2013 Publikasies
Ander digbundels in die jaartal:
2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.
Kaar
Marlene van Niekerk

Hierdie omvangryke digbundel, Marlene van Niekerk se eerste digbundel in 30 jaar, sluit gedigte in wat wissel tussen pragtig liries en aangrypend menslik tot sterk satiriese protes- en politieke gedigte. ’n Groot aantal temas word dikwels in fyn besonderhede aangebied – die natuur, voëls, diere, die liefde, die vader, sosiale vraagstukke – en getuig van hierdie digter se veelsydige inslag. Afrikaans word in al sy fasette ingespan en die spel met taal en woorde is telkens verbluffend. Sowel die inhoud as die gebruik van taal getuig van ’n meesterlike skrywerskap. Ondersoekende denke, sensitiewe waarneming en uitsonderlike uitdrukkingsvermoë bied die leser van Kaar ’n avontuurlike ontdekkingreis deur die wêrelde van mense en diere.
Biografiese inligting
Marlene van Niekerk is op 10 November 1954 op die plaas Tygerhoek naby Caledon gebore. Sy gaan skool op Riviersonderend en Stellenbosch en matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof. Sy studeer filosofie, tale en letterkunde aan die Universiteite van Stellenbosch, Amsterdam en die Witwatersrand. Sy debuteer in 1977 met die digbundel, Sprokkelster, waarvoor sy die Eugène Marais- en die Ingrid Jonkerprys ontvang. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995 en word onder meer met die Noma-prys vir die beste publikasie uit Afrika bekroon. Tien jaar later verskyn Agaat wat ses toekennings, onder meer die Hertzogprys vir prosa (2004), ontvang. Die vertaling van Agaat is ook met die Sunday Times Literary Award bekroon. Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. (ISBN: 9780798163057, Datum Vrygestel: 20 November 2013; Prys (insl. BTW): R 220.00, Sagteband, 216pp; Human & Rousseau, 2013.)
.
Meditasies
Joan Hambidge

In hierdie ryk geskakeerde bundel word nie alleen die konsep en konteks van “meditasies” verruim nie, maar word die gedig-as-meditasie tot ’n nuwe hoogte in Hambidge se werk gevoer, word dit ’n beduidende bydrae tot die breë Afrikaanse digterlike leksikon. Humor en satire tree dikwels op die voorgrond, en so ook besonder skerp herinneringe.
Biografiese inligting
Joan Hambidge is op 11 September 1956 op Aliwal-Noord gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Standerton. In 1979 verwerf sy haar BA Honneursgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy voltooi haar MA-graad aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof. Elize Botha en verwerf ’n PhD aan die Universiteit van Rhodes onder prof. André P. Brink se leiding. Sy is dosent en later ook hoogleraar aan die Universiteit van die Noorde, en sedert 1992 is sy verbonde aan die Universiteit van Kaapstad. In 2001 behaal Joan haar tweede doktorsgraad, dié keer in kultuurstudies, aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is tans ’n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Joan debuteer in 1985 met die bundel, Hartskrif , en ontvang die Eugène Marais-prys in 1986 vir haar tweede bundel Bitterlemoene. Haar 24ste digbundel, Lot se Vrou, het in 2012 verskyn. (ISBN: 9780798165075; Datum Vrygestel: 20 November 2013, Prys (insl. BTW): R 155.00, Sagteband, 96pp; Human & Rousseau, 2013.)
Luister ook na: http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20131231_VERS_EN_KLANK.mp3
.
Atlas teen die vergeetrivier
Pirow Bekker

Pirow Bekker se poësie word gekenmerk deur die konkreetheid daarvan. Hy is ’n skerp waarnemer wat plante, voëls en diere in ons gewone, voorstedelike omgewings met treffende beelde opnuut onder die leser se aandag kan bring. Só skryf hy in “Nasomer”:
Vanmôre bereik ’n helder voël se skreeu
die eerste oggendys, wat breek
en in ’n glibberige borrel
dié roep gevange hou.
Dit is hierdie soort ervarings wat die digter wil gebruik om ’n brug te bou oor hierdie aarde met sy skoonheid én kwellings en die vergetelheid. Hy wil met sy gedigte iets tot stand bring wat “dié ou reisiger” (die digter self) die krag sal gee om soos Atlas die aarde op sy skouer te lig en oor die “vergeetrivier”, die einde van die bekende lewe, te dra. Benewens die satiriese gedigte oor die aktuele werklikheid waarvoor Bekker ook bekend geword het, bevat die ses afdelings van die bundel ook mooi liefdesverse, gedigte oor die ouderdom en gedigte oor die verlange van ouers na hul kinders in die vreemde.
Dr. Pirow Bekker was joernalis, navorser en dosent. Hy het, naas gedigte, ook jeugromans en kortverhale geskryf waarvan sommiges gereeld voorgeskryf word. Ná sy aftrede woon hy en sy vrou op Boggomsbaai in die Suid-Kaap, maar het onlangs weer na Pretoria teruggekeer. Hy is beskikbaar vir onderhoude. Baie lesers sal genot put uit Bekker se gedigte oor die natuur, en mense met bejaarde ouers of kinders in die buiteland sal ontroer word deur die wyse waarop dié temas in die bundel aangeraak word. (PRYS: R120.00 (BTW ingesluit); Protea Boekhuis, 2013, ISBN: 978-1-4853-0009-0; FORMAAT: 213 x 137 mm; Sagteband, 112 bls.)
.
Klawerjas
Adam Small

Small gee in die titelgedig van die bundel te kenne dat Klawerjas ’n uitvloeisel is van ’n bestaanswyse, ’n uiting gee aan die gewaarwording dat hy te midde van soveel armoede en verknegting een van diegene is wat darem nog woorde het “wat aftas teen die mure van ons donker kamers van bestaan, al soekend na die deure, openinge na die lig”. Hy voeg sy stem by Van Wyk Louw en verklaar dat hy te midde van onreg nie juis anders kan nie as om te skryf, te praat en te probeer oorreed. Hy dig in dié bundel: “Daar’s dié van ons wie nie sonder / poësie kan leef nie. Niemand hoort sonder die ervaring van die ritmiese / golwing en osmose van die fyn-gekose / sin en woord.” Maar wat hy vir homself toe-eien gun hy ook ander. Sy poësie is dan juis ook gedigte vir ander, vir gewone mense. Hy skryf: “Daarom is dit vir ’n digter nodig / om telkemale ’n vers publiek / die lig te laat sien, poësie toeganklik / te maak, en mense so te dien – soos / hierdie gedig-vol-dankbaarheid …” Hoewel hy in hierdie bundel in gesprek tree met mededigters, skrywers, filosowe en ander kunstenaars, skryf hy vanuit die oortuiging dat sy gedigte bestem is “vir gewoon-intelligente mense” en dat dit “hoegenaamd nie ‘n vertoon van geleerdheid en obskure hoogdrawendheid moet wees nie”.
Dit is gedigte wat spreek van deurleefde ervaring, diepe oortuiging en ’n opregte meegevoel met die lot van die veronregtes. Dit is praatverse wat getuig van ’n fyn oor vir die musikaliteit van die alledaagse, die melodie wat spontaan en ongekunsteld opklink as jy die doodgewone in verwondering gade slaan. (ISBN: 9780624065456; Prys (insl. BTW): R 185.00, Tafelberg, 2013)
.
Die agste teken
Basie Duvenhage

Basie Duvenhage is ‘n boorling van Niekerkshoop op die rand van die Kalahari en het later jare in Worcester se kontrei verseil geraak. Met hierdie debuutbundel nooi hy sy lesers uit na daardie mooi, maar harde hartland van sy jeug. Hy breek gul die “swartgekorste asbrood” van meel gemaal op ‘n gatskuur oop, laat ‘n mens proe aan die “witfyn lekkerkry”.
Wees egter gewaarsku dat dit geen sagsinnige poësie is nie. Dit is ‘n kontrei waar die muishond, die pofadder en roofvoëls van alle vere steeds op die loer lê. En waar die mens se bestaan dit soms laat lyk of t!kaam sy gesig weggedraai het. Maar waar ‘n man nogtans trots kan verhuis van Stinkfontein na Eksteenfontein. En oompie Adderjan Kromstaan en ouma Magriet as die seisoen daarna is. (Wium van Zyl)
Die bundel kos R130 plus R10 posgeld en kan bestel word by info@insetuitgewers.co.za, ISBN: 9780620560344; Inset Uitgewers, 2013.
.
Hierdie mens
Wilma Stockenström

Sedert Spesmase in 1999, is Hierdie mens Wilma Stockenström se eerste digbundel in 14 jaar. Die toonaard is verfrissend speels en lig, die verse meesal kort en gestroop tot die essensie. Dis toeganklike verse, gekenmerk deur ’n ironiese inslag, en fokus op momentopnames tipies van die later lewe. Die bundel staan dan ook in die teken van afskeid neem, en ‘n sterk bewussyn van die onvermydelike naderkom van die einde van die lewe. Met so ‘n gelade onderwerp soos die dood word daar speels omgegaan. Daar is ‘n duidelike opmerksaamheid oor die proses van ouer word, van swakker word, maar daar is geen swaarwigtigheid, geen tranerigheid. Alles staan eerder in die teken van ’n ironiese self-beskouing, ’n beleë aanvaarding van die onontkombaarheid van die slopingsproses.
“’n Sterk versameling van laatwerkverse, gefokus op die natuur en in ’n vroulike teneur, van een van die meesterdigters in Afrikaans.” – Helize van Vuuren
“Wilma Stockenström [het] reeds vir haarself ’n monumentale plek in die Afrikaanse poësie oopgeskryf. … [Haar] verse is so konkreet dat jy voel of jy aan hulle kan vat, so bevatlik in hul eenvoud dat jy hulle byna intuïtief verstaan; tog is hulle gevul met ’n gedagtewêreld so ruim soos die heelal.” – Louise Viljoen. (ISBN: 9780798163736; Prys : R 150.00, Sagteband, 64 pp, Human & Rousseau, 2013)
.
Oorlopers
Ian Raper

Net een van die gedigte in hierdie aktuele bundel het elders verskyn: “onlug oordag” uit As die son kom oogknip (2002, Protea Boekhuis). Telkens kom verwysings voor na die wetenskap, die literatuur as kuns (Eliot, Tristia, Cuba Pete, Henry Moore, Homero Aridjis, Michael Caine, Van Gogh), lands- en wêreldgeskiedenis en religie (Van Riebeeck, Saddam, Moses, Kersvader, Sadat, Koenraad Onheil) en ander tye en figure. Dis ‘n baie uiteenlopende versameling prosesse.
Ian Raper se gedigte het in verskeie tydskrifte verskyn, o.a. Standpunte, Tydskrif vir letterkunde, Kol en die e-tydskrif Bloots. Hy het self twee bloemlesings, Verskeurings en Klikspringer (lg. die eerste e-versameling), saamgestel en gee klas vir digters by die Huis vir Afrikaanse poësie. Hy is ‘n letterkundige van beroep en het radiopraatjies met die titel “Verse vir die volk” gelewer, asook Van Wyk Louw-gedenklesings. In 2012 ontvang hy die Orde van die Goue Pen van Cordis Trust vir sy buitengewone bydrae tot die bevordering van Afrikaans. (ISBN 978-0-9870397-3-6, 77 pp, Cordis Trust Publikasies, Bestellings: rosslyni@lantic.net, Tel 082 347 4658. Besigtig by www.rosslynpublishers.com. , Prys R140)
.
Chokers en survivors
Nathan Trantraal

’n Oorrompelende debuutbundel wat stem gee aan die lewe in en om die Kaapse vlakte. Geskryf in die taal eie aan die gebied, hanteer die skrywer die alledaagse lewe op die Kaapse vlakte met kragtige verse wat die leser laat huiwer tussen lag en huil.
Biografiese inligting:
Nathan Trantraal is André Trantraal se jonger broer. Hy is 23 jaar oud en het saam met Ashley Marais aan die potloodtekeninge vir Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit gewerk. Hy is tans besig met nog ’n comic, met die titel Issues. Sy gunstelingkunstenaars in die genre is Joe Sacco en Jean Marc Lelong. (ISBN: 9780795704888; Prys (insl. BTW): R 175.00; Formaat: Sagteband, 64 pp, Kwela boeke, 2013.
.
.
Nuwe Stemme 5
Saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais

Die Nuwe stemme-reeks is ‘n opwindende projek waarmee Tafelberg-Uitgewers publikasiegeleenthede skep vir jong digters. Die bundelreeks het met die verloop van slegs ‘n paar jaar reeds ‘n instelling geword, en een waarin verskeie gerekende digters gedebuteer het. Hulle sluit die volgende bekende name in: Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha. Vanjaar is daar opnuut bekende én opwindende name waaronder Desmond Painter, Fanie Viljoen, Pieter Odendaal, Gisela Ullyatt en Jaco Barnard-Naudé. (ISBN: 97806240588612013; prys (insl. BTW): R 165.00, 176pp; Tafelberg Uitgewers, 2013.
.
.
Die Gewildste Afrikaanse Gedigte
Saamgestel deur Leserskring

‘Gewildste Afrikaanse Gedigte’ is die eindproduk van ʼn gedigte-projek wat in 2012 deur Leserskring, BY en RSG van stapel gestuur is. Lede, lesers en luisteraars is gevra om die titels van hul gunsteling Afrikaanse gedigte vir Leserskring te stuur. Almal sal eersdaags kan sien of hul gunstelinge die lys gehaal het wanneer die bundel asook CD met dieselfde titel in April deur Leserskring bekendgestel word. Die bundel bevat die 100 gewildste Afrikaanse gedigte soos gekies deur mense vir die mense. Die versameling sluit gedigte van ‘n wye verskeidenheid digters in: van Eugène N Marais, DJ Opperman, NP van Wyk Louw, AG Visser, TT Cloete, Elizabeth Eybers, Lina Spies, Antjie Krog, Breyten Breytenbach tot Adam Small en Koos Kombuis. Selfs die name van stemkunstenaars wat gebruik is vir die opname van die CD lees soos ‘n lys van Suid-Afrika se gewildste en grootste talent: Johann Nel, Nic de Jager, Wilma Snyman, Stian Bam, Waldemar Schultz, Antoinette Kellerman en nog vele ander.Volgens Lana Barnett, hoofbestuurder van Leserskring, is die sukses van die projek ʼn duidelike bewys dat gedigte steeds ‘n spesiale plek in die harte van Suid-Afrikaanse lesers het. “Leserskring het nominasies van duisende mense ontvang wat graag hul gunstelinge in die bundel wou sien. Die Afrikaanse digkuns is beslis nie dood nie en die projek het ons nuwe hoop vir die toekoms van Afrikaanse gedigte gegee.”
Ook beskikbaar as e-boek. (Human & Rousseau, 2013; Itemnommer: 19232; ISBN: 9780798158374; Formaat: Sagteband, bls.192, Prys R170)
Die bundel en CD is beskikbaar by Leserskring. Klublede betaal R150 vir die bundel en R199 vir die CD. (Die Gewildste Afrikaanse Gedigte (3CD-st), Itemnommer: 66225, R239)
.
.
[VII]
Gilbert Gibson

Sewe is die getal van heiligheid, van voltooiing en vervulling, ’n volmaakte sirkel. Gilbert Gibson se vierde digbundel is ’n konfrontasie met die simboliese lading van hierdie getal, ’n woordestryd teen die wete dat voltooiing die einde beteken, dat volmaaktheid noodwendig ook die dood impliseer.
Dit is poësie wat vernaamlik spreek van die onoorbrugbare afstand tussen woord en wêreld, van “geheime wat ’n haarbreedte van die werklikheid verwyder is”. Dit is poësie waarin woord en sintaksis tot breekpunt gespan word om nader te kom aan dit wat nie meer agterhaal kan word nie. Die verse verbeeld konkreet dat die poësie begin waar taal verbrokkel; dat die letterkunde juis ontspring uit die verbystering van sinne.
(Tafelberg, R135 ISBN: 9780624058847, 96pp.)
.
.
Duisend dae op jou spoor
Cas Vos

Cas Vos se nuwe bundel is vol apokaliptiese en mistieke motiewe. En tog skemer die lig deur. Die ontwerper en uitgewer het die letsels, die spore, die ontnugtering en die lig in die buitebladillustrasie saamgebind. Elke samelewing het sy swak plek, sy wonde. “Sit jou vinger op die wond en druk hard” (Michell Houellebecq). In die bundel voer Vos ’n boeiende gesprek met die sosiale omgewing waar diefstal, verkragting en moord voorkom.
Tristan en Isolde, ’n 6de eeuse legende, word op ’n unieke wyse met ’n digterlike kleed omhul. Die voorlaaste gedig, ’n Brief aan my Engel, gaan ’n fladdering onder lesers en resensente meebring. Die laaste gedig in die bundel roep die rower-gedigte op, maar dan op ’n ironiese en paradoksale wyse. Wat ook in die bundel opvallend is, is die rykdom metafore.
… nou hoor ek
snags drome sag asemhaal.
Duisend dae op jou spoor lei lesers op paaie waar hulle self spore moet soek en betekenis daaraan moet gee. (Hond Bk, 2013, ISBN 978-1-874969-19-8,109pp. )
.
.
Deur ruite van die reis
Melanie Grobler

Melanie Grobler verstaan die kuns om die leser los te maak van die aarde en die aardse: Die reistema, geografies sowel as deur streke van die gees, is dan ook ’n bindende en fassinerende faktor in haar nuwe digbundel. Ook die reis na die gedig, en telkens sien die leser die digter onderweg na die gedig. Die spreker van die verse vereenselwig haar dikwels met sjamaan-figure of mistici of gestorwe voorouers en hul transendentale reise. Die digter se reis stem dus by implikasie ooreen met dié van die sjamaan wat die doderyk besoek om iets waardevols vir die lewendes terug te bring.
Grobler se beelde is verrassend en lewenskragtig, en dit lok die leser om teen vermoedens in na betekenis te soek.
In ’n sekere sin is hierdie soeke na ’n ewig ontwykende betekenis die ware betekenis van ’n gedig. Betowerende en evokatiewe verse.
die wond van die gedig
.
Aarselend loop sy verby die hoop sneeu
en is skielik in ’n rustelose droom
in die bitter lig en die dreunsang van ’n sandstorm
in ’n boomlose land
in ’n stoppelland van sand wag ek op Akhmatowa
toe sy my regterhand neem om my vingers
terug te snoei, lei sy my van put na put
na die as van ’n vuurwerk van lank gelede
in die nanag betas ons lomerige oë
die Bedoeïenemaan, maar naglopers waarsku ons
om nie die bloedmaan te vertrou nie
om in sy vlamme te staan smoor die verbeelding
eensaam maar vol poësie hoor ek die donker wind
wat deur die tamarind se takke tuimel
laat my tog net een keer weer in die helder wond
van die gedig op die vuur van Akhmatowa wag.
(Human & Rousseau, 2013, ISBN-13:978-0-7981-5749-0, 96 bls., Prys R160)
.
.
Rangeer
Clinton V. du Plessis

Oor stoomtreine raak mens passievol en vol roet. Die lokomotief onverbiddelik op sy spoor deur die wêreld, verby vergete sidings en verlore stasies, deur die vlaktes van verlatenheid en bossieveld en langs bedrywige voorstede, nou met die ene stoom en gesuis, dan weer met die vertroude klik-klik; soms ’n ver fluit in die nag. Clinton V. du Plessis se stoomtrein loop nou al bykans dertig jaar deur die hartseer landskap van ons samelewing, en lê baie stasies diep. Hierdie is sy sewende bundel en word opgedra aan sy pa. Lesers wat by Litnet inloer, sal rubrieke van Clinton in ’n ander gedaante herken, en sy vorige bundel, gedigte, talk show hosts & reality shows (wat in 2009 in beperkte oplaag verskyn het) word hier volledig opgeneem. Sowel die voorkoms en die toonaard van die gedigte bly bekend. En die verskillende landskappe waardeur die gedigte beweeg: of dit nou oor ’n politieke wildernis wil vertel, oor die oppervlakkige moderne stadsbestaan of die leë behoeftes van die vlees. En ook in die saamgesels met die Afrikaanse letterkunde herken jy jouself op ’n Noupoort, ’n Kookhuis, ’n De Aar. Maar bekend maak nie bemind nie, bly blywend ongemaklik. Ons storie is, op stuk van sake, nie ’n aand wat room geword het nie en die digter weier om daaroor bes te gee:
“hoe verset jy jou teen vergeet
hoe kom jy in opstand vir onthou?”
Ook hierdie bundel is onmiskenbaar Clinton V. du Plessis.
(ISBN 978-0-620-55604-0, 148mm x 218mm, Sagteband, 142 pp. Prys R150, Ama-coloured Slowguns, 2013 – Bestelling: amacolouredslowguns@gmail.com )
.
.
Kom in, dit vries daar buite
Alfred Schaffer
Vertaler: Daniel Hugo

In hierdie bundel vertaal Daniel Hugo gedigte uit die vyf bundels van die Nederlandse digter Alfred Schaffer asook enkele ongepubliseerde gedigte. Die keuse is deur die digter self.
Schaffer se surrealistiese verse leen hulle nie tot maklike interpretasie nie. Dit is dikwels haas onmoontlik om die situasies te kontekstualiseer of selfs net om te besluit of hier sprake van die werklike wêreld of eerder van drome en verbeelde gebeure is. Tog handel die gedigte meestal oor baie konkrete dinge: ’n ou man se verjaardag; mense in ’n swembad; besoektyd aan ‘n hospitaal; ’n tenniswedstryd. Volgens een resensent gee Schaffer met die opstapeling van skynbaar verbandlose sinne en los beelde juis die menslike kondisie van die een en twintigste eeu presies weer: “De mens heeft zijn hoofd op hol gebracht met de eindeloze stroom van ficties die hij gecreëerd heeft. Hij zoekt opgejaagd naar referentiepunten, houvast, maar vindt er geen meer” (De Tijd). Of, om dit in die digter se eie woorde te stel:
Waarheen moet ek gaan, ek kyk op,
proe die fyn reën op my tong.
Dit is nog ’n behoorlike ent om te loop
voor ek iets herkenbaars sal bereik –
ek kyk op my horlosie en begin vinniger stap.
Ek weet nie meer waar ek vandaan kom nie. (Zin opkomst in de voorstad)
OOR DIE OUTEUR
Alfred Schaffer is van Nederlands-Arubaanse afkoms en het in Leiden studeer. In 1996 verwerf hy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf vir Die Burger en Beeld oor Nederlandse gedigte en stel saam met Antjie Krog Nuwe Stemme 3 saam. Tans is hy dosent by die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch aangestel. Hy is meermale in Nederland vir sy poësie bekroon. (Protea Boekhuis, 2013, PRYS: R140, ISBN: 978-1-86919-912-8, Sagteband, 108 pp.)
.
.
Bleek planeet
Dolf van Niekerk

Reeds in die eerste gedig van Bleek planeet, “2111”, word die leser gekonfronteer met die belangrikste tema van die bundel: Tussen die vallende herfsblare in sy tuin word die digter bewus van “die aarde se beskeie plekkie in die niet” en sien hy ’n visioen van geel lug, verskroeide landskappe en verskrompelde woude op ’n geel planeet. Die skrikbeelde van tsoenami’s, verwarde seisoene, besoedeling en toenemende verwoesting word in die eerste afdeling voortgesit. Die tweede afdeling begin met die lang gedig “Garob” waarin die skepping van die aarde soos dit vasgelê is in die sedimente van die Karoo aan die orde gestel. Die bedreiging van onbesonne ontginning, gierigheid en verbruikerswellus op die brose landskap word in die gedigte geteken. Die derde afdeling bevat meditatiewe gedigte waarin onder andere deur besinning oor die werk van Helen Martins gesoek word na “God se wateraar”, terwyl die laaste afdeling ’n viering van die hier en nou is, al is die digter bewus daarvan dat hy “in brabbeltaal/moet swoeg om die sin/ van woorde te verhaal”.
Met die kommer oor die bedreiging van die balans in veral die kwesbare Karoo is Dolf van Niekerk se vyfde digbundel baie tydig. Bleek planeet is ‘n bundel vir die liefhebbers van poësie, maar ook vir almal wat bekommerd is oor omgewingskwessies in Suid-Afrika.
OOR DIE OUTEUR
Dolf van Niekerk is ’n bekende en geliefde skrywer van prosawerke soos Die son struikel (1960), Skrik kom huis toe (1968) en Die haasvanger (1985). Sy betrokkenheid by radiowerk het gelei tot talle radiopraatjies, hoorspele en vervolgverhale. Hy is meermale vir sy werk bekroon en het onder andere die Eugène Marais-prys, die M.E.R.-prys en die Scheepersprys ontvang. (Protea Boekhuis, 2013. PRYS: R140; ISBN: 978-1-86919-921-0, Sagteband; 60pp).
…
Vervolg na digbundels in die jaartal:
2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010