Die Burger 8.9.08
Versindaba 2008
Poësie van alle kante beloer
Breyten Breytenbach met gesogte prys bekroon
Die Versindaba vanjaar het gesorg vir ’n wonderlike roes van digkuns met soveel klankkleure as die gedigte wat voorgedra is.
’n Mens het rustig geraak; die poësie op die verhoog was iets waarop ’n mens kon inskakel.
Sommige digters se voordragte is toegejuig; ander is vir die duur daarvan bladstil ontvang omdat mense ontroer is.
In die vier sessies het die program telkens ’n nuwe of ander maat gekry: Musiek is by verse gevoeg; sangers het oor gedigte gepraat, en ’n digter oor sy getoonsette gedigte as liedjies. In die mees geslaagde werke in hierdie trant is die betekenisomvang van tekste op wonderlike wyse verruim.
Die voorskou van ’n belowende woordkunsproduksie is Vrydagaand op die planke gebring met beelde en voorlesings en toonsettings vir klavier en stem.
Die tweede dag van die Versindaba is aan wyle George Weideman opgedra en in ’n woordkunsproduksie is roerend aan sy digkuns hulde gebring.
Die werk van Elisabeth Eybers was terug op die program: die Dana Mouton-lesing is oor haar gehou en drie digters het ’n gedig van Eybers vertaal en dit bespreek. Die vers- sowel as die indaba-komponent het opnuut veel gedoen om digters se werk te nuanseer en te ontsluit.
Die fees lewer ’n waardevolle bydrae tot bestaande digkuns en die verwekking van nuwe werk. Digters groei hier. Gehore ook.
Naas die fokus op en ontleding van poësie, is erkenning gegee aan prestasies op poësiegebied.
Die fees het vanjaar gespog met die eerste toonsettingkompetisie vir jong komponiste. Dié prys is toegeken aan Wilken Calitz vir sy toonsetting van “Ballade van die Nagtelike Ure” deur N.P. van Wyk Louw. Vier ander finaliste se inskrywings is ook uitgevoer.
Die beoordelaar van dié kompetisie, Niel van der Watt, het die fees op ’n hoogtepunt afgesluit met sy musikale verwerking van Louw se “Klipwerk”, waarin hy self opgetree het in die plek van Hanli Stapela, wat haar weens ’n verkoue wat haar stem aangetas het, moes onttrek. Mathilda Hornveld was die pianis.
Die Ingrid Jonkerprys vir ’n debuut-digbundel, wat om die beurt vir ’n Engelse en Afrikaanse bundel toegeken word, is deur ’n vorige wenner, Rustum Kozain ( ook een van die beoordelaars), aan Megan Hall oorhandig vir haar bundel, Fourth Child.
Hall het vir ’n dramatiese oomblik gesorg toe sy op die verhoog flou geword het. Sy is gou weer gelaaf en het kans gesien vir ’n kort dankwoord.
Die Proteaprys vir poësie, wat jaarliks vir die beste Afrikaanse digbundel toegeken word, het gegaan aan Breyten Breytenbach vir sy bundel Die Windvanger, wat ook met onder meer die Hertzogprys bekroon is.
Breytenbach, wat tans in New York ’n kursus in skeppende skryfkunde aanbied, kon nie self die prys in ontvangs neem nie. Sy dankboodskap is egter voorgelees.
Andries Bezuidenhout het, met ’n goeie balans tussen informaliteit en professionaliteit, humor en intellektuele diepte, naas voorlesings van sy poësie, ook eie toonsettings daarvan uitgevoer. Gepas digterlik het hy sy akoestiese kitaar ’n kruk genoem.
Laurinda Hofmeyr het met werk van haar jongste CD, Reis na die Suide, die gehoor oorrompel en is met toejuiging tot ’n welkome toegif verlei.
Nog ’n hoogtepunt was Danie Marais se voordrag van sy gedigte met kunswerke deur sy vrou, Karlien de Villiers, groot op die skerm agter hom geprojekteer om boeiend met die verse in gesprek te tree.Naas die talle poësievoorlesings is ook gesprekke gevoer. Lucas Malan en Hennie Aucamp het met mekaar oor hul digbundels gesels; en drie boekeredakteurs, Gerrit Brand (Die Burger), Rachelle Greeff (Rapport) en Melt Myburgh (LitNet), het oor die uitdagings en moontlikhede van hul werk, veral ten opsigte van poësie, gedagtes gewissel.Ronél Foster het verslag gedoen oor ’n fassinerende stuk vergelykende navorsing oor die literêre sisteme van Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere.) Klik by www.dieburger.com op Blogs en dan op Boekeblok vir Breyten Breytenbach se bedankingstoespraak en ’n fotogalery van die Versindaba, of om met ander oor jou indrukke van dié poësiefees te gesels.