resensie8

Die Burger 10.9.07

Versindaba 2007

Alle visse van oseaan in visbak saam

Joan Hambidge

DIE digters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert se Versindaba is meer as ’n prestasie. Om digters uit verskillende diskoerse met verskillende opvattings en skryfaanslae in die H.B. Thom-teater byeen te bring, vra enorme insig en beplanning. (Digters is soos skoonheidskoninginne: ’n bietjie nydig op mekaar.)


Op die
Versindaba 2007 was ’n opvallende aanwesigheid van musikante en hul vertolkings van die digkuns. Dit op sigself beteken dat die grense van die digkuns verander het wanneer gedigte op ’n verhoog vertolk word.


Riku Lätti en Roof Bezuidenhout, onder andere, herinner ons daaraan dat gedigte oorspronklik gesing is en dat die musikale en liriese aard van die digkuns nooit onderskat of genegeer mag word nie. Die sogenaamde lied of song daag opvattinge uit, en Bezuidenhout se praatverse lewer bewys van ’n onbetwiste talent.
“Wat is Poësie?”, die titel van die Dana Mouton-gedenklesing, het my hierom onmiddellik laat opmerk: Daar is nie iets soos poësie nie, maar alleen verskillende vorme en uitinge van die digkuns. En op die Versindaba kon die leser dit meemaak.
Die postmodernisme het waarskynlik begin wegkalwe aan verskeie oudmodiese sieninge van die gedig as ’n outonome, afgeslote eenheid. Gedigte, soos hul lesers, het deur die jare verander.


Op die
Versindaba 2007 kom ’n mens onder die indruk van die verskillende stemme in Afrikaans. Die openingswoord van Nicol Stassen maak ons daarop attent dat daar reeds die afgelope drie jaar 70 digters by die show-case uitgestal is!
Vyftien digters word opgeneem in die blou boekie van die Versindaba, en reeds hier sien ’n mens verskillende tendense. Dit is wonderlik om Willem Fransman sy gedigte te hoor voordra sodat dit op papier ’n nuwe betekenis kry. Jeanne Goosen skryf eweneens ’n soort praatvers, en haar nuwe bundel, ná ’n stilte vanaf 1975 as digter, maak opslae.
Elders aan diens roep sy haar bundel met hartroerende en skreeusnaakse verse. Gedigte waarin die ongemak met die lewe ’n aweregse klaagsang word.
Dit wil voorgedra, gehoor word teenoor die digkuns van H.J. Pieterse, van wie pas ’n pragtige vertaling van Rilke se Duini-elegieë verskyn het wat die stip blik vra.
Dieselfde geld Gilbert Gibson se gedigte. Iets gebeur onder en tussen die reëls wat ’n tweede, derde lees van die leser opeis.


Binnekort verskyn ’n bundel van
Bernard Odendaal, en die leser/toehoorder hoop die verse in die bundel,Onbedoelde Land, praat sterker as hierdie bydraes.
Odendaal se verse weifel tussen die praat- en intellektuele vers en wen beslis aan ’n emotiewe voorlesing deur die digter self.


Dolf van Niekerk se Nag op ’n Kaal Plein het my diep ontroer met gedigte wat tussen droom en werklikheid, lewe en dood beweeg. ’n Viool draal in die agtergrond
. . .
Die teoloog
Cas Vos bring vir ons onder meer ’n klaaglied wat op die Gilgamesj-epos gebaseer is, terwyl M.M. Walters, een van die voorste satirici, lekker klaarspeel met die kerk en ander leuens van die dag.


George Weideman is en bly ’n toegewyde digter wat oneindige aandag aan struktuur gee. Nie alleen word in verskillende soort Afrikaans gedig nie (van verhewe studeerkamer-Afrikaans tot sleng en Kaaps), maar ’n skerp en ontstigtende blik op Suid-Afrika word gegee: plaasmoorde, kerkdispute, verliese, die invloed van die wetenskap en ou mitologie op ons lewe met ’n deurgaanse herbesinning, bewus of by implikasie, oor wat ons identiteit behels.


Tereg skryf T.T. Cloete ’n gedig met die titel “Identiteit”!


’n Happening dus waar die grense tussen konvensionele gedigte en musiekvertolkings vervaag. Selfs
Cas Vos laat ons na Paderewski se menuet luister; dan kom die gedig wat betekenis kompliseer.


Slypskole vir beginners en gesprekke oor skryfskole het die daad by die woord gevoeg.
’n Boekie is uitgegee van die digters wat opgetree het:
Versindaba 2007, saamgestel deur Marlise Joubert en uitgegee deur Protea (ISBN 978 86919 2105).


Sy gebruik ’n vismetafoor om die verskillende soort digters te probeer opsom in haar inleiding: “van klein sardientjies tot groot kabeljoue!”.


Is ’n gevaarlike haai in ons poësie-waters al opgemerk? Een wat van sardientjies met rooi skoentjies hou?


Alle grappies op ’n stokkie: Dit is ’n tydsdokument hierdie, en die Vers­indaba bly ’n forum vir alle poësielesers in Afrikaans wat werklik nie kla oor die groot vloed van digbundels wat steeds bly verskyn nie.


“Ons kan nie leef sonder poësie nie,” is die refrein wat ons telkens hoor.
Daar was dus vir elke leessmaak iets te vinde hier.


Verskillende vorme van die poësie het tot uiting gekom: van Ferguson (ja, hy met die cowboy-hoed!) se wonderbaarlike songs tot Niel Rademan se aangrypende vertolkings met ’n latter day- Fluitende Predikantsvrou neffens hom.


Nou ja. Daar word vertel dat iemand besig is om Van Sjofar tot Sjalom vir die KKNK te verwerk en dat die konsertina en die banjo ingespan word om die subtiliteite oor te dra!

Bookmark and Share
  •