resensie10

Die Burger 3.9.07

Interessante, vars ‘Versindaba’ verskaf peiling van nuwe Afrikaanse gedigte

Ampie Coetzee


VERSINDABA 2007, saamgestel deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis, Pretoria, 2007. (Sagteband, 59 bladsye, ISBN
9 781 86919 210 5.)


DIE bundel
Versindaba 2007 het pas ­verskyn om saam te val met die Stellenbosse Vers­indaba van 2007. Die versameling is weer saamgestel deur Marlise ­Joubert, weer met die nuttige indeling in “gevestigde” en “opkomende” digters.


Daar is minder digters in hierdie ­bloemlesing as in die vorige twee bundels. ’n Mens kan sekerlik nie nou al hieruit voorspellings oor “die toekoms van die Afrikaanse poësie” maak nie.
Die gevestigde digters is T.T. Cloete, Hans du Plessis,
Louis Esterhuizen, ­Gil­bert Gibson, Jeanne Goosen, Joan Hambidge, Joubert, H.J. Pieterse, Dolf van Niekerk, Cas Vos, M.M. Walters en George Weideman. En die opkomende digters is Willem Fransman jr., Charlton Lee ­George en Bernard Odendaal.


Ek gaan, eerder as om te rubriseer, die bundel eers lees soos ’n mens gewoonlik lees: van begin tot einde, met bespiegelings oor gedigte waar van toepassing, en met die uitwys van ge­meenskap­li­ke aspekte. Nie nood­­wen­­dig by el­ke digter nie, en weglating is nie kommentaar nie.


’n Goeie begin vir die bundel is T.T. Cloete se gedig “Iden­ti­teit”, met hier­die volkswysheid:


Praat is menslik, maar vir mekaar


is ons soos die diere as ons praat


onderling onverstaanbaar


Die twee gedigte wat daarop volg, van Hans du Plessis, is van die aanpassing-van-die­By­bel-soort én in die “volkstaal” (vulgaat/Kaaps), soos deur Adam Small begin is. Sy poëtiese benadering is anders en nuut: Hy her­skryf byna letterlik Bybeltekste. Soos die bekende Psalm 2 (“waar­om woel die nasies, en bedink die volke nietige din­ge?”):


Nou vi wat woelie wêreld


En dink heidense goeterse?


Hulle se voormanne span saam


Ennie kapteinse hou krygsraad


tenie Jirre en Hom koningkjent.


Hulle sê hulle gat spanriem breek


En orie Jirre se kraalmuur spring.


“Repos Ailleurs” (
Louis Esterhuizen) beskryf in metafore: “Wellington ­iewers / agter die horison en opgedamde lig / verwater”. En ook idillies – tot by die droom: “asof jy Piet Retief is, kompleet / met skaaf en tuig en waens wat wag. Om noordwaarts te trek, of waar die rus is”. Die volgende gedig van hom – dink ek – raak te lank.


Die herinterpretasie van ’n Bybelverhaal raak meer gekompliseerd, byna kripties en nie eenduidig nie, in Gilbert ­Gib­son se “moria”, met as temareël “op ’n dag ’n knipmes”. Soos Abraham ’n mes saamgevat het toe hy Isak moes gaan offer op Moria. Hier is dit verander en veraards tot ’n pa en seun wat na ’n winkel gaan en dan is daar ’n knipmes, en die seun sny sy vinger. Die gedig eindig met:


In die wegkeer van die oog ’n eerste


offer wat tydig en verwoed die lem bring tot


die herhaling van bloed.


Dis nie ’n eenduidige gedig nie, maar dit lyk my só loop die pad van die woord vir Gibson.
Die gebruik van herhaling kom nogal dikwels in die bundel voor. Soms weet ek nie of dit nodig is nie. Soos by Jeanne ­Goosen se “My Mamma is Bossies”.
Joan Hambidge, daarenteen, is meer gestruktureer in haar herhalings. In “Rondeau” berei die betekenis van die titel voor vir die herhaling van “Nou dat jy weg is ” Hoewel dit ritmies werk soos die hoefslae van perde, is die gedig van Marlise ­Joubert (“sleursange”) te lank.
Pieterse se vertaling van een van Rilke se “Duineser Elegien” is sekerlik goed, maar dit sal

die leser tog ’n bietjie in die duister laat.


Daar is nie ’n oorvloed van metafore in die gedigte in die versameling nie, maar by Dolf van Niekerk word ’n mens getref deur die gebruik daarvan in geboorte-beelde:


Was dit sluiers


of membrane waardeur ek


na die lig moes beur;


of dalk ’n muur, ’n heg


van dorings ?


“Fragment VI / ’n Klaaglied”, gebaseer op die Gilgamesj-epos, deur
Cas Vos, is weer buite die kennis- of ervaringswêreld van die gewone leser en dus obskuur. ’n Ander gedig van Vos is tipies nostalgies (“Middelkraal”) en vol droefheid. Daar is nogal ’n paar gedigte met dieselfde tema.


’n Verrassing is die twee gedigte van M.M. Walters. ’n Mens hoor nie meer ­dik­wels van

hom nie, en dis jammer. Sy satiriese aard is duidelik in “Die Boerekerk is aan die Kwyn”:


Dié kerk is uit, daar is ’n koeël deur


Die sandkasteel wat deur die tydgolf


Weggespoel word


Dan is daar ook die moralistiese aard van die satirikus:


By Sutherland volg die grootoog


die planete soekend in hul baan:


iewers moet ’n sterreweg loop


waarlangs die mens kan huis toe gaan.


Maar:
Soek binnetoe, diep in die éie oog


Se donker onbekende agterin:


Dis waar die mens se heimwee


En sy sterredroom begin.


Weer deur herhaling, maar in ’n gedig wat ’n refrein van ontnugtering word, ­be­kla Geor­ge Weideman (in 2007) politieke onstabiliteit (“Die Reënboog het Verdof, Madiba”).
Ten slotte, iets oor die drie “opkomende digters”.


Willem Fransman jr. skryf “virrie taal, innie taal .
. . Ná al die geskree oor alles verby is, / skryf dan ’n gedig innie taal. / Wéér om die taal te red!?” Sy ander gedig, “Ek Likes Democracy”, is ’n grap, maar dis te uitgerek om snaaks te wees.
Charlton Lee George skryf, onder meer, ’n opstandgedig, maar sonder ’n besonderse wending.
Die nostalgiese gedigte word voortgesit in die nostalgie oor die verdwyning van die idille van die plaas in Bernard ­Oden­daal se gedigte, met frases soos ­“plasies op die rand van die niet”. Hier is ook – die eerste? – plaasmoord-gedig, met die skrynende titel – ’n gesegde van die vriend wat vermoor is: “Hoeka so iets van daardie aard”. Net jammer van die on­nodige slot­strofe (dink ek).


Al is daar minder digters in dié ­ver­sa­me­ling, bly Versindaba een van die enigste peilings van die nuwe Afrikaanse poësie. Daarvoor moet ’n mens dankbaar wees – net soos vir die viering van gedigte op Stellenbosch. .

 

Ampie Coetzee is ’n letterkundige van Kaapstad.

 

Bookmark and Share
  •