‘Huidige stand van digkuns’ gemeng
[die burger. 27.11.2006]
Ampie Coetzee
VERSINDABA 2006, saamgestel deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis, Pretoria, 2006. (Sagteband, 113 bladsye, ISBN 1 869 19137 4.)
DIÉ versameling verskyn ter geleentheid van die tweede Versindaba wat onlangs op Stellenbosch gehou is. Dit wil “’n momentopname van die Afrikaanse poësie in 2006” wees, en “weer prominensie . . . gee aan eietydse Afrikaanse poësie” X “gevestigde” én “opkomende” digters.
Sonder om digters te vergelyk wat betref “gehalte” wil ek na aanleiding van die keuses in die bundel ’n lys opstel: die reeds gekanoniseerdes, dié op pad na kanonisering en dié wat nog net begin het.
Gekanoniseer: Hennie Aucamp, Pirow Bekker, Jan de Bruin, I.L. de Villiers, Heilna du Plooi, Joan Hambidge, Antjie Krog, Chris Lombard, George Louw, Petra Müller, H.J. Pieterse, Wilma Stockenström, Barend J. Toerien.
Op pad: Christine Barkhuizen-le Roux, Zandra Bezuidenhout, Marius Crous, Clinton du Plessis, Diana Ferrus, Gilbert Gibson, Mari Grobler, Vincent Oliphant.
Nuut: Johannes van Jerusalem, Ilona Edwards, Danie Marais, Carina Stander, W.L. van der Merwe, Jasper van Zyl.
Dis egter meer van belang om te bepaal watter soort verse hier is, en hul register. Dit strek van ’n buitengewone, aangepaste, “op die wysie van”-kabaret (nie eintlik kategoriseerbaar nie), “Die Wederkoms X Variasies op Temas in Raka” van Aucamp, en die konvensionele sonnet (nogal heelwat daarvan) tot die byna-prosa-gedig en die heel ongekompliseerde en direkte. Soos die verse hier van Hambidge, byvoorbeeld: “Pa, wanneer jy vandag daar aankom”. Of die reeds bekende “Ons Komvandaan” van Ferrus oor kolonisasie en slawerny:
Was dit my ma se ma se ma se ma se ma
of
haar pa se pa se pa se pa se pa
in boeie,
vasgemaak
en diep onder
in ’n skip gegooi .
Poëtiese middele by die verwoording in verse is metafore, beskrywings, alliterasie en assonansie, ’n bietjie ars poetica, eenvoud en direktheid, bespiegeling en X helaas – ook banaliteite.
Daar is min beelding en metaforiek X dié middele wat ek altyd gedink het die digter se waarmerk is, en die intuïtiefste. Geslaagde metafore kom voor by Barkhuizen-le Roux, in “somer” en “roof” (“laat my / aan jou hand glo / ook oop rose is mooi”), De Villiers in “Heildronk” (“en ná die winterreën drup dae oor die nat grond. met blinkheid soos Boheemse fyn wynglase van kristal.”) en Gibson in onder meer “slaap” (“soos ’n maan agter eerste wolke reik / na drome wat deur donker kuile vaar”).
Daar is ’n voorliefde vir die beskrywende vers met wending. Bezuidenhout se “Summer Holiday” begin met situering in die tyd, beskrywing van die generasie, dan op die strand, in die see, “dieper in die deining ons twee . . . ”; en dan die suggestie aan die einde:
bruingebrand en lieflik vir mekaar
tot ná die springgety
as in die aand die wind
ons afkoel in die duinesand
So ook in die sonnette: van Krog (“die blikbul van lavigny”) en Lombard (“In die Wimpy”) tot die wending in Du Plooi se “Lemoene II”. Soms is ’n wending egter ook banaal, soos die einde van die gedig “Sint Simeon Stilitus” van De Villiers. En van banaal gepraat: Van Jerusalem se “Ek is lus” is onaanhaalbaar-banaal. Dan liewer die Kaapse seksualiteit van Edwards se te lang gedig:
ek beskou myself as ’n tert met styl
’n work in progress striving to be
’n professional sex worker
Tematiese verskeidenheid is groot: by Stockenström bespiegeling oor die wetenskap as die onverstaanbare begin verdwyn (“Skim”); bestekopname oor wat bereik is in die Afrikaanse letterkunde in “digters incorporated” van Du Plessis; hulde aan ouer digters (“Aan Toon van den Heever” van Bekker). Die ars poetica word egter slegs in een gedig deurgevoer: “In die Tyd van die Poësie” van Pieterse.
Die uiteindelike indruk van “die huidige stand van ons digkuns” is van konvensionele verstegnieke (soos die sonnet), “eksperimente” soos die rock-vers, ’n taamlike groot tematiese verskeidenheid en relatief min gebruik van poëtiese middele. Daar is ’n bevestiging van die posisie van die gekanoniseerdes, en ’n duidelike aanwysing van dié wat dit sal word. Maar van die “opkomende digters” sal ’n mens eers meer moet sien.
Prof. Ampie Coetzee is ’n Kaapse letterkundige.