Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

resensie6

Rapport 15.10.06

Veelstemmige BUNDEL uit Versindaba

Marthinus Beukes

Dié tweede bundel van die Stellenbosse Versindaba is ’n verbetering op die eerste, Versindaba 2005, wat betref indeling volgens eers gevestigde digters en dan minder bekende stemme.
En dis dan ook ’n veteraan-woordmaker, Hennie Aucamp, wat tref met ’n vernuftige parodie op N.P. van Wyk Louw se Raka – besonder gepas in die Van Wyk Louw-jubileumjaar. In “Die wederkoms: variasies op temas in Raka” lê Aucamp sterk klem op die erotiese aanbod van die dier wat sy “talente” vertonerig wikkel om te beïndruk.
Verkenning van die lyflike liefde word ook deur Vincent Oliphant en Johannes van Jerusalem gedoen as voorbeeld van die seksuele ontdaanmaking. Anders as die eksplisiet-verkennende seksualiteit deur “Van Jerusalem” is Christine Barkhuizen-le Roux se “somer” en “roof” subtiele verkennings van die liefde, en Danie Marais se “In die kraaines” is eweneens ’n deerniswekkende kyk na die geliefde se lyf.
Hoogtepunte in die bundel is die gedigte van Petra Müller
“My praat met haar terwyl sy slaap” en “Hulle, by die warmbad” waar liggaamlikheid en liefde in sagte nuanses vir die leser gestalte kry.
Gemarginaliseerde figure, soos die sekswerker, word deur die nuwe stem Illona Edwards verwoord. So ook is die gedig van Vincent Oliphant “vertigo” ’n blik op die sekswerker met ’n staccato-agtige styl om die “hartklop” van dié “ver ruimtes” te skets.
Marius Crous se “die klip” is geskryf ná die gru-ongeluk van sy geliefde en is een van verskeie elegiese verse in die bundel.
Klip en steen word metaforiese draers van die pyn, ’n amulet teen die rou en smart.
So ook is daar van
Joan Hambidge elegiese gedigte vir haar afgestorwe pa en vir ’n oud-kollega.
Poësie word hier ’n wyse om die droefenis te hanteer “Vir veilige bewaring in my woordkabinet” en “woordargief”.
Diana Ferrus se gedig “Herinneringe” (aan haar ma) is eweneens aangrypend:

Niks is sekerder
as ek en jy
wat stadigaan vervaag
tot skaduwees.

Verlies is dus tematies ’n deurlopende motief. ’n Nostalgiese terugkyk na die verlede van die “Summer Holiday” word deur Zandra Bezuidenhout gemaak in die gelyknamige gedig. Verlies deur slawerny word in die skitterende gedig “Ons Komvandaan” deur Diana Ferrus verwoord, asook ’n politieke stelsel se gevolg in “Kapelaansdiens” deur W.L. van der Merwe. Liggaamsverval word omskryf in George Louw se “Lyflik” en Barend J. Toerien se “Die tacenda”.
Teenoor die oudwordverlies en stuktuurvernietiging van die ouer skrywers is die jonger digters hoopvol. W.L. van der Merwe se gedig “koning in my kasteel” en die jong stem Jasper van Zyl sien boustrukture as ruimtes van hoop.
Ook word Afrika in sy wreedheid en aangrypende skoonheid tot vers gemaak.
Carina Stander se gelade “Wankelland” verwoord Afrika met ’n veelheid van perspektiewe.
Aansluitend hierby is die aangrypende gedig deur wyle
Jan de Bruyn “Beethoven: Sonate no. 32”, waarin die landskap, veral klip, visueel in die gedigvorm en inhoud aangebied word. Die klipmetaforiek van die bundel is dus, soos die gedig, ’n wyse tot bestendiging.
Die natuur word ook treffend beskryf deur Izak de Villiers in “Heildronk”, waar hy eenwording met die natuur begeer:

En iets van my, ek, sal in ’n glas saggies geskud word:
in die geure van God van die wonders en wingerde…
Ook Antjie Krog praat van die aarde as ’n dinamiese wisselwerking van metafoor en sintuie in die gedig “dit rammel sag”. Aarde en liggaamlikheid is in dié gedig só kragtig saamgedig dat dit gevóél word in die afwagting op reën. Heilna du Plooy vertel ook van groei en hoop in dié aangrypende versreëls: Vertel dán, hart van vlees, die stilte opgeskort,/van somergroei wat in die winter vrugte word. Eweneens is Wilma Stockenström se “Skim” ’n kragverwoording van die land- en hemelskap.
In ’n bevraagtekenende stellingstyl in die gedig “Nog teorieë” is Stockenström sinies oor “
’n ou toppie” wat ’n sesdagweek voorgeskryf het, maar die rampspoed en sotheid van natuurlike prosesse triomfeer.
In Clinton V. du Plessis se “bestekopname” word ’n teruggryp na ander digters se werk gemaak. Kennis van die poësie word hier van die leser verwag om die titel en digter met mekaar in verband te bring.
So ook rym die digter Henning Pieterse landskap en poësie in die uitstaande gedig “In die tyd van die poësie”. Herhaling van die titel eggo deur die gedig en bevestig dat die vers bestendig en “herbou” en só teen verlies indryf.
As ek digters kan uitsonder van die gevestigde kader, is dit
Jan de Bruyn (wat vroeër vanjaar ontydig gesterf het), Izak de Villiers (hoe skitterend is die gedig oor Sint Simeon Stilitus nie!), George Louw, Antjie Krog, Henning Pieterse en Wilma Stoc kenström wie se gedigte bakens in die bundel is.
Onder opkomende digters is die stemme vol hoop. Verstommend helder is die sintuiglike belewing in
Carina Stander se “blindelings” om die blind word van haar broer te verwoord. Of die Eros-dissipel Johannes van Jerusalem gaan voortbestaan “om gedigte te maak en daardeur die evangelie van Eros te verkondig”, sal die tyd leer.
Versindaba 2006 is ’n veelstemmige gesprek wat hopelik sal bly soek na toekomstige gespreksgenote.

Marthinus Beukes is ’n senior lektor in die departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)
  • Resensie: Vlindervreter ( Melanie Grobler en Christiaan Diedericks)

Nuutste bydraes

  • Resensie: “Skulpkrale: Kwatryne” (Marié Heese)
  • Nuwe publikasie: “Nogmaals vir die bysiende leser” (Joan Hambidge & Marlies Taljard, Reds.)
  • 100 Duitse Bestes: Jakob van Hoddis (1887-1942)
  • 100 Duitse Bestes: Georg Heym (1887-1912)
  • AVBOB Persverklaring

Nuutste kommentaar

  1. Melanie Grobler on RIV Christiaan Diedericks18 July 2025

    Eugene, baie dankie vir jou gedig. Met liefde, Melanei Grobler.

  2. Bernardus Johannes Odendaal on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)15 July 2025

    Gerard, die vertaling van die gedigte was 'n herkennismaking soos min.

  3. Gerard Scharn on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)13 July 2025

    Geweldig dichter, Benn. Toen ik hem leerde kennen werd ik door het lezen van zijn gedichten zelf ook dichter.

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)11 July 2025

    Hierdie vertalers gee vir ons een van die beste projekte nog op hierdie webblad. Ek lees tans Brecht sing Afrikaans…

  5. Jannie Pretorius on Joan Hambidge. Hierdie lewe11 July 2025

    Mooi!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d