Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

resensie13

Beeld. 27.10.2008

Diversiteit van stemme in welkome Versindaba

Marthinus Beukes

Versindaba 2008, saamgestel deur Marlise Joubert. Protea (sagteband), R120.

Die jaarlikse Versindaba-byeenkoms en -poësiebundel het nou al ’n welkome instelling in Afrikaans geword.

Met die tot nou toe vier inleidings en voorwoorde vir die
Versindaba-bundels het
Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, die onderskeie samestellers vanaf 2005, ’n blik op die poësiediversiteit van die Afrikaanse digkuns gelewer.

In 2008 se bundel handel die uitgewer Nicol Stassen se inleiding en argument oor biologiese diversiteit. ’n Motief wat hy deurtrek na die Afrikaanse poësie toe en wat as die invalshoek vir die bundel geneem word.

Wat as maklike argument vir ’n samestelling van verskillende digters se bydraes gesien kan word, is dit egter Stassen se siening dat Protea Boekhuis verskeidenheid probeer bevorder deur bundelpublikasie sowel as die Versindaba-bydraes wat lofwaardig is.
(Dié uitgewer het die stem van die verskillende kamers van die Afrikaanse digtershuis geword.)

Die bundel poog ook tereg om as “momentopname van die Afrikaanse poësie” te dien – ’n definitiewe pluspunt van die byeenkomste en bundels. Dat hierdie bloemlesing weer eens ’n momentopname is, is duidelik.

Tog het die stemdiversiteit ’n gemeenskaplike klank, naamlik die pole van verlies en behoud: twee kragtige motiewe om saam te klink in ’n taal.

Die tweedeling in aanbieding word soos in die vorige volumes gestand gedoen, naamlik gevestigde digters en opkomende digters. Sommige van die gevestigde digters het nou al ’n instelling geword.

Dit is veral die ánder gevestigde digterstemme in hierdie kategorie wat my aandag boei. Om verse van Johann de Lange, Johan Myburg en Marlene van Niekerk te lees, is verrykend vir die “diversiteit” van die Afrikaanse poësie waarvan vroeër gepraat is.

Die beenamputasies van Ernst van Heerden word in afgekapte versreëls, maar met ’n behoudende ritme, visueel vergestalt. De Lange se aangrypende verse oor verlies en rou, bekragtig weer eens sy belangrike stem in Afrikaans.

So ook is die gedigte van Myburg bevestiging van ’n virtuose klankvloei en klassieke styl wat (soos sy vorige twee bundels) bekoor. Myburg lewer in hierdie twee gedigte bewys dat ’n digter nie nodig het om praatversies te skryf om vernuwend te probeer wees nie. Myburg se verse het ’n klassieke styl en inslag: ’n kwaliteit wat kragtig bly.

In dieselfde argument kan Marlene van Niekerk genoem word. In “herfsmeditasie” (74) en “delicious monster” (76) val haar vermoë opnuut op om die poëtiese woord in al sy nuanses sáám te laat klink. Dit is veral die dinamiek van transformasie wat in die volgende versreëls bevestiging is van Van Niekerk se belangrike stem ook in die Afrikaanse digkuns:
“straks sal die knoppe ontwind,/ wit konkawe ghongs onder die wit wintermaan,/ met liggroen stampers wat hulle midde-in die hart slaan”

Uit die aantal gevestigde digters, naamlik Aucamp, Crous, De Lange, Laurie, Myburg, Snyders, Van Niekerk, Van Staden en Müller, is die spanning tussen verlies (verganklikheid) en behoud (onthou) die merkbaarste ooreenkomste tussen die gedigte. Dit is byna asof 2008 se versameling hierdie tweespalt as las vir kreatiewe transformasie gemeenskaplik dra “om nooit te vergeet” (58) of soos Myburg (60) dit stel:

“Dieper in die tuin / is ’n klavier besig om veraf en flou/ die hunkerende melodie/ van Albeniz se tango te onthou.”

Hierdie melancholiese ingesteldheid word in die jonger stemme weerklink. Die behoud van die bekende is rigting­gewend, of soos Melt Myburg (95) dit aangrypend verwoord:
“Die roete huiswaarts/ deur die naelstring knoop,/ word gerig deur ’n kompas/ sonder naald.”

Dit is veral die stemme van Myburg, Loftus Marais en Jasper van Zyl wat sterker onder die nuwelinge opklink. Wat jammer is, is dat daar nie ’n groter balans tussen die twee indelings hoorbaar is ten opsigte van verteenwoordiging nie.

Die belangrike bydrae wat Versindaba 2008 lewer, is soos Stassen in die inleiding aanvoer, ’n diversiteit van stemme. Tog is daar in hierdie diversiteit die naelstring van ’n melancholie wat “huiswaarts” na die woord se toorkrag terugneig: ’n pynlike hoopverbintenis tot versverryking.

Beukes is verbonde aan die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.



Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Wenners van die kompetisie: “Die gees van die avontuur”
  • Stefanus S. Vivier. Reisiger
  • Uitnodiging na die ATKV-digskool 27 – 29 Maart 2026
  • Yves T’Sjoen. Postumiteiten voor Breyten
  • Uitnodiging: ATKV-digskool, 27 – 29 Maart

Nuutste kommentaar

  1. Hein Viljoen on Joan Hambidge. George Steiner en Gerrit Kouwenaar20 January 2026

    Joan Jy skryf: "By Kouwenaar: die maan en die perse word één". Die hele ryk Persiese wêreld - Babilon, spykerskrif,…

  2. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  5. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d