Versindaba 2005. Saamgestel deur Louis Esterhuizen. Protea Boekhuis, 2005. (Resensie het verskyn in Volksblad, 10 April 2006: 6.)
Nicol Stassen, baas van Protea Boekhuis, plaas in een van die voorwoorde tot hierdie bloemlesing die prestasie van die Afrikaanse poësie in perspektief.
Van die sowat sesduisend bestaande tale op aarde is Afrikaans een van hoogstens ’n honderd waarin poësie gepubliseer word.
Die poësiefees “Versindaba”, wat in 2005 op Stellenbosch gehou is, het onder meer ten doel gehad om dié stand van sake te vier. Twintig gevestigde en agt “jonger, ontluikende” digters is genooi om “saam met verskeie uitvoerende kunstenaars op te tree”. Só verduidelik die bundelsamesteller, Louis Esterhuizen, in die inleiding.
Meer aangaande die aard van die fees kan ’n mens egter nie uit die voorwerk van die bloemlesing aflei nie. Is daar bloot gedigvoorlesings gehou, of ook werkwinkels? En waarom is net enkele gedigte van elk van die gevestigde digters in Versindaba 2005 opgeneem, en nie ook van die “ontluikende” digters nie? Is so ’n geleentheidsbloemlesing nie die ideale forum om laasgenoemde groep digters blootstelling te gee nie?
Daar is waarskynlik goeie redes voor, maar deur dit te verswyg, laat die samesteller die leser met ’n raaisel. Des te meer aangesien heelparty van die gedigte wat wel opgeneem is, onlangs in solobundels verskyn het, dikwels juis by dieselfde uitgewer.
Maar genoeg oor die vrae wat die bloemlesing wek. Die inisiatief verdien ook pluimpies.
Eerstens vir die bydrae wat dit lewer om die marginalisering van die poësie in die Afrikaanse literêre sisteem waarvan in die samestellersinleiding gewag gemaak word, te help teenwerk. Tweedens vir die standpeiling wat Versindaba 2005 bied van die huidige Afrikaanse digkuns. Dis ’n plesier om van die fyn verskuns te geniet uit die hand van mense soos Hennie Aucamp, Daniel Hugo, Marlise Joubert, Lucas Malan, Charl-Pierre Naudé en George Weideman.
Een van die aangenaamste momente vir my was om weer gedigte deur Marlene van Niekerk te lees, wat haar die afgelope twintig jaar uitsluitlik op die prosakuns toegelê het.
Dit lyk of “Versindaba” ’n gereelde instelling gaan word. As dit elke jaar ’n bloemlesing soos dié gaan oplewer, kan dit tot ’n belangrike barometer én impetus van die Afrikaanse verskuns ontwikkel.
Resensie deur Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat