Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Digbundels (2019)

2019 Publikasies

.

Ander digbundels in die jaartal: 2020
2019 2018  2017,  2016  2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010
.

Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2000 – 2012

Kyk ook na ander  lyste op hierdie webtuiste. Resensies  van digbundels verskyn gereeld.


 

Die geleerde digter

W.J. Henderson

Omslag

Die oorspronklike tydvak waarin hierdie gedigte geskryf is, lê ver in die verlede, maar die algemeen menslike vraagstukke soos liefde, dood en die verwondering oor die natuur spreek nog steeds tot die moderne leser. In Die geleerde digter se drie bande bespreek prof. W.J. Henderson twee besondere digsoorte in die poësie van die antieke Griekse letterkunde wat ‘n groot invloed op die Westerse letterkunde uitgeoefen het en vandag nog tot lesers spreek.

Hierdie werk se drie dele is die laaste in ‘n reeks Afrikaanse vertalings van die kort digvorms uit oud-Grieks. Die skrywer het reeds in drie vorige publikasies — liriese, elegiese en jambiese poësie vertaal en bespreek. Die herdersdig en epigram van die nuwe reeks het hulle grootste bloei geniet in dieselfde era, die Hellenistiese periode van die Griekse kultuurgeskiedenis (ná die dood van Alexander die Grote in 332 tot 31 v.C. toe Alexandrië in die Romeinse Ryk ingelyf is). Die twee digvorme verskil egter van mekaar ten opsigte van vorm en inhoud.

Die oorspronklike Griekse gedigte is uitstekend vertaal in Afrikaans, maar die moderne leser kan nie sonder hulp die historiese en literêre konteks, betekenis, funksie en literêre gehalte en waarde van die gedigte verstaan nie. Daarom word kommentaar by die gedigte verskaf om hulle betekenis toeganklik te maak. Die aantekeninge by elke vertaalde gedig vat die navorsing van talle geleerdes oor ‘n lang tydperk saam wat die kulturele konteks van die digters en hulle werk verduidelik. Veral in die afgelope vier dekades is daar opnuut belangstelling in hierdie digvorms onder internasionaal bekende klassici.

Vir diegene wat wel oud-Grieks magtig is of in die ontwikkeling van die klassieke Griekse letterkunde belangstel, word ook kommentaar op styl, veral nuwe woordskeppings en uitsonderlike taalgebruik aan die einde van besprekings van gedigte gegee.

 

Oor die outeur

Prof. W.J. Henderson is emeritusprofessor in Griekse en Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg en is ’n gerekende kenner van die korter digvorme in Grieks, wat voorlopers van die moderne Westerse digkuns is.

 

[Imprimatur 2019. Prys: R200.00 per bundel. ISBN: 978-0-633-99219-0-7, 978-0-6399219-1-4, 978-0-6399219-1-4, 978-0-6399219-2-1 978-0-6399219-2-1]

 


 

Francois de Jongh 

Konglomeraat

Omslag

Francois de Jongh het in 1981 gedebuteer met die bundel Klipsweet. In Konglomeraat neem hy bestek op van ’n hele lewe. Sy ervarings as dienspligtige, onderwyser, joernalis, gesinsman, natuurliefhebber en amateur-geoloog klonter hier saam tot boeiende versgesteentes. Enkele gedigte uit sy debuutbundel is ook opgeneem om die beeld van ’n gevoelige en vaardige vakman af te rond.

 

My denke sedimenteer

in konglomeraat:

brokstukke en rolklippe

afgeset in verse

ongebonde aan reëlmaat

grootte óf vaste vorm

natuurlike spoelgoed

in die vloei

van die oomblik.

 

[Naledi 2019, Prys: R220.00, ISBN: 9781928518242 ]

 


 

Ronelda S. Kamfer

Chinatown

Omslag

In die bekroonde digter Ronelda Kamfer se vierde bundel, Chinatown, bied sy opnuut poësie met ’n emosionele slaankrag wat die leser nie onaangeraak sal laat nie. Geslagspolitiek word ondersoek deur ’n vrouestem wat opklink teen die patriargie. Verwysings na ’n gebroke verhouding tussen pa en dogter kom deurlopend voor. En kwessies wat deel vorm van die huidige sosiopolitieke diskoers – vrouemishandeling, rassisme en armoede – kom aan die bod, maar word met ’n diep menslikheid hanteer. Waar Kamfer se vorige bundel, Hammie, die komplekse verhouding tussen ma en dogter ondersoek het, word die skeuring in die verhouding tussen pa en dogter hier bekyk. Die pa word onder meer met die valsheid en klaterigheid van Chinatown vergelyk, met ’n eiewaarde afhanklik van materiële besittings te midde van armoede.

.

Oor die skrywer:

Ronelda Kamfer is op 16 Junie 1981 in Kaapstad gebore. Sy bring haar grootwordjare deur in Blackheath en Grabouw en in 1999 matrikuleer sy aan Eersterivier Sekondêr. Sy was verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskapy. Van haar gedigte is opgeneem in bloemlesings soos Nuwe Stemme 3, My ousie is ’n blom en Bunker Hill.

 

my pa se hele dag revolve

rondom sy pride

al is hy maar net ’n

lost boy sonder Peter Pan

’n dooie vrou wie haar

standard moes lower

oor sy dertig en childless was

in die 80s

(Uit: Chinatown, Kwela Boeke, 2019)

 

[Kwela Boeke 2019, prys R200,00, 64 bladsye, sagteband, formaat 198mm x 130mm, ISBN 13: 9780795709500]

 


 

Rooiborsduif: Gedigte oor die Liefde.

Breyten Breytenbach

Samesteller: Charl-Pierre Naudé

omslag

’n Oorsig van Breyten Breytenbach se digkuns is ‘n voëlvlug oor ‘n wye era: vanaf die jare sestig tot vandag, waarin beide Europa en Afrika hulself radikaal herdefinieer het. In hierdie herdefiniering staan Breyten Breytenbach, die digter, mens en denker soos ’n skakelende deurpos.  Elke gedig is soos ’n tekening of ’n skildery waarin tekens en betekenis in vloeiende verbande tot mekaar staan en waarin gunstelingtemas weer en weer ter sprake kom – elke keer uniek geskommel soos kwashale op die doeke van Jackson Pollock se skilderye of die stippels in ’n kaleidoskoop wat nooit ophou draai nie.

Die gedigte is chronologies gerangskik volgens die digter se lewensgang: jongmenslewe in Kaapstad, Parys, effektiewelike bannelingskap weens sy huwelik, terugkeer en tronkstraf, die buiteland. En oplaas ’n onrustige pendelaarslewe tussen noorde en suide van die aardbol, waarin volledige tuiskoms slegs in die arms van die liefde is.

Oor die skrywer: Breytenbach woon al dekades lank in Parys, Frankryk en is ook ’n bekende skilder. Sy poësie en prosa het in verskeie tale verskyn,maar sy werk is veral bekend in SuidAfrika, Frankryk, Nederland en Amerika. Hy het twee keer die Hertzogprys vir poësie ontvang. Hy word met reg beskou as een van die belangrikste lewende digters in Afrikaans.

 

[Human & Rousseau, 2019, 192 p.; Hardeband, Prys R300, ISBN13:9780798178761]

 


 

Verskuilde verse

Hennie Smith

Omslag

 

Hierdie bundel spreek van ’n diepgaande wetenskaplik-filosofiese insig oor die ontstaan van die kosmos en van die mens op hierdie planeet. Al die gedigte in die bundel berus egter nie op boustene uit die fisika nie. In die ses afdelings word gevoelige en diggekomponeerde gedigte geskep oor die wese van ’n gedig, oor die man-vrou-interaksie, oor die soeke na begrip oor bestaan, en oor die godheid wat agter die materiële skuil. Die sesde en laaste afdeling is Aandwoorde. In ’n gedig wat oor beurtkrag handel, word die lig gedoof. Al wat oorbly, is die flikkering van ’n kers vir die maak van ’n laaste vers. Die lewensloop word voltooi.

Hierdie bundel is ongewoon in dié opsig dat die digter meesterlik daarin slaag om die wetenskap te benut ten einde poësie te dien en te word. Voorts is die enkele eie Engelse gedigte indrukwekkend. Die bundel in sy geheel getuig van kohesie en fyn ontwerp.

 

[Naledi 2019. ISBN 978-1-928518-15-0]

 


 

Kryt   

Hennie Nortjé

Omslag

Aan die einde van die Kryt

kalk ‘n streep deur die krans

en bulder oor die afgrond uit:

Skrander aap, nou is jou kans!

In Hennie Nortjé se tweede digbundel (na die bekroonde In die skadu van soveel bome) kom die bokskryt van die menslike kondisie aan bod in ingehoue, subtiele en dikwels wrang humoristiese verse. Kryt bewoord die uitwissing van eras (soos die Kryttydperk); die impak van katastrofes op die heelal; die uitlewering van die mens aan bedreigings (onder meer die aanslag van bordkryt, en die uitkrytery tussen bevolkingsgroepe); die verbystering oor die skoonheid en wonders van die natuur; en die drang van die klein skepper om in die kryt te tree teen Tyd se sloping deur middel van kunsskepping. Geologiese, ekologiese en natuurhistoriese temas word vooropgestel, sowel as gedigte oor die natuur en kunstenaarskap wat lesers van sy vroeëre werk na aan die hart sal lê.

Oor die skrywer

Hennie Nortjé is in 1956 gebore en werk as mediese praktisyn. Sy bundel In die skadu van soveel bome het sowel die Eugène Maraisprys as die Ingrid Jonkerprys vir debuutwerk in 2013 gewen. Hy bly op Stellenbosch wanneer hy nie besig is om verre paaie te bewandel op soek na uitsonderlike bome en klippe nie.

[Queillerie, 2019. Prys: R240,00, Bladsye: 96, Formaat: 213mm x 137mm, Bindstyl: Sagteband, ISBN13:9780795802065]

 


 

Vlug van die gees  

Cas Vos

omslag

In die begin was daar net duisternis, ’n atoom, ’n saad, ’n onderbewyssyn. Hieruit word gedigte geskep wat na die sin van hierdie lewe vra. ’n Lewe omring deur ’n gebrek aan liefde en deernis, bedreig deur armoede, onreg, korrupsie, hooploosheid, siekte wat genees en siekte wat tot die dood lei.

Cas Vos se eie unieke idiolek kom na vore in hierdie ryk geskakeerde bundel. Spanning, metafore, ironieë, paradokse, en die kroon van alles, die liefde, wat die oerchaos oorwin, weef die bundel tot ’n hegte eenheid.

Oor die skrywer:

Cas Vos was vir 21 jaar lank verbonde aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretora. Vanaf 2000 tot met sy aftrede in 2010 was hy die Dekaan. Hy is vir sy teologiese werk met die Andrew Murray Prys en die Pieter van Drimmelen medalje deur die Akademie vir Kuns en Wetenskap bekroon. Hy het talle artikels wat in plaaslike en internasionale tydskrifte verskyn het, gepubliseer.

 [Naledi, ISBN: 978-1-928426-94-3, R220.00]

 


 

Voorspraak

Hendrik J. Botha

OMSLAG

Die eerste afdeling gedigte het as saambindende element die mens se fundamentele eensaamheid regdeur sy lewensreis. ‘n Tweede afdeling handel oor verskillende ruimtes wat verken word, met die diversiteit van dinge wat gevier word en die son as saambindende faktor. Die derde afdeling bevat gedigte teen die agtergrond van die mediese konteks, veral mediese verskynsels as prikkel vir besinnende verse oor metafisiese en ander kwessies soos religie, sosiale ongelykheid ens. Die vierde afdeling bevat liefdesgedigte, terwyl die vyfde afdeling die tema van die dood en sterflikheid ondersoek.

Hendrik J. Botha is ‘n narkotiseur. Hy het sy M.A. graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Joan Hambidge in 2013 met lof behaal.

Sy debuutbundel Atropos verskyn in 2015 en word gekortlys vir die Ingrid Jonker prys.

Hy woon in Pretoria.

 

[Naledi, 2019. Prys: R220. Formaat: 213 x 137 MM, 88p.  ISBN 978-1-928518-07-5]

 

 


 

Vandag is boordensvol

Vertalings uit die werk van Pablo Neruda deur De Waal Venter

Omslag

Die Spaanse digter Pablo Neruda is ’n reus op die verhoog van die wêreldletterkunde. De Waal Venter, Afrikaanse digter en skrywer, bring met hierdie wye keuse van vertalings die sorgsame en elementele wêreld van Neruda met groot toewyding aan die Afrikaanse leser.

  • Die woorde van ʼn digter en ʼn vertaler het mekaar hier gevind. Die Afrikaanse gevoels- en dinkwêreld word met hierdie bundel vertalings deur de Waal Venter eindeloos verruim.
  • Hierdie is ’n tydlose werk, toeganklik en leesbaar met ’n vars inslag!

De Waal Venter het jare lank in die reklamebedryf as kopieskrywer en vertaler gewerk. Hy het in Spaans ’n verwantskap met Afrikaans ontdek wat duideik tot die Afrikaanse leser spreek. ‘n Radiodrama uit sy pen,  Die werklike Buys Buys word in 1985 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met ’n Erepenning vir Afrikaanse Radiohoorspele. Dit word ook met die Idem-prys bekroon as die beste radiodrama van die jaar. Sy jongste digbundel, Oop sirkel, verskyn in 2017. Hy het ook verskeie kortverhale, kinderverhale, jeugverhale, TV-reekse, lirieke en verhoogdramas geskryf.

 

[Naledi, 2019. Sagteband, ISBN 9781928426851, prys R220, 114 p]

 


 

Die trouservies

Benno Barnard

Vertaal deur Daniel Hugo

Omslag

Benno Barnard is ‘n veelsydige Nederlandse skrywer wie se werk poësie, prosa, essays, toneeltekste en vertalings insluit. Binne en buite, verlede en hede, liefde en dood, die persoonlike en die openbare skep ’n tematiese rykdom en ’n boeiende estetiese spanning in sy werk.  Die verse self vertoon ‘n vaste vorm wat weens die digter se tegniese vernuf klinkklaar soos water vloei.

Benno Barnard se uitsonderlike stem is nou ook in Afrikaans hoorbaar danksy Daniel Hugo se teksgetroue maar soepel vertaling. In ’n nawoord plaas prof. Yves T’Sjoen hierdie gedigte in ‘n breër literêre en maatskaplike konteks.

Daniel Hugo het al meer as vyftig werke uit Nederlands in Afrikaans vertaal; dit sluit in romans, digbundels, asook kinder- en jeugboeke.  Hy is in 2014 en 2017 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy vertaling van onderskeidelik Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en Terpentyn. Deesdae is hy voltyds ’n vertaler en vryskut-taalpraktisyn.

 

[Naledi, 2019. Sagteband, 104p. Prys R220.  ISBN 978-1-928426-87-5]

 


 

Chrisalis                                      

Christo van der Westhuizen

Omslag

Chrisalis is die indrukwekkende debuut van ‘n digter wie se taal- en versvernuf die leser meevoer en meermale ook ontroer. In hierdie fyn afgewerkte gedigte word die grens tussen teks en werklikheid telkens getoets. Soos’n skoenlapper uit sy papie breek, so kom die digter self te voorskyn uit die chrisalis van sy vers. –Daniel Hugo

Dit is verse waarin realiteit self op sy kop gekeer word en waar die alledaagse vreemd gemaak word.- Johann de Lange

Biografie: Voor hy hom as kopieskrywer bekwaam het, was Christo van der Westhuizen voorheen onderwyser, taalpraktisyn, joernalis, boekeresensent en senior dosent in literatuurwetenskap, mediastudies en bemarking. Hy behaal sy D Litt aan Unisa. As bemarker is sy werk plaaslik en internasionaal bekroon – hiervan is sy konseptuele bydrae tot die AVBOB Poetry Project (wat uitgeloop het tot die publikasie van I wish I’d said) in 2018 deur M&M Global in Londen aangewys as die beste veldtog internasionaal in die sektor finansiële dienste. Christo is die medestigter en uitvoerende hoof van die Et al Groep.

 

[Naledi, 2019; R230, Sagteband. 104 p, ISBN 978-1-928426-95-0]

 


 

Brisant

Hein Viljoen

omslag

 

Hierdie bundel is ‘n postmoderne spanningsverhaal in epiese digvorm in die voetspore van moderne tekste soos Awater en The Waste Land. Dit vertel die verhaal van die verset van ‘n baie gewone man teen sy mislukkings en teen die magte wat sy lewe beheer – ‘n verset waarin hy hom gaandeweg laat verlei om ‘n bomplanter te word. Die sentrale temas van liefde, verraad en vergelding word uitgespeel in ‘n ryk intertekstuele verwysingsveld.

Biografie: Hein Viljoen is die skrywer van twee vorige digbundels. Waterkristal verskyn in 1982 en Holtrom en groot kabaal in 2007, naas ’n aantal gedigte in Literator en op Versindaba. Hy is afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands by die Noordwes-Universiteit. Hy is medeskrywer van Alkant olifant (1988), ’n inleiding tot die literatuurwetenskap, en ook twee bundels opstelle, nl. Storyscapes (2004) en Beyond the threshold (2007). In 2013 het ’n derde bundel opstelle verskyn, nl. Crossing borders, dissolving boundaries  (2013).

 

[Naledi, 2019. Sagteband, R220; ISBN 978-1-928426-66-0]

 


 

Alchemie van my muse

Pieter Hugo

Omslag

 

 

Alchemie van my muse is ‘n veelvlakkige debuut oor die lewe, die liefde en die lettere waarin die spel met die tradisie van die digkuns ontgin word. Die digter besin oor digterskap en tree postmodernisties in gesprek met ander digters soos Louw, Kirsch, Boerneef, gert vlok nel, e.a.  Daar word satiries gekyk na die posisie van Afrikaans. Die liefde word weerloos besing en oor besin, met nostalgie, humor en pyn.

Biografie: Pieter Hugo was een van die debutante in Nuwe stemme 4 van 2010. Van sy gedigte het ook al verskyn in New Contrast, Nuwe verset, Toulopers, Sterkykers en as strokiesgedigte in Rapport. Hy was voorheen ‘n onderwyser en ‘n gemeenskapsontwikkelaar. Hy woon tans in Kaapstad en dien op die bestuur van die Wes-Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens.

 

[Naledi, 2019. Sagteband, R220; ISBN 978-1-928426-73-8]

 


 

Nuwe vrese

Willem van der Merwe

Omslag

Die ontnugtering en nostalgie van die middeljare word hier in alle erns met humor en trefsekere taalgevoel verwoord. Die gedigte is ryk aan intertekstualiteit en slim woordspeling, vars en toeganklik vir alle oopkop lesers. Ou vrese word besweer en nuwes sinies en liries besing.  Van der Merwe is die troebadoer van die triestigheid, die hofnar van die huwelik, die digter van die droefheid en deernis, die filosoof van die suburbs, die bedrewe goëlaar met beeldspraak en meerduidigheid, die slinkse smokkelaar met intertekste.

Biografie:

Willem S. Van der Merwe was 24 jaar oud toe sy debuutbundel, Son-dig, in 1985 die lig gesien het.  Hierdie is sy tweede bundel. Hy woon en werk tussen Suid-Afrika en Hong Kong, waar hy ‘n videoproduksiebesigheid bestuur.

 

Uittreksel uit die gedig Moenie my pluk nie, ek pluk my moer, p11:

robbeneiland lê soos ’n roof

teen die blink horison

my seer lê vlak vandag

b(r)aaiers lê in die son:

somer is liefde, somer is sweet

somer is rose en sommer vergeet

 

[Naledi, 2019, R220, ISBN ….; 213 X 137 mm. 82 pp]

 


 

op weg na kû

Breyten Breytenbach

Omslag

op weg na kû is in vele opsigte ‘n gesamtkunstwerk, soortgelyk aan Katalekte in 2012. Die gedigte word begelei deur ‘n verskeidenheid foto’s, hetsy van landskappe of van Breyten se eie en ook ander kunstenaars se skilderye. Die manuskrip bevat ‘n rykdom bepeinsings, gedagtes, digterlike hoogtepunte en kort-kortverhale, en eindelik word die teks meer as die somtotaal van vers en beeld. In die woorde van Andries Visagie: “Dit word ‘n sintese van artistieke talent sonder weerga. Al die elemente in Breytenbach se literêre arsenaal – die voëls, die honde, die maan, die liefde, ballingskap, die metapoëtiese nadenke oor die woord en skryf – is hier aanwesig. Opnuut kan ‘n mens net in verbystering staan oor die oorweldigende digterlike idiolek wat die skrywer ontwikkel het.”

Breytenbach is een van ons mees bekroonde digters en woon al dekades lank in Parys, Frankryk. Hy is ook ‘n bekende skilder. Sy werk het in verskeie tale al verskyn. Hy word met reg beskou as een van die belangrikste lewende digters in Afrikaans.

 

 [H&R, 2019.Prys: R250, 255 bls.,  Sagteband. ISBN 978-0-7981-7862-4]

 


 

Verslag

Clinton V du Plessis

Omslag

Hierdie “Verslag” is die digter, Clinton V du Plessis, se tiende en laaste Afrikaanse digbundel. Hy besin oor sy lewe, en lewer in drie afdelings, getiteld Lewe, Werk en Dood, kommentaar op ʼn bestaan in hierdie land. Die bundel kan by  clintonvduplessis@gmail.com bestel word.

O, droewe en wye land

.

Kyk, Poppie (3), gee weer voor sy is dood beweer

 hy onder eed:

“dit het minstens 20 keer gebeur.”

Michael  (5),

het gespartel, toe verdrink

in ’n puttoilet, op skool.

In die Manenberg,

dáár waar die gun rule,

was Clayton (12) in die pad

van ’n verdwaalde koeël.

Só kan ons aanhou tel

en vertel van die hel

om hiér net kind te probeer wees.

[Uit: Verslag, deur Clinton V du Plessis. 2019]

[Roepman Uitgewers 2019. R200,00. Formaat: Sagteband, 228mm x 152mm,pp 128. ISBN 978-0-620-83540-4, ]

 


 

Jan, Piet, Koos en Jacob

Loftus Marais

Omslag

Dié derde bundel van Loftus Marais ontgin opnuut bekende temas uit die digter se oeuvre: verbruikerskultuur, manlike identiteit, tuis/ontuis wees in Suid Afrika, dikwels met ‘n vlymskerp humorsin en ‘n nog skerper visuele ingesteldheid. Die verse word saamgeryg in ‘n eenheid wat neig na ‘n naamlys, na ‘’n portretuitstalling en selfs na ‘n register van herinneringe.

Met dié verse vestig Marais hom as een van die mees behendige beoefenaars van die hedendaagse digkuns.

Oor die outeur:

Loftus Marais is in 1982 in die Paarl gebore. Hy verwerf sy MA-graad in Kreatiewe Skryfkunde cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, het vyf literêre toekennings ontvang. Kry my by die gewone plek aguur volg vier jaar later. Hy woon in Johannesburg en werk in die televisiebedryf.

 

[Human & Rousseau, 2019; Prys : *R250, Bladsye : 64, Formaat : 234 mm x 152 MM;  Sagteband, ISBN13: 9780798177177]

 


 

Stof en ster

Pieter Fourie

omslag

Deernisvol verken die digter in hierdie bundel ʼn denkbeeldige gemeenskap met herkenbare karakters. Die gedigte verbeeld samehorigheid en verlies in ʼn spektrum van komiese en dramatiese emosies.  Polsend van liefde en die lewe, deurspek met legendes en mites, word die dorpie in sy tydlose volheid vertoon. Uiteindelik vind die leser in die karakters se universaliteit sy of haar eie kleurvolle menswees terug.

 

Oor die outeur:

Die skrywer is ‘n Hertzogpryswenner, asook een van die mees bekroonde en bekendste dramaturge in Afrikaans. Benewens skrywer is hy ook ‘n ervare akteur, regisseur en toneelorganiseerder. Hy ontvang sy ere-doktorsgraad in 2011 (dieselfde jaar as Desmond Tutu) aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy vorige twee digbundels is Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018).

Hierdie bundel word ywerig ingewag deur gewone lesers sowel as akademici.

*
smiddae sit willem stoepsluimer
knip ’n uiltjie en wag die skemer in
die leë bed laat hom snags koud
sy liewe bet was net dertig jaar oud

vannag kyk hy sterre en mymer

triljoene korrels kalkskerfiegruis
sleep breed ’n wit uitspansel oop
hang dynswit ’n spikkelwindseil
wat deur alle eeue die dag in loop

(Uit: Stof en ster. Pieter Fourie. Naledi, 2019)

 

[Naledi, 2019, R220, Sagteband, ISBN 978-1-928426-70-7]

 


 

Die jaar toe Pa …

Hannes Visser

omslag

Dit is die jaar 1967. ‘n Tienjarige seun in ‘n disfunksionele mynwerkershuis op die Wesrand is aan die woord. Met gestroopte verse vertel hy van die mense wat instaan en help om sin te gee aan wat om hom gebeur. Deur hierdie gedigte ervaar die leser die absurditeit van die staatsstelsel in die 60’s asook die wyse waarop ‘n kind sin maak van wat in die grootmenswêreld aangaan. Sewe van die gedigte is verlede jaar in die bundel Nuwe Stemme 6 opgeneem en het uiters positiewe reaksie ontlok.

Hannes Visser behaal ‘n Onderwysdiploma en het in Roodepoort sy eerste onderwyspos beklee. Hy het in 2012 saam met 11 ander digters die bundel Boksemdais 2 uitgegee en al verskeie pryse by die Bloemfonteinse skrywersvereniging se landwye kompetisies gewen. In 2013 het hy eersteplek in die kortverhaalafdeling gewen sowel as tweede plek in die poësie-afdeling. In 2017 wen hy tweede plek in prosa-afdeling – kortverhale en in 2018 ‘n eerste plek in poësie-afdeling in ‘n landswye kompetisie. Hy is tans die redakteur van die Oudtshoorn Courant.

Vrydag 5 Mei

 

ma speel ’n plaat

van jim reeves

adios amigo en

distant drums en

pa speel saam

op sy kitaar

 

oom flip sê

jim reeves is nie

dood in ’n vliegtuig

soos die mense sê nie

hy is ’n kommunis

agter die ystergordyn

 

pa sê fok jou

hy was ’n goeie man

hy is kimberley jim

en hy was al hier

 

(Uit: die jaar toe Pa. Hannes Visser. Naledi, 2019)

 

[Naledi, 2019. R220, Sagterband, ISBN 978-1-928426-65-3]

 


 

Donkerwerk

Nini Bennett

Omslag

In Donkerwerk word daar gefokus op die dialektiese interafhanklik-heid van alle dinge. Daar word besin oor die nietigheid van die mens teenoor die mistieke grootsheid van die heelal, maar ook op die verhouding tussen die mens en die natuur.

Tematies handel die verse oor kinderloosheid, verganklikheid, die liefde, familie, geskiedenis, musiek en oorlog. Bekendes soos Dracula, Paul Celan en Stephen Hawking word aan die hand van portretstudies verbeeld, terwyl sosiale en persoonlike onrus die spilpunt van sommige verse vorm.

Oor die outeur:

Nini Bennett behaal haar MA-graad in Skeppende Skryfkuns met lof aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden. In 2002 debuteer sy met ’n bundel kortverhale Stoornis, wat in 2003 bekroon word met die UJ-debuutprys. In 2008 wen sy die internasionale Room to Read-prys in die kategorie Afrikaans, en die jeugverhaal, Die storie van Vusi se orkes, sien die lig in elf amptelike landstale. Haar debuutdigbundel, Kodeks verskyn in 2011 en Boekstaaf in 2015. Sy woon in Kaapstad. Donkerwerk is haar derde digbundel.

 

Genus

Ons is die geveerde begeerte

van swaartekrag; swerfklip

se sleur in valleie

van verlatenheid. Ons leef,

die stamlyn van sterre

weinig meer

as organismes wat in die kelders

van ou vulkane voed. Ons dring

dieper as die oseaan se mantels

deur die sonlig- en skemer-

en digter as die middernagstreke vóór

die abissale vlaktes

die donkerwerk

van Hades binnegaan. Ons is

stofnaam; weinig meer.

(Uit: Donkerwerk, deur Nini Bennett.  Naledi, 2019)

 

[Naledi, 2019. Prys: R220, Formaat: sagteband213mm x 137mm.  ISBN: 978-1-928426-60-8]

 


 

Grondwater

Marlise Joubert

omslag

Grondwater sluit aan by die vorige bundels van die gevestigde digter Marlise Joubert, maar het ’n boustof wat getuig van ’n nuwe stel lewenservaringe wat dit laat affilieer by die groeiende tradisie in Afrikaanse laatwerk.

Dit is ’n bundel wat spreek van die spreker se terugblik op ’n leeftyd, haar jeugjare, die besef van eie sterflikheid, digmaak, sosio-politiese kwessies, kleinkinders en die ontginningsproses van die biologiese en psigologiese wortels van die self en die mens, van die impak van ouerfigure en veral van die gestorwe moeder.

.

                  OOR DIE OUTEUR

Marlise Joubert debuteer in 1971 met die digbundel ’n Boot in die woestyn. Sy het in haar leeftyd drie romans gepubliseer, te wete Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981), asook verskeie kortverhale in tydskrifte gepubliseer. Sy skryf verskeie radiodramas en is vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Verder is sy die samesteller van In a burning sea, ‘n bloemlesing met 30 Afrikaanse digters se verse wat in Engels vertaal is. Haar bundel splinterverk word genomineer vir die SALA Poësieprys. Haar agste digbundel, bladspieël, verskyn in 2015 en word genomineer vir die Elisabeth Eybers Poësieprys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Sy skryf en skilder tans voltyds, en vertaal soms kinderboeke.

 

berg

 

waarheen dan nou

watter kant suid of noord

hoe ver vir ander grond terwyl

ek opkyk na die berg, o die berg

in wasemstilte vasgevang blou monnik

geanker in sy aard met riempieshande gevou

oor kontoere in sy skoot asof smekende:

verlos ons berge van die waternood

en alle ander node maar

 

sien jy my dan ook en hoe my oë

jou aai hoe ek jou in hart en long steeds hou

wat van mý want waarheen moet ek gaan

waar skadu’s gordel teen die songeskroei

waar is méér lig geiler ruimtes en

koestering watter kant suid of noord

hoe ver is so ’n reis vir ander grond

en berg hoe naby aan die ver

kant van die dood?

 

(Uit: grondwater. Marlise Joubert, Protea Boekhuis, 2019)

[Protea Boekhuis 2019. R160.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-4853-1020-4. Formaat : 213 x 137 mm; Sagteband, 112 bls]

 


 

Berigte uit die skemerland

Dolf van Niekerk

omslag

Met hierdie versameling gedigte, wat Dolf van Niekerk rondom sy 90ste verjaardag geskryf het, peins die digter oor die lewensfase waarin hy hom nou bevind. Hy noem die gedigte “berigte”, asof hy aan die lesers nuus wil oordra oor sy ervaring terwyl hy hom in ’n skemerland bevind, die land tussen dag en nag, tussen lig en donker. Hy kyk ook terug na die hartseer en eensaamheid wat deel was van sy kinder- en volwasse jare, met die besef dat hy van vroeg af ’n enkeling was.

           Die digter vind parallelle vir sy eie lewe wanneer hy nadink oor die geskiedenis van die aarde, die mens en die beskawing, met hoogtepunte en tye van opbloei, maar ook besef dat agteruitgang onvermydelik deel daarvan is. Die wisseling van dag en nag en die seisoene dra by tot ’n gevoel van berusting en aanvaarding. Hoewel die skemer ’n tyd van afskeid is, is dit ook “tyd vir die engele”, ’n sagte tyd waarin die mens genoeg lig het om die onsienlike te kan sien en die ondenkbare te kan bedink. Te midde van die twyfel wat die mens hier op aarde ervaar, kan hy ook sekerheid verwag in sy soeke na die ware lig tussen die twee pole van lig en duister.

Berigte uit die skemerland is ’n digbundel waarin die groot filosofiese vrae oor die sin van die menslike bestaan, die ware, die goeie en die skone, gestalte kry in verse oor die lewe van ’n individu.

DIE SKRYWER

Dolf van Niekerk is ’n merkwaardige denker en veelsydige skrywer. Hy is veral bekend vir sy roman Die son struikel en die jeugverhaal Skrik kom huis toe, maar hy is ook ’n gerekende digter. Hy woon in Pretoria en is beskikbaar vir onderhoude.

Die gedigte oor die ouderdom en die betekenis van die lewe is toeganklik vir alle lesers, maar as van Dolf van Niekerk se beste werk, spreek dit ook tot die kieskeurige leser.

 

[Imprimatur, 2019. PRYS: R150.00 (BTW ingesluit), ISBN: 978-0-620-825611-2. FORMAAT: 222 x 152 mm; sagteband, 60 bls] www.imprimatur.co.za

 

.

>> 2018 Publikasies

.

Vervolg

Ander digbundels in die jaartal: 2020  2019 2018  2017,  2016  2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé)
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius

Nuutste bydraes

  • Resensie: “De Ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)
  • Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)
  • Jacobus Swart. Franz Kafka
  • Gerard Scharn. Abstract portret door Wopko Jensma
  • Marthé McLoud. Gogo

Nuutste kommentaar

  1. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

  2. Ena on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Mooi, Celeste!

  3. Barbara Steyn on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Soooo mooi beskryf!!!

  4. Anira van der Walt on Floris van Zyl. ‘n tafereel van haat en lus en liefde7 May 2025

    Pragtige gedig Floris.

  5. Anita Van der Walt on Nuwe Versindaba-kompetisie: Skryf ‘n ekfrastiese gedig7 May 2025

    Ekfrasties se moer Eksellent eksekutief Eksklusief eksegeties Eksoties beproef

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d