfs in gedigte waar daar geen duidelike verwysings na die Namibiese landskap is nie, bly die leser bewus van die wye en dikwels ongenaakbare landskap wat die agtergrond vir die meeste gedigte vorm, soos in “Ylblou berg”: “ … word hy bruin en ruig begroei/met swart voëls wat sirkel/teen die grynslag van sy kranse”. Hierteenoor is daar in baie gedigte ook sprake van kleiner, intiemer en mensliker ruimtes: ’n strandhuis, die binneruimte van ’n kerk, museums, restaurante, selfs grafte en ’n klerekas.
Met sowel die groter as die intiemer ruimtes tree die digter in gesprek. Dit is opmerklik hoe dikwels die aanspreek van plekke, mense en dinge die inslag van die gedigte vorm, asof die digter homself gedurig in verhouding met die ander stel en in die gedig hierdie verhouding wil verken en peil. Verweef met die menslike verhoudings is ook die verhouding met die verlede, met sy eie kinderjare en ’n verbygegane plattelandse lewe, wat nooit geromantiseer word nie, maar met ’n effens ironiese toon opgeroep word, soos in die gedig “Gobabis”, waar die verval van die dorpie so geteken word: “die stof hang ’n kring om die sweet van jou tiervelhoed/die vensters van jou oë is gebreek/jou mure skilfer soos oumensvel”. Die digter kyk ook ewe ironies na menslike gedrag in verskillende kontekste: kerkgangers, besoekers aan restaurante, die beheptheid met fiksheid, die verandering van straatname en selfs sy eie skryfpogings.
Oor al hierdie dinge en verskynsels val die skaduwee van die sonwyser, en word die leser vroeg reeds bewus van die verbygaan van tyd sodat sekere dinge onafgehandel moet bly (“Ongevra”) en die onvermoë om te behou of te bestendig: “vergeefs soek ons taal/wat ruik na vars hopies grond/om ons verliese te begrawe”.
Kobus Lombard het op Gobabis in Namibiê grootgeword en in die openbare sektor in Windhoek gewerk. Hy doen tans opleidingswerk op vryskutbasis. Sy vorige digbundels is Geknipte naelstring, Tussen wysvinger en duim en Vlerke vir my houteend. (R150.00 (BTW ingesluit, FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, 88 pp, ISBN: 978-1-4853-0302-2 (gedrukte boek) 978-1-4853-0303-9 (e-boek) 978-1-4853-0304-6 (ePub)
.
Wilhelm Knobel
Die ongewapende man op 80 – in vertaling
Deon Knobel (samesteller)
Die ongewapende man op 80 bevat vertalings van Knobel se gedigte in Engels. Vertalings is gedoen deur die digter se broer, die vertalers Gisela Ullyatt en Tony Ullyatt, Charl JF Cilliers, en in die teks is daar ’n vertaling deur die digter self en C. Bennett. In haar bespreking van die bundel, Twee Siklusse, wys Louise Viljoen op Wilhelm Knobel se posisie binne die kanon en skryf sy soos volg: “Dit is belangrik om sy posisie tussen die ander skrywers van Sestig in kaart te bring” want volgens haar is daar by Knobel, net soos by die ander Sestigers, “’n worsteling met die spanning tussen tradisie en vernuwing”. Interessant noem Viljoen ook wat sy as “voorwerk” by Knobel bestempel, sy intertekstuele gesprekke met Breytenbach, die Katolieke mistiek wat later by Cussons sou voorkom, asook sy siektegeskiedenis wat gevolg sou word deur ’n bundel soos D J Opperman se Komas uit ’n bamboesstok. (Bel Monte uitgewers, R160. 2015)
.
Takelwerk
Daniel Hugo
Met die titel, Takelwerk, beweeg Daniel Hugo nie net terug na die bekende beeldveld van die see en skeepvaart nie, maar verwys ook na D. J. Opperman se vers “Digter” waar die digter se arbeid uiteindelik lei na “klein stellasies vers // wat groei tot boeg en mas / en takelwerk”. Die bundel sluit verse in oor die digkuns en digterlike aktiwiteite. Die leser ervaar die wêreld van die digter deur sy oë en ore, sy sintuie, maar ook deur sy taal. Die spel-element is ook opvallend in baie verse, iets wat Hugo virtuoos met humor saamdig. Hiermee saam is ook die vernufsverse wat al sinoniem met Hugo se digterskap geword het. Talle verse staan uit vanweë die fyn ontginning van klank, woordspel & die ontplooiing van metafoor. Die verse spreek van ’n belewenis van die wêreld vasgevang tussen carpe diem en memento mori, verse oor landskappe en die heimwee van landskappe, oor natuurdinge en die mens (én die digter) se plek in die groter bestel. Dikwels word die landskappe ook bínneskappe, word hulle ingeskape.
Daniel Hugo is op Stellenbosch gebore en het in Greyton en Windhoek skoolgegaan. Hy studeer aan die Universiteite van Stellenbosch (B.A. Hons.), Pretoria (M.A.) en die Vrystaat (D.Litt.). Hy is die digter van 14 bundels en het ook etlike bloemlesings uit die Afrikaanse poësie en verhaalkuns saamgestel. Hy is verder bekend as vertaler uit Nederlands en Engels. Hugo was aanvanklik ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Daarna was hy byna 20 jaar lank as omroeper, veral bekend vir programme soos “Leeskring” en “Vers en klank” op RSG. Hy is meermale vir sy omroepwerk bekroon. Hy was ook ’n tyd lank vertaler en uitgewersredakteur by Protea Boekhuis. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikanse Akademie se vertaalprys vir sy vertaling van Tom Lanoye se roman Sprakeloos. Deesdae is hy ’n vryskut-taalpraktisyn. (Human & Rousseau, R175)
.
.
’n Digter in Antwerpen
Leonard Nolens
Vert. deur Daniel Hugo
Sedert sy debuut in 1969 met die bundel Orpheushanden het Leonard Nolens hom gevestig as een van die beduidendste Vlaamse digters van ons tyd. Drie versamelbundels het reeds van sy omvangryke oeuvre verskyn en sy poësie het talle Vlaamse en Nederlandse pryse ontvang, onder meer die Jan Campert- en Constantijn Huygens-pryse, die VSB-prys en die Prijs der Nederlandse letteren.
Vir hierdie versameling Afrikaanse vertalings het Daniel Hugo veral gekies uit gedigte oor Antwerpen, die stad waar Nolens woon en werk; die agtergrond van talle gedigte wat soms ook as stilswyende gespreksgenoot vir die digter optree. Die ander durende gespreksgenoot is sy geliefde. Leonard Nolens is ’n liefdesdigter sonder gelyke in die moderne Nederlandse letterkunde. Nolens skryf ook oor onderwerpe soos musiek, ander Europese lande en oor die mens se stryd om met homself tot ’n vergelyk te kom. Nolens se gedigte sal aanklank vind by lesers van poësie wat hou van ’n effense uitdaging, maar die Afrikaanse vertalings is baie toeganklik en open vensters op veral België, maar ook die ander Europese stede waaroor Nolens graag dig.
Leonard Nolens is in 1947 in Bree, België gebore. Hy woon in Antwerpen. Hy skryf voltyds en benewens dagboeke en enkele romans het daar reeds 23 digbundels uit sy pen verskyn. Hy het talle pryse vir sy digkuns ontvang.
Daniel Hugo is ’n gerekende digter, letterkundige en vertaler. In 2014 ontvang hy die Akademieprys vir Vertaalde werk vir sy vertaling van Tom Lanoye se roman Sprakeloos is. R150.00 (BTW ingesluit) FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, BLADSYE: 108, ISBN: 978-1-4853-0176-9, 2015)
***
Ander bundels in die jaartal: 2018