Beeld. 24.9.07
Welkome peiling van ons poësie
Ampie Coetzee
Versindaba 2007 saamgestel deur Marlise Joubert. Protea Boekhuis (sagteband, 59 pp.) R100.
Dié nuutste versameling is weer saamgestel deur Marlise Joubert, weer met die nuttige indeling in “gevestigde” en “opkomende” digters.
Daar is minder digters in hierdie bloemlesing as in die vorige twee bundels. ’n Mens kan sekerlik nie nou al hieruit voorspellings oor “die toekoms van die Afrikaanse poësie” maak nie.
Die gevestigde digters is T.T. Cloete, Hans du Plessis, Louis Esterhuizen, Gilbert Gibson, Jeanne Goosen, Joan Hambidge, Marlise Joubert, H.J. Pieterse, Dolf van Niekerk, Cas Vos, M.M. Walters en George Weideman. Die opkomende digters is Willem Fransman jr., Charlton Lee George en Bernard Odendaal.
Ek gaan, eerder as om te rubriseer, die bundel eers lees soos ’n mens gewoonlik lees: van begin tot einde, met bespiegelings oor gedigte waar van toepassing, en met die uitwys van gemeenskaplike aspekte. Nie noodwendig by elke digter nie, en weglating is nie kommentaar nie.
’n Goeie begin vir die bundel is T.T. Cloete se gedig “Identiteit”, met hierdie volkswysheid:
Praat is menslik, maar vir mekaar
is ons soos die diere as ons praat
onderling onverstaanbaar
Die twee gedigte wat daarop volg, van Hans du Plessis, is van die aanpassing-van-die-Bybel-soort én in die “volkstaal” (vulgaat/Kaaps), soos deur Adam Small begin is. Sy poëtiese benadering is anders en nuut: Hy herskryf byna letterlik Bybeltekste. Soos die bekende Psalm 2 (“waarom woel die nasies, en bedink die volke nietige dinge?”):
Nou vi wat woelie wêreld
En dink heidense goeterse?
Hulle se voormanne span saam
Ennie kapteinse hou krygsraad
tenie Jirre en Hom koningkjent.
Hulle sê hulle gat spanriem breek
En orie Jirre se kraalmuur spring.
“Repos Ailleurs” (Louis Esterhuizen) beskryf in metafore: “…Wellington iewers / agter die horison en opgedamde lig / verwater”. En ook idillies – tot by die droom: “asof jy Piet Retief is, kompleet / met skaaf en tuig en waens wat wag. Om noordwaarts te trek, of waar die rus is.”
Die volgende gedig van hom – dink ek – raak te lank.
Die herinterpretasie van ’n Bybelverhaal raak meer gekompliseerd, byna kripties en nie eenduidig nie, in Gilbert Gibson se “moria”, met as temareël “op ’n dag ’n knipmes”. Soos Abraham ’n mes saamgevat het toe hy Isak moes gaan offer op Moria. Hier is dit verander en veraards tot ’n pa en seun wat na ’n winkel gaan en dan is daar ’n knipmes, en die seun sny sy vinger. Die gedig eindig met:
In die wegkeer van die oog ’n eerste
offer wat tydig en verwoed die lem bring tot
die herhaling van bloed.
Dis nie ’n eenduidige gedig nie, maar dit lyk my só loop die pad van die woord vir Gibson.
Die gebruik van herhaling kom nogal dikwels in die bundel voor. Soms weet ek nie of dit nodig is nie. Soos by Jeanne Goosen se “My Mamma is Bossies”. Joan Hambidge, daarenteen, is meer gestruktureer in haar herhalings. In “Rondeau” berei die betekenis van die titel voor vir die herhaling van “Nou dat jy weg is…” Hoewel dit ritmies werk soos die hoefslae van perde, is die gedig van Marlise Joubert (“steursange”) te lank.
Pieterse se vertaling van een van Rilke se “Duineser Elegien” is sekerlik goed, maar dit sal die leser tog ’n bietjie in die duister laat.
Daar is nie ’n oorvloed van metafore in die gedigte in die versameling nie, maar by Dolf van Niekerk word ’n mens getref deur die gebruik daarvan in geboorte-beelde:
Was dit sluiers
of membrane waardeur ek
na die lig moes beur;
of dalk ’n muur, ’n heg
van dorings…?
’n Verrassing is die twee gedigte van M.M. Walters. ’n Mens hoor nie meer dikwels van hom nie, en dis jammer. Sy satiriese aard is duidelik in “Die Boerekerk is aan die kwyn”:
Dié kerk is uit, daar is ’n koeël deur
Die sandkasteel wat deur die tydgolf
Weggespoel word…
Weer deur herhaling, maar in ’n gedig wat ’n refrein van ontnugtering word, bekla George Weideman (in 2007) politieke onstabiliteit (“Die reënboog het verdof, Madiba”).
Ten slotte, iets oor die drie “opkomende digters”.
Willem Fransman jr. skryf “virrie taal, innie taal… Ná al die geskree oor alles verby is, / skryf dan ’n gedig innie taal. / Wéér om die taal te red!?” Sy ander gedig, “Ek likes democracy”, is ’n grap, maar dis te uitgerek om snaaks te wees.
Charlton Lee George skryf, onder meer, ’n opstandgedig, maar sonder ’n besonderse wending.
Die nostalgiese gedigte word voortgesit in die nostalgie oor die verdwyning van die idille van die plaas in Bernard Odendaal se gedigte, met frases soos “plasies op die rand van die niet”. Hier is ook – die eerste? – plaasmoord-gedig, met die skrynende titel – ’n gesegde van die vriend wat vermoor is: “Hoeka so iets van daardie aard”.
Al is daar minder digters in dié versameling, bly Versindaba een van die enigste peilings van die nuwe Afrikaanse poësie. Daarvoor moet ’n mens dankbaar wees.
Prof. Coetzee is ’n letterkundige van Kaapstad.