2016 Publikasies
Ander digbundels in die jaartal: 2018
2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.
Die aarde is ’n eierblou ark
Susan Smith

In Susan Smith se eerste bundel, in die afwesigheid van sin, het reeds ’n hele aantal gedigte oor die omgewing verskyn. In dié nuwe bundel word die omgewingsgesprek voortgesit. Die gedigte handel egter nie oor bewaringsvraagstukke nie, maar oor die mens se verhouding tot die aarde en die lewende wesens daarop.
Soos die titel aandui, word die aarde gesien as ’n soort vaartuig wat deur die heelal reis. Dit is ook die boot waarmee die mens op sy lewensreis vaar deur verskillende waters. Plante, veral bome, is verwysingspunte op hierdie reis. Die woorde van die digter is instrumente wat die vaart moontlik maak, dit beskryf en die bedreigde lewendes help bewaar:
die aarde is ’n eierblou ark
wat deur die melkweg veer
[…]
waarin ons waterdeurdronge
deur soutreën en sleepmistonge
hiermaals vaar en as bede
om vergiffenis en genade
daagliks silwer woordspane
deur water stuur
OOR DIE OUTEUR
Susan Smith is vise-dekaan en professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Fort Hare. As navorser ondersoek sy veral die poësie se bydrae tot die gesprek oor die omgewing. (R160.00 (BTW ingesluit) ISBN:978-1-4853-0716-7 (gedrukte boek) 978-1-4853-0717-4 (e-boek) 978-1-4853-0718-1 (ePub); FORMAAT: 137 x 213 mm; Sagteband, pp 96, Protea Boekhuis, 2016)
.
.
Shirmoney Rhode
Nomme 20 Delphi Straat

Nomme 20 Delphi Straat (of Delphi Straat 20) is ʼn versameling van beide Kaaps- en Standaard Afrikaanse gedigte wat aanvanklik as performance poetry vorm aangeneem het. Dié gedigte reflekteer die ervaringe en gedagtes van die digter uit haar tienerjare en as eerste generasie student. Dit speel af in Elsiesrivier en die titel is verwysend na die huis en straat waarin sy grootgeword het, maar sinspeel ook op die tema van bendegeweld. Die gedigte is ook die stories van die mense van Elsiesrivier.
Biografiese inligting
Shirmoney Rhode is in 1991 gebore en het grootgeword op die Kaapse Vlakte in Elsiesrivier. Sy verwerf die kwalifikasies BA (Afrikaans en Linguistiek), BA (Honneurs) in Afrikaans en ʼn nagraadse onderwyssertifikaat in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar gedigte het al in 7de Reënboog verskyn en as performance poet het sy al voordrag op verskillende platforms soos Open Book Festival, Inzync Poetry, Grounding Session, Badilisha Poetry, Poetica, Artsemble en meer gedoen. In haar werk vertel sy graag die stories van die mense uit haar gemeenskap. Sy is ‘n onderwyser in Afrikaans by ʼn Kaapstadse hoërskool. (Mojaji, 2016, ISBN: 978-1-928215-19-6, Prys: R150.)
.
Fotostaatmasjien
Bibi Slippers

Bibi Slippers se debuutbundel vier die mens en kultuur as fotostaatmasjien en die gedig as foutiewe fotostaat. Die digter neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium aan, maar dié oorskrywer is gelyktydig ook ’n boorling van ’n digitale wêreld waar perfekte kopieë met die druk van ’n knoppie geskep kan word, en emoji’s, youTUBE-videos en Instagram-foto’s werklikheid word. Fotostaatmasjien dokumenteer die skeppingsproses in afdrukke, en maak só oorspronklike fotostate.
Biografie:
Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Sy het BA-grade in Skeppende Kunste en Tale van die Universiteit van Pretoria, en ‘n MA in Kreatiewe Skryfkunde van die Universiteit van Stellenbosch. Sy woon in Johannesburg en gaan swem gereeld in die Kaap. (Tafelberg Uitgewers, 2016. Prys : R200, Bladsye : 108: 210 mm x 148 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780624080732)
.
.
Multivers
Hennie Smith

Uit stof, ster, planete word daar poësie gemaak. Die digter verken die geskape univers met fyn aanvoeling en vernuf. Hennie Smith se aanleg vir wiskunde en wetenskap het hom tot ’n doktorsgraad in fisika geneem en ’n suksesvolle navorsingsloopbaan in Suid-Afrika en Frankryk. Die fisika en kosmologie word vir hom ’n teleskoop om van die einders van die kosmos in te kyk op die binneruimte van menslike emosie. Die intense gedigte oor die roering en spanning tussen die manlike en vroulike het ook ’n kosmiese inslag wanneer hy soos Goethe in sy Faust ervaar dat die ewig vroulike hom motiveer en die volheid van die syn laat beleef. ’n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed. (Naledi, 2016. Prys R 175.00 , Sagteband • 116 p • 213 mm x 137 mm; ISBN: 978-0-928316-64-3)
Biografie:
Hennie Smith is ’n boorling van Bethal op die Hoëveld. Hy behaal ’n DSc in fisika aan die Universiteit van Pretoria en vul dit later aan met studies in ekonomie, filosofie en staatsleer aan UNISA. Sy navorsingsloopbaan van twintig jaar by die WNNR is onderbreek deur periodes van navorsing by die Centre Nationale de la Recherche Scientifique in Orsay, Parys, en later by die Centre d’Étude Nucléaire in Grenoble in die Franse Alpe.
.
.
In ‘n oomblik
Cas Vos

In ’n oomblik toon die hand van ’n ervare digter wie se poëtika reeds gevestig is in terme van temas en tegnieke. Die digbundel verteenwoordig ’n voortsetting van dié aspekte van Vos se digkuns waarvoor hy reeds lof verdien het. Op tegniese vlak is daar veral sy baie effektiewe gebruik van ’n onpretensieuse toon wat dikwels sonderlinge poëtiese vondste oplewer. ’n Voorbeeld hiervan is die nuutskepping (die slinkshandige). Tegniese vernuwing vind ook plaas deur die aanwending van die epiese gedig en die tersine. Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns. Tydens die reis kom daar fel en verskillende emosies en ervaringe na vore. Dit word alles met die leser gedeel. Die tematiese nuutheid en aktualiteit van die bundel blyk uit die digterlike uitbeelding van die menseslagting op 13 November 2015 in Parys en vlugtelinge uit Sirië se bootreise na ’n heenkome. In die bundel kom daar diep emosies na die oppervlakte. Alles gebeur in ’n oomblik. Op die lewensreis word verskillende emosies ervaar: lig en donker, liefde en ongeluk, geboorte en die na-lewe. Die tema van verganklikheid en ouer-word is sentraal in die bundel. Die lewensreis is ook ’n taalreis. Daarom word die taalgesprek, in ’n boeiende saampraat met Konstantinos Kavafis, poëties uitgedruk. Op die leefreis is daar ook verlies. Hier kom Cas Vos se vertalings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se Griekse gedigte aan die bod. Die reis eindig egter nie in wanhoop nie, maar met uit-sig.
Biografiese inligting
Cas Vos was vir 21 jaar lank verbonde aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretora. Vanaf 2000 tot met sy aftrede in 2010 was hy die Dekaan. Hy is vir sy teologiese werk met die Andrew Murray Prys en die Pieter van Drimmelen medalje deur die Akademie vir Kuns en Wetenskap bekroon. Hy het talle artikels wat in plaaslike en internasionale tydskrifte verskyn het, gepubliseer.[Naledi, 201 6. R 175.00, Sagteband • 192 p • 213 mm x 137 mm ; ISBN: 978-0-928316-44-5]
.
.
Sulamiet
Lina Spies

Sulamiet is Lina Spies se tiende bundel. Lina Spies se oeuvre van 9 bundels laat duidelik blyk dat tussen al dié bundels se publikasies ten minste twee en meesal drie tot vyf jaar verloop het. Sulamiet is ’n bundel oor medemenslikheid, liefde, die wisseling van seisoene, die skoonheid van die natuur en die kunste in ’n land en ’n wêreld van geweld. Die titel Sulamiet verwys na die vroulike spreker in die Bybelboek Hooglied waarin die verlore tuin van Eden na die sondeval deur die liefde herskep word. Die verse in die bundel handel oor die liefde in vele vorme, die belewenis van die religieuse en die skoonheid van die natuur en die kunste waaraan altyd ’n tekort verbonde bly weens menslike ontoereikenheid.
As sodanig speel dié titel nie net in op die eerste afdeling se liefdesverse nie, maar op die onderliggende tema van die bundel in sy geheel: die herstel van Eden tot die volmaakte tuin wat dit was voor die sondeval. Die groot aantal verse oor verlies van geliefdes deur die dood, emigrasie en vervreemding het sy teenpool in die siklus van seisoene en die wisseling van dag en nag waardeur die mens hom kan versoen met sy eindigheid en sy vreugde aan die lewe kan behou. Musiek is vir die digter by uitnemendheid ’n transendente ervaring wat haar verbind met die goddelike, terwyl Jesus as Joodse rabbi sy grensoorskryding nog waar maak deur buitestanders soos enkelma’s en alleenlopers te bevry tot volwaardige menswees.
Biografiese inligting:
Lina Spies is ’n digter en ’n letterkundige. Aan die Universiteit van Stellenbosch het D. J. Opperman haar mentor geword. Sy studeer ook aan die Vrije Universiteit (Amsterdam) in die Nederlandse Taal- en Letterkunde en promoveer in 1982 aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif oor D. J. Opperman. By die US, was sy professor vanaf 1987 tot 1999. (Naledi, 2016. R 175.00; Sagteband • 192 p • 213 mm x 137 mm; ISBN: 978-0-928316-47-6)
.
.
by die nag se wit kant in
Etienne Terblanche

In hierdie debuutbundel kom ’n groot verskeidenheid onderwerpe, versvorme, emosies en toonaarde aan die bod. Die digter maak soms ook van spesifieke variante van Afrikaans gebruik: streektaal, akademiese taal en wetenskaplike taal. Die digter skryf oor die Suid-Afrikaanse werklikheid, die natuur en wildernisgebiede waar hy ontspan en na voëls en skoenlappers kyk, ook na die werklikheid van sy werksomgewing op Potchefstroom en plekke soos Indië waar hy gereis het. Hy slaag daarin om sulke bekende onderwerpe in die digkuns soos die liefde en vriendskaps- en familie-verhoudinge op ’n nuwe, speelse en soms ook diepsinnige wyse te verwoord. ’n Treffende voorbeeld is “Die digter sing vir sy beminde” waar die konkrete, bekende wêreld omtower word: die geliefdes vlieg weg van die alledaagse, deur die deur van die maan en saam weer oor die kombuis tot in ’n nuwe land. Maar vir hierdie digter klink liefdesmusiek ook in die Bosveld en die rooigras van die Vrystaat op. Daar is ook pragtige gedigte oor sy ouma en haar unieke wyse van praat, die platteland en sy mense en ook meer eksotiese plekke soos Moembaai en Stockholm. Die akademiese wêreld en die literatuur kom ook in die bundel ter sprake.
OOR DIE OUTEUR
Etienne Terblanche is ’n professor in Engelse Letterkunde aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy het reeds akademiese publikasies agter sy naam, maar by die nag se wit kant in is sy eerste digbundel. [PRYS: R160.00 (BTW ingesluit), Protea Boekhuis,2016. ISBN:978-1-4853-0601-6 (gedrukte boek); 137 x 213 mm, Sagteband , bls.100]
.
.
Arsenaal van klank
Anna Enquist
Vertaal deur Zandra Bezuidenhout

Anna Enquist is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer. Sy het sowel psigoanalise as musiek gestudeer en albei hierdie terreine word in haar skryfwerk weerspieël. Haar gewildheid in Nederland kan onder meer toegeskryf word aan die herkenbare alledaagse werklikheid in haar poësie, waarby lesers aansluiting vind. Alhoewel haar gedigte oënskynlik verstandelik en nugter is, word die leser juis getref deur die vasberade erns en innerlike krag waarmee sy byvoorbeeld die verlies van haar dogter verwerk deur daaroor te skryf. Die emosionele word egter altyd gebalanseer deur redelikheid, sodat haar gedigte nie sentimenteel is nie, maar tog die leser raak, soos in die gedig “Habanera”:
Daar was ’n kind. Met haar het ek
deur die kamer gedans, ons het van hoek
tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.
Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.
As ek asemhaal vonk sy na in die gedig.
Anna Enquist is ’n veelbekroonde Nederlandse romanskrywer en digter. Haar gedigte is baie gewild omdat dit toeganklik is en handel oor onderwerpe waarmee die gewone leser kan identifiseer. Zandra Bezuidenhout is ’n digter wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is. Sy is ’n ervare vertaler uit Nederlands en was onder andere verantwoordelik vir die vertaling van twee kinderboeke wat onlangs by Protea verskyn het.
Vir poësieliefhebbers, maar ook vir ouers wat worstel met die dood van kinders. (Protea Boekhuis, 2016, R170.00 (BTW ingesluit),ISBN: 978-1-4853-0604-7 (gedrukte boek) FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, pp 120)
.
.
Indeks
Joan Hambidge

Elke gedig in hierdie uiters volwasse bundel verken brokkie vir brokkie die aard en semantiek van ’n digkuns: Dit reis op uitgebreide paaie na wat die wese is van die digkuns, ook die digter se eie poësie. In Joan Hambidge se oeuvre is hierdie bundel ’n groot sprong; die hele Indeks werk aan en oor die digkuns met ’n feitlik mistieke bewondering en respek vir die woord. Dit kan beskou word as haar mees “taalkundige” bundel, want die digter is in konstante gesprek met die woord en die moontlikhede wat die woord bied. Haar vermoë om die woord se wisselende buie, in gesprek met ander woorde, raak te sien en te benut, is nog nooit só suksesvol aangewend nie. Met die meer liriese aard, groter toeganklikheid en innige menslikheid sal Indeks as ’n hoogtepunt in Hambidge se digkuns beskou word.
Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in SA. As kritikus skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy is professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die UK. In 2012 is haar bundel Visums by verstek met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon.
.
Die anatomie van reis
Footfalls echo in the memory
Down the passage which we did not take.
T.S. Eliot
.
Elke digter het ’n indeks,
’n plattegrond of kaart.
In elke stad is daar ’n katedraal,
’n kerkhof, bushaltes, soms ’n hawe,
hotelle – en ander merkers
vir die besoeker voor ’n monument
van ’n vryheidsvegter, insurgent
of ter-dood-veroordeelde, bekend.
Elke bundel het ’n inhoudsopgawe
met verse oor die liefde of die dood.
Selfs ongeskryfde verse, ’n stilpunt,
word die subte of die ondergrond
wat die reisiger nog mag neem;
vereers wagtend by ’n bushalte
of taxihalte op pad na ’n baken,
immer op pad tussen hier én daar.
Partykeer is die reis vooruit beplan
met koepons oorhandig aan ’n gids;
telkemale is dit die onverwagse koers
van Frost se the road less traveled
of ’n indraai na ’n holte vir die voet,
’n klein boetiekhotel of ’n kroeg
wat iets oopmaak, openbaar:
Mi gruwelt dat ic leve? Of eerder
Dank God ek is uiteindelik hier?
(Uit: Indeks. Joan Hambidge, H&R, 2016)
[Human & Rousseau, 2016, Prys : R175, Bladsye : 160, Formaat : 213 mm x 137 mm, Bindstyl : Sagteband, ISBN-13 : 9780798172967, Epub-ISBN : N/A]
.
.
.
‘n Hunkering se grein
Johann de Lange

’n Ryk geskakeerde bundel waarin dié bekroonde digter indringend fokus op temas soos, onder meer, skoonheid teenoor verval, die skoonheid in verval, die troos van die woord en die gedig, die weerloosheid van die lewe en menswees, en die erotiek wat tog so deel vorm van elke mens. Daar is heelwat vernuwende elemente – meer waarneming, meer metafisies en fyner gedraad. Die verse is pretensieloos en daar is geen poging om die leser te beïndruk met ’n verwikkelde verwysingswêreld nie. Eenvoud is die eerste wagwoord, en die tweede is eerlikheid. Dit is ’n bundel wat na baie kante strek, maar wat konsekwent tot die leser spreek. Dit is ’n sensitiewe stuk werk wat vir die ware teksleser oneindige vreugde sal verskaf. ’n Uitstekende toevoeging tot die Afrikaanse digkuns.
Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Sy debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy vierde bundel, Wordende naak, word met die Rapportprys vir Poësie bekroon in 1990. Die algebra van nood, wat in 2009 verskyn het, is in 2011 met die Hertzogprys bekroon.
[Human & Rousseau 2016, Prys : R175, Bladsye : 128, Formaat : 213 mm x 137 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798172998, Epub-ISBN : N/A]
.
.
Die kleur van water
Louis Jansen van Vuuren

Tussen die bundel se blou voor – en agterplat vervloei leitmotiewe van kleur en water; die tematiek berus op die vasvang van die erotiese oomblik wat nie net sintuiglik ervaar word nie, maar ook deur ’n ryk tekstuur van kuns, mitologie en milieu. Die verkenning van die self en die geliefde word ontgin in die uiteenlopende landskappe van drie kontinente – Europa, Afrika en Australië – wat in drie tale verwoord word: Afrikaans, Engels en Frans.
Die metaforiese vertrekpunt is Horace-Bénédict de Saussure se cyanometer, ’n instrument waarmee blouheid gemeet word. Nie net bied die bundel lesers genuanseerde verwoording nie, maar ook die visuele impak van Jansen van Vuuren se kuns. Elke gedig word afsonderlik deur ’n oorspronklike Jansen van Vuuren kunswerk/skets vergesel. Die kleur van water word in sewe afdelings verdeel: Blavus, Smalt, Turchino, L’Heure Bleue, Cyanometer, Ekraka en Vlamblou. Die bundel eksploreer ook motiewe soos flora as mikrokosmos en metafoor; die liefde vir astronomie en die nostalgie van die digter-spreker.
In Scrovegni se kranskapel
die hemel, blou gefresko.
Lapis lazuli salf ons.
Adam sak sy kop
Eva bedek haar borste.
Tien gerubyne, bedroef.
Ek herken jou, Oerman,
Onse Vader met oë
die kleur van water.
Ons herken jou, Moeder,
jy met oë die kleur
van umbalawamanzi.
Die bundel is self uit gegee en gedruk deur Scanshop, 2016. R300. (BTW ingesluit.) ISBN: 978-0-620-71075-6. 21 cm x 21 cm, Sagteband, pp 112. Slegs beskikbaar by Protea Boekwinkel, Stellenbosch.
.
.
Waar die oog van stil word
Ilse van Staden

Waar die oog van stil word is Ilse van Staden se derde digbundel en is net so keurig afgerond soos haar vorige bundels. Die eerste groep gedigte handel oor die verwerking van verlies en afskeid van die bekende. Dan betree die digter die onbekende wêreld, waar sy haar vereenselwig met klein lewende wesens soos slakke en torre wat dit ook moet waag in die groot buitewêreld in. Die digter het net ’n veerpen oor om mee te skryf en om ’n skip met woorde en drome te bou waarmee sy in die verbeelding kan reis. Daar is ’n sterk bewustheid van die vervlietendheid van alles: Al probeer die oog ook onthou, maar dit kan slegs weerkaatsings boekstaaf vir die brein se verbeeldingskrag en kan die digter dit met woorde probeer vasvang.
Deurgaans is die digter daarvan bewys dat dinge nie bewaar kan word nie, soos die lig wat in donker oorgaan, die wind wat vlugtig aan skouers raak, die geluide van voëls teen skemer, ’n brander wat oor die strand spoel en onmiddellik verdwyn. Ten slotte is die digter ook bewus van die paradoks van die digkuns: Dit is onmoontlik om die stilte van die see in woorde vas te vang, want “daar’s geen woorde in die see nie/en geen stilte in ’n vers!”
OOR DIE OUTEUR
Ilse van Staden het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en as veearts op verskillende plekke gepraktiseer. Haar eerste digbundel, Watervlerk (2004) word met die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy skryf ook prosa. Tans woon sy in Australië. Haar debuutroman, Goeie dood wat saggies byt, verskyn in 2016.
(Protea Boekhuis, 2016. R150.00 (BTW ingesluit) ISBN:978-1-4853-0605-4 (gedrukte boek) 978-1-4853-0606-1 (e-boek) 978-1-4853-0607-8 (ePub), 137 x 213 mm, Sagteband, pp 60.
.
.
Vloeibare middelpunt
Martjie Bosman

Vloeibare middelpunt is Martjie Bosman se derde digbundel en volg op Toevallige tekens (2010) en Landelik (2003), waarvoor sy met die Ingrid Jonker-prys bekroon is.
Susan Smith skryf in haar keurverslag dat Vloeibare middelpunt handel oor ’n “gevoel van vervreemding en vreemdelingskap – nie net as reisende buite die grense van die bekende nie, maar selfs die bekende wat vervreemdend word.” Soos die bundeltitel voorspel, is daar sprake van ’n vloeibare in- en uitbeweeg na en van die veilige maar onvaste kern, en word verskillende bestaansmoontlikhede op verskillende plekke (hetsy fisiese of kopruimtes) verken. So handel heelparty gedigte oor woon in ’n stad (soos Pretoria, wat uitgebeeld word in Ryan Loubser se “Spookhuis in die reën” op die omslag) wat uitdagings aan die inwoners stel, maar ook ’n gevoel van behoort wek. Soos vroeër by die gedigreeks “Viervoud” uit Landelik, vind die Heideggeriaanse konsep van “woon” soos uiteengesit in sy referaat getiteld “Bauen wohnen denken”, sterk inslag, vandaar dat Bosman die Hölderlin-aanhaling as motto vir die bundel gebruik: “… dichterisch wohnet der Mensch auf dieser Erde”.
FOXTROT VAN DIE VLEISETERS
Satrae stop die BM’s en MB’s en 4-treks
voor die slaghuis, sein die T-hemde
die seisoene: ligblou, gestreep of groen en goud.
Daar binne gesorteer volgens die slagoffers
die tjops, die steaks, die sosaties, die worse
– Weens, Russies, Spaans, Duits, gerook, gekaas,
om nie te praat van die boeresoorte nie:
gawe, gemoedelike Grabouw, kameelhout,
rooikrans; skaap-, bees-, hoender-, lewer-,
en iewers ten duurste ook “oorspronklik”.
Agter loei die sae, spat die skaafsels,
genoeg om vegetariërs te laat verbleek.
Maar wat, ons koop ook die bykosse,
die braaipap, die dege uitgerys in hul plastieke,
die knoffelbrode en roosterkoeke in hul foelies,
die kase, die botters, die smere, gesofistikeerd
met pesto en soet sondroë tamaties, die wyne,
die olywe, die olies en balsamiese asyne,
die skyfies vir vooraf en die terte vir daarna.
Vanaand gaan die brikette brand, die rokies hang,
die biere skuim, die vroue vol belofte lag,
die kinders stry en op die sofas slaap.
Vanaand vergeet ons die verlede, die kwellings
van die week, die hoofpyn van die oordaad.
Vanaand dans ons die dans van die lewe.
OOR DIE OUTEUR
Martjie Bosman was van 2000 tot 2004 as Argivaris (Arikaanse radioprogramme) by die SAUK se Klankargief werksaam. In Augustus 2004 word sy as redakteur by Protea Boekhuis aangestel.Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik. (Protea Boekhuis, 2016; R160.00 (BTW ingesluit), ISBN 978-1-4853-0584-2, E-boek: 978-1-4853-0585-9, ePub: 978-1-4853-0586-6; FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, BLADSYE: 80)
.
.
in die grot van die sibille
Juanita Louw

“Die digter se taak is om die verborge te ontbloot. Elke gedig is ’n uiting van die sibille.” Dié woorde van Sowjet-digter Marina Tswetajewa eggo in Juanita Louw se debuutbundel, In die grot van die sibille, waar digkuns gelykgestel word aan die magiese woord wat deur die mitologiese profetes in haar grot gespreek is.
Die leser gaan as ’t ware die trapesoïdale ingang van die grot binne waar klankryke, evokatiewe verse met droomagtige, eksotiese beelde die menslike kondisie belig. Louw werk met fassinerende stof uit ander kulture wat selde in Afrikaanse digkuns op hierdie prikkelende, meevoerende manier ontgin word. Die bundel word verryk deur ’n uitgebreide verwysingsveld, insluitende fabels, mitologie, kuns, literatuur, films, musiek en natuurlik digkuns – produkte van die mistieke skeppingsdrang. [ISBN: 9780795801235, sagteband, 88 ble., Queillerie, RR175.00]
.
.
Homeros. Fragmente uit die Odusseia
Vert. deur Cas Vos

Die inleidende gedeelte bied heelwat informasie waarin die invloed van die Odusseia op talle kunswerke afgedruk is. Benewens onder andere James Joyce, Sándor Márai, Alfred Tennyson, Frederico Garcia Lorca, Konstantinos Kavafis en Giorgos Seferis wat deur Homeros beïnvloed is, het Homeros sy stempel ook op talle Afrikaanse digters soos byvoorbeeld N.P. van Wyk Louw, Sheila Cussons, D.J. Opperman, Breyten Breytenbach, Petra Müller, Dolf van Niekerk, Marius Crous en Adam Small afgedruk.
Cas Vos maak in sy vertaling van Fragmente uit die Odusseia keuses om die verhaalgang te laat vloei. Hierdie vertaling sing ’n eie lied met die Griekse teks wat oral eggo – oor die wynrooi see, berge, dale, grotte en diep slote. Afrikaans as ontvangtaal het sy eie musikaliteit, bekoring, verbeeldingsvlugte en metaforiese plofkrag.
Saam met Odusseus word die leser uitgenooi om die opwindende en gevaarlike reis na Ithaka mee te maak. Liefde, verlange, verraad, magsmisbruik, haat en ontrou was toe al deel van menswees.
Die teks vloei heerlik soos die golwe van die grys see waaroor Odusseus se swart skip vaar. Die taal is Afrikaans in vlees en bloed, hoewel dit geskryf is in ‘n register wat selde in Afrikaans gehoor word. Hierdie vertaling is ‘n skat vir Afrikaans en ‘n bewys dat die taal nimmer sal sterf terwyl dit nog so geskryf kan word nie.
OOR DIE OUTEUR
Cas Vos het reeds agt digbundels op sy kerfstok en het naas poësie ook teologiese publikasies die lig laat sien. Sy vertaling uit klassieke Grieks, Fragmente uit die Ilias (2014), is baie goed deur resensente en die publiek ontvang. (PRYS: R180.00 (BTW ingesluit). Sagteband, pp 180, ISBN: 978-0-9922057-5-1 (gedrukte boek). Cordis Trust Publikasies, 2016.
.
.
Die na-dood
Breyten Breytenbach

In sy jongste bundel kom ons weer onder die indruk van Breytenbach se skerpsinnige én aangrypende digterstem. Die titel verwys na die tyd digby die dood maar ook ná die dood – vir Breytenbach ook Dina Dood – en roep op vernuwende wyses kenmerkende leitmotiewe op uit sy werk. Die digter is deurgaans bewus van die asimptotiese aard van skryf en tog word die verse ’n poging om die niesêbare op te roep (“daar jou taak, leesskrywer, kyk:/ om die niet se oopgaanwond/ stekie vir stekie met woorde /toe te werk.”). Tegelykertyd bied dié laatwerk ’n troos teen die dood wat wag, vir die digter én leser. Onthou word “’n bevrugting van die verlede”, en skryf uiteindelik “diep bevredigend/ om die laaste duisternis in jou asem te mag mond in Afrikaans”.
(Human & Rousseau, 2016. Prys : *R240; pp 216; Sagteband; Illustrasies : Ja; ISBN-13 : 9780798172462, Epub-ISBN : 9780798172479, Mobi-ISBN : 9780798172486.)
.
.
´n vlerkslag van kleur
fransi nieuwoudt

“Fransi Nieuwoudt verken die wêreld in digverpakte, beeldende gedigte. Aan die hand van mites, geestespraktyke, soms paganistiese invloede, soms akademiese teorieë, ondersoek sy die emosionele belewenisse van verontregte mense, van wandade in die geskiedenis, van gender-rolle en van die liefde.
Nuutskeppinge en ryk benutting van taal is kenmerkend in die bundel. Alhoewel dikwels met die eerste oogopslag kripties, ontvou die verse vir die sensitiewe en nuuskierige leser in ragfyn maar kragtige veelvlakkige perspektiewe. Die digter skroom nie om standpunt in te neem nie en is baie duidelik in haar wêreldbeskouing.”
~ René Bohnen
Biografiese inligting: Fransi Nieuwoudt is in 1982 in Polokwane gebore. Sy verwerf Golden Key International Society-lidmaatskap (2002) en ’n honneurs-graad in Media Studies aan die Universiteit van die Vrystaat (2004).
Fransi is ‘n simboliese kunstenaar. Sedert 2011 neem sy deel aan kunsuitstallings, veral op Lichtenburg. Sy woon saam met haar man, drie katte en ‘n hond. (Cordis Trust Publikasies, 2016; prys: R140; formaat: sagteband; 74 pp.; ISBN: 978-0-9922057-8-2)
the Chariot (Major Arcana)
gisterbome poseer kaal
ek vlieg hoog verby
die vrees
vir die diepte
van klowe wat in verwronge
afloop berggesigte
kalwe
onder die struktuur van ‘n rotsreeks
sluimer seegode
my horison is die brandende rug
van ‘n feniks
kortstondige sterre
duik die heelal wyer
elke hemelboog spiraal op eie kontinuumlyn
ons Melkweg rus haar ken
op suidste knieë
haar arms is twee oseane
voor die inkring van hierdie vlug
sluk ek water lig seesterarms
na meer
(Uit: 'n vlerkslag van kleur. fransi nieuwoudt)
.
.
die bome reusagtig soos ons was
hilda smits

Hierdie verrassende debuutbundel is een van die eerlikste sienings in Afrikaans van die werklikheid van die emigrant of expat wat Suid-Afrika verlaat het, maar nog steeds worstel met identiteit in ’n nuwe omgewing. Die kinderjare van die digter word byna deurlopend gekontrasteer met haar nuwe lewe in die buiteland. Die herinneringe is skrynend eerlik en brose familiebande word sonder skroom ondersoek. Klein besonderhede kry reusegestalte in die herinneringe van haar kinderjare en staan skerp afgeteken teen die besef van nietigheid wanneer die ek-spreker in ander kontekste beland. Die belewenis van die grootstad Londen het soms ’n byna onwerklike en dromerige kwaliteit, asof die digteres sukkel om tot ’n vergelyk te kom met die verplaasde self. Afstand, afsondering en verlange word egter teengewerk deur vlugtige kontak met ander mense, objekte en herinneringe. Die stad met sy glas en beton word byna ook ’n persoonlikheid en word soms direk aangespreek, maar dit is veral die waarneming van die gewone lewe in teenstelling met die bekende toeristiese gesig van die stad wat uitstaan, soms morbied, onverskillig en smerig, maar dikwels ook warm en verwelkomend. Deurgaans is daar sprake van die spreker se kamera-oog wat objektief probeer waarneem en registreer, maar die ondertoon van melancholie verseker dat die gedigte die leser nie ongeraak laat nie.
Biografiese inligting:
Hilda Smits is ’n boorling van Potchefstroom, maar het haar nagraadse studie in Sielkunde in die VSA gedoen. Van haar gedigte het in Nuwe stemme 5 verskyn. Sy woon tans in Nashville, VSA. Sy lewer gereeld bydraes aan Versindaba.co.za (Protea Boekhuis, 2016. 213 x 137 mm; Sagteband; 80 pp; ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-0640-5; ISBN (e-boek): 978-7-4853-0641-2, ISBN (ePub) 978-1-4853-0642-9)
.
een keer verdwaal ek was 6
julle almal lawaaierig huis toe
maar ek het op die swaai bly sit
om te dink
later het die park ’n geheime taal begin praat
die lig geluidloos soos deur Ma se sif geval
die gras stil geword
soos as stemme ophou praat
soos as mens jou ore moet prik
skemer toe staan ek op
want alles was anders toe stap ek verkeerdom op
in die pad verby die huise van vreemdelinge
slaphangheinings tuindwerge ’n ou Corvette op blokke sonder binnegoed
en al die tyd die lig wat opraak
vir Ma gesien soos ’n groot wit mot
sproei sy die gras in blink strale
en julle en die sproeier hol kaalbas oor die gras
en Ma met haar rooi lipstiffie en groot lag wat sê versiekind,
ek het gewonder waar jy was
[Uit: die bome reusagtig soos ons was, deur Hilda Smits; Protea Boekhuis, 2016]
.
.
Die singende hand
Breyten Breytenbach

Die singende hand: Versamelde gedigte 1984 – 2014 is Breyten Breytenbach se derde versamelbundel, en bevat nie minder nie as elf bundels van Breytenbach se verse. Dit vorm ’n drieluik met die vorige twee bande, Ysterkoei-blues: Versamelde gedigte 1964 – 1975 en Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte 1975 – 1983. Die bundels wat in Die singende hand opgeneem word, sluit in: Soos die so: Toktokkie se nagregister (Taurus, 1990); Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (hond/intaka, 1993); Oorblyfsels:’n Roudig (onder Jan Blom) (H&R, 1997); Papierblom (onder Jan Afrika) (H&R, 1998); Die “(Lady One)”-siklus van nege nuwe gedigte uit Lady One: 99 liefdesgedigte (H&R, 2000); Die windvanger (H&R, 2007); Oorblyfsel / Voice over: Op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj (H&R, 2009); Die beginsel van stof (H&R, 2011); Katalekte (H&R, 2012); Vyf-en-veertig skemeraandsange (H&R, 2014) en Oorblyfsel (onder Blackface) (Island Position/hond, 2014).
Breyten Breytenbach woon al dekades lank in Parys, Frankryk en is ook ’n bekende skilder. Sy poësie en prosa het in verskeie tale verskyn, maar sy werk is veral bekend in Suid-Afrika, Frankryk, Nederland en Amerika. Hy het twee keer die Hertzogprys vir poësie ontvang. Hy word met reg beskou as een van die belangrikste lewende digters in Afrikaans.[Human & Rousseau, 2016. Prys : R400, Bladsye : 744, Formaat : 213 mm x 137 mm, Sagteband. ISBN-13 : 9780798172134, Epub-ISBN : N/A, Mobi-ISBN : N/A.]
.
.
Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Fanie Olivier (Samesteller)

Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is ’n versamelbundel van die gewildste en bekendste liefdesgedigte in Afrikaans. Die bundel volg op Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte wat oorspronklik in 1986 verskyn het en in 1992, 2001 en 2010 bygewerk en heruitgegee is. Die bundel bevat nie slegs gedigte uit die kanon nie, maar nou ook verse wat sedert 2010 verskyn het; van Boerneef tot Philip de Vos. ’n Toeganklike bundel, perfek vir Valentynsdag.
Fanie Olivier is in 1949 in Pretoria gebore. Hy verwerf ’n MA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch (1972), die graad Litt Drs in Literatuurteorie aan die Universiteit van Utrecht en die graad D Litt aan die Universiteit van Potchefstroom. Hy is professor in Afrikaans aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole.
[Human & Rousseau, 2016. Prys : *R250, Bladsye : 320, Formaat : 234 mm x 152 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798170406, Epub-ISBN : 9780798170413, Mobi-ISBN : 9780798170420.]
.
.
Hammie
Ronelda S. Kamfer

Ronelda S. Kamfer debuteer in 2009 met Noudat slapende honde, en Grond/Santekraam volg in 2011. Haar jongste bundel, Hammie, verskyn in Februarie 2016. Die titel, Hammie, is ‘n Kaapse troetelwoord vir “mammie”: die bundel ondersoek dus die komplekse en intieme verhouding tussen ma en dogter. Die verse eggo temas uit Kamfer se vorige werk en het ‘n sterk outobiografiese inslag: sy herbesoek haar grootwordjare in die Kaap en dig oor sosiale kwessies rondom taal, kultuur en geskiedenis. Bowenal gaan die bundel oor verlies, oor dinge wat ongesê bly, oor die woorde tussen woorde:
.
Koud
die tweede dag
het ons gesit en wag
my hand op haar hand
alleen in die donker
Dis Ronelda S. Kamfer op haar beste.[Kwela, 2016. R200; 96 pp; Formaat : 198 mm x 130 mm, Sagteband; ISBN-13 : 9780795707575, Epub-ISBN : 9780795707582, Mobi-ISBN : 9780795707599
Biografiese inligting: Ronelda Kamfer is op 16 Junie 1981 in Kaapstad gebore. Sy bring haar grootwordjare deur in Blackheath en Grabouw en in 1999 matrikuleer sy aan Eersterivier Sekondêr. Sy was verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskappy.
.
*
*
Vervolg
Ander digbundels in die jaartal:
2018 2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010