resensie3

 

Verse laf én ernstig, ryk aan metafore

Ampie Coetzee


VERSINDABA 2005, saamgestel deur
Louis Esterhuizen. Protea Boekhuis, Pretoria, 2005. (Sagteband, 87 bladsye, ISBN 1 86919 125 0, R90.)


IN sy inleiding tot hierdie versameling verse praat
Louis Esterhuizen van “die marginalisering van ons digkuns”. Slegs twee tot vier bundels verskyn jaarliks by gevestigde uitgewers, sê hy.


Hierdie toedrag van sake het daartoe gelei dat ’n poësiefees gereël is waar gevestigde Afrikaanse digters, sowel as jongeres, saam kon deelneem: “Die oogmerk van hierdie fees is om as waarmerk te dien vir die huidige stand van poësie in Afri­kaans”. Die bloemlesing is toe saamgestel uit gedigte van die gevestigde digters – hoewel agt “opkomende digters”

ook saamgenooi is na die fees. Met die uitsondering van Hennie Aucamp, is twee gedigte van elk opgeneem. Daarby ’n kort CV van die betrokke digter.


In sy inleiding sê die uitgewer, Nicol Stassen: “Om mekaar te verstaan, het ons ’n indaba

nodig, waar ons kan luister na die ringkopdigters, maar waar die penkopdigters ook gehoor kan word.” Daarby die inligting dat Protea Boekhuis sedert die publikasie van sy eerste digbundel vyf jaar gelede nou reeds 50 gepubliseer het.
Die 20 digters hier opgeneem, is Aucamp, Martjie Bosman, Marius Crous,
Jan de Bruyn, Philip de Vos, Julian de Wette, Melanie Grobler, Daniel Hugo, Marlise Joubert, Trinkie Laurie, Lucas Malan, Johann Lodewyk Marais, Petra Müller, Charl-Pierre Naudé, H.J. Pieterse, Peter Snyders, Lina Spies, Marlene van Niekerk, Ilse van Staden, ­en ­George Weideman. (En waar is Louis Esterhuizen? Te beskeie?) Elkeen van dié digters het een of meer versebundels gepubliseer – en feitlik elk het al ’n prys vir prestasie gewen (die ATKV-, Ingrid Jonker-, RAU-debuut-, Rapport-, SAUK-, Hertzog-, SA Akade­mie-, MNet- en Eugène Marais-prys).


Daar is beslis genoeg prysenswaardige aanmoediging vir Afrikaanse digters.
Verse in die bloemlesing wissel van die lawwe – soms kostelike – versies van De Vos (“Die Tsitsikammamamma / in die Tsitsikammabos / voer / haar Tsitsikammakietsie / Tsitsikammakietsie­kos
. . .”) tot “ernstige” verse wat só eindig (in “ ’n Saak van Erns” van Naudé): “Swaarwigtigheid; gravitas; waan; liefde / wat meedoënloos aan die speel gaan”. Oorsigtelik gesien, gaan dit oor skilders en skilderkuns, reise, plekke, die liefde (ook in die konteks van die natuur), die skeppingsproses in die poësie, sterftes, herinnerings, en nostalgie.


Soos verwag kan word as 20 digters saam in ’n bloemlesing opgeneem word, is daar heelwat tematiese en tegniese verskeidenheid. Dit wissel van die sonnet tot die narratiewe vers, van bespiegelings oor die skeppingsproses tot die beskrywende, van verhoudings tot die natuur, die geliefde; en die land, die taal – soos die einde van Hugo se “Sonland”:

maar daar is iets wat my hier hou X ek is gevang


lewenslank geklink aan my minerale taal:


helder simbaal uit hierdie land se erts gepuur

Vergelykings van digters met mekaar kan nie binne die beperkings van ’n resensie gemaak word nie. In elk geval kan ’n gradering van “swak” tot “beter” en “beste” nie op grond van twee gedigte per digter gegee word nie.


Waarop ’n mens wel kan wys, is die vermoë van ’n digter om deur middel van die metafoor te verwoord. Daarvan is ’n hele paar voorbeelde, soos Hugo se aangehaalde reëls, en dan: “rasterwerk van boom en lugte” (Aucamp); “die stem rommelrig woes en onversorg” (Crous); “en die woorde se weerhake / in die keel se sag voel skeur” (De Bruyn); “maar die mes van verbeelding glip uit my hand” (Grobler); “ek wil die blare tydloos / inherfs oor die oog” (Joubert); die lang metafoor van Laurie se “Kristalglas”; “Die duiwe het weer nes kom maak.
. . in vlegwerk van ’n druiwerank / tussen blare hul tuis kom maak” (Malan); die deurgevoerde metafoor in “Artisjok” van Pieterse; “ ’n klip kug / skud sy skouers / en skuif sy sinne reg” (Van Staden).
Die vraag wat ’n mens nou moet vra, is: Het hierdie bloemlesing die huidige stand van die Afri­kaanse poësie gemarkeer? Alhoewel daar te min van elke digter was, sal dit lesers bewus maak van tekens van nuwe lewe in die poësie. Daarvoor moet bedank word die samesteller, die uitgewer, en
Jannie Mouton wat bereid was om die poësie te steun deur sy finansiële hulp, want dit is waar, sê hy, “dat ons digters tans werk van onskatbare waarde lewer”.


Ampie Coetzee is ’n letterkundige en resensent van Kaapstad.

Bookmark and Share
  •