Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Digbundels (2017)

2017 Publikasies

Ander digbundels in die jaartal:

2018   2017,  2016  2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010

.

Gesant van die Mispels

Marlene van Niekerk

Gesant van die mispels

Met dié bundel beeldgedigte stel Marlene van Niekerk op ’n oorspronklike en toeganklike manier die minder bekende Nederlandse skilder Adriaen Coorte (1658?-1707) bekend. Sy lewer daarmee nogeens ’n bewys van die vernuwende aard van haar werk.

Die gedigte verteenwoordig ’n fantasieryke ondersoek na die moontlike momente van skildersinspirasie, die tegniese aspekte van die skilderproses, en die artistieke opvattings en historiese konteks van die kunstenaar: Van Niekerk maak haarself en die kyker as ’t ware tot intieme toeskouers van dié twee skilders se stillewes. Uiteindelik verteenwoordig sowel die skilderye as die gedigte oomblikke van stille refleksie in roerige tye – die nederigste, kleinste objekte, soos wat hulle met toewyding verewig is deur Coorte en Mankes word in die gedigte versigtig herneem en insigtelik gemaak. Volgens wyle Henning Snyman is die bundels “’’n poëtiese én grammatikale kragtoer”, en ten slotte “’n ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.

Marlene van Niekerk is ‘n internasionaal bekroonde digter en romansier. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995, en tien jaar later Agaat. Haar mees onlangse digbundel is Kaar, bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 2014. Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.  (Human & Rousseau, 2017. Prys : *R250, Bladsye : 68, Formaat : 250 mm x 160 mm,  Sagteband, ISBN-13 : 9780798176552)

 .

.

In die stille agterkamer

Marlene van Niekerk

In die stille agterkamer

Met dié bundel beeldgedigte stel Marlene van Niekerk op ’n oorspronklike en toeganklike manier die minder bekende Nederlandse skilder Jan Mankes (1889-1920) bekend. Sy lewer daarmee nogeens ’n bewys van die vernuwende aard van haar werk.

Die gedigte verteenwoordig ’n fantasieryke ondersoek na die moontlike momente van skildersinspirasie, die tegniese aspekte van die skilderproses, en die artistieke opvattings en historiese konteks van die kunstenaar: Van Niekerk maak haarself en die kyker as ’t ware tot intieme toeskouers van dié twee skilders se stillewes. Uiteindelik verteenwoordig sowel die skilderye as die gedigte oomblikke van stille refleksie in roerige tye – die nederigste, kleinste objekte, soos wat hulle met toewyding verewig is deur Coorte en Mankes word in die gedigte versigtig herneem en insigtelik gemaak. Volgens wyle Henning Snyman is die bundels “’’n poëtiese én grammatikale kragtoer”, en ten slotte “’n ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.

Marlene van Niekerk is ‘n internasionaal bekroonde digter en romansier. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995, en tien jaar later Agaat. Haar mees onlangse digbundel is Kaar, bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 2014.Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. (Human & Rousseau, 2017. Prys : *R250, Bladsye : 68, Formaat : 250 mm x 160 mm,  Sagteband, ISBN-13 : 9780798176545)

.

Die sin van die hut

Gilbert Gibson

Die sin van die hut

Weer eens ’n verrassende, andersoortige digbundel deur dié talentvolle  en bekroonde digter van die Vrystaat.  Gibson  is reeds bekend vir die wyse waarop hy taal ondermyn, selfs benadeel, en so nuwe betekenisse  herskep/ontdek.

Die bundel  bevat  baie liriese oomblikke tydens hierdie ontdekkingstog. Die hut bied net soos die taal beskerming, maar  die ‘ek’ wil ook daaruit  wegbreek en ontsnap.

Oor die skrywer: Gilbert Gibson  is in die Vrystaat  gebore en praktiseer as internis in Bloemfontein. Sy debuutbundel Boomplaats ontvang in 2006 die Protea-poësieprys. Hierop volg Kaplyn (2007),  Oogensiklopedie (2009),  vii ​(2013) en ​vry- (2015).  Vir lg. ontvang hy die Elisabeth Eybers-prys vir  poësie, die ATKV Woordveertjie vir poësie en ook ’n SALA-toekenning.

.

.

(drumpel)

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer

(Uit: Die sin van die hut, 2017)

(Human & Rousseau, 2017. Prys: R225; Bladsye : 80, Formaat : 234 mm x 152 mm, Sagteband. ISBN-13: 9780798176934 )

.

.

.

Aantekeninge teen die skemeruur

Clinton V. du Plessis

omslag

In hierdie bundel maak die ouerwordende digter aantekeninge teen die naderende skemeruur. Hy loop , deur sewe afdelings,  terug op die spoor van sy lewe en hierdie land, tree in gesprek met ander digters en worstel met die bagasie van taal en die onmag van woorde.

(ISBN: 978-0-9946913-5-4, 210 mm x 148 mm; Sagteband, bladsye 145;  Cordis Trust Publikasies, 2017; Prys R200, posgeld ingesluit). Bestel vanaf : clintonvduplessis@gmail.com

.

.

.

Taalles 101

jy vergeet

die taal was in boipatong

(the place of hiding)

aan ’n stewel wat snags ’n deur

in sy moer kon skop

of koevoet

of in die loop van ’n pistool geknaldemper

op die tweede verdieping van ’n vermeende skuilhuis

in ’n buurland

met twee verdwaasde kinders

wat wees wonder

oor die stillewe

van hul ouers se bloedbedruipte lyke op die vloer

die taal het ’n balaklawa gedra

as die derde mag in die donker lokasies van teeninsurgensie

die sweterige hande met kapmesse in mynhostelle

het mombakkies aangesit die aangesig

askariswart gesmeer

handskoene

het die koverte vingerafdrukke van afsku verbloem

die taal was ’n fopmyn

’n briefbom fraai vermom

(Uit: Aantekeninge teen die skemeruur. Clinton du Plessis. 2017)

.

.

Koebesie

Trienke Laurie

omslag

Trienke Laurie se reise en kopreise kry gestalte in ‘n sestigtal gedigte. Haar verwondering oor die natuur, haar respek vir eeue-oue kulture en religieuse belewenis kom saam in toeganklike verse, afgewissel met ligter gedigte waarin verontwaardiging oor sekere tendense van ons samelewing tot uiting kom en waardeur ‘n sin vir humor uitstraal.Talle van die verse word verder versterk deur die digter se eie illustrasies.

In sommige gedigte is daar verwondering aan die mens se maaksels: ‘n pottebakker in ou Griekeland en ‘n glasblaser in moderne België; die natuur se wonders: karetskilpaaie op ‘n Griekse eiland, muggies vasgevang in amber in Pole.

Burg by Culemborg

U is vir my ’n burg
waar ek heen kan vlug
weg van vyandige mense;
U is vir my ’n brug
wat my ruimte verbrei
tussen uiterse grense.

Trienke Laurie het in 1997 met haar debuutbundel Skietspoel die Ingrid Jonker-prys verower. Sy is ook ‘n kunstenares wat, op een na, vir al haar omslae self die skilderwerk gedoen het. Koebesie, haar vyfde bundel, is egter die eerste een waarin van haar  tekeninge en skilderye ook binne die teks gebruik word. (Corals Uitgewers, 2017. Prys: R130. Bladsye: 80. Formaat: 210mm by 145mm. Sagteband. ISBN 978-0-9922112-7-1)

.

Vuurvas

Carel Anthonissen

Omslag

Die gedigte gaan oor die onskuld en verwagtinge van ‘n kind in sy eerste landskap, die ontnugtering en vervreemding wat die volwasse bestaan meebring, en die uiteindelike aanvaarding en omarming van pyn, siekte, ouderdom en dood. Vuurvas is nie alleen ‘n verwysing na die onvernietigbare kiem van hoop, regskapenheid en welwillendheid in die mens nie, maar dien ook as ‘n voorbeeld van aandagtige en gevoelige omgang met taal en verwoording.

.

Oor die skrywer:

Carel Athonissen het reeds enkele Engelse gedigte in ‘n reeks van drie bloemlesings (oor Afrika, oorlog en liefde ) gepubliseer. In 2015 is hy gelanglys vir die Sol Plaatje UE kompetisie. Een van sy gedigte is daarna opgeneem in The Sol Plaatje, European Union Poetry Anthology, Vol V. In 2016 is twee van sy Afrikaanse gedigte ook opgeneem in Stanzas Nommer 6, Desember 2016 ( R 190.00, Sagteband • 136 p, 213 mm x 137 mm; ISBN: 978-0-928316-97-1, Naledi, 2017)

 .

.

Intiem

om intiem te wees is om te onthou:

die stiller aanblik, die gloeiende mond

’n enkele wimper, één flitsende haar

en dat ons woorde met mekaar nooit

selfbewus of leeg was nie

maar altyd vrolik sonder swaar gordyne

of einder

die nagolf van ’n snaar wat onverwags

gepluk is

(Uit: Vuurvas, 2017)

.

.

Die goddelike komedie

Cas Vos (vert.)

Omslag

In hierdie bundel durf die skrywer Danté Alighieri se briljante werk aan. Hy bewys homself as uitmuntende vertaler.

Danté se lang reis kan tematies verbind word met Israel se uittog verhaal. Met sy La Divina Commedia beoog Danté om die boosheid van die mens aan die kaak te stel en roep hy die mens op om saam te werk aan die skepping van ’n beter samelewing van vrede en orde onder leiding van ’n goeie keiser en pous.

Oor die vertaler: Cas Vos was dekaan van die fakulteit Teologie van UP van 2000 tot 2010. Hy het die Andrew Murray Prys ontvang asook die Pieter van Drimmelen medal­je vir sy teologiese werk by die Akademie vir Kuns en Wetenskap. Hy het verskeie artikels in plaaslike en internasionale tydskrifte gepubliseer. Sy mees onlangse werk is sy bundel In ‘n oomblik (2016).

(R 175.00, Sagteband • 136 p, 213 mm x 137 mm , ISBN: 978-0-928316-85-8. Naledi, 2007)

Voorlesings:

Aleppo: https://youtu.be/2Qh1qD8K8PE

Die Goddelike Komedie: https://youtu.be/OOACiJb0avQ

.

.

Nuwe Stemme 6

Samestellers: Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé

Nuwe stemme 6

Nuwe stemme gee vir die varsste, nuutste stemme in Afrikaans ‘n plek om hulself te laat hoor. Die sukses van die projek kan gesien word in die vorige deelnemers wat nou gevestigde skrywers is: Ronelda Kamfer, Gilbert Gibson, Loftus Marais, Kirby van der Merwe en Tom Dreyer en vele meer. Hierdie uitgawe word saamgestel deur Charl-Pierre Naudè en Bibi Slippers. As jy wil weet hoe lyk die skrywers van die toekoms, lees Nuwe stemme 6. (Tafelberg, 2017. Prys : *R240, Bladsye : 176, Formaat : 198 mm x 130 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780624082644, Epub-ISBN : N/A)

Samestellers:

‘Hier is gedigte in die bundel wat nuut is op dieselfde manier as nuwe skoene. Die eerste dag is dit dalk ongemaklik en skaaf dit so bietjie, maar jou voete sal vinnig aanpas en die skoene intrap – en voor jy weet is dit jou nuwe gunstelingpaar.’ (BS) Bibi Slippers is ‘n digter en joernalis wat werk in die TV-bedryf. Haar debuutbundel Fotostaatmasjien is onder andere met die Eugène Maraisprys vir poësie bekroon.

‘Ek het gesoek na gedigte wat ‘n wesenlike kern van gevoel ofwaarneming of mymering gehad het: ‘n moment van gravitasie, selfs net ‘n vae vonk in die agterte iewers; en die digter dan meer bewus hiervan probeer maak. Van daar af vat hulle self die pad.Ek dink die digters wat hier bymekaar is, word binne bundelverb and elk herkenbaar aan ‘n “merk”. Digterlike uitinge maak “etekenispatrone”. Dink aan ‘n vingerafdruk, dit word ‘n identifikasie van die outeur daarvan.’ (CPN) Charl-Pierre Naudé is ’n bekroonde digter en ook bekend as prosaskrywer, boek- en filmresensent en rubriekskrywer.

.

.

Oop sirkel

De Waal Venter

Omslag

Oop sirkel deur De Waal Venter bevat opwindende gedigte met ongewone benaderings wat op mekaar inspeel in nie minder as agt afdelings nie. Dit sluit ook ‘n groepie prosagedigte in. Die titel “Oop sirkel” is gemotiveer deur verskeie aspekte van die gedigte in die bundel. ’n Hele paar gedigte het te doen met geboorte, groei en kindertyd. Dit is die begin van ’n lewensiklus waarvan verskillende stadia in ander gedigte beskryf word. En hierdie siklus of “kring” is “oop” in die sin dat die leser op enige punt daarvan toegang kan kry. ’n Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ’n sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt.

In die gedig “Ontwyking van die voorskrifte van mens se ouers” word daar gepraat van hoe die ontstaan van die spreker in die gedig “beplan” word. Die gedig dui dus op ’n tyd nog voor die spreker gebore is.

“Oor die volgende ses dae

is daar heelwat modelle oorweeg,

almal vroom, sterk, slim en deugdelik;

op die sewende dag het hulle nie beplan nie –

dit was sabbat.”

Biografiese inligting:

De Waal Venter het benewens poësie, ook jeugboeke, kinderboeke, radiodramas, ’n film-draaiboek, kortverhale, verhoogstukke en TV-reekse geskryf, asook musiek-lirieke. Vorige publikasies: Kiem; Pols en Klawer (saam met DPM Botes en Menno Stenvert). Hy vertaal gereeld gedigte van o.a. die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans. Hy vind vertaling verrykend en bevrugtend vir sy eie werk. Hy is ook ‘n essayis wat maandeliks literêre essays op Versindaba plaas. Venter het ‘n wye belangstelling wat letterkunde, natuurkunde, sport, politiek, taalwetenskap en biologiese en ander vertakkinge van die wetenskap en tegnologie insluit. Venter het verskeie beroepe in sy lang loopbaan beoefen: joernalis, reklameskrywer, radio-aanbieder en stadsraadslid. Hy skryf tans voltyds en woon aan die Wes-Rand.  [Naledi, 2017. R 175.00 Sagteband • 112 p, ISBN: 978-0-928316-73-5]

.

.

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte

Cas Vos (Samesteller)

Omslag

‘n Versamelbundel van die gewildste Christelike gedigte in Afrikaans, saamgestel deur Cas Vos. Dit bevat nie net geliefde gedigte uit die kanon nie, maar ook nuwe verse wat spesiaal vir dié bundel geskryf is. Die digters sluit in: Boerneef, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Lina Spies, I.L. de Villiers, Joan Hambidge, Sheila Cussons, T.T. Cloete en Daniel Hugo.Die verse is baie toeganklik – ook perfek vir aanhaling vir menige geleenthede. ( Lux Verbi, 2017. Prys R280,    272 pp, 243 x 152 mm. Sagteband, ISBN-13 9780796320148)

Oor die Samesteller : Cas Vos was die Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Akademie aan hom toegeken. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Intussen volg menige boeke, artikels, digbundels en vertalings van klassieke werke. Hy bly in Pretoria.

.

.

God die digter

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie

in moremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur ’n digter gemaak

TT Cloete

.

.

Op die Vingerpunte van die Heelal

René Bohnen

Omslag

Hierdie poësie gaan oor verhoudings en patrone. Tussen mense, tussen mens en omgewing, tussen nommers en geloof. Dit is ʼn bundel oor broosheid, struktuur en verval.

Weerloosheid en weerbaarheid van mens en landskap word geteken, daar word gekyk na die kwesbare samehang van die geheel en na onregte op sosiale vlak. Die digter pak ʼn kronkelende reis aan na die onsekere tussenruimtes van bestaan.

Die verse verken bekende kunstenaars aan die hand van persoonlike belewenisse, (en andersom). Om die Ander te besoek is om die Self te begin ontsyfer.

.

.

.

Mensboom

(my bloed fluister name)

laas nag het wortels uit my lyf gespruit,

in skynlote oor ’n vleiland gekruip

ek was magies en hoog ’n haselboom –

my oë het vervloei en gestol tot murg van neut

tot roomkwaliteit en die pit van weet

ek groei voor die aangesig

van die oppergees van ’n gedig

ek is ’n haseldroom en ek is salm-oud

oor mý heers mercurius en die see

.

daarom swem visse en ’n god stroomop in my takke

daarom is die name silwer in my bloed

.

(Uit: Op die vingerpunte van die heelal, Naledi, 2017)

Biografie: René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny en volg dit op met In die Niks Al Om in 2011.  Haar gedigte was ingesluit in verskeie bloemlesings soos Die Groot Verseboek in 2008 en Die heel mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte in 2015. Haar gedigte was ook ingesluit in The Sol Plaatje European Union Poetry Anthology Volume VI. Sy geniet die vermenging van genres en verskeie van haar gedigte is getoonset, een so ’n gedig is nou voorgeskryf in die nasionale ATKV Koorkompetisie. (Naledi, 2017. R 175.00, Sagteband • 112 p, 213 mm x 137 mm . ISBN: 978-0-928316-95-7)

.

nou-hier

Corné Coetzee

nou-hier

Dié hoogs afgeronde digdebuut van Corné Coetzee is ’n opwindende gebeurtenis in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Coetzee het ’n sonderlinge styl en toonaard. Op die oppervlak roer daar ‘n oënskynlike eenvoud, maar onderliggend is ’n web van deurdagtheid versteek. Volgens een keurder word die gedigte veral gekenmerk aan ’n fyn balans tussen emosie en mymering/waarneming – iets wat herinner aan sommige historiese digkunsvorme uit Japan en China. Coetzee put uit die wêreld van die huisvrou, die groei en verbrokkeling, vreugde en pyn van verhoudings, die Boeddha, die omgewing en die hier-en-nou soos gesetel in die durende gang van lewe en dood.

.

.

Hoogsomer

.

Wat sou ons gemaak het

as ons geweet het,

daardie volmaakte Februariemiddag,

dat die laaste vy ryp geword het

en die eerste blaar

sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?

’n Mens is tog geen vyeboom nie

’n Mens kon tog plan gemaak het

Biografie:  Corné Coetzee het in Pretoria grootgeword en in biblioteke gewerk voordat sy joernalis, teaterresensent en subredakteur geword het. Ná kinders het sy begin tydskrifartikels skryf oor veral die omgewing. Sy het in 2015 ’n MA (kreatiewe skryfkuns) by Tukkies voltooi. Sy woon saam met Hans Pienaar en een van hul dogters in Johannesburg.

(Human & Rousseau, 2017. Prys : R200, Bladsye : 64, Formaat : 234 mm x 152 mm,  Sagteband. ISBN-13 : 780798176200, Epub-ISBN : N/A Mobi-ISBN : N/A)

.

Krap uit die see

Fourie Botha

Omslag

Krap uit die see is die tweede bundel van die jong digter Fourie Botha. Soos sy debuutbundel Donkerkamer wat op die kortlys vir die 2013 Ingrid Jonkerprys was, sluit Krap uit die see aan by die debat oor manlikheid, wat sowel geweld, lyflikheid, die vaderfiguur, homo-erotiek en doodgewone huislikheid van twee mans wat saamwoon insluit. Die see is ’n deurlopende motief, die oerbron waaruit alle lewe kruip, in gedigte oor familieverhoudings, die liefde en erotiek. Grense tussen lewe en dood, droom en werklikheid, mens en dier vervloei op surrealistiese wyse.

OOR DIE OUTEUR:

Fourie Botha word groot in Bethal op die Hoëveld en op Nietverdiend in die Marico-Bosveld. Aan die Universiteit van Pretoria studeer hy Uitgewerswese en Engels en gee vir ’n paar jaar opvoedkundige boeke uit. In 2008 voltooi hy ’n meestersgraad in Engelse letterkunde en skryf daarna by die Universiteit van Kaapstad in vir ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder Joan Hambidge. Tans is hy die uitgewer van plaaslike fiksie by Penguin Random House in Kaapstad. Sy gedigte word opgeneem in die versamelbundel “Nuwe stemme 4”, waarna hy debuteer met “Donkerkamer”, ’n bundel wat in 2013 vir die Ingrid Jonkerprys gekortlys is.

(Protea Boekhuis, 2017. PRYS: R160.00 (BTW ingesluit), ISBN:    978-1-4853-0757-0 (gedrukte boek), 978-1-4853-0758-7 (e-boek). 978-1-4853-0759-4 (ePub), FORMAAT: 213 x 137 mm, Sagteband, pp 64)

.

.

Radbraak

Jolyn Phillips

Omslag

Radbraak is Jolyn Phillips, kortverhaalskrywer van Tjieng tjang tjerries, se digdebuut in Afrikaans. In dié digbundel verbrokkel sy taal, draai sy die rug op haar vel-taal, pleeg sy ‘radbraak’ op haar eie taal.

Dit is die enigste medium wat sy het, maar sy breek dit, sy vernuwe dit, sy ‘ont’taal dit. Phillips is ’n nuwe stem in Afrikaans – by tye liries maar deurgaans skreiend en ook uitdagend.

Volgens die bekroonde digter Petra Müller is Radbraak ’n ‘klein aardbewing van ’n bundel. Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.’

.

.

.

my ma in C-majeur

.

sy het net haar stem

wat uit haar hande sing

die nette stitch

do

re

mi

fa

never-ending

so

la

ti

do

sing sy uit haar hande

my ma laat my dink aan see-majeur

sonder sharps of flats

die maklikste die mooiste

omdat dit so skoon is

sy fluit die vis tot byt

haar vel gee ’n kernstemming op A vir die son

vir die golwe want haar seun fluit êrens

sy hoor sy do re mi fa woorde geskepe vir haar

[Human & Rousseau, 2017, Prys : *R180, Bladsye : 64. ; 234 mm x 152 mm, Sagteband, ISBN-13 : 9780798176163.]

.

.

Uittogboek                 
Johan Myburg

Omslag

Uittogboek – ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig – is ’n hoogtepunt in die digter Johan Myburg se oeuvre. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Die samebindende gegewe van die bundel is die Romeinse keiser Hadrianus (76–138 n.C.), en die bundel open met sy bekende sterfgedig in Latyn en Myburg se trefsekere vertaling daarvan in Afrikaans. Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower.

OOR DIE OUTEUR

Binne die bestek van drie digbundels het Johan Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns; in hoofsaak omrede elke publikasie van hom van ʼn fyn vakmanskap getuig wat nie net sy eie nie, maar die totale digkuns verruim. Hy debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel, Kontrafak (1994) word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn die indrukwekkende Kamermusiek; ʼn bundel waar die kamer die sentrale ruimte is waarbinne handeling afspeel. Benewens digter is Myburg ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en teologie gestudeer en is tans besig met nagraadse studie in visuele kunste. (Protea Boekhuis, 2017. PRYS: R150.00,BTW  ingesluit,  ISBN: gedrukte boek: 978-1-4853-0776-1, e-boek: 978-1-4853-0777-8, ePub: 978-1-4853-0778-5, FORMAAT: 215 x 153 mm, Sagteband, Aantal bladsye: 100)

.

knapsekêrels

pieter fourie

Omslag

Die gedigte in hierdie debuutbundel handel onder meer oor ‘n byna uitgestorwe plattelandse lewe met tradisionele gebruike en ambagte. Tog word dit haarskerp en klokhelder verwoord sodat ook die moderne stadsmens aanklank daarby kan vind. Hy skryf ewe meevoerend oor die stad (Kaapstad) se leefruimte. Daar is ook aktuele gedigte oor Suid-Afrikaanse toestande, tydlose verse oor die dood en prikkelende, maar ook skreiende uitbeeldings van die liefde. Die verse het ‘n eie, unieke klank en styl. Die minimalistiese woordgebruik is besonder suggestieryk en skep dikwels meerduidighede – betekeniseggo’s wat naklinkend in die leser se kop bly draai. Die beelde en klanke klou inderdaad aan jou vas soos knapsekêrels.

Die skrywer is ’n Hertzogpryswenner asook die mees bekroonde en gepubliseerde dramaturg in Afrikaans. Hy skryf onder meer Faan se Trein en Mooi Maria .Hy word op 77 die oudste debutant in die Afrikaanse poësie. Sy kwantumsprong van dramaturg tot digter is getrou aan die aard van Fourie se hele loopbaan. Die vestiging van die KKNK as eerste Uitvoerende Hoof is maar een voorbeeld. Hy ontvang ’n ere-doktorsgraad in dieself­de jaar (2011) as Desmond Tutu by die Universiteit van die Vrystaat. Pieter Fourie is wyd bekend in die teater- en me­diawêreld in Suid-Afrika.

Die bundel kan bestel word op die webtuiste. www.naledi.online

(Naledi, 2017; Prys R 175.00, Sagteband • 128 p • 213 mm x 137 mm, ISBN: 978-0-928316-77-3)

.

.

’n ope brief aan Dorian Gray

Ruan Fourie   

‘n ope brief aan Dorian Gray

In hierdie debuutbundel word ’n liefdesgeskiedenis vertel soos dit deur verskillende stadiums beleef word deur die spreker. Aan die begin soek die spreker na ’n manier om sy liefde duidelik genoeg uit te druk; dan volg die ontnugtering en die belewenis van die geliefde as ’n leë dop, en uiteindelik volg die misnoegde ervaring van mislukking. Die hele bundel staan in gesprek met Oscar Wilde se roman, The picture of Dorian Gray, waarin die jong Dorian Gray wens dat sy afbeelding in ’n skildery sal verouder, terwyl hyself jonk bly. Die gedigte verwoord in hierdie bundel die aftakelingsproses en boots die narratief van die Wilde-roman implisiet na.  Soos in die roman word die grense tussen werklikheid, verbeelding en kuns in die gedigte dikwels oorskry. Die atmosfeer van verval van die Wilde-roman word ook in talle van die gedigte opgeroep. Die verwoording van die mislukking van ’n liefdesverhouding in die bundel behoort aanklank by jonger lesers te vind, terwyl die baie verwysings na kuns en letterkunde ’n intellektuele uitdaging vir die leser bied.

OOR DIE OUTEUR: Ruan Fourie is in 1994 in Bloemfontein gebore en is tans ’n honneursstudent aan die NWU. Van sy gedigte is op Versindaba gepubliseer en hy het ook as digter deelgeneem aan die Byderhand-projek by Aardklop 2015, wat die ATKV-Aartvarkprys vir Grensverskuiwende Werk gewen het.  (PRYS: R160.00 (BTW ingesluit); ISBN:  978-1-4853-0747-1 (gedrukte boek) 978-1-4853-0748-8 (e-boek) 978-1-4853-0749-5 (ePub); 137 x 213 mm; Sagteband , pp 72, Protea Boekhuis, 2017)

.

Voor ek my kom kry

Pirow Bekker

Omslag
Omslag

Die omslag van die bundel met sy abstrakte figure suggereer die gesprek wat in hierdie bundel gevoer word met die self, die geliefde, die lewe en die dood. Die digter ondersoek verskillende fasette van ’n lang en kreatiewe lewe.

In die eerste afdeling kom die verhouding met die aarde ter sprake; in die tweede afdeling die ambivalente verhouding met die land waarin hy gekies het om te bly woon, ten spyte van die ongenaakbaarheid van klimaat, plae en sosio-politieke kwessies. In die volgende afdelings kyk die digter op ironiese wyse na die dreigende dood wat hom in verskille gedaantes voordoen. Dan volg gedigte oor die liefde: vir die taal, die woord en vir die geliefde vrou.

Die fyn humor waarmee die digter na die ouderdom kyk, sorg dat die laaste gedigte nie neerdrukkend is nie, maar die lewe bly omhels, soos in “Hansie Slim herbesin”, waarin gespot word met die “mediese kernplan” waarmee voorsorg vir siekte en ouderdom getref word. En tog,

die hele infrastruktuur ten spyt

verlaat Hans sy huis, begeef hy hom

op ’n lukraak ryloopreis

die wyer wêreld in.

Daarom kan die digter in die slotgedig terugkyk op die verrassing van ’n lewe wat sonder beplanning of padkaart, sy eie verloop geneem het.

OOR DIE OUTEUR

Pirow Bekker is ’n veelsydige skrywer van romans, kortverhale en poësie. Sy vorige twee bundels, Van roes en amarant (2008) en Atlas teen die vergeetrivier, (2013) is goed ontvang deur die literêre kritiek.(Protea Boekhuis, 2017,  R180.00 (BTW ingesluit). ISBN:         978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek): 137 x 213 mm: Sagteband, pp 108)

.

Alles het niet kom wôd

Nathan Trantraal

alles-het-niet-kom-wod_konsep
Omslag

’n Splinternuwe digbundel deur ’n gerekende en opspraakwekkende Kaapse digter. In Alles het niet kom wôd dig Nathan Trantraal oor die onderwerpe wat hy in Chokers en suvivors met sy kenmerkende energie en emosie belig het.

In sy tweede bundel dig Trantraal oor Afrikaans, oor klas, ras, en die politiek, maar neem nou ook seksualiteit, en die religieuse en stedelike milieu waarin hy grootgeword het, in oënskou. ’n Outobiografiese en kontroversiële bundel deur die wenner van die Ingrid Jonkerpys. (Kwela, 2017; ISBN: 9780795707919, Prys (insl. BTW): R 200.00, Formaat: Sagteband, 64pp)

.

.

.

>> 2019

.

Vervolg

Ander digbundels in die jaartal:

2018 2017,  2016  2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé)
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Borges, Sheila Cussons en Johann de Lange
  • Persverklaring: Groot poësieprys ter ere van Breyten Breytenbach
  • Gerard Scharn. Portret van van Monika Pon-Su-San door Vladimir Tretchikoff
  • 100 Duitse Bestes: Else Lasker-Schüler (1869-1945)
  • Resensie: “De ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)

Nuutste kommentaar

  1. Jacobus Swart on Jacobus Swart. Franz Kafka15 May 2025

    Beste mnr. Scharn Ek waardeer u kommentaar. Dankie dat u my werk gelees het.

  2. Dietloff Van der Berg on Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)14 May 2025

    Baie dankie Joan Hambidge vir die fyn lees en die hoog gewaardeerde slotsom.

  3. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

  4. Ena on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Mooi, Celeste!

  5. Barbara Steyn on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Soooo mooi beskryf!!!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d