2011 & 2010 Publikasies
Ander digbundels in die jaartal: 2018,
2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.
Weerlig van die ongeloof
Johann de Lange
-
Weerlig van die ongeloof Johann de Lange bevestig met hierdie bundel kwatryne sy meesterskap. Die bundel bestaan uit 100 kwatryne wat in ses afdelings verdeel is.
Binne die klein bestek van vier reëls kry De Lange dit telkens reg om kort flitse – byna soos weerlig – van betekenis aan die leser oor te dra. Dit is haas onmoontlik om die groot verskeidenheid temas wat in hierdie gedigte aangeraak word, saam te vat.
- Daar is liefdesverse, verse oor voëls, plante, verwysings na ander skrywers wat wissel van die ou Grieke Theognis en Anakreon tot by Afrikaanse digters soos Joan Hambidge en Sheila Cussons, daar is kort besinnings oor verganklikheid en die tydloosheid van ‘n by wat in amber gevang is, verlies en die dood. Bowenal demonstreer die digter hier op verbluffende wyse wat met die digtheid van digterlike taal vermag kan word:
.
Verstekeling
vir Henning
.
Dood is die verstekeling
in die ribbes van dié boot
wat ons met elke vaart
deur ongekaarte waters stoot.
.
Johann de Lange het reeds sewe digbundels en twee bundels kortverhale gepubliseer en het as samesteller van vier bundels opgetree. Hy is met die Ingrid Jonker-prys (1983), die Rapport-prys (1988) en die Hertzogprys (2011) bekroon. (R140.00; ISBN: 978-1-86919-451-2, 76p, Protea Boekhuis, 2011).
.
.
Kô lat ons sing
‘n Keur uit die gedigte van Adam Small
-
Ko lat ons sing Hierdie keur wat deur Steward van Wyk saamgestel is uit al vyf Afrikaanse digbundels van Adam Small, gee ‘n beeld van sy onmisbare plek in die verruiming van die Afrikaanse letterkunde. Die meerderheid van die gedigte kom uit Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet. Die keur weerspieël deurgaans Small se meelewende kyk in die lotgevalle van die bruin Kaapse werkersklasmense.
Dit wys ook sy knap beheersing van humor, ironie en satire om gesagsfigure te hekel, en bowenal sy kreatiewe ontginning van alledaagse spraakvorme, rympies, liedjies en veral sy aanwending van Kaaps waaroor hy in die naskrif by Kitaar gesê het: “Kaaps is ‘n taal . . . ‘n taal waarin mense hul eerste skreeu skreeu en hul doodsroggel roggel.” ISBN: 9780795703812
Prys (insl. BTW): R 165.00, Formaat: Sagteband, 96pp; 2011
Biografiese inligting: Adam Small is op 21 Desember 1936 op Wellington gebore. In 1953 matrikuleer hy aan die St Columba-skool van die Christian Brothers in Athlone op die Kaapse Vlakte. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad vir ‘n graad in Tale en Filosofie en voltooi in 1963 ‘n MA cum laude oor die filosofie van Nicolai Hartmann en Friedrich Nietzsche. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford.
In 1959 word Adam dosent in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 word hy een van die akademiese grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy as die eerste hoof van die Departement Filosofie aangestel word. Hy raak in die vroeë sewentigs betrokke by die Swartbewussynsbeweging.
In 1973 bedank hy onder druk by die UWK. Hy woon daarna in Johannesburg, waar hy die hoof is van die Universiteit van die Witwatersrand se studentegemeenskapsdienste. In 1977 vestig hy hom weer in die Kaap en is tot 1983 werksaam as direkteur van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk. Hy keer in 1984 terug na die UWK as hoof van die Departement Maatskaplike Werk. Einde 1997 tree hy uit diens.
Adam Small het in 1957 met Verse van die liefde gedebuteer. Van sy ander bekende digbundels sluit in Kitaar my kruis (1961) en Sê Sjibbolet (1963). Sy bekendste toneelstuk is Kanna hy kô hystoe (1965).
.
.
Ghoera
Hennie Aucamp
-
Ghoera Hennie Aucamp se belangstelling in en kennis van die verhaalkuns van die inheemse volke van Suid-Afrika word in hierdie versameling omdigtings met die subtitel Afrika-verse vir kinders weerspieël. Die bundel is in vyf afdelings verdeel en bevat vernuftige oorvertellings-op-rym van bekende en minder bekende verhale van die San, die Khoi en die swart volke. Daar is verse oor die ontstaan van die son, die maan en die sterre, verhale oor diere soos die skilpad-towenaar en die eerste eland en volstruis, ‘n mite oor waar die eerste mens vandaan kom, die sprokie van die waterslang, en ‘n aantal “hoe” – en “hoekom”-stories: Hoe Tarentaal sy spikkels gekry het, hoe Hasie sy haaslip gekry het en hoekom Reier se nek so skeef is. Die vernuftige wyse waarop Aucamp hierdie verhaaltjies in digvorm weergee, sal deur kinders en grootmense geniet word. Half vergete verhale word op hierdie wyse ook weer vir Afrikaanse lesers in herinnering geroep. ’n Aantal dieresketse van Zakkie Eloff wat dien as illustrasies vir die gedigte, maak van hierdie versameling iets waardevols en besonders.
Hennie Aucamp het in 1963 as kortverhaalskrywer gedebuteer. Benewens talle kortprosabundels het hy ook vyf digbundels gepubliseer en byna elke noemenswaardige literêre prys ontvang. (R135.00; ISBN: 978-1-86919-453-6, 80 p.; Protea Boekhuis, 2011)
.
.
Grond/Santekraam
Ronelda S Kamfer
Met dié nuwe bundel verse vestig Ronelda S. Kamfer haarself opnuut as hoogs talentvolle en dénkende digter in Afrikaans. Die landskappe Klippenkust en Skipskop figureer in dié gedigte, en ook die karakters Klippie Klip-kop en Sara-Slim-meisie, en Herrij Autshumao en Van Riebeeck.
Skeepswrakke onderwater word simbool van verledes wat nooit opgediep is nie. En “oorvertel” van die geskiedenis word uiteindelik “andervertel”, met ironie, fyn humor en ‘n spel met taal.
Grond/Santekraam is ‘n uitsonderlike bundel, en verreik die huidige kanon van Afrikaanse poësie. (ISBN: 9780795703652′ 64 pp; Prys R 160.00; Kwela, 2011).
.
.
.
Donkerkamer
Fourie Botha
-
Donkerkamer Donkerkamer is ‘n debuutbundel oor beelde en oor kyk: na foto’s en kunswerke, na die ongediertes wat in drome skuil en na jeugherinnerings ingeprent op die film van die geheue.
Dier- en voëlbeelde vertel van geweld, die verlies aan onskuld en weerloosheid, maar ook van begeerte en lyflikheid.
Dié bundel voer aan dat kyk en oorvertel nie onskuldig kan wees nie, dat ‘n foto in ‘n donker kamer tot beeld ontwikkel. Fourie Botha het in Nuwe Stemme 4 gedebuteer.
(ISBN 9780795800221, Queillerie, 2011, R150)
.
.
.
.
splintervlerk
marlise Joubert
-
splintervlerk Marlise Joubert se sewende digbundel handel oor siekte en herstel. In die eerste afdeling, “winterklou”, word die beklemmende wêreld van die intensiewe sorgeenheid en hospitaalbed uit die perspektief van die pasiënt beskou. Die hulpeloosheid en uitgelewerdheid van iemand wat ‘n ernstige operasie moes ondergaan, neem op aangrypende wyse gestalte in die gedigte. Te midde van pyn bly sy bewus van skoonheid en die nabyheid van die geliefde.
- In die tweede afdeling, “rugkaatsing” word haar wêreld weer groter soos wat sy herstel; bring sy reise, besoeke en gesprekke in herinnering en tree die verskrikking van siekte en dood verder weg. Die derde afdeling, “dryfgoed”, is ‘n viering van lewe en kunstenaarskap. Die herstelproses word ‘n werklikheid soos wat sy weer begin skryf en skilder. Ander dinge, plekke en mense tree weer toe tot haar beleweniswêreld. Alhoewel die spreker bewus bly van haar kwesbaarheid en die verbygaan van die tyd, bevestig gewone dinge soos kos, wyn en blomme die waarde van die lewe en die liefde:
- .
oudergewoonte
vanaand het ek lief omdat daar wyn is om te drink
vanaand kan ek liefhê omdat ons steeds alles
vir mekaar kan skink en langsaam wis hoeveel sagter
die reën en son in verouderde glase is
“Die spreker se instrument om heelmaking / digterwording daar te stel, is die digterlike woord. Van meet af aan is hierdie bundel ‘n gestaltegewing van transformasie van die spreker. Met die motto van Thomas wat as roetewyser vir die verse dien, word die leser gekonfronteer met verskeie vorms van verwonding, maar wat in die intiem-liriese styl van die gedigte, uitreik na heelmaking en suiwering. […] Dis mineurpoësie – die ná-dreuning van die verse is eufonies – die liriese kwaliteit van splintervlerk is ‘n amulet teen die angel van oudword, siekte en verval. Ten spyte van gebrokenheid is daar hoop in die gedigte verwoord. Die gedigtereekse is komposisionele bewys van konstruksie as kognitiewe gegewe om te probeer behou; te bestendig.” (Mathinus Beukes)
Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ‘n Boot in die woestyn en volg dit op met Domus (1973), So ver en verder (1976), Ontruiming (1986), Lyfsange (2001) en passies en passasies (2007). Haar romans sluit in: Klipkus (1978), Oranje Meraai (1996) en Ateljee van glas (2004). Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode Granaat (1981).
Splintervlerk se verse sal tot almal spreek wat ‘n soortgelyke lot deurgemaak het, maar dit gee ook hoop in die nabyheid van geliefdes, bekende dinge en die skeppingsproses. (Protea Boekhuis, 2011, Prys: R140.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-1-86919-472-7, Sagteband, 96 pp.)
.
.
die lekkerste perske is ‘n vy
Anne-Ghrett Erasmus
-
die lekkerste perske is ‘n vy In hierdie debuutbundel met die teenstrydige, poëtiese, titel nooi Anne-Ghrett Erasmus die leser uit om saam met haar deur haar verwoordings van haar werklikheid te loop. Die pad loop vanaf die maak van die gedig, en die skeppings van die groot meesters op wie se maat sy die woord gevind het. Jy sien ook die natuur, herinnerings aan klein dorpies en gewyde plekkies, soos geteken uit die oog van die skilder.
Sy is die vriendelike digter wat met deernis, en soms grappig, vertel van die mense wat haar lewe geraak het. Maar ook, ernstig, van die vrou, die geboorte van haar kind, met die vreugde wat hy bring, ook van sy klein pyn; en uiteindelik die vrees vir die grootword in hierdie land – van hekse, boewe, moordenaars, verkragters en kinderdiewe: ‘Ek’s mar net ‘n kind van vyf’.
Dan by haar die vrees vir die groot K. Vanaf die vriendelike uitnodiging aan die begin tot die saam loop aan die einde:
.
Loop nugter…
want as die loop ophou loop
is die verloop
fataal.
.
(ISBN: 978-0-9814408-5-9, Benedic Boeke 2011)
.
.
Die lewe tussen pikkewyne
Jasper van Zyl
Jasper van Zyl se Die lewe tussen pikkewyne is ‘n skerpsinnige en eiesinnige verwoording van hoe vreemd die mees vertroude dinge kan wees, hoe onheilspellend dit wat die naaste aan ons is.
Sy digterstem is nuut en vars, sy beeldgebruik is tegelyk konkreet en verbluffend surrealisties. In vers na vers neem hy jou op ‘n woordavontuur wat jou lig verbyster maar tintelend laat.
Jasper van Zyl is in 1987 in die Paarl gebore en word as pastoriekind groot op Lambertsbaai, Kimberley en Upington, maar hoofsaaklik op Gansbaai. In 2004verskyn sy eerste verse in Antjie Krog en Alfred Schaffer se Nuwe stemme 3 terwyl hy nog op hoërskool is. Sedertdien word van sy verse in verskeie bloemlesings opgeneem en tree hy by verskeie poësiefeeste en aanlyn-skryfskole op. (Tafelberg, 2011, R130, ISBN 978-0-624-04681-3, 48 pp)
.
.
mêlee
die nuwe meisie in die skool vertel
dat sy saans, wanneer sy bad,
die water met haar hande roer.
sy verbeel haar dat seerowerskepe
in die storms om haar bene vaar,
op soek na ‘n skat wat daar laat val is.
soms, as die druppels van haar arms rol
is dít die reën wat die skepe laat sink,
maar die volgende aand is hulle terug.
die meisie met die atlantiese oë
leer my rook agter die engelsklas
met lang moue aan; sy slaap met gevoude arms
en ek wonder hoeveel bloed
sy in haar are het, in haar sag geweekte hande
met die stadige voue, skatkaarte op haar palms..
.
Braille-briewe
M.M. Walters
-
Braille-briewe M.M. Walters het bekendheid verwerf as satiriese digter. In hierdie bundel lewer hy in die styl van die Romeinse digter Juvenalis skerp kritiek in die vorm van briewe. Benewens die briewe aan “die Groot Onbekende”, aan Lucifer en aan die ou gode, is daar ook briewe aan historiese figure soos Arnoldus Pannevis, die Heilige Augustinus en Johannes Calvyn en tipiese figure van ons tyd, soos die emigrante, die nuwe “geleerdes” en die opkomende maghebbers : Die mistastinge van die kerk en kerkleiers in die verlede, goeie bedoelings wat nie gerealiseer het nie, en magshonger in ons tyd word op genadelose wyse blootgelê.
- Tog moet die leser in die kritiek ook die versugtinge na ‘n beter wêreld raaksien, die wanhoop oor die verval as gevolg van politieke wanbestuur in die brief aan “Bartholomeus, die Seevaarder” en die besef van die onafwendbaarheid van verandering in die brief oor die “Ou Gode”:
- .
Die suidelike horing van sy land wat ver
uitsteek, omspoel word deur warm strome,
waar berge, vangnet van klam winde,
blink watervalle maak wat pêrel,
stort in groen valleie diep en vrugbaar, sy land
sou ys word, ongenaakbaar hard en dood.
.
Braille-briewe is Walters se negende digbundel. Walters was hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad en woon op Simonstad en is ‘n bekende in literêre kringe en hierdie bundel behoort belangstelling uit te lok by die fynproewer en diegene wat belangstel in kritiek op die huidige Suid-Afrikaanse politieke bestel. (Protea Boekhuis, 2011, R140, ISBN: 978-1-86919-420-8; 60p)
.
.
As die woorde begin droom
‘n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel
Saamgestel deur Johann de Lange
-
As die woorde begin droom As die woorde begin droom, is ‘n versamelbundel van die gedigte deur Wilhelm Knobel. Die bundel is saamgestel uit gedigte wat verskyn het in Knobel se bundels Bloedsteen (H&R 1966), Mure van mos (H&R 1970), en Nagelate gedigte (Perskor 1976). Tot dusver ongepubliseerde gedigte wat uit Knobel se eie versamelings onttrek is, is ook hierby ingesluit.
Die laaste deel van die bundel bestaan uit Translations/Vertalings. Hierin verskyn 7 gedigte van Supervielle wat deur Knobel uit Frans vertaal is in Afrikaans. Talle Engelse vertalings deur die digter self, asook deur Charl JF Cilliers, Tony Ullyat en Deon Knobel is ingesluit.
Wilhelm Knobel, is gebore op 26 Oktober 1935 en sterf op 4 Januarie 1974, op die jeugdige ouderdom van 38 jaar. Die landdros bevind as oorsaak van sy dood die massiewe dosisse middels wat toegedien is om die hiper-akute maniese aanval van Bipolêre Stoornis te beheer. Knobel het ‘n belangrike rol gespeel in die kultuurlewe van die studente-gemeenskap en dien op die redaksies van Prisma en Die Matie. Sy mees produktiewe jare as digter ervaar hy van 1964 tot 1970 in Pretoria waar hy stigterslid is van die Pretoria Digtersgroep, Meer as 140 gedigte verskyn in 40 afsonderlike letterkundige tydskrifte van die era, insluitend Kruispunt (Brugge) en Yang Cahier (Gent) uit België.
Oor Knobel se ouevre het Marius Crous in ‘n referaat in 2010 onder andere die volgende genoem: “In haar bespreking van hierdie bundel wys Louise Viljoen op Wilhelm Knobel se posisie binne die kanon en skryf sy soos volg: “Dit is belangrik om sy posisie tussen die ander skrywers van Sestig in kaart te bring” want volgens haar is daar by Knobel, net soos by die ander Sestigers, ” ‘n worsteling met die spanning tussen tradisie en vernuwing”. Interessant noem Viljoen ook wat sy as “voorwerk” by Knobel bestempel, sy inter-tekstuele gesprekke met Breytenbach, die Katolieke mistiek wat later by Cussons sou voorkom, asook sy siektegeskiedenis wat gevolg sou word deur ‘n bundel soos Komas uit ‘n bamboesstok. Knobel se poësie lees myns insiens soos een lang vergestalting van wat Johannes van die Kruis “die donker nag van die siel” noem. Dit word ‘n inkantatiewe meditasie, ‘n byna New Age vermenging van Katolisisme, Calvinisme en ‘n Zen-geïnspireerde inkeer op die self en ‘n luister na die stilte.” (Uit: Referaat gelewer by Versindaba 2010, Stellenbosch)
“… die werk (is) vol verskriklike selfinsig, van nugtere aanskoue van ‘n koue noodlot – en terselfdertyd vol lewensliefde en openbaring. En volgehoue. Hy het as digter waarlik nie sy eie doodsgang versaak nie.” – Petra Muller, ‘n oorsig van Knobel se werk, 2005. (Belmonte Uitgewers, 2011, Prys volg later.)
.
.
Duskant die donker/Before it darkens
Cas Vos, vertalings in Engels deur Leon de Kock
-
Duskant die donker/Before it darkens Cas Vos het hom met sy vorige bundels reeds gevestig as digter van liefdespoësie. In Duskant die donker/Before it darkens, sy sesde bundel, is dit nie net die tema van die liefde nie, maar hy betrek ook kunstenaars, kunswerke, die antieke geskiedenis, die mitologie, die erotiek, en musiek. Teenoor die magte van stilte en dood, stel hy dié van klank, van taal, musiek. Dit is ‘n keur uit Cas se gedigte, met heelwat nuwe verse. Die uniekheid van die bundel lê daarin dat Cas se gedigte deur Leon de Kock in Engels vertaal, of in sekere gevalle “omdig”.
Cas Vos se gedigte word gevoed uit die antieke wêreld, die religieuse sowel as die mitologiese, maar reik terselfdertyd ook uit na die moderne. tóg soek die digter nuwe verbande, knoop gesprekke aan met ander tye, ander tekste, ander kunsvorme. Die gedig is palimpses waar ander tekste, ander tye, immer deurskemer, waar niks afgeslote en finaal is nie.
In die inleiding tot hierdie bundel skryf Johann de Lange onder meer: “Vos skryf ‘n afgeronde, klassieke soort vers met tradisionele bindingsmiddele soos rym en ritme. Hy is ‘n belese digter en deel van die plesier van sy poësie is die ontplooiing en ontdekking van die diggeweefde intertekstuele tekstuur van sy verse. Hy betrek kunstenaars, kunswerke, die antieke geskiedenis, die mitologie, die erotiek, en musiek. Teenoor die magte van stilte en dood, stel hy dié van klank, van taal, en van musiek.” (Protea Boekhuis, 2011, ISBN: 978-1-86919-412-3, p. 128, R150.00, 2011)
.
.
Wanpraktyk
Andries Samuel
-
Wanpraktyk Die gedigte in Andries Samuel se debuutbundel bevat dikwels verwysings na argitektuur: die ontwerp van geboue en die konkrete bouwerk wat daarop volg. Dit bepaal die struktuur en eerste vlak van die gedigte, maar word ook herlei tot die mens en die self as die “bouwerk” en die gedig as die vorm (argitektuur) waarbinne die “mens/self” gestalte kry. Die weerloosheid van menswees, die blootstelling aan ruwe emosionele werklikhede en die mens se poging om hom teen hierdie aanslae te verweer, word ondersoek.
Andries Samuel het grootgeword in die Vrystaat waar hy verskeie pryse vir kreatiewe skryfwerk as hoërskoolleerling aan Grey Kollege gewen het. Hy verwerf ‘n BA Argitektuur-graad en ‘n B.Arch nagraads aan die Universiteit van Kaapstad. Tussen grade werk hy in Tel Aviv en New York. Sy werk het verskyn op Litnet en in New Contrast. Benewens sy beroep as argitek werk hy ook deeltyds as skrywer en vertaler. (Human & Rousseau, ISBN: 9780798152822, R 145.00, 80pp. 2011)
.
.
.
Die beginsel van stof
Breyten Breytenbach
-
Die beginsel van stof Breyten Breytenbach se nuwe bundel is in ‘n sekere sin ‘n terugskouing op die lewe en die digkuns van die digter en het sterk outobiografiese elemente. Die tema van verganklikheid en oud-word loop sentraal, en daarmee saam die wisseling van plek en landskap. Die deernis en empatie met die mens en sy vreemde lewensverlope is aangrypend. Nog selde by hierdie digter het die landskap so ‘n primêre en so ‘n verhelderende rol gespeel as in hierdie bundel.
Eerlike en ongesmukte poësie, kompleks én eenvoudig. By uitnemendheid ‘n “wóórd”-bundel, een wat die taal self bemagtig. Hierdie nuwe bundel is werklik een van Breytenbach se sterkste bundels nog – ryk, aangrypend, wonderbaarlik, ‘n testament vir Afrikaans.
Breyten Breytenbach woon al dekades lank in Parys, Frankryk en is ook ‘n bekende skilder. Sy poësie en prosa het in verskeie tale verskyn, maar sy werk is veral bekend in Suid-Afrika, Frankryk, Nederland, Engeland, Amerika. Hy het twee keer die Hertzogprys vir poësie ontvang – in 1999 en 2008. Die windvanger is bekroon met die Hertzogprys, WA Hofmeyr-prys, Universiteit Johannesburg-prys en Protea Poësieprys. En die Franse uitgawe van sy jongste digbundel, Oorblyfsel / Voice Over is bekroon met die Max Jacob prys (2009). (Human & Rousseau, ISBN: 9780798152211, R 170.00, 184pp. 2011)
.
.
Onversadig
T.T. Cloete
-
Onversadig Onversadig verken opnuut verskeie hooftemas van Cloete se oeuvre, onder meer ‘n verwondering oor die natuur, en ‘n soeke na sintese tussen wetenskap, religieuse impulse en die grense van taal.
- Hy verwoord op tegnies vernuftige wyse die onvermoë van die mens om die misterie van die skepping en sy eie bestaan te deurgrond. Hy slaag daarin om iets van die wonder vas te vang, sonder om die enigma te reduseer tot ‘n eenduidige slotsom of “betekenis”. En dit doen hy in gestroopte, helder taal.
Daar is ook intieme verse oor vertwyfeling en die onlangse verlies van ‘n lewensmaat.
In sy jongste bundel bou T.T. Cloete sy merkwaardige digterskap op treffende wyse uit.
(Tafelberg, ISBN: 9780624049036, R 155.00, 152pp, 2011)
.
.
.
Visums by verstek
Joan Hambidge
-
Visums by verstek Hierdie keur uit die digter se reisverse lewer bewys van haar verstommend ruim verwysingswêreld en plaas die fokus op die mens as reisiger, uit eie wil én teen wil en dank.
- Die bundel doen verslag oor reisindrukke, maar die bestemming is telkens die ruimte vir emosionele en rasionele verwerking van menslike ervaring (reiswaarneming, dus, wat dikwels teruglei na die sélf). In dié sin sluit die bundel aan by die werklike groot reisbundels binne die literatuur, veral internasionaal.
- .
- Visums by verstek is ‘n sterk bundel waarin die spreker se weerloosheid op ‘n eerlike, ontroerende manier blootgelê word. Dis ook toeganklike gedigte wat terselfdertyd vir die vernuftige leser komplekse verwysings en intertekste bied om na te speur:
- .
- .
Die siel is ‘n paleis vol geheime:
met elke reis demistifiseer
ons ‘n vroeër ongesiende plek.
Die siel is ‘n paleis vol geheime,
legendes en mites – heerlike
juwele vir ontdek.
.
Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ‘n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse Letterkunde en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. (Human & Rousseau, R150.00, 96 pp., ISBN 978-0-7981-5481-9, 2011)
****
.
2010 Publikasies
.
Tempermes
-
Tempermes Die wisselwerking tussen teks en beeld is iets wat Louis van Vuuren nog altyd gefassineer het. Tydens ‘n uitstalling van die digter se kunswerke in 2010 wat die gedigte in sy debuutbundel Tempermes komplimenteer, was dit nie net met woord en beeld bekendgestel nie, maar ook met klank. Sekere van die skilderye is visuele voorstellings van sy gedigte en ander is nostalgiese uitbeeldings van helde uit sy kindertyd.
Volgens Dr Riana Scheepers is Louis Jansen van Vuuren is ‘n digter wat dit regkry om sy lesers te beheks, om soos ‘n wilde, jong wolf die hekke van digterlike konvensies oop te huil, en dit boonop in oeroue digvorme soos die sestina, die aubade en die hooglied. “Met ‘n stortvloed van sintuiglike waarnemings teken dié skilder-digter in vers ná vers flambojante, gespierde en elegante figure: mitologiese karakters, kunstenaars, ‘n kind, ‘n engel, ‘n vrou in sis en robyn, die beminde, almal geplaas in landskappe van emosie. Die verse is weelderig en barok, maar in wese bevat elke gedig ‘n Pierrot-moment – wanneer die baldadige, tuimelende beelde en die driftige gebare van die harlekyn stol tot ‘n stil en skerp pyn.” (Queillerie, ISBN 9780795800214, 2010)
.
.
Onder die appelboom
Rutger Kopland
Vertaal deur Daniel Hugo

Onder die appelboom is ‘n vertaalde keur uit die poësie van die Nederlandse digter Rutger Kopland. Daniel Hugo, die vertaler, het hom in sy keuse eerstens laat lei deur die vertaalbaarheid van die verse, maar ook probeer om die Afrikaanse leser ‘n oorsig te bied van hierdie veelbekroonde digter se werk.
Die oënskynlike eenvoud van Kopland se werk, die gevoelige manier waarop hy die alledaagse verwoord en Hugo se puik vertaling behoort hierdie bundel baie gewild onder Afrikaanse lesers te maak.
‘n Enkele strofe uit die titelgedig gee ‘n aanduiding van Kopland se sobere, maar beeldende verse:
.
.
toe word dit langsamerhand te mooi
om waar te wees, die dinge
van die dag verdwyn voor die geur
van hooi, daar lê weer speelgoed
in die gras en verweg in die huis
lag die kinders in die bad
tot waar ek sit, tot
onder die appelboom
.
Rutger Kopland is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en gewese hoogleraar in psigiatrie, Rutger H. van den Hoofdakker. Hy is reeds vyf keer vir sy poësie bekroon en het ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit voor Humanistiek ontvang. / Daniel Hugo was ‘n spesialisomroeper by Radiosondergrense en is steeds verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. In April 2008 is hy aangestel asdirekteur van die Huis der Nederlanden in Pinelands en sedert April 2010 is hy deel van Protea Boekhuis se uitgewerspan. Daar het reeds 13 poësiebundels uit Hugo se pen verskyn.. As vertaler het hy reeds die werke van Tom Lanoye, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen, Karel Glastra van Loon en David van Reybrouck uit Nederlands in Afrikaans vertaal. Hierdie keur bevat toeganklike poësie wat die algemeen-menslike verwoord. [R140.00; ISBN: 978-1-86919-404-8, 90p., Protea Boekhuis, 2010]
.
.
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Fanie Olivier
-
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
Daar is ‘n nuttige outeursregister bygevoeg, sodat lesers steeds die werk van ‘n spesifieke digter kan opsoek. Die nuwe uitgawe bevat 328 gedigte deur 100 digters en het ‘n pragtige nuwe omslag.
“Met so ‘n bloemlesing liefdesgedigte kan ‘n uitgewer net so min ‘n fout maak as ‘n bakker wat besluit om ‘n brood te verkoop” het Abraham de Vries by die verskyning van die eerste uitgawe gesê. En, “‘n Pragtige geskenk – vir minnaars en ander mense” was Cecile Cilliers se woorde by die tweede uitgawe in 1992.
[R195.00, ISBN: 9780798151825, Sagteband, 256pp; Human & Rousseau, 2010]
.
.
.
Toe dit nog vroeg was
Mari Grobler
-
Toe dit nog vroeg was Hoe het hulle geleef, en wat het hulle gevoel – daardie oermense wat langs ons Suidkus geleef het, wie se nasate ons die San en die Khoi noem?
- Wie kan saampraat met hulle, die “eerste mense” van wie ons net oorblyfsels van groot mites, tergende rotsprente en enigmatiese artefakte het? Eintlik is dit net die digkuns wat dit kan waag om in hulle stiltes in te beweeg.
(R 130.00, ISBN: 9780624049425, Formaat: Sagteband, 96pp, Tafelberg Uitgewers, 2010)
.
.
.
.
.
Uit die wit lig van my land gesny
T.T. Cloete
-
Uit die wit lig van my land gesny Uit die wit lig van my land gesny bevat ʼn versameling reeds gepubliseerde gedigte, asook nege tot nog toe ongepubliseerde gedigte aan Anna, die vrou van TT Cloete, wat in 2007 oorlede is. “Sy was die digter in my sonder dat sy self ooit ʼn enkele vers geskryf het.”
- Die gedigte is voorsien van ʼn begeleidende inleiding geskryf deur TT Cloete en word in chronologiese volgorde geplaas soos dit in die opeenvolgende digbundels verskyn het.
- (R180, Pooka, 2010)
- .
- .
- .
Ek herken jou voetstap in ʼn besige straat
in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.
Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.
Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.
Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.
.
(Uit die gedig Anna, in Uit die wit lig van my land gesny, TT Cloete; p 71, 2010.)
.
.
.
Toevallige tekens
Martjie Bosman
-
Toevallige tekens Toevallige tekens is Martjie Bosman se tweede digbundel en volg op Landelik (2003). Om die verse in hierdie digbundel te lees is soos om spore te volg. In die eerste afdeling word die verwoestende gevolge op veral vroue en kinders van die oorlog en armoede in Mosambiek en Rwanda getoon.
Die tweede afdeling word gekenmerk deur bedreigings wat elke Suid-Afrikaner ervaar: Jou handsak word uit jou motor gesteel, ‘n indringer wil die veilige hawe van jou huis betree, die dood wag dalk op die snelweg wat jy elke dag ry.
- Ná die aanslag van die bose van afdelings 1 en 2, word afdeling 3 gekenmerk deur mooi en gerusstellende herinneringe van ‘n verblyf op ‘n rustige dorp. In afdeling 4 kom kunstenaars, musikante en musiek aan die bod. Die bundel word afgesluit met die laaste afdeling waar tekens van nuwe lewe, seisoene en tye getoon word.
- Bosman toon in hierdie bundel tekens van die dood en verval aan, maar ook tekens van hoop, lewe en onverwagse skoonheid. [R150; ISBN: 9781869194000, Sagteband; Protea Boekhuis, 2010]
.
.
.
Tydelose gety
Lina Spies
-
Tydelose gety In Tydelose gety lewer Lina Spies verse wat spreek van ‘n positiewe lewensuitkyk, wat wil uitstyg “bo alles wat vals is en stereotiep”. Selfs vir die sewentigjarige hou die lewe nog ‘n volheid in en kan die vervulling van die liefde beleef word. Sy bring hulde aan groot figure soos Nelson Mandela, weer eens aan Anne Frank en aan ‘n onbekende oorlewende van die holocaust wat met oop gordyne slaap om elke nuwe dag te verwelkom.
- Vir Spies is daar geen twyfel nie dat die Afrikaanssprekende nog ‘n plek in Suid-Afrika het en hier sinvol en gelukkig kan lewe. Die beheerste lewensvreugde van die laaste verse spreek van ‘n oorwoënheid en soberheid wat aan Elisabeth Eybers se laaste gedigte herinner. Vir die eerste keer neem Spies ook enkele vertaalde gedigte in ‘n bundel op waardeur sy ‘n bydrae lewer tot die bekendstelling van wêreldpoësie in Afrikaans. (R140, Sagteband, ISBN: 978-1-86919-383-6; Protea Boekhuis, 2010)
- .
- .
- .
- .
Ligloop
Tom Gouws

Tom Gouws se vierde bundel bestaan uit vier afdelings: “delftse doek”; “tentatief”; “kroniek van elia in afrika” en “jerusalemgangers revisited”. In “delftse doek” val die fokus op die Delftse skilder Vermeer se werke. Christenskap, die “tentatiewe” aard van die liggaamlike en die Christen en Afrikaner se rol in Afrika vorm verdere deurlopende motiewe in die bundel.
Die styl is kenmerkend Gouws s’n. Die intellektuele en visioenêre speel ‘n belangrike rol en die digter maak gebruik van klankspel, woordspel, die benutting van vaste vorme en intertekstuele verwysings, toespelings en aanhalings.
Tom Gouws se vorige bundels is diaspora, troglodiet en Syspoor. Hy doseer aan die Universiteite van Potchefstroom, Pretoria, Bophuthatswana en Noordwes en is tans verbonde aan die JC Group of Companies in Pretoria. Tom en sy vrou Retha en hul ses kinders woon op ‘n plasie in Hartbeespoortdam. (R145, ISBN 9780798152396; Human & Rousseau, 2010)
.
.
Versindaba 2010
US Woordfees (samesteller)

Die bundel Versindaba 2010 verskyn by geleentheid van Versindaba 2010 wat op 18 September in Stellenbosch plaasvind en bestaan uit ‘n keuse van gedigte en bekendstelling van die digters wat aan hierdie poësiefees deelneem. Vanjaar word Versindaba vir die sesde keer aangebied, tans in samewerking met die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch. Dit is ‘n ware fees van gedigte, voorlesings, toonsettings en gesprekke en die bloemlesing wat daarmee saam verskyn, bied graag iets van die plesier van die Afrikaanse poësie. Onder die bekende en geliefde Afrikaanse digters wat vanjaar in die bundel opgeneem is, is Louis Esterhuizen, Tom Gouws, Johann Lodewyk Marais, Marlene van Niekerk, M.M. Walters en die Namibiër Kobus Lombard. Ander bydraers is digters van wie daar onlangs ‘n bundel verskyn het, of van wie binnekort ‘n bundel gaan verskyn. ‘n Nuwigheid is dat enkele vertalings ook in hierdie bundel opgeneem is.
Die debutante wie se werk in Versindaba 2010 verskyn, sluit in Pieter W. Botha, Pieter du Toit, Karen Kuhn, Lou-Ann Stone en André Trantraal. Van hulle het reeds hulle buiging in die Nuwe stemme-reeks gemaak. [Protea Boekhuis; PRYS: R140.00; ISBN: 978-1-86919-401-7]
.
.
Nadoodse ondersoek
Martina Klopper

Nadoodse ondersoek is Martina Klopper se debuutbundel. Die beeld van die nadoodse ondersoek word op die bundel as geheel toegepas met temas soos geweld, pyn, bloedskande, en self-straf wat uitgewerk word.
.
“In die digbundel word ‘n hoofsaaklik eerlike, ontluisterende en onthutsende, selfs grillerige blik op die eie digterskap, op die self en op die verhoudings wat die ‘ek’ met ander het, gewerp. Daar word duidelik weggestuur van sentimentaliteit en selfvertroeteling. Die stewige stilistiese en vormlike greep oortuig ‘n mens verder van die digterlike potensiaal van Klopper.” [Bernard Odendaal]
“Dit is my indruk dat ‘n mens hier te doen het met ‘n digter wat daarin slaag om hewige emosionele intensiteit in te bou in besonder beheerste en goed afgewerkte verse.” [Louise Viljoen].
[Human & Rousseau, 2010, ISBN: 9780798152242 Prys R145.00; Sagteband, 76pp]
.
.
.
aan’t stap
Len S. Louw

Hierdie besonderse debuutbundel is ‘n keuse uit die gedigte van Len Louw oor ‘n periode van 40 jaar. Louw se sober maar aangrypende poësie het keurders en medewerkers aan dié bundel beïndruk en ontroer. Temas soos gesins- en familielede, herinneringe en sy verblyf in Nieu-Seeland kom daarin aan die bod, en is dit ‘n onthou-boek met rede. Daar is egter ook dié met ‘n somber, amper siniese ondertoon veral in die laaste afdeling waar temas soos ‘n siektetoestand ook aangespreek word. aan’t stap is ‘n leeservaring wat waardeer kan word deur meer as net hulle wat vir Louw ken.
Len Louw is gebore en het grootgeword op ‘n skaapplaas in Damaraland in wat toe nog Suidwes-Afrika was. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en later ook Universiteit van die Vrystaat. In die laat tagtigs woon en werk hy in Nieu-Seeland en vanaf 1996 as spesialisnarkotiseur in Worcester tot sy uittrede vroeg in 2009. [R100, Hond Uitgewers, 2010, ISBN – 9781874969174. Beskikbaar by Protea Boekwinkels.]
.
DIE DONKER HET DROOMSPORE
.
Die donker het droomspore:
net die vae voetval van ‘n nagsê-naam.
sy haal nagbriesie asem,
effens bloekompies
ritsel sy in die blinde kamer.
Die uiltjie vou die donker met komberse in,
buk oor die bed, soos
Vicks op die bors.
Dis die diep donker weet
dié voetval in ‘n droom.
……..
.
OORGEPLANTE HART
.
My kind
vir my is jy ‘n oorgeplante hart
myne maar nie myne nie
dus pas ek jou beter op
en vind
ek’s nie meer dieselfde nie
jy maak my anders
en dra my voort
verby die dood.
.
.
.
Diorama
Johann Lodewyk Marais

Met hierdie bundel sluit Marais aan by sy bundel Aves wat uitsluitlik oor voëls gehandel het, maar in Diorama val die klem op diere.
Marais is bekend daarvoor dat sy gedigte respek het vir wetenskaplike kennis: Die wetenskaplike name van spesies word by die gedigte gegee, die feite moet korrek wees en die habitatte waarin die diere, plante en voëls voorkom, word versigtig uitgebeeld.
.
Hierdie bundel bevat ook gedigte oor die paleontologie en navorsers soos Jane Goodall, Richard Leakey en die Suid-Afrikaanse paleontoloog Philip Tobias.
In ‘n aantal gedigte kom aktuele kwessies soos grondhervorming en plaasaanvalle en die soms skreiende gevolge daarvan aan die bod:
.
.
En uiteindelik het ook ek
een van die uitgestorwenes geword.
Met ‘n ruwe mes, ‘n Okapi,
het hulle na my hart gesteek
en het ek stadig doodgebloei. …
Tot hierdie stof sal ek terugkeer.
.
Johann Lodewyk Marais is bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ‘n dag oud. Hy het reeds ses bundels gepubliseer en stel ook twee bundels omgewingspoësie en een ter herdenking van die verskyning van “Wintersnag” saam. Marais is bekend vir “groen” skryfwerk en vir sy navorsing oor Eugène N. Marais oor wie hy gereeld artikels skryf. Sy nuwe bundel sal aanklank vind by liefhebbers van natuurpoësie en die buitelewe. Dis ook relevant vir omgewingsbewustes. [Protea Boekhuis, 2010, R140.00, ISBN: 978-1-86919-365-2, 88 p.]
.
.
Oewerbestaan
Melt Myburgh

Met Oewerbestaan lewer Melt Myburgh ‘n debuutdigbundel wat beslis aandag gaan trek. ‘n Groot aantal van die gedigte het te make met die landskap van die Noord-Kaap aan die oewers van die Oranjerivier waar die digter groot geword het. In die eerste afdeling word die tema “refleksies” ontgin en verwys na sowel die weerkaatsings van die lewe in dié droë, warm wêreld as na die besinning oor die betekenis wat die gebied en sy mense vir die digter ingehou het. In die afdeling “om federico” is ‘n aantal gedigte oor Spanje, waar die landskap sterk herinner aan dié van die Noord-Kaap, maar wat terselfdertyd ook onmiskenbaar die wêreld van die Spaanse digter Federico García Lorca is. In die afdeling “gesigte” is gedigte oor visioene, onverwagse insigte en ook ontluistering, soos die gedig “‘n beeld raak los” waarin een van die sementbeelde in die Uilhuis op Nieu-Bethesda afgetakel word tot net die skelet van bloudraad oorbly.Die laaste afdeling, “inkdood”, bevat gedigte oor dood en verval wat die digter met sy skryfwerk probeer besweer.
Dis ‘n bundel hierdie vir die fynproewer. Die gedigte oor die Noord-Kaap vul ‘n leemte oor ‘n landskap wat nie dikwels in die Afrikaanse poësie aandag kry nie. Die homo-erotiese gedigte behoort aanklank by gay lesers te vind, maar dis beslis meer as ‘n bundel gay poësie. [Protea Boekhuis, 2010, R140.00 (BTW ingesluit) ISBN: 978-1-86919-369-0].
….
Digbundels in die jaartal: 2018
2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010