resensie14

Geboekstaafde indaba waardevolle versblik

Opkomende digters imponeer met heelwat treffende beskrywings

Ampie Coetzee

Die Burger 3.11.08 Poësie
VERSINDABA 2008
Marlise Joubert (samesteller)

 

Die eerste versameling verse van deelnemers aan die Versindaba is in 2005 uitgegee. Toe was Louis Esterhuizen die samesteller, daarna Marlise Joubert. Die doel is om die stand van Afrikaanse digkuns wat betref “gevestigde” én “opkomen­de” digters te bepaal. In die jongste Voorwoord skryf die uitgewer Nicol Stas­sen: “Met Versindaba 2008 speel gehalte weer eens ’n groot rol in die keuse van bydraes terwyl daar terselfdertyd gepoog word om ’n verskeidenheid van temas en style te huisves.” Die jongste versameling slaag weer hierin.
Temas en poëtiese middele verskil opvallend tussen gevestigdes en opkomendes – dis dalk selfs tekenend van ’n rigting. Tog moet ’n mens nie gou poësie kategoriseer nie; jy kan ook nie voorspel wat sal gebeur nie. ’n Sterk tema by “oueres” is die dood: die “skokkende” hantering daarvan (Mari­us Crous); herinnering aan en klaag­sang oor gestorwenes (Johann de Lange); die verhouding tussen ’n pa en seun wanneer die dood dreig (Danie Marais); oorlogsherinnering (Petra Müller); die ironie­se opstanding (Peter Sny­ders).
Poëtiese middele, meer gewaag­de vergestalting, weerspieëling, is byna kenmerkend van die oueres se verse, spesifiek die doodsverse, soos Crous se “Outopsie”.
Die spre­­ker/skrywer/digter se vriend sterf in ’n ongeluk. ’n Outopsie word uitgevoer en die spreker vra: “hoe kry ek afstand om jou lyf te kan dissekteer”. Hoe kan hy deur­dring X indring X tot die dood, dit verwoord? Deur saam met die “lykopmaker” in te sny in die geliefde se liggaam. Hy ver-beel en verbeeld dit: “ek gryp die hand van die lykopenaar vas / ek beur saam met die lem deur die lae van jou vel / die outopsis loer oor sy bril / hy lei my na die anagram / wat jy gebêre het in jou lewer hart en milt”.
Só kan hy die dood ken? Deur óók só met die woord in te sny?
In Marais se (te?) lang gedig “Ou­kersaand in die Medi-Clinic” ver­tel die hoofkarakter oor die bewuswording van homself, van sy le­we, by die kennismaking met die moontlikheid van sy pa se dood X hul verhouding, die irritasie (selfs aggressie) met sy pa wat windmeulens gebou en hy wat hul­le bestorm het. Op pad huis toe ná sy pa se opname in die kliniek besef hy:


“Ek het deur 35 jaar geseil / soos ’n surfer op pad see toe / deur die Groot Karoo, Pa. / Ek suis soos die swart bal op ’n snoekertafel / oor groen vilt sekuur / op die laaste sakkie af. / En tog is daar steeds niks / wat ek wil bou of bestuur nie; niks / wat ek kan regmaak nie.
/ Maar ek vra soos almal en alles / vir nog, Pa, / nog windmeulens en alles.”
Dié laaste stro­fe is só ’n sterk wending dat dit vooraf minder inligting nodig gehad het, dink ek.


Die dood is by “opkomendes” ’n mindere teenwoordigheid, hoewel daar in die verwoordings van Suzanne-
Louise Bezuidenhout, Melt Myburgh en Jasper van Zyl ’n ander soort siening is. Soos die tegniek van effense verwydering in “Om jou Pa te Sien” deur Bezuidenhout: “sterf / is ’n bitter wrewelrige bedryf. / Die formaliteite vervat in pinstripes en posies.” Maar aan die einde tóg ’n hartseer, in die suggestie: “om te wonder / wie nou jou swaai gaan stoot / tussen denne wat donker duin”.
Die verslag in Myburgh se “rapport” begin met selfmoord-moordenaars, dan beel­de wat losraak, van verbeelde rampe; om te eindig met: “tot net oor is: / ’n bloudraad-skelet in platinum vlug”.


Gelukkig is die dood by die opkomendes nie alles nie. Daar is heelwat be­skrywing, soos in Loftus Ma­rais se “aan die fontein in ons flatblock se quad”, en Myburgh se iro­nisering van Upington, “gelief­de stad”, “mirador van ’n oewerbestaan / hawe vir woestynskepe in sandstorms verdwaal”. Marius Swart se “skipskop” beskryf noukeurig in weinig woor­de, met ’n onheilspellende wending.


Daar is gedigte oor ouers, wer­kers, “karakters”, die siniese hu­mor in “Double Crossing” (Bezuidenhout) se bekendstelling aan Laura van Beaufort-Wes, die meisie van die nag “met lusty lavender wig ge-tease om te please (van drywers tot dominees)” en dan, met die taamlik subtiele slot: “Tydelik vergete die drievoudige behoud / (rugby, braaivleis en bier)
/ klim ’n boer uit ’n bakkie / en verdwyn ’n voël sidderend in die maag van die nag.”
Die Versindaba-versamelings is waardevol omdat hulle eint­lik die enigste aanduiding is van wat jaarliks nuut verskyn in die Afrikaanse poësie. Die uitgewer en samesteller moet mettertyd dink aan ’n versamelbundel waarin ons kan sien wat van die gevestigdes en opkomendes geword het.

 

 



 

Bookmark and Share
  •