2018 Publikasies
Kyk ook na ander lyste op hierdie webtuiste. Resensies van digbundels verskyn gereeld.
Anette Snyckers
Remnants restante reste
Anette Snyckers se debuutdigbundel, Remnants restante reste , bevat gedigte in drie tale, Afrikaans, Engels en Duits. In dié bundel ondersoek die outeur die verskillende moontlikhede van vertaling en hoe dit die kreatiewe proses kan verruim. Nie al die gedigte is egter in al drie tale vertaal nie. Die outeur lewer die volgende kommentaar hieroor: “Where a poem appears in more than one language, the first version is not necessarily the original version. Poems were written in different languages as I felt the need to write them, and all subsequent translations were done by me.”
’n Belangrike tema wat in die bundel voorkom en wat uitgelig word deur die verskeie vertalings van sekere gedigte is hoe elke taal sy eie stories bevat wat dikwels dieper lê as net die oppervlakkige betekenis van die woorde. Dit fokus ook op hoe dieselfde woord dikwels meervlakkige betekenisse kan inhou afhangende van die taal waarin geskryf word.
Remnants restante reste sluit ook gedigte in wat handel oor familie en veral die dogter-pa verhouding. Die tweede helfte van die bundel bevat donkerder temas en gedigte wat handel oor verlies en vrese:
on that terrible day
when I lay down in its lap
and tried to untangle tomorrows
from yesterdays. I lifted my eyes
to the mountain and wondered
where my help would come from (“The striped sofa”).
Oor die outeur:
Anette Snyckers is ’n visuele kunstenaar en digter woonagtig in Kaapstad. Sy studeer literatuur (Engels, Frans en Duits) aan die Universiteit van Pretoria en later beeldende kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy werk as hoërskoolonderwyser en vertaler voor sy haar tyd hoofsaaklik aan die visuele kunste toewy.
Haar gedigte word in literêre tydskrifte en aanlyn gepubliseer en is ook opgeneem in verskeie bloemlesings, insluitend Difficult to Explain , For Rhino in a Shrinking World , The Sol Plaatje European Union Anthology 2012, 2013, 2014 and 2015, en die McGregor Poetry Festival Anthology 2014.
Modjaji Books 2018. Bladsye 72. ISBN: 78-1-928215-59-2
[Afrikaanse gedigte met Engelse vertalings]
Saamgestel deur Hennie van Coller, Helize van Vuuren and Louise Viljoen
Afrikaans Poems with English Translations
Selected and compiled by: Hennie van Coller, Helize van Vuuren and Louise Viljoen
Hierdie nuwe versameling van Afrikaanse gedigte met die Engelse vertalings daarnaas, is ‘n hersiene uitgawe van Afrikaans Poems with English Translation, saamgestel deur A.P. Grové and C.J.D. Harvey in 1962. Die doel van hierdie nuwe uitgawe was om ‘n kompakte bloemlesing te verskaf van ‘n honderd van die beste gedigte in Afrikaans, maar die taak het uiteindelik gekulmineer in een honderd en dertien gedigte. Die versameling bied ‘n venster op die Afrikaanse digkuns as ‘n geheel: ‘n letterkunde wat tematies en struktureel gegrond is in Afrika, asook in die verskeidenheid van internasionale letterkundes en poëtiese tradisies.
This new anthology of Afrikaans poems accompanied by their English translations is an extended and revised edition of Afrikaans Poems with English Translations, edited by A.P. Grové and C.J.D. Harvey and originally published in 1962. Grové and Harvey’s anthology gained a certain prominence in its time on which this anthology aims to build. It will also be a continuation of a specific tradition in Afrikaans literature, namely to collate the best and at the same time the most representative poems in an anthology. The aim with this edition was to produce a concise and compact anthology of a hundred of the best poems in Afrikaans; as a result of the near impossibility of such a task the editors ended up including a hundred and thirteen poems.
This selection will provide the reader with a window on Afrikaans poetry and give some impression of the vibrancy of Afrikaans literature as a whole: it is a literature thematically and structurally grounded in Africa, but at the same time in a variety of international literatures and poetic traditions.
Oor die samestellers / ABOUT THE COMPILERS
Editors of the new edition are H.P. van Coller, distinguished professor emeritus (University of the Free State) and extraordinary professor (North-West University), published poet and co-editor of Perspektief en profiel; Louise Viljoen, distinguished professor at the Department of Afrikaans and Dutch, Stellenbosch University, well-known literary critic and book reviewer; and Helize van Vuuren, a distinguished professor emiritus of literature at the Nelson Mandela Metropolitan University.
This anthology is a collection of the best Afrikaans poems beginning with Eugène Marais and ending with Nathan Trantraal. [Protea Book House, 2018; R250.00 (VAT included), ISBN: 978-1-4853-0694-8, Format 152 x 222 mm., Softcover, pp 312]
.
.
Die Val
Johannes van Eeden
Die Val is unieke, verrassende poësie met min vergelykbare tekste in die Afrikaanse lettere. ‘n Kort bundel met dringende verse en titulêre temas van verval wat die leser by intens persoonlike landskappe intrek. Beskikbaar in Afrikaans en Engels. Hierdie bundel sal aanklank vind by en ‘n indruk maak op akademici sowel as alledaagse lesers.• The Fall is singular, surprising poetry with few comparable texts in Afrikaans literature.• A slim volume of urgent verse with titular themes of falling, drawing the reader into intensely personal landscapes. Available in English and Afrikaans.•
Johannes van Eeden is ‘n komponis, digter en entrepreneur. Hy het musiek en tale aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en wen verskeie eerste pryse in komposisie, maar onderbreek sy studies om van loopbaan te verander. Voor Johannes die tegnologie-dienstegroep Humanstate in 2001 stig, begin hy ’n bemarkings- en verspreidingsmaatskappy met verteenwoordiging in 16 lande, sowel as ’n voorste kontemporêre musiekorganisasie. Johannes bly sedert 2009 in Villars-sur-Ollon, Switserland. (Naledi, 2018. R155. Sagteband, ISBN 9781928426196)
.
Mens dier ding
Alfred Schaffer
vert. uit die Nederlands deur Zandra Bezuidenhout
Inderwaarheid weet ons baie min oor die legendariese geskiedkundige figuur, Sjaka Zulu. Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê?
In dié vertaling van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, Mens dier ding, ondersoek die digter die mite van Sjaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn, en eindelik, soos almal van ons, word hy akteur in sy eie lewensverhaal.
’n Poëtiese kragtoer, en voorwaar ’n hoogtepunt ter plaatse dat dié vertaling (deur Zandra Bezuidenhout) eindelik in Afrikaans sal beskikbaar wees.
OOR DIE DIGTER
Die bekroonde Nederlandse digter Alfred Schaffer is in 1973 in Leidschendam gebore. Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy voltooi sy voorgraadse studie in Leiden en verwerf in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna werk hy as redakteur by die uitgewery De Bezige Bij en later by die tydskrif Bunker Hill. Tans doseer hy Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.
Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstadt, verskyn in 2000 en word gevolg deur Schuim (2006), Kooi (2008), Mens Dier Ding (2014) en Een lofzang (2016). Sy gedigte is onder meer vertaal in Engels, Frans, Duits, Spaans, Turks en Chinees, en in 2013 verskyn ’n keur van sy gedigte in Afrikaans, vertaal deur Daniel Hugo en getiteld Kom in, dit vries daar buite.
Schaffer ontvang ook die volgende toekennings vir sy digkuns: die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C. Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys. (Human & Rousseau, 2018, Prys : R245; Bladsye : 136; Formaat : 234 mm x 152 mm; Sagteband. ISBN13: 9780798178143)
.
.
Die goeie vrou en ander mites
Corlia Fourie
Corlia Fourie se debuutbundel Die goeie vrou en ander mites is ’n versameling toeganklike, pretensielose verse met ’n sterk anekdotiese inslag. Die meeste daarvan is satiriese verse wat getuig van ’n fyn intelligente, deurdagte en genuanseerde beleweniswêreld. Die gedigte word in vyf afdelings verdeel. In die eerste afdeling “Die goeie vrou” vind die leser portretstudies van bepaalde vroue, die tweede afdeling “Tuis en uit” handel meestal oor huislike ruimtes, die derde afdeling “Die wye wêreld in” bevat meestal reisverse, die voorlaaste afdeling “Bloeityd” handel oor die digter se kinderjare en latere siekte (kanker) en die slotafdeling “Kierang en ander hebbelikhede” bevat verse wat sosiale kommentaar lewer op die breër gemeenskap.
OOR DIE OUTEUR Corlia Fourie het as joernalis onder meer vir Die Burger, Beeld en Sarie gewerk voordat sy in die tagtigerjare fiksie begin skryf het. Van haar bekendste werk is die drama Moeders en Dogters wat deur KRUIK sowel as vir die radio en televisie opgevoer is, asook die kinderboeke Die wit vlinder, Die meisie wat soos ’n bottervoël sing en Die towersak en ander verhale. Vir dié drie boeke het sy etlike literêre pryse ontang. Twee kortverhaalbundels, Sê en Liefde en Geweld, het ook uit haar pen verskyn. Laasgenoemde het in 1991 die ATKV-prys vir goeie, gewilde prosa ontvang. Onlangse boeke is die romans Alle paaie lei deur die Strand, Die geheime kamer en Tussen heinings. Tans is sy vryskutjoernalis en verhaalredakteur van Rooi Rose.
Hoewel Die goeie vrou en ander mites haar debuutbundel is, is die skrywer ’n gerekende stem in ons letterkunde. (R175.00 (BTW ingesluit), 2018, Protea Boekhuis; ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-0956-7. FORMAAT: 213 x 137 mm; Sagteband, 84 bls.)
Il Paradiso. Dante Alighieri
Vertaal deur Cas Vos
Die Il Paradiso is die hoogtepunt van Dante Alighieri (1265-1321) se driedelige werk. Hy gebruik van die aangrypendste metafore en vergelykings om sy reis te beskryf. Hy is sonder twyfel een van die briljantste digters ooit.
Cas Vos se vertaling is die eerste vertaling daarvan in digvorm in Afrikaans. Hy wend verrassende en sprankelende metafore en vergelykings in sy vertaling aan en hy vertaal al die Latynse himnes op ’n indrukwekkende wyse. Twee kenners van Dante se Italiaanse teks skryf: “Magnifico!” en die ander een: “Heel, heel bijzonder! Wat een prachtige beelden, het Universum in al zijn raadselachtigheid én schoonheid, en dan die schitterende vertaling …”
Die leser word uitgenooi om die reis na die Paradiso onder die klank van sange en lieflike beelde te onderneem. ‘n Youtube-opname deur Hennie Maas van beeld en klank is beskikbaar op www.naledi.online. Die uitmuntende akteur Dawid Minnaar lees dele uit die vertaling voor. Die opname laat die leser van Il Paradiso die tersines visueel en klankryk ervaar.
Cas Vos is alreeds met die Andrew Murray-prys en ’n prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. In 2017 is Die Orde van die Goue Pen vir sy literêre werk aan hom toegeken deur die Cordis Trust. Hy het reeds 10 digbundels die lig laat sien. Daar het ook vertalings van fragmente uit Homerus se Ilias en Odusseia verskyn. In 2017 het hy grepe uit Dante se La Divina Commedia uit Italiaans vertaal in sy publikasie Die Goddelike komedie. (Naledi, 2018. R240, Sagteband, 213 mm x 137 mm. ISBN 9781928426288)
.
.
Tussen toeval en willekeur
Kobus Lombard
Kobus Lombard se vyfde digbundel is ’n voortsetting van ’n binnewaartse reis op soek na die grense wat sy werklikheid omlyn. Beelde uit Lombard se Namibiese leefwêreld suggereer dat die onsegbare dikwels tussen woorde en in leë spasies skuil; dat die ware god hom verskans tussen vele ander gode. Grense vervaag en die waarheid flits soms bedrieglik soos gemsbokhorings teen ’n duin. Tussen die pole van waarskynlikheid word die ritme bepaal deur toeval en willekeur.
Kobus Lombard doen vryskut-konsultasiewerk in menslike hulpbronnebestuur en woon in Windhoek. Sy debuutbundel, Geknipte naelstring, haal in 2003 die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys. Sy daaropvolgende drie bundels is Tussen wysvinger en duim in 2005, Vlerke vir my houteend in 2010 en Skadu oor die sonwyser in 2015. (Naledi, 2018. R175, Sagteband, 74p, ISBN 978-1-928426-34-9)
.
Doodmenslik
W.L. van der Merwe
Willie van der Merwe se debuutbundel handel oor religieuse ontnugtering, geklee in vele vorme, en is ’n verkenning van die eksistensiele vakuum soos selde tevore in Afrikaans. Die titel sinspeel op die eenvoudige kwaliteite van die alledaagse mens aan die een kant, maar aan die ander kant op die fisiese en geestelike dood wat as goue draad deur die bundel loop. Die dualisme tussen skoonheid en weerloosheid word van meet af aan ondersoek en die gebroke werklikheid van die digter se ervaringswêreld word treffend verbeeld. Dit is ’n donker bundel vol swart humor, wat die weersin van erotiek en oorlog op skrydende en dikwels ironiese wyse verwoord. Dit eindig egter met ’n evangeliese optimisme: met van die mooiste liefdesgedigte wat nog in Afrikaans verskyn het.
OOR DIE OUTEUR
Willem Lodewikus van der Merwe is op 20 Oktober 1957 gebore en word groot op ’n plaas naby Meyerton. Hy het vanaf 1975 by die Universiteit van Stellenbosch in teologie en filosofie gestudeer en het in 1990 sy doktorsgraad in filosofie behaal. Op universiteit is hy lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. In 1987 is hy as lektor aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel. In 1998 is hy tot professor in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch bevorder en was van 2000–2003 departementele voorsitter. In September 2008 is Van der Merwe as professor in godsdiensfilosofie aan die Vrye Universiteit van Amsterdam aangestel. Hy het verskeie publikasies (boeke en artikels) oor taalfilosofie, godsdiens- en kultuurfilosofie publiseer. Hy woon in Utrecht, Nederland.
Sy verse word opgeneem in Nuwe stemme 3 en Groot verseboek (met André P. Brink as redakteur). Hy lees van sy gedigte voor in 2006 by Versindaba, en van sy verse word opgeneem in die geleentheidsbundel wat na hierdie fees saamgestel word. In 2005 lees hy by Zuid-Afrika Huis in Amsterdam in Nederland saam met Bernard Odendaal gedigte voor as deel van die “Week van die poëzie”. Sy vakkundige publikasies sluit in verskeie artikels in tydskrifte oor taalfilosofie, godsdiens- en kultuurfilosofie en hy maak ook bydraes tot gepubliseerde boeke. Metafoor is ’n boek oor filosofiese perspektief. Hy is redakteur van die boek Die tweede refleksie, wat ’n keur uit die werke van Johan Degenaar byeenbring. [Protea Boekhuis, 2018. PRYS: R170.00 (BTW ingesluit) VERSKYNINGSDATUM: Augustus 2018, ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-0895-9, FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband. AANTAL BLADSYE: 96]
.
.
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
Pieter Odendaal
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is ’n opwindende en verweefde debuut uit ’n jong digter se pen. Met ’n eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil in ’n multikulturele samelewing, die natuur en ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek. Ten einde vra hy: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?
Biografie: Pieter Odendaal is ’n digter, vertaler, redigeerder en uitvoerende direkteur van InZync Poetry, ’n nie-regeringsorganisasie verbind tot die uitbreiding van veeltalige en multi-genre poësieplatforms in Stellenbosch en Kaapstad. Saam met Adrian van Wyk reël hy sedert 2011 die InZync Poetry Sessions, ’n maandelikse poësieaand in die hartjie van Kayamandi, asook die weeklikse INKredibles poësie werkswinkels vir ontluikende digters in en om Stellenbosch. Hy het ’n meestersgraad in Volhoubare Ontwikkeling en het reeds na Londen, Lagos en Brisbane vir sy verse gereis. Van sy gedigte is in die bundel Nuwe Stemme 5 opgeneem (2013), hy dien die afgelope drie jaar as Afrikaanse beoordelaar vir die Sol Plaatje Europese Unie Poësie Toekenning en is die mede-redakteur van Many Tongues (2013) en ConVerse (2018). Odendaal is tans besig met sy PhD in podiumpoësie as bevorderaar van weerstandigheid in sosio-ekologiese stelsels aan die Queensland University of Technology in Brisbane. (Tafelberg, 2018. p. 112; Formaat: 198 mm x 130 MM; Bindstyl: Sagteband; ISBN-13: 9780624085614)
.
.
Tussen die abjekte en die eteriese: ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq
Michel Houellebecq
Vertaal deur Henning Pieterse
Michel Houellebecq, wie se poësie as melankolies, pynlik selfbewus en bytend satiries teenoor die lewe en die verbruikersamelewing beskryf kan word, is al die “Baudelaire van die supermark”, of “Baudelaire gekruis met Philip Larkin” genoem. Benewens die liriese en melancholiese aard van sy werk, is talle van die sy gedigte ook uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderlê.
Ek het op die rivier gedobber
Naby die Italiaanse karnivore
In die oggend was die gras vars,
Ek het koers gekry na die goeie.
Die bloed van klein soogdiere
Is nodig vir balans,
Hul beendere en hul ingewande
Is die voorwaardes vir ’n vrye lewe.
’n Mens vind hul weer onder die gras,
Jy hoef net die oppervlak te krap
Die plantegroei is manjifiek,
Dis so kragtig soos die graf.
Ek het tussen die wolke gedryf
Absoluut desperaat
Tussen die hemel en die slagting,
Tussen die abjekte en die eteriese.
OOR DIE OUTEUR
Michel Houellebecq (gebore Michel Thomas), wat in 1956 op die Franse eiland Réunion gebore is, is ’n kontroversiële en veelbekroonde Franse romanskrywer en digter. Vir aanhangers herinner sy werk aan die tradisie van literêre provokasie soos gevind by Markies de Sade en Baudelaire terwyl kritici soms sy werk as aanstootlik en gemaak-skokkend afmaak. Hoewel Houellebecq sy grootste bekendheid (en berugtheid) met sy romans verwerf het, is dit in sy poësie waar die spanning tussen die verhewe (eteriese) en verwerplike (abjekte) ten diepste ondersoek word. Houellebecq is in 2010 met Frankryk se hoogste literêre toekenning, die Goncourt-prys, vereer vir sy roman La Carte et le Territoire (in Engels vertaal as The Map and the Territory).
OOR DIE VERTALER
Henning Pieterse was reeds as kind bekoor deur die verse en klanke van digters soos Thomas Elliot, Breyten Breytenbach en Lina Spies. Henning is vanaf die begin van 2016 professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Al behaal hy in 1994 ’n doktorsgraad in taalkunde, is dit veral kreatiewe skryfkuns wat hom na aan die hart lê. Hy debuteer in 1989 as digter met die bundel Alruin wat bekroon word met die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys. Hy publiseer verskeie akademiese artikels en resensies oor aspekte van die linguistiek, letterkunde en kreatiewe skryfkuns, lewer referate by verskeie nasionale en internasionale kongresse en fasiliteer meer as 150 werkswinkels oor skryfkuns landswyd. Hy was voorheen ook direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Musiek is die ander groot liefde in sy lewe en hy het onder meer klavier en klarinet gespeel. Deesdae slaan hy tromme en speel ook die eiesoortige didjeridoe. Hy woon saam met sy lewensmaat, Karen Lazenby, en twee kinders in Bloemfontein.
[R295.00 (BTW ingesluit), Protea Boekhuis, 2018. ISBN (GEDRUKTE BOEK): 978-1-4853-0796-9, FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, 288 pp.]
.
weer-lig
Fransi Nieuwoudt
Die Lichtenburgse kunstenaar en digter, Fransi Nieuwoudt, se nuutste bundel Weer-lig gaan binnekort die rakke tref. Hierdie metamodernistiese bundel is voorwaar besonders omdat dit ook van Nieuwoudt se eie kunswerke bevat. “Woord en beeld is interverweef,” sê sy. “Daarom is hierdie ‘n unieke en kunssinnige leeservaring.”
Die bundel spreek die positiewe sy van die transformasieproses in Suid-Afrika aan. Dit het ‘n sterk sintuiglike aanslag en oorspronklike beeldgebruik. Die titel sinspeel natuurlik op verskeie elemente van transformasie, soos onder andere die metaforiese blink toekoms wat Suid-Afrika inwag indien die betrokkenes die “ligte” sy van sake kan insien. Dit spreek van hoop en versoening. Lig troef immers altyd die donker.
Nieuwoudt sê dat sy groot inspirasie uit Goethe se kleurteorie geput het. “Hy het nie donkerte gesien as die afwesigheid van lig nie. Lig en donker werk op mekaar in. Speel met mekaar en in daardie tussenspel verskyn kleur.”
Nieuwoudt is ook die skrywer van ‘n Vlerkslag van Kleur. Weer-lig word uitgegee deur Naledi en sal vanaf Mei beskikbaar wees by ww.naledi.online. (Naledi, 2018, ISBN 978-1-928426-11-0)
.
Insektarium
Johann Lodewyk Marais
Met hierdie bundel sluit Marais aan by sy bundels Aves wat uitsluitlik oor voëls gehandel het, Diorama wat die klem op diere laat val het en In die bloute wat op die see en seelewe gefokus het. Soos duidelik uit die titel blyk, skryf Marais hier oor insekte en ander klein lewensvorme soos virusse. Marais is bekend daarvoor dat sy gedigte respek het vir wetenskaplike kennis: Die wetenskaplike name van spesies word by die gedigte gegee, die feite moet korrek wees en die habitatte waarin die diere, plante en voëls voorkom, word versigtig uitgebeeld. Maar hy skryf ook oor die waarneming van insekte en die impak wat virusse en parasiete soos die Ebolavirus en die parasiet wat malaria veroorsaak.
Die bundel is dus nie net ’n “poëtiese” beskrywing van klein lewensvorme nie. Marais word nie verniet as Afrikaans se belangrikste ekodigter beskou nie: Dit gaan veral oor die samehang van lewensvorme en die mens in wie se hande die grootste verantwoordelikheid vir die oorlewing van spesies is. Ten slotte besin die digter ook oor sterflikheid en wat die indiwidu, in hierdie geval spesifiek die digter of “kultuurmens”, vir die aarde nalaat.
Dis ‘n bundel vir liefhebbers van natuurpoësie en die buitelewe,asook relevant vir omgewingsbewustes. Marais se gedigte laat die leser die kleiner lewensvorme rondom ons fyner waarneem en hul eienaardighede beter raaksien.
OOR DIE OUTEUR
Johann Lodewyk Marais is bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud en het die SALA-prys vir Diorama ontvang. Hy het reeds tien bundels gepubliseer en twee bundels omgewingspoësie saamgestel. Marais is bekend vir “groen” skryfwerk en vir sy navorsing oor Eugène N. Marais oor wie hy gereeld artikels skryf.
(Imprimatur, redaksie@imprimatur.co.za · 2018. ISBN: 978-0-620-77582-3, FORMAAT: 137 x 213, PRYS: R130, SAGTEBAND: AANTAL BLADSYE: 72.)
.
Vandag wil ek my blou skoene dra
Koos Kombuis
Hierdie is Koos Kombuis se eerste gedrukte digbundel in meer as twintig jaar. Hy is van plan om enkele van die gedigte in hierdie bundel te toonset en dit dan, as promosie vir die bundel, te sing by die talle eenmanskonserte wat hy gedurig in Suid-Afrika doen. Die bundel is lig en humoristies, met ʼn subtiele geestelike element. • Toeganklike poësie vir lesers in alle belangstellingsvelde.
Koos Kombuis is ’n bekende musikant asook skrywer van verskeie publikasies, onder andere ʼn outobiografie (Die tyd van kombi’s), rubriekbundels (Vêr in die wêreld, sushi) en digbundels (rock&roll.karoo).
Hy is ook ’n spotprenttekenaar vir onder andere Media 24. Daarby is hy ook die medestigter van ’n klere-reeks, “Kombuis Kat”. Sy skryfwerk en musiek is gewild onder mense van alle ouderdomsgroepe. Lees meer oor sy vorige bundels hier: https://af.wikipedia.org/wiki/Koos_Kombuis
(Naledi, 2018. R 175.00, • 56 , 213mm x 137mm; ISBN: 978-1-928426-08-0)
.
huis vol kitare
.
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
met ’n uitsig oor die see
waar die wind spoel
deur die snare
eendag wil ek koffie drink
op ’n veranda vol herfsblare
en deur ou digbundels blaai
terwyl ek ryp word
met die jare
eendag wil ek huis toe gaan
eendag
wil ek als verstaan
eendag
wil ek opstaan
uit my graf van woorde
en leë gebare
eendag wil ek wegkom
van die groot jillende
skare
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
(Uit: Vandag wil ek my blou skoene dra. Koos Kombuis. 2018)
.
Bidsnoer
Pieter Fourie
Hierdie is ʼn opvolg van die nou reeds onontbeerlike en uiters suksesvolle digbundel Knapsekêrels. Dit bevat toeganklike gedigte vir alle lesers. • Wye dekking in gedrukte sowel as digitale media.
Die skrywer is ’n Hertzogpryswenner, asook een van die mees bekroonde en bekendste dramaturge in Afrikaans. Benewens skrywer is hy ook ’n ervare akteur, regisseur en toneelorganiseerder. Hy ontvang sy ere-doktorsgraad in 2011 aan die Universiteit van die Vrystaat. Hierdie bundel word ywerig ingewag deur gewone lesers sowel as akademici.
(Naledi, 2018. Prys: R 175.00, Sagteband, 128 p • 213 mm x 137 mm; ISBN: 978-1-928426-06-6)
.
.
wintervoetjies
die koue kruip
deur meiringspoort
seil klaarstroom verby
die swart kro in
die klogoed loop
bloeskoptoon
die kat die kwiep
’n druppel doutraan
verkluim verys
’n wit albaster hang
in huilboerboon
.
stad
(vir adam small)
.
beskaamd
vernederd
gekwes
in oop strook grond
oorleef
magteloos
gedwee
kerk
moskee
die ongeneesde wond
slagaar van distrik ses
(Uit: Bidsnoer. Pieter Fourie. 2018)
.
Openbare domein
Daniel Hugo
Openbare domein is Daniel Hugo se vyftiende digbundel en is toeganklike gedigte vir gewone lesers en letterkundiges. Hugo geniet wye mediadekking as digter, vertaler, resensent, rubriekskrywer, radiovoorleser en openbare onderhoudvoerder. Hugo is een van Afrikaans se voorste en gewildste digters. Hugo het al meer as vyftig werke uit Nederlands in Afrikaans vertaal; dit sluit in romans, digbundels, asook kinder- en jeugboeke. Hy is in 2014 en 2017 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy vertaling van onderskeidelik Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en Terpentyn.
Hugo het in 1987 sy doktorsgraad in die letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang vir sy ondersoek na die vernufsvers in Afrikaans. Na ʼn tydperk as lektor in Bloemfontein was hy twintig jaar lank radio-omroeper by RSG en daarna uitgewersredakteur by Protea Boekhuis. Deesdae is hy voltyds ’n vertaler en vryskut-taalpraktisyn. (Naledi, 2018. • R 175.00, Sagteband, • 114 p, 213mm x 137mm; ISBN: 978-1-928426-07-3)
.
.
Suidpunt
die wind waai noord – vanaf die stoep hoor ons
die arm buurt se geradbraakte brakke:
’n eindeloos godskryende geblaf
wat deur murg en been sny – ek verbeel my
ek hoor elke wurgketting wat ratel
en die fyn getjank wat uit dun kele
kom – slap Angelsaksiese sentiment,
maak ek my wys, en totaal onvanpas
hier waar ons suig aan brandsiek Afrika
se uitgeteerde, dorre tepellyf
(Uit: Openbare domein. Daniel Hugo, 2018.)
.
.
terug na >> 2019
.
Vervolg
Ander digbundels in die jaartal: