2017 Publikasies
Ander digbundels in die jaartal:
2018 2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.
Gesant van die Mispels
Marlene van Niekerk
Met dié bundel beeldgedigte stel Marlene van Niekerk op ’n oorspronklike en toeganklike manier die minder bekende Nederlandse skilder Adriaen Coorte (1658?-1707) bekend. Sy lewer daarmee nogeens ’n bewys van die vernuwende aard van haar werk.
Die gedigte verteenwoordig ’n fantasieryke ondersoek na die moontlike momente van skildersinspirasie, die tegniese aspekte van die skilderproses, en die artistieke opvattings en historiese konteks van die kunstenaar: Van Niekerk maak haarself en die kyker as ’t ware tot intieme toeskouers van dié twee skilders se stillewes. Uiteindelik verteenwoordig sowel die skilderye as die gedigte oomblikke van stille refleksie in roerige tye – die nederigste, kleinste objekte, soos wat hulle met toewyding verewig is deur Coorte en Mankes word in die gedigte versigtig herneem en insigtelik gemaak. Volgens wyle Henning Snyman is die bundels “’’n poëtiese én grammatikale kragtoer”, en ten slotte “’n ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.
Marlene van Niekerk is ‘n internasionaal bekroonde digter en romansier. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995, en tien jaar later Agaat. Haar mees onlangse digbundel is Kaar, bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 2014. Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. (Human & Rousseau, 2017. Prys : *R250, Bladsye : 68, Formaat : 250 mm x 160 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798176552)
.
.
In die stille agterkamer
Marlene van Niekerk
Met dié bundel beeldgedigte stel Marlene van Niekerk op ’n oorspronklike en toeganklike manier die minder bekende Nederlandse skilder Jan Mankes (1889-1920) bekend. Sy lewer daarmee nogeens ’n bewys van die vernuwende aard van haar werk.
Die gedigte verteenwoordig ’n fantasieryke ondersoek na die moontlike momente van skildersinspirasie, die tegniese aspekte van die skilderproses, en die artistieke opvattings en historiese konteks van die kunstenaar: Van Niekerk maak haarself en die kyker as ’t ware tot intieme toeskouers van dié twee skilders se stillewes. Uiteindelik verteenwoordig sowel die skilderye as die gedigte oomblikke van stille refleksie in roerige tye – die nederigste, kleinste objekte, soos wat hulle met toewyding verewig is deur Coorte en Mankes word in die gedigte versigtig herneem en insigtelik gemaak. Volgens wyle Henning Snyman is die bundels “’’n poëtiese én grammatikale kragtoer”, en ten slotte “’n ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.
Marlene van Niekerk is ‘n internasionaal bekroonde digter en romansier. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995, en tien jaar later Agaat. Haar mees onlangse digbundel is Kaar, bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 2014.Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. (Human & Rousseau, 2017. Prys : *R250, Bladsye : 68, Formaat : 250 mm x 160 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798176545)
.
Die sin van die hut
Gilbert Gibson
Weer eens ’n verrassende, andersoortige digbundel deur dié talentvolle en bekroonde digter van die Vrystaat. Gibson is reeds bekend vir die wyse waarop hy taal ondermyn, selfs benadeel, en so nuwe betekenisse herskep/ontdek.
Die bundel bevat baie liriese oomblikke tydens hierdie ontdekkingstog. Die hut bied net soos die taal beskerming, maar die ‘ek’ wil ook daaruit wegbreek en ontsnap.
Oor die skrywer: Gilbert Gibson is in die Vrystaat gebore en praktiseer as internis in Bloemfontein. Sy debuutbundel Boomplaats ontvang in 2006 die Protea-poësieprys. Hierop volg Kaplyn (2007), Oogensiklopedie (2009), vii (2013) en vry- (2015). Vir lg. ontvang hy die Elisabeth Eybers-prys vir poësie, die ATKV Woordveertjie vir poësie en ook ’n SALA-toekenning.
.
.
(drumpel)
Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer
(Uit: Die sin van die hut, 2017)
(Human & Rousseau, 2017. Prys: R225; Bladsye : 80, Formaat : 234 mm x 152 mm, Sagteband. ISBN-13: 9780798176934 )
.
.
.
Aantekeninge teen die skemeruur
Clinton V. du Plessis
In hierdie bundel maak die ouerwordende digter aantekeninge teen die naderende skemeruur. Hy loop , deur sewe afdelings, terug op die spoor van sy lewe en hierdie land, tree in gesprek met ander digters en worstel met die bagasie van taal en die onmag van woorde.
(ISBN: 978-0-9946913-5-4, 210 mm x 148 mm; Sagteband, bladsye 145; Cordis Trust Publikasies, 2017; Prys R200, posgeld ingesluit). Bestel vanaf : clintonvduplessis@gmail.com
.
.
.
Taalles 101
jy vergeet
die taal was in boipatong
(the place of hiding)
aan ’n stewel wat snags ’n deur
in sy moer kon skop
of koevoet
of in die loop van ’n pistool geknaldemper
op die tweede verdieping van ’n vermeende skuilhuis
in ’n buurland
met twee verdwaasde kinders
wat wees wonder
oor die stillewe
van hul ouers se bloedbedruipte lyke op die vloer
die taal het ’n balaklawa gedra
as die derde mag in die donker lokasies van teeninsurgensie
die sweterige hande met kapmesse in mynhostelle
het mombakkies aangesit die aangesig
askariswart gesmeer
handskoene
het die koverte vingerafdrukke van afsku verbloem
die taal was ’n fopmyn
’n briefbom fraai vermom
(Uit: Aantekeninge teen die skemeruur. Clinton du Plessis. 2017)
.
.
Koebesie
Trienke Laurie
Trienke Laurie se reise en kopreise kry gestalte in ‘n sestigtal gedigte. Haar verwondering oor die natuur, haar respek vir eeue-oue kulture en religieuse belewenis kom saam in toeganklike verse, afgewissel met ligter gedigte waarin verontwaardiging oor sekere tendense van ons samelewing tot uiting kom en waardeur ‘n sin vir humor uitstraal.Talle van die verse word verder versterk deur die digter se eie illustrasies.
In sommige gedigte is daar verwondering aan die mens se maaksels: ‘n pottebakker in ou Griekeland en ‘n glasblaser in moderne België; die natuur se wonders: karetskilpaaie op ‘n Griekse eiland, muggies vasgevang in amber in Pole.
Burg by Culemborg
U is vir my ’n burg
waar ek heen kan vlug
weg van vyandige mense;
U is vir my ’n brug
wat my ruimte verbrei
tussen uiterse grense.
Trienke Laurie het in 1997 met haar debuutbundel Skietspoel die Ingrid Jonker-prys verower. Sy is ook ‘n kunstenares wat, op een na, vir al haar omslae self die skilderwerk gedoen het. Koebesie, haar vyfde bundel, is egter die eerste een waarin van haar tekeninge en skilderye ook binne die teks gebruik word. (Corals Uitgewers, 2017. Prys: R130. Bladsye: 80. Formaat: 210mm by 145mm. Sagteband. ISBN 978-0-9922112-7-1)
.
Vuurvas
Carel Anthonissen
Die gedigte gaan oor die onskuld en verwagtinge van ‘n kind in sy eerste landskap, die ontnugtering en vervreemding wat die volwasse bestaan meebring, en die uiteindelike aanvaarding en omarming van pyn, siekte, ouderdom en dood. Vuurvas is nie alleen ‘n verwysing na die onvernietigbare kiem van hoop, regskapenheid en welwillendheid in die mens nie, maar dien ook as ‘n voorbeeld van aandagtige en gevoelige omgang met taal en verwoording.
.
Oor die skrywer:
Carel Athonissen het reeds enkele Engelse gedigte in ‘n reeks van drie bloemlesings (oor Afrika, oorlog en liefde ) gepubliseer. In 2015 is hy gelanglys vir die Sol Plaatje UE kompetisie. Een van sy gedigte is daarna opgeneem in The Sol Plaatje, European Union Poetry Anthology, Vol V. In 2016 is twee van sy Afrikaanse gedigte ook opgeneem in Stanzas Nommer 6, Desember 2016 ( R 190.00, Sagteband • 136 p, 213 mm x 137 mm; ISBN: 978-0-928316-97-1, Naledi, 2017)
.
.
Intiem
om intiem te wees is om te onthou:
die stiller aanblik, die gloeiende mond
’n enkele wimper, één flitsende haar
en dat ons woorde met mekaar nooit
selfbewus of leeg was nie
maar altyd vrolik sonder swaar gordyne
of einder
die nagolf van ’n snaar wat onverwags
gepluk is
(Uit: Vuurvas, 2017)
.
.
Die goddelike komedie
Cas Vos (vert.)
In hierdie bundel durf die skrywer Danté Alighieri se briljante werk aan. Hy bewys homself as uitmuntende vertaler.
Danté se lang reis kan tematies verbind word met Israel se uittog verhaal. Met sy La Divina Commedia beoog Danté om die boosheid van die mens aan die kaak te stel en roep hy die mens op om saam te werk aan die skepping van ’n beter samelewing van vrede en orde onder leiding van ’n goeie keiser en pous.
Oor die vertaler: Cas Vos was dekaan van die fakulteit Teologie van UP van 2000 tot 2010. Hy het die Andrew Murray Prys ontvang asook die Pieter van Drimmelen medalje vir sy teologiese werk by die Akademie vir Kuns en Wetenskap. Hy het verskeie artikels in plaaslike en internasionale tydskrifte gepubliseer. Sy mees onlangse werk is sy bundel In ‘n oomblik (2016).
(R 175.00, Sagteband • 136 p, 213 mm x 137 mm , ISBN: 978-0-928316-85-8. Naledi, 2007)
Voorlesings:
Aleppo: https://youtu.be/2Qh1qD8K8PE
Die Goddelike Komedie: https://youtu.be/OOACiJb0avQ
.
.
Nuwe Stemme 6
Samestellers: Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé
Nuwe stemme gee vir die varsste, nuutste stemme in Afrikaans ‘n plek om hulself te laat hoor. Die sukses van die projek kan gesien word in die vorige deelnemers wat nou gevestigde skrywers is: Ronelda Kamfer, Gilbert Gibson, Loftus Marais, Kirby van der Merwe en Tom Dreyer en vele meer. Hierdie uitgawe word saamgestel deur Charl-Pierre Naudè en Bibi Slippers. As jy wil weet hoe lyk die skrywers van die toekoms, lees Nuwe stemme 6. (Tafelberg, 2017. Prys : *R240, Bladsye : 176, Formaat : 198 mm x 130 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780624082644, Epub-ISBN : N/A)
Samestellers:
‘Hier is gedigte in die bundel wat nuut is op dieselfde manier as nuwe skoene. Die eerste dag is dit dalk ongemaklik en skaaf dit so bietjie, maar jou voete sal vinnig aanpas en die skoene intrap – en voor jy weet is dit jou nuwe gunstelingpaar.’ (BS) Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Haar debuutbundel Fotostaatmasjien is onder andere met die Eugène Maraisprys vir poësie bekroon.
‘Ek het gesoek na gedigte wat ‘n wesenlike kern van gevoel ofwaarneming of mymering gehad het: ‘n moment van gravitasie, selfs net ‘n vae vonk in die agterte iewers; en die digter dan meer bewus hiervan probeer maak. Van daar af vat hulle self die pad.Ek dink die digters wat hier bymekaar is, word binne bundelverb and elk herkenbaar aan ‘n “merk”. Digterlike uitinge maak “etekenispatrone”. Dink aan ‘n vingerafdruk, dit word ‘n identifikasie van die outeur daarvan.’ (CPN) Charl-Pierre Naudé is ’n bekroonde digter en ook bekend as prosaskrywer, boek- en filmresensent en rubriekskrywer.
.
.
Oop sirkel
De Waal Venter
Oop sirkel deur De Waal Venter bevat opwindende gedigte met ongewone benaderings wat op mekaar inspeel in nie minder as agt afdelings nie. Dit sluit ook ‘n groepie prosagedigte in. Die titel “Oop sirkel” is gemotiveer deur verskeie aspekte van die gedigte in die bundel. ’n Hele paar gedigte het te doen met geboorte, groei en kindertyd. Dit is die begin van ’n lewensiklus waarvan verskillende stadia in ander gedigte beskryf word. En hierdie siklus of “kring” is “oop” in die sin dat die leser op enige punt daarvan toegang kan kry. ’n Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ’n sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt.
In die gedig “Ontwyking van die voorskrifte van mens se ouers” word daar gepraat van hoe die ontstaan van die spreker in die gedig “beplan” word. Die gedig dui dus op ’n tyd nog voor die spreker gebore is.
“Oor die volgende ses dae
is daar heelwat modelle oorweeg,
almal vroom, sterk, slim en deugdelik;
op die sewende dag het hulle nie beplan nie –
dit was sabbat.”
Biografiese inligting:
De Waal Venter het benewens poësie, ook jeugboeke, kinderboeke, radiodramas, ’n film-draaiboek, kortverhale, verhoogstukke en TV-reekse geskryf, asook musiek-lirieke. Vorige publikasies: Kiem; Pols en Klawer (saam met DPM Botes en Menno Stenvert). Hy vertaal gereeld gedigte van o.a. die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans. Hy vind vertaling verrykend en bevrugtend vir sy eie werk. Hy is ook ‘n essayis wat maandeliks literêre essays op Versindaba plaas. Venter het ‘n wye belangstelling wat letterkunde, natuurkunde, sport, politiek, taalwetenskap en biologiese en ander vertakkinge van die wetenskap en tegnologie insluit. Venter het verskeie beroepe in sy lang loopbaan beoefen: joernalis, reklameskrywer, radio-aanbieder en stadsraadslid. Hy skryf tans voltyds en woon aan die Wes-Rand. [Naledi, 2017. R 175.00 Sagteband • 112 p, ISBN: 978-0-928316-73-5]
.
.
Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte
Cas Vos (Samesteller)
‘n Versamelbundel van die gewildste Christelike gedigte in Afrikaans, saamgestel deur Cas Vos. Dit bevat nie net geliefde gedigte uit die kanon nie, maar ook nuwe verse wat spesiaal vir dié bundel geskryf is. Die digters sluit in: Boerneef, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Lina Spies, I.L. de Villiers, Joan Hambidge, Sheila Cussons, T.T. Cloete en Daniel Hugo.Die verse is baie toeganklik – ook perfek vir aanhaling vir menige geleenthede. ( Lux Verbi, 2017. Prys R280, 272 pp, 243 x 152 mm. Sagteband, ISBN-13 9780796320148)
Oor die Samesteller : Cas Vos was die Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Akademie aan hom toegeken. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Intussen volg menige boeke, artikels, digbundels en vertalings van klassieke werke. Hy bly in Pretoria.
.
.
God die digter
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak
TT Cloete
.
.
Op die Vingerpunte van die Heelal
René Bohnen
Hierdie poësie gaan oor verhoudings en patrone. Tussen mense, tussen mens en omgewing, tussen nommers en geloof. Dit is ʼn bundel oor broosheid, struktuur en verval.
Weerloosheid en weerbaarheid van mens en landskap word geteken, daar word gekyk na die kwesbare samehang van die geheel en na onregte op sosiale vlak. Die digter pak ʼn kronkelende reis aan na die onsekere tussenruimtes van bestaan.
Die verse verken bekende kunstenaars aan die hand van persoonlike belewenisse, (en andersom). Om die Ander te besoek is om die Self te begin ontsyfer.
.
.
.
Mensboom
(my bloed fluister name)
laas nag het wortels uit my lyf gespruit,
in skynlote oor ’n vleiland gekruip
ek was magies en hoog ’n haselboom –
my oë het vervloei en gestol tot murg van neut
tot roomkwaliteit en die pit van weet
ek groei voor die aangesig
van die oppergees van ’n gedig
ek is ’n haseldroom en ek is salm-oud
oor mý heers mercurius en die see
.
daarom swem visse en ’n god stroomop in my takke
daarom is die name silwer in my bloed
.
(Uit: Op die vingerpunte van die heelal, Naledi, 2017)
Biografie: René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny en volg dit op met In die Niks Al Om in 2011. Haar gedigte was ingesluit in verskeie bloemlesings soos Die Groot Verseboek in 2008 en Die heel mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte in 2015. Haar gedigte was ook ingesluit in The Sol Plaatje European Union Poetry Anthology Volume VI. Sy geniet die vermenging van genres en verskeie van haar gedigte is getoonset, een so ’n gedig is nou voorgeskryf in die nasionale ATKV Koorkompetisie. (Naledi, 2017. R 175.00, Sagteband • 112 p, 213 mm x 137 mm . ISBN: 978-0-928316-95-7)
.
nou-hier
Corné Coetzee
Dié hoogs afgeronde digdebuut van Corné Coetzee is ’n opwindende gebeurtenis in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Coetzee het ’n sonderlinge styl en toonaard. Op die oppervlak roer daar ‘n oënskynlike eenvoud, maar onderliggend is ’n web van deurdagtheid versteek. Volgens een keurder word die gedigte veral gekenmerk aan ’n fyn balans tussen emosie en mymering/waarneming – iets wat herinner aan sommige historiese digkunsvorme uit Japan en China. Coetzee put uit die wêreld van die huisvrou, die groei en verbrokkeling, vreugde en pyn van verhoudings, die Boeddha, die omgewing en die hier-en-nou soos gesetel in die durende gang van lewe en dood.
.
.
Hoogsomer
.
Wat sou ons gemaak het
as ons geweet het,
daardie volmaakte Februariemiddag,
dat die laaste vy ryp geword het
en die eerste blaar
sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?
’n Mens is tog geen vyeboom nie
’n Mens kon tog plan gemaak het
Biografie: Corné Coetzee het in Pretoria grootgeword en in biblioteke gewerk voordat sy joernalis, teaterresensent en subredakteur geword het. Ná kinders het sy begin tydskrifartikels skryf oor veral die omgewing. Sy het in 2015 ’n MA (kreatiewe skryfkuns) by Tukkies voltooi. Sy woon saam met Hans Pienaar en een van hul dogters in Johannesburg.
(Human & Rousseau, 2017. Prys : R200, Bladsye : 64, Formaat : 234 mm x 152 mm, Sagteband. ISBN-13 : 780798176200, Epub-ISBN : N/A Mobi-ISBN : N/A)
.
Krap uit die see
Fourie Botha
Krap uit die see is die tweede bundel van die jong digter Fourie Botha. Soos sy debuutbundel Donkerkamer wat op die kortlys vir die 2013 Ingrid Jonkerprys was, sluit Krap uit die see aan by die debat oor manlikheid, wat sowel geweld, lyflikheid, die vaderfiguur, homo-erotiek en doodgewone huislikheid van twee mans wat saamwoon insluit. Die see is ’n deurlopende motief, die oerbron waaruit alle lewe kruip, in gedigte oor familieverhoudings, die liefde en erotiek. Grense tussen lewe en dood, droom en werklikheid, mens en dier vervloei op surrealistiese wyse.
OOR DIE OUTEUR:
Fourie Botha word groot in Bethal op die Hoëveld en op Nietverdiend in die Marico-Bosveld. Aan die Universiteit van Pretoria studeer hy Uitgewerswese en Engels en gee vir ’n paar jaar opvoedkundige boeke uit. In 2008 voltooi hy ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en skryf daarna by die Universiteit van Kaapstad in vir ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder Joan Hambidge. Tans is hy die uitgewer van plaaslike fiksie by Penguin Random House in Kaapstad. Sy gedigte word opgeneem in die versamelbundel “Nuwe stemme 4”, waarna hy debuteer met “Donkerkamer”, ’n bundel wat in 2013 vir die Ingrid Jonkerprys gekortlys is.
(Protea Boekhuis, 2017. PRYS: R160.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-1-4853-0757-0 (gedrukte boek), 978-1-4853-0758-7 (e-boek). 978-1-4853-0759-4 (ePub), FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, pp 64)
.
.
Radbraak
Jolyn Phillips
Radbraak is Jolyn Phillips, kortverhaalskrywer van Tjieng tjang tjerries, se digdebuut in Afrikaans. In dié digbundel verbrokkel sy taal, draai sy die rug op haar vel-taal, pleeg sy ‘radbraak’ op haar eie taal.
Dit is die enigste medium wat sy het, maar sy breek dit, sy vernuwe dit, sy ‘ont’taal dit. Phillips is ’n nuwe stem in Afrikaans – by tye liries maar deurgaans skreiend en ook uitdagend.
Volgens die bekroonde digter Petra Müller is Radbraak ’n ‘klein aardbewing van ’n bundel. Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.’
.
.
.
my ma in C-majeur
.
sy het net haar stem
wat uit haar hande sing
die nette stitch
do
re
mi
fa
never-ending
so
la
ti
do
sing sy uit haar hande
my ma laat my dink aan see-majeur
sonder sharps of flats
die maklikste die mooiste
omdat dit so skoon is
sy fluit die vis tot byt
haar vel gee ’n kernstemming op A vir die son
vir die golwe want haar seun fluit êrens
sy hoor sy do re mi fa woorde geskepe vir haar
[Human & Rousseau, 2017, Prys : *R180, Bladsye : 64. ; 234 mm x 152 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798176163.]
.
.
Uittogboek
Johan Myburg
Uittogboek – ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig – is ’n hoogtepunt in die digter Johan Myburg se oeuvre. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Die samebindende gegewe van die bundel is die Romeinse keiser Hadrianus (76–138 n.C.), en die bundel open met sy bekende sterfgedig in Latyn en Myburg se trefsekere vertaling daarvan in Afrikaans. Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower.
OOR DIE OUTEUR
Binne die bestek van drie digbundels het Johan Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns; in hoofsaak omrede elke publikasie van hom van ʼn fyn vakmanskap getuig wat nie net sy eie nie, maar die totale digkuns verruim. Hy debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel, Kontrafak (1994) word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn die indrukwekkende Kamermusiek; ʼn bundel waar die kamer die sentrale ruimte is waarbinne handeling afspeel. Benewens digter is Myburg ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en teologie gestudeer en is tans besig met nagraadse studie in visuele kunste. (Protea Boekhuis, 2017. PRYS: R150.00,BTW ingesluit, ISBN: gedrukte boek: 978-1-4853-0776-1, e-boek: 978-1-4853-0777-8, ePub: 978-1-4853-0778-5, FORMAAT: 215 x 153 mm, Sagteband, Aantal bladsye: 100)
.
knapsekêrels
pieter fourie
Die gedigte in hierdie debuutbundel handel onder meer oor ‘n byna uitgestorwe plattelandse lewe met tradisionele gebruike en ambagte. Tog word dit haarskerp en klokhelder verwoord sodat ook die moderne stadsmens aanklank daarby kan vind. Hy skryf ewe meevoerend oor die stad (Kaapstad) se leefruimte. Daar is ook aktuele gedigte oor Suid-Afrikaanse toestande, tydlose verse oor die dood en prikkelende, maar ook skreiende uitbeeldings van die liefde. Die verse het ‘n eie, unieke klank en styl. Die minimalistiese woordgebruik is besonder suggestieryk en skep dikwels meerduidighede – betekeniseggo’s wat naklinkend in die leser se kop bly draai. Die beelde en klanke klou inderdaad aan jou vas soos knapsekêrels.
Die skrywer is ’n Hertzogpryswenner asook die mees bekroonde en gepubliseerde dramaturg in Afrikaans. Hy skryf onder meer Faan se Trein en Mooi Maria .Hy word op 77 die oudste debutant in die Afrikaanse poësie. Sy kwantumsprong van dramaturg tot digter is getrou aan die aard van Fourie se hele loopbaan. Die vestiging van die KKNK as eerste Uitvoerende Hoof is maar een voorbeeld. Hy ontvang ’n ere-doktorsgraad in dieselfde jaar (2011) as Desmond Tutu by die Universiteit van die Vrystaat. Pieter Fourie is wyd bekend in die teater- en mediawêreld in Suid-Afrika.
Die bundel kan bestel word op die webtuiste. www.naledi.online
(Naledi, 2017; Prys R 175.00, Sagteband • 128 p • 213 mm x 137 mm, ISBN: 978-0-928316-77-3)
.
.
’n ope brief aan Dorian Gray
Ruan Fourie
In hierdie debuutbundel word ’n liefdesgeskiedenis vertel soos dit deur verskillende stadiums beleef word deur die spreker. Aan die begin soek die spreker na ’n manier om sy liefde duidelik genoeg uit te druk; dan volg die ontnugtering en die belewenis van die geliefde as ’n leë dop, en uiteindelik volg die misnoegde ervaring van mislukking. Die hele bundel staan in gesprek met Oscar Wilde se roman, The picture of Dorian Gray, waarin die jong Dorian Gray wens dat sy afbeelding in ’n skildery sal verouder, terwyl hyself jonk bly. Die gedigte verwoord in hierdie bundel die aftakelingsproses en boots die narratief van die Wilde-roman implisiet na. Soos in die roman word die grense tussen werklikheid, verbeelding en kuns in die gedigte dikwels oorskry. Die atmosfeer van verval van die Wilde-roman word ook in talle van die gedigte opgeroep. Die verwoording van die mislukking van ’n liefdesverhouding in die bundel behoort aanklank by jonger lesers te vind, terwyl die baie verwysings na kuns en letterkunde ’n intellektuele uitdaging vir die leser bied.
OOR DIE OUTEUR: Ruan Fourie is in 1994 in Bloemfontein gebore en is tans ’n honneursstudent aan die NWU. Van sy gedigte is op Versindaba gepubliseer en hy het ook as digter deelgeneem aan die Byderhand-projek by Aardklop 2015, wat die ATKV-Aartvarkprys vir Grensverskuiwende Werk gewen het. (PRYS: R160.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-4853-0747-1 (gedrukte boek) 978-1-4853-0748-8 (e-boek) 978-1-4853-0749-5 (ePub); 137 x 213 mm; Sagteband , pp 72, Protea Boekhuis, 2017)
.
Voor ek my kom kry
Pirow Bekker
Die omslag van die bundel met sy abstrakte figure suggereer die gesprek wat in hierdie bundel gevoer word met die self, die geliefde, die lewe en die dood. Die digter ondersoek verskillende fasette van ’n lang en kreatiewe lewe.
In die eerste afdeling kom die verhouding met die aarde ter sprake; in die tweede afdeling die ambivalente verhouding met die land waarin hy gekies het om te bly woon, ten spyte van die ongenaakbaarheid van klimaat, plae en sosio-politieke kwessies. In die volgende afdelings kyk die digter op ironiese wyse na die dreigende dood wat hom in verskille gedaantes voordoen. Dan volg gedigte oor die liefde: vir die taal, die woord en vir die geliefde vrou.
Die fyn humor waarmee die digter na die ouderdom kyk, sorg dat die laaste gedigte nie neerdrukkend is nie, maar die lewe bly omhels, soos in “Hansie Slim herbesin”, waarin gespot word met die “mediese kernplan” waarmee voorsorg vir siekte en ouderdom getref word. En tog,
die hele infrastruktuur ten spyt
verlaat Hans sy huis, begeef hy hom
op ’n lukraak ryloopreis
die wyer wêreld in.
Daarom kan die digter in die slotgedig terugkyk op die verrassing van ’n lewe wat sonder beplanning of padkaart, sy eie verloop geneem het.
OOR DIE OUTEUR
Pirow Bekker is ’n veelsydige skrywer van romans, kortverhale en poësie. Sy vorige twee bundels, Van roes en amarant (2008) en Atlas teen die vergeetrivier, (2013) is goed ontvang deur die literêre kritiek.(Protea Boekhuis, 2017, R180.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek): 137 x 213 mm: Sagteband, pp 108)
.
Alles het niet kom wôd
Nathan Trantraal
’n Splinternuwe digbundel deur ’n gerekende en opspraakwekkende Kaapse digter. In Alles het niet kom wôd dig Nathan Trantraal oor die onderwerpe wat hy in Chokers en suvivors met sy kenmerkende energie en emosie belig het.
In sy tweede bundel dig Trantraal oor Afrikaans, oor klas, ras, en die politiek, maar neem nou ook seksualiteit, en die religieuse en stedelike milieu waarin hy grootgeword het, in oënskou. ’n Outobiografiese en kontroversiële bundel deur die wenner van die Ingrid Jonkerpys. (Kwela, 2017; ISBN: 9780795707919, Prys (insl. BTW): R 200.00, Formaat: Sagteband, 64pp)
.
.
.
>> 2019
.
Vervolg
Ander digbundels in die jaartal:
2018 2017, 2016 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010