Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

resensie11

 

Rapport 9.9.2007

 

(Nuweling) digters anders – laat jou kyk

RACHELLE GREEFF

 

 

In die voorwoord tot dié versamelbundel skryf die uitgewer Nicol Stassen: “Dit was van die begin af ’n gegewe dat poësie nooit massas uit die publiek sal trek nie. Tog het die bywoning van die Versindaba op Stellenbosch die vorige twee jaar almal se stoutste verwagting oortref. By elke Versindaba was daar ’n groter opkoms as die gemiddelde oplaag van ’n Afrikaanse digbundel, of eintlik enige digbundel in enige taal ter wêreld.’’
Vanjaar se versamelbundel (die derde sedert 2005) is ’n woordfees in die kleine. Dit bevat twee verse elk van deurwinterde versmakers: T.T. Cloete, Hans du Plessis,
Louis Esterhuizen, Jeanne Goosen, Joan Hambidge, Marlise Joubert, H.J. Pieterse, Dolf van Niekerk, Cas Vos, M.M. Walters, George Weideman en Gilbert Gibson.
Gibson het verlede jaar die (tweede) Proteaprys vir Poësie vir sy debuutbundel, Boomplaats, ontvang. Fluks het sy tweede bundel, Kaplyn, vanjaar op die suksesvolle eersteling-publikasie gevolg.
Ek moet bely dat my serebrale begrip van Gibson se werk, of dele daarvan, soms agterweë bly. Hiervoor is die medikus-digter Gibson seker te slim, ek te ongeskoold in die doolhowe van ’n bepaalde stam van die poësie. Tog, sy woordvaardigheid en metaforiese krag trek jou soos ’n magneet aan. Jy sit mesmeries vasgevang voor die reëls. Jy kan jou oë nie onttrek nie. Al verstaan jy dit net kwartpad. Luister net na die invalslyne van “anatomieles’’ in
Versindaba 2007: “my hart groei in jou liggaam/ ingekiem soos ’n oorlog”. En later in dieselfde vers: “soos oor riviere is my/ vingers aan jou hande vas, my mond/ oor jou dooie gesig gesper”.


Die yl oes van slegs drie op-komende digters vul die lesershart nie juis met ’n lentewals nie, maar al die digters het daardie broodnodige faktor x, die “iets’’, wat jou ’n digter en, sê maar, nie ’n sportverslaggewer nie, maak.


Die Vrystaatse akademikus
Bernard Odendaal se debuutbundel, Onbedoelde land (Tafelberg), verskyn eersdaags. In Versindaba 2007 se “Hoeka soiets van daardie aard’’ maak die digter poësie van ’n plaasmoord. Nes jy begryp wat in die vers staan, omvorm die gesellige sêding-titel (’n segswyse van die vermoorde vriend) tot vlymskerp, gevaarlike woorde. (Sou dit die eerste plaasmoordvers in Afrikaans wees?) Die gedig, is my gevoel, skiet by sy eie einde verby, maar bly nogtans onthutsend. Tussen dié vers en “Harmonie, distrik Bloemfontein” (wat ontroerend eindig: “op soek na so ’n droomadres/ tussen al die êrense, en nêrens”) kry mens die gevoel jy kan net uitsien na Odendaal se debuut, wat glo vandeesweek verskyn.


Maar die gedig wat my die afgelope week anders laat kyk het – en dié keer onverwags in my buurt se Klipfonteinweg na die onwettige en roekelose bestuurs-etiek van die taxi’s – is dié van Charlton Lee George. George het ook in Nuwe stemme 3 (Tafelberg, 2005, saamgestel deur Antjie Krog en Alfred Schaffer) geskryf. Hy het sy digtersloopbaan in die skoolboikotte van die 1980’s begin.


Miskien herroep jy ook dié vers (“taxi”) voordat jy volgende keer woedend toeter vir die varklike gedrag van ’n taxi-bestuurder:


ons drome ryloop deesdae

op en af oor heuwel en vallei

sonder dat ons kan onthou

waar ons was in die diepnag

wanneer hane kraai en taxi’s

kompeteer met busse oor hoe hard


hulle mense kan wakker raas

douvoordag as die afgestorwenes

ons nog verlaat na ’n nag se huisbesoek

lank voor die son aan gedink word
in donkerte wanneer taxi-bestuurders
vloek-vloek staan en koffie drink
en dik groen skywe trek
voor die koms van die eerste
werkers van die dag wie soos
fabriekzombies met gestorwe drome
hulle drie rande outomaties tel
en vorentoe uitstaar na die
donker voorvenster van die more
terwyl, aan die kantvenster,
’n skarlakenrooi berg groter gloei in goud.

Is dit nie hoekom ons poësie lees nie? Om anders te kyk na die wêreld om ons?
Waar kry ek dit?
Rapport versprei en verkoop nie boeke nie.
As jou boekwinkel dus nie Versindaba 2007 het nie, kan jy Protea Boekwinkel kontak by 0 021-882-9100 of Bergzicht Plaza, Andringa-straat, Stellenbosch 7599 of proteaboek@mweb.co.za

 

Versindaba 2007, saamgestel deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis. R100. (Die bundels van 2005, 2006 en 2007 is al drie saam te kry vir R250.)

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Stephan du Toit. Witgatboom
  • Anne-Marie Bartie

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Winternag
  • Vincent Oliphant. Soos
  • Stephan du Toit. Florence Nightingale
  • 100 Duitse Bestes: Elisabeth Borchers (1926-2013)
  • Ilse van Staden. tuiskoms

Nuutste kommentaar

  1. Aldre Lategan on Joan Hambidge. Philip de Vos – die boek op die regte oomblik11 November 2025

    Dankie, Joan, jou resensie is net so 'n lekkerte om te lees soos Philip se boek.

  2. Marlies Taljard on Nuwe publikasie: “Troilus and Criseyde” in Afrikaans vert. deur Johan Boje10 November 2025

    Besonder insiggewende inleiding wat onmisbaar is wanneer mens so 'n vertaling lees. Baie geluk met 'n wêreldklas vertaling John Boje.

  3. Peet van Schalkwyk on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek10 November 2025

    Baie dankie Vds

  4. VDS Brink on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek8 November 2025

    Peet, dit is aangrypend mooi!

  5. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d