Die Burger. 1.8.2007
Digters hou weer beraad op Stellenbosch met Versindaba
Gerrit Brand
DANIE MARAIS en Gilbert Gibson is van die bekroonde digters wat gesig gaan wys op die derde Versindaba wat van 6 tot 8 September in die H.B. Thom-teater op Stellenbosch gehou word.
Marais, wat verlede jaar op die Versindaba as “opkomende digter” opgetree het, is intussen vir sy debuutbundel, Uit die Buitenste Ruimte, as wenner van die Eugène Marais-, die Universiteit van Johannesburg- én die Ingrid Jonkerprys aangewys. Hy sal laasgenoemde prys op die fees van Daniel Hugo, een van die beoordelaars, in ontvangs neem.
Gibson het verlede jaar op die fees die Proteaprys vir die beste digbundel in die voorafgaande jaar ontvang vir sy debuutbundel, Boomplaats, waarmee hy die kortlys vir vanjaar se Ingrid Jonkerprys gehaal het. Sy tweede bundel, Kaplyn, het pas verskyn. Hy sal op twee geleenthede uit sy werk voorlees.
Die Proteaprys sal vanjaar op die laaste aand deur Nicol Stassen van Protea Boekhuis oorhandig word.
Die Akkerblaarprys, wat die afgelope twee jaar aan R.K. Belcher en George Weideman onderskeidelik vir hul bydrae tot die poësie toegeken is, word nie vanjaar toegeken nie. By navraag het die organiseerder van die Versindaba, Louis Esterhuizen, gesê dié prys word voortaan net elke twee jaar toegeken.
Die Dana Mouton-gedenklesing, wat verlede jaar die eerste keer met Louise Viljoen as spreker aangebied is, word vanjaar deur die skrywer en letterkundige Lina Spies gehou. Die tema is “Wat is Poësie?”.
Van die ander digters wat uit hul werk gaan voorlees, is Willem Fransman, Joan Hambidge, Cas Vos, Marlise Joubert, H.J. Pieterse, Charlton Lee George, Bernard Odendaal, Louis Esterhuizen, Susanne Beyers, Jeanne Goosen en George Weideman.
Ampie Coetzee, Johan Nell, Jo-Marie Nel en Helena Conradie sal uit die werk van onderskeidelik Breyten Breytenbach, M.M. Walters en Belcher, Hans du Plessis en T.T. Cloete voorlees.
Poësie word ook in verskeie gedaantes met musiek gekombineer: Dave Ferguson sal sy kenmerkende blues-poësie op twee geleenthede uitvoer. Die rapper Jitsvinger gaan optree. Dolf van Niekerk, wie se bundel Nag op ’n Kaal Plein onlangs verskyn het, se poësie sal saam met musiek voorgedra word. Riku Lätti en H.J. Pieterse, wat vir onderskeidelik die musiek en poësie in die KKNK-produksie Die Burg van Hertog Bloubaard verantwoordelik was, gaan saam optree.
Niël Rademan & Vriende gaan ’n musiekproduksie met ’n poësiefokus aanbied, terwyl Philip de Vos voordrag met musiek gaan kombineer. En kunstenaars soos Roof Bezuidenhout, Anton Goosen en Jak de Priester gaan optree.
Aan die gespreksfront sal Hambidge en Pieterse oor “Kreatiewe-skryfkursusse X Die Kinkel in die Kabel” gesels. Weideman en Du Plessis gaan oor hul werk in gesprek tree. So ook Van Niekerk en Lucas Malan.
Sleursange, luidens die persverklaring ’n “kabaretagtige” produksie waarvan Joubert die teks geskryf het, geregisseer deur Mareli Hattingh, word deur die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement opgevoer.
Die omroepers Johan Rademan en Margot Luyt, die skrywer Riana Scheepers en die akteur Susanne Beyers sal as seremoniemeesters van die verskillende sessies optree.
Die volledige program kan by www.proteaboekhuis.co.za of www. woordfees.co.za besigtig word. Kaartjies kos R60 vir al drie die aandprogramme en R20 vir die oggend- en middagaanbiedings op die Saterdag. Studente en leerders betaal ’n spesiale prys.