resensie1

Die Beeld. 20.3.06

Die stand van die poësie?

Hein Viljoen


Versindaba 2005, saamgestel deur
Louis Esterhuizen. Protea Boekhuis, 2005 (sagteband, 85 pp.), R90. ISNB 1 86929 125 0


’n Publikasie soos Versindaba 2005, waarin ringkoppe en penkoppe onder ons digters saampraat om die marginalisering van die Afrikaanse poësie teen te werk, moet ’n mens allerweë verwelkom.
As toonbeeld van die toorkrag van poësie moet dit bowendien uitreik na Afrika terwyl dit steeds die ideale van hoë kuns handhaaf. As dit boonop aangebied word as waarmerk – dit wil sê seël en ykinstrument vir die waarde van die Afrikaanse poësie – dan word inderdaad groot dinge van so ’n dun bundeltjie verwag.
Dit is verblydend dat iemand hom bekommer oor die stand van die Afrikaanse poësie, en die bundel kan die begin van ’n veel wyer bestekopname wees. Gee dit ons egter inderdaad’n goeie beeld en tegelyk ’n waarmerk van die Afrikaanse poësie?
Die keuse van digters is nogal eienaardig. Hoekom praat ander ringkopdigters soos Antjie Krog,
Joan Hambidge, T.T. Cloete of I.L. de Villiers nie saam nie? En hoekom is Ilse van Staden die enigste vars jong stem wat saamgesels? Waar is die ander nuwe stemme, selfs sulke eintlik nie meer snotkoppe nie soos Gert Vlok Nel dan? Andersyds is dit wel verfrissend om die minder bekende stemme van Julian de Wette en Jan de Bruyn te hoor.
Opvallend baie van die gedigte bring hulde aan ander kunstenaars. Hennie Aucamp probeer Mondriaan en Irma Stern se kuns in woorde vasvang. Martjie Bosman bespiegel oor die lewe van Wena Naudé. Lucas Malan belig Barrie Hough se “eenlingbestaan/ onder die opslaanlig van ’n verskeurde maan” aangrypend en direk in “Deurnag”. Daniel Hugo dra sy “Sonland” aan Elisabeth Eybers op en skryf “Vir Carina”. Oor die algemeen dus meer klein geluk (of ongeluk) as grootse en meeslepende lewe.
Soos ’n mens seker kan verwag, skryf die digters ook veel oor die natuur, maar dan meer beskrywend as visioenêr. Julian de Wette se “stukkie rivier” tipeer hierdie gedigte dalk – kleinskalige en persoonlike indrukke in relatief geykte terme, al reik Martjie Bosman uit na ’n anderkant en beywer Johann Lodewyk Marais hom vir ’n groen bewussyn.
Die digters beweeg oor die algemeen ietwat tentatief oor die grense van Suid-Afrika na die groot wêreld daarbuite. Melanie Grobler se “Viëtnamese gedig I” is hier uitsonderlik in die wyse waarop sy “die mes van verbeelding” gebruik om raampies van natuurskoon, vals toeristiese belewing, die oorlog en die koloniale verlede te versny.
Anders as wat ’n mens verwag, bevat die bundel nie talle gedigte oor ons beroerde politieke en sosiale omstandighede nie. Die uitsonderings is Peter Snyders se “Vet ket speletjie” en
George Weideman se twee Balkan-gedigte. En dan is dit opvallend hoeveel aangrypender Weideman op indirekte wyse, met byna sangerige herhaling, die gruwels van Bosnië en Sarajewo tuisbring.
Myns insiens demonstreer hierdie bundel nie besonder vars nuwe klanke of groot beloftes vir die toekoms nie. Die meeste gedigte is vakwerk – deeglik en vakkundig geskryf. Daar is egter ’n paar wat werklik die vlamsalamander (Aucamp se beeld) van die poësie uittoor – almal werk van die ringkoppe. Philip de Vos se woordspelige versies gee al ’n aanduiding daarvan, maar waarmerke van die egtheid en oorspronklikheid van die Afrikaanse poësie is gedigte soos “Caliban vertel” (Petra Müller), “
’n Saak van erns” (Charl-Pierre Naudé) , “Artisjok” (Henning Pieterse) en “nagpsalm” en “nagliedjie” (albei deur Marlene van Niekerk).
Dit is die gedigte waarin die taal op ’n nuwe en bevreemdende manier gebruik word: nie as poëtiese medium nie, maar as aandrywing van die gedig.
In “Caliban vertel” draai Müller natuur en beskawing om deur en met taal. Naudé en Pieterse dink die liefde vernuftig saam met vreemde, onpoëtiese dinge soos motorfietse, kruiwaens of artisjokke. En in “nagliedjie” tower Van Niekerk die cliché van die maan in ’n nag met wolke om tot ’n reeks verbluffende beelde: “
’n hoef in die gras”, “ ’n handskoen wit om die kosyn van die noorde” en uiteindelik “ ’n reuse loerie van die lug/teer en grys en lewendig/’n ring van sterre om sy been”.
Versindaba 2005 wil allesbehalwe ’n verteenwoordigende bloemlesing wees, maar met gedigte soos hierdie plaas dit inderdaad ’n gehaltemerk op die Afrikaanse poësie.

Hein Viljoen is professor in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit (Potchef stroom-kampus) en ook ’n digter.

Bookmark and Share
  •