Resensie oor Versindaba 2007 (Protea Boekhuis), saamgestel deur Marlise Joubert. (Die resensie het ’n onderdeel gevorm van ’n resensie-artikel wat verskyn het in Tydskrif vir letterkunde 45/2, 2008: 264-178. ISSN 0041 476 X.
Hoewel die “oorheersende rol” van gehalteoorwegings by Marlise Joubert se samestelling van Versindaba 2006 erken is in die gepaardgaande uitgewersbrief, het Nicol Stassen as uitgewer al in die voorwoord tot dié tweede bloemlesing in die reeks beklemtoon dat nie ’n versameling “in die estetiese tradisie” beoog word nie, maar “’n deursnit of momentopname”; eintlik “’n meer omvangryke en genuanseerde beeld” van die Arikaanse poësie gedurende ’n bepaalde jaar “as wat uit die verskyning van digbundels alleen afgelei kan word”.
Joubert het met die samestelling van Versindaba 2007 weer kwaliteit as uitgangspunt geneem, maar tog ook “gepoog om ’n verskeidenheid temas en style aan te bied” (Protea Boekhuis 2007 – uitgewersbrief by die resensie-eksemplaar). Die meeste bydraes kom derhalwe van “digters van wie daar onlangs ’n bundel verskyn het, of binnekort ’n bundel gaan verskyn”. Soos die vorige kere is egter ook “ander bekende en belowende Afrikaanse digters” genooi om gedigte vir publikasie voor te lê.
Uit 7 van die 12 gebloemleesde “gevestigde digters” se penne het (oorspronklike of vertaalde) bundels in 2007 verskyn; die ander 5 het in 2006 digwerke die lig laat sien. Onder die “opkomende digters” was dit egter slegs Bernard Odendaal wat in 2007 met ’n eie debuutbundel vorendag gekom het, naamlik met Onbedoelde land.
Hoe lyk die “genuanseerde beeld” wat hierdie bloemlesing van die Afrikaanse poësie anno 2007 bied?
Daar is myns insiens min wat waarlik nuut is. Tendense van die afgelope tien jaar en meer word voortgesit. Afrikaans klink byvoorbeeld in hierdie verse op in ’n verskeidenheid variëteite, naamlik as ’n uitvloeisel van die bestendige strewe na spreektaligheid in die toonaangewende twintigste-eeuse Afrikaanse poësie, maar soos wat veral sedert die negentien-vyftiger- en -sestigerjare al duideliker waarneembaar geword het. (Kyk byvoorbeeld Odendaal 2006: 108-115.) In die meeste gevalle word Standaardafrikaans gebruik, maar ook Griekwa-Afrikaans (deur Hans du Plessis) en Kaapse Afrikaans (deur Willem Fransman jr.) kom voor.
Vaster vorme (by veral T.T. Cloete en Joan Hambidge) en vryer digsoorte (veral opvallend by Jeanne Goosen, Willem Fransman jr. en Bernard Odendaal) wissel mekaar af, soos ook meer liriese, selfs liedagtige werk (Hans du Plessis, Marlise Joubert, George Weideman) en meer vertellende of besinnende ‘praatverse’ (Gilbert Gibson, Dolf van Niekerk, M.M. Walters, Willem Fransman jr., Charlton Lee George en Bernard Odendaal).
Besonders is die insluiting van voorbeelde van vertaalde werk, naamlik die derde Duino-elegie van Rilke soos deur H.J. Pieterse vertaal (as onderdeel van die genoemde bundel Duineser Elegien / Duino-elegieë) en ’n klaaglied deur Cas Vos gebaseer op ’n fragment uit die Gilgamesj-epos, waarvan meer fragmentverwerkings verskyn in sy bundel Die afdruk van ons hande. Die frisse indruk wat dié vertalings/verwerkings maak is nie net ’n pluimpie vir Pieterse en Vos nie, maar ook ’n bewys van die belangrike verrykende invloed wat (goeie) vertalings in ’n doeltaalletterkunde kan hê. (H.P. van Coller se vertalings van ’n keur uit die verskuns van die Vlaming Luuk Gruwez, in 2007 uitgegee deur Praag onder die titel Bandelose gedigte, is ook in hierdie verband te noem.)
(Suid-)Afrikaanse identiteitsvraagstukke, politieke en maatskaplike toestande in Suid-Afrika, vrese oor die voortbestaan van Afrikaans, die reis- en swerfmotief, die uitbeelding van geweld en protes daarteen – dit is almal onderwerpe wat te berde kom in aansluiting by kwessies wat Afrikaanse digters al lank besig hou. En dan, natuurlik, is daar ook heelpart gedigte oor universele temas, byvoorbeeld die nuanses van interpersoonlike verhoudings, veral soos betref die liefde en die verlies daarvan; ook portretterings van geliefdes kom voor. Die steeds sterke stroom van religieuse Afrikaanse poësie word aangevul in die verse van T.T. Cloete en Hans du Plessis, terwyl M.M. Walters op sy kenmerkende wyse religieuse en kerklike aangeleenthede satiriseer.
Verblydend is die feit dat hoë kwaliteit digwerk byna deurgaans gehandhaaf word, wat die beeld van die huidige Afrikaanse digkuns tog weer lewenskragtig laat voorkom.
· Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat