resensie5

Digters onsterflik, bewys Versindaba

[Die Burger. 12.9.06]

Gerrit Brand


OP die pas afgelope Versindaba op Stellenbosch was lewendes sowel as lewende dooies (John Mbiti se naam vir die voor­ouergeeste) teenwoordig.

Van die afgestorwenes was dit veral Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw, wat tydens hul lewe ’n veelbewoë persoonlike én literêre verhouding gehad het, wat die ­aandag getrek het.
Cussons het van haar laat hoor deur haar Versamelde Gedigte wat op die fees bekend gestel is, onder meer met ’n paar voorheen on­bekende verse. Ook in ’n gesprek tussen die samesteller daarvan, Amanda Botha, en Johann de Lange. En in die eerste Dana ­Mouton-gedenklesing deur Louise ­Viljoen X as een van die “voormoeders” van die digter Antjie Krog.
Maar Cussons is ook opgemerk in Philip de Vos se lang verwagte fotoboek, Milieu, wat eweneens op die poësiefees bekend gestel is X tussen ander beroemde voorouers soos Christiaan Barnard, Frans Claerhout, Rykie van Reenen,
Jan Rabie en Marjorie Wallace, asook lewendes soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Laurinda Hofmeyr, E.K.M. Dido, Taliep ­Petersen, Gerrit Komrij en Karel Schoeman. ’n Wolk van altesame 126 stil getuies.
Louw, vanjaar 100 jaar oud, het op sy beurt die bestanddele van die poëtiese bindingsteks oor die liefde verskaf vir ­Herman van den Berg se opvoering van getoonsette Afrikaanse ­gedigte asook nuwe vertalings van Jacques Brel-liedere deur
Bernard Odendaal. Hier was Louw se stem onmiskenbaar.


Ewe boeiend was sy gesprek met die skrywer Hennie Aucamp, wat sy variasies op Raka met die gehoor gedeel het. Skerpsinnig, gesofistikeerd, snydend en snaaks.
Helaas het Louw in Ballade van die Bose, ’n verhoogstuk gebaseer op sy gedigte opgevoer deur drama­­studente van die Universiteit ­Stellenbosch, in ’n adolessente soort metafisiese gewroeg verval. Uiters onkarakteristiek het hy deur visuele oordaad, sinloos ­herhalende bewegings en die ­mantras van (van alle dinge) ’n spreekkoor, verskraal tot ’n melodramatiese selfbejammeraar. Is dit dieselfde skrywer wat kort ­tevore so lekker met Brel, ­Aucamp en ­ander gesels het?


Maar die digters van duskant die groot drumpel, oud en jonk, was ook daar X deur voorlesing uit hul eie werk, en in die nuwe bloem­lesing Versindaba 2006, saam­gestel deur Marlise Joubert. Van die digters wie se nuwe werk in dié bundel verskyn en wat op die Versindaba opgetree het, is gevestigdes soos Aucamp, Krog, Clinton de Plessis, Diana Ferrus, Petra Müller, ­Vincent Oliphant, Barend Toerien en Wilma Stockenström X laas­genoemde se voorlesing van haar nuwe verse was ongetwyfeld ’n hoogtepunt X en die opkomende digters Ilona Edwards, Danie ­Marais,
Carina Stander, Jasper van Zyl en Willie van der Merwe.


Gert Vlok Nel het sy poësie, ook singend, gedeel, en die Neder­lander Walter Stokman se rolprent Beautiful in Beaufort-Wes, oor Nel se wêreld en werk, is vertoon. Dit is ’n kunswerk van die hoogste ­gehalte: roerend en ontstellend, deerniswekkend en onhutsend ­tegelyk. Net jammer die Engelse onderskrifte, die Nederlander ­Robert Dorsman se vertaling uit die Afrikaans, raak plek-plek die spoor byster: “dalk” word “probably”, “Afrikaans” “Africa”, en “Maggies!” “Christ Almighty”.


Nog ’n beroemde digter wat deels musikaal aan die woord was, ­hoewel nie persoonlik aanwesig nie, is Adam Small, in ’n keurspel oor hom deur Robert ­Pearce en Anthony Wilson.
So ook ’n digter wat Deborah Steinmair “die ghoeroe van ghoema” noem: “Wie is die poëet van serious kakpraat, wie kom die kitaar bokant sy skouer met ’n ­geprakseerde strykstok by? Het jy al vir Loit Sôls raakgeloop?


“Hy sit kiertsregop en geban­dana op die verhoog van die legerige ouditorium. Op sy voorkop blink ’n donkerbril soos die swart saamgestelde oë van ’n insek. Sy lang vingers pluk en sing oor die snare; sy stem is ’n instrument wat ritmies weeklaag.
“Sy klanke is eiesoortig. Daniel Hugo merk op dat Sôls hom oortuig dat walvisse ghoema praat.
“Wat is ghoema? Volgens Sôls ’n state of mind. ’n Straattaal met ­serious beat. Daarin kan jy dinge verwoord soos: ‘Aan wie gaan djy djou deeper trust verleen, met wie gaan djy ’n groot stuk van djou ­matras deel.’


“In sy stem klink die wye nostalgie van velerlei verre kulture. Soms herinner hy aan ’n imam teen sonsondergang, ’n spesery­karavaan in die woestyn, Ali Farka Toure van Mali. In Afrikaans.


“Die man is ’n poet. Sy woorde, nadenkend soos ’n meditasie, slaan jou dwars van jou stoel af:


“ ‘Waa wil djy wies? Ek wil by myself wies. Waa wil djy werk? Ek wil vir myself werk, ekself is dan die werk. In wie wil djy gloe? Ek wil in myself gloe, hie’onne en daa’boe.’
“Sôls is suiwer ritme en tongval. Hy laat woorde perform. Hy laat die doepa van ghoema vibreer. Hy is diep en hipnoties. ­Magic. Hier is ’n digter wat na sy eie pype dans.” (Tot sover Steinmair.)


Op hul beurt het Diana Ferrus en die Mamela Band op die openingsaand bewys dat jazz eintlik uit­gevind is om Afrikaans mee te ­begelei. Of is dit andersom?
Ouhout, ’n musiek-en-bewegingstuk gebaseer op tekste van Piet de Jager en geregisseer deur Adrian Meyer, wek gemengde gevoelens. Met twee klaviere en drie pianiste wat ook sing en beweeg, nog ander musici, ’n treffende stel wat voortdurend van gedaante verwissel, en interessante kostuums en rekwisiete, het dit visueel en klankgewys beïndruk. Maar die woorde was nie altyd goed hoorbaar nie, en self kon ek geen grypbare draad van ­betekenis vind nie. Tog is daar baie wat anders voel.
Daar is ook pryse uitgedeel: die Akkerprys aan
George Weideman vir sy bydrae tot die bevordering van poësie, die Ingrid Jonkerprys vir ’n debuut-digbundel aan ­Rustum Kozain vir sy This Carting Life, en die Proteaprys vir die beste digbundel wat verlede jaar ­verskyn het aan die Vrystaatse ­internis Gilbert Gibson vir sy ­bundel Boomplaats.
Selfs Saterdagmiddag, terwyl die Springbokke teen Australië ­gespeel het, was die H.B. Thom­-tea­ter vol van mense wat hul wou ­vervreet aan verse. Kan daar ’n sterker bewys wees van die digkuns se onsterflikheid? (Of reflekteer dit op die Bokke se vitaliteit?)

Bookmark and Share
  •