Posts Tagged ‘2017 AVBOB Poësieprys (Sotho)’

Nini Bennett. ’n Digterlike reis

Thursday, July 2nd, 2020

 

 

1.

 

Op 6 Junie vanjaar het die meertalige AVBOB Poësiereeks, I wish I’d said, afgeskop. 13 digters, 11 tale, 30 dorpe en stede en 11 000 km dwarsoor Suid-Afrika – die reeks vertoon op SABC 2 elke Saterdagmiddag tussen 14:00 – 14:30, en bestaan uit 13 episodes. Die digters bied elk ’n intieme binnekyk op hul lewens en digterskap; hulle grootwordjare…en dít wat hulle inspireer om te dig. Dit is die egtheid van die reeks wat opval. Die digters gesels – heel outentiek – in hulle onderskeie moedertale en die anderstalige kykers kan die programme volg via die Engelse onderskrifte. En, vir diegene wat hierdie kleinodes misloop word daar na afloop van elke program ’n YouTube-skakel beskikbaar gestel.

Digters is tradisioneel die profete, lofsangers, trabadoers en genesers van ’n samelewing, maar hulle nie sal huiwer om sosiale kritiek te lewer indien nodig nie. Deels dokumentêr, deels reis en deels ontdekking: In vanjaar se I wish I’d said maak die kyker kennis met ’n werker by ’n kragsentrale, ’n Swazi-prinses, ’n hoenderboer en ’n universiteitsdosent, om enkeles te noem. Poësie en storievertel loop immers hand aan hand en verhale uit die omgewing van Verdwaal en Ficksburg, Gemsbokspruit en Ga Matlala kry gestalte as die vorige AVBOB Pryswenners hulle harte teenoor kykers oopmaak. Elke program is ’n digterlike reis in eie reg.

Sedert die aankondiging van die AVBOB Poësiekompetisie op Mandeladag 2017, is daar reeds oor die 80 000 gedigte ontvang waarvan 10 000 op AVBOB se Poësiewebtuiste gepubliseer is. 2019 se Ek wou nog sê…-reeks het gefokus op Afrikaanse digters, terwyl vanjaar s’n ’n polifoniese klank het. Poësie – in al elf landstale – reik egter duskant geografiese of kulturele versperrings en die reeks verenig ons ryke diversiteit in ’n kollektiewe mosaïek van verlies, liefde en genesing.

 

2.

 

I wish I’d said…SO1E01

We are born of the same black womb

We originate from one bone and feed from one bowl

– Tieho Mkhendane

 

In Komati, ’n uur se ry vanaf Middelburg, kom ons die 2017-Sotho AVBOB Pryswenner teë. Tieho Mkhendane is ’n algemene werker by die plaaslike kragsentrale. Hy is ‘n sensitiewe man en praat sag; vertel van sy kinderjare wat hy as ‘normaal’ (nie goed nie en nie sleg nie) beskryf. Twee van sy sibbe het jonk gesterf en hy het sonder ’n pa grootgeword. “My moeder het haar swaarkry vir ons weggesteek,” sê hy peinsend. “Sy het half ses soggens van die huis vertrek en saans sesuur teruggekeer.” Tog; ten spyte van armoede en uitdagings is Tieho dankbaar dat hy ’n goeie opvoeding gehad het. “My moeder se gebede het my saans aan die slaap gesus. En as ek soggens wakker geword het, het sy steeds gebid. Haar gebede was my alarm.” Die kamera toon ’n vrou se hand wat herhaaldelik deur ’n Bybel blaai. Tieho se moeder se geloof sou later ook sý rigtingwyser word.

Die digter se gesig helder op wanneer hy van sy ouma vertel. Skoolvakansies was die hoogtepunt as die uitgebreide familie se kinders by nkgono gaan kuier, dan het sy die lekkerste kos gekook en daar was selfs genoeg vir ‘n tweede opskep ook! Vir ’n oomblik sien die kyker iets van Tieho se edel en onbedorwe karakter, en kyk verder, knop in die keel. Dit was egter met sy ouma se afsterwe dat Tieho sy passie vir poësie ontdek het. “Skryf ’n treurdig,” het Mampone, soos hy teer na sy moeder verwys het, voorgestel. “Wat is ’n treurdig?” wou die seun weet. En sy het verduidelik dat hy al die hartseer wat hy in hom opkrop, op papier moet neerpen.

Die lig het vir die jong digter opgegaan, want hy het immers gereeld poësie gelees. “Almal in die kerk was aangedaan en het gehuil toe ek my gedig voordra. My moeder het aanvanklik nie geglo dat ek dit sélf geskryf het nie!” voeg hy trots by. Ná die skryf van sy ouma se begrafnisvers het Tieho ’n merkbare emosionele verligting ervaar, en besef dat die weg van poësie in die toekoms inderdaad een van ontlading sou wees. Dat hy ook die seer namens ánder kon verwoord, en so genesing vir talle van sy lesers sou bring.

Die program berig oor Tieho se jeugjare in Masaleng-laerskool en die gelyknamige hoërskool tot op Wits se studentekampus, waar hy as jong student Politieke Wetenskap wou studeer. Maar dit was nie die loopbaankeuse wat hy in gedagte gehad het nie: Tieho het homself op nóg ‘n kruispad bevind – en besluit om ’n priester te word. En die jongman het vertrek na Vrede, na die kweekskool om die nodige opleiding te kry.

Maar ook hier, op Vrede, het Tieho ironies genoeg nie sy vrede gevind nie. Hy kyk reguit in die kamera en bieg, doodmenslik: “’n Rooms-katolieke priester mag nie vrouvat nie. En ek kan nie sonder ’n vrou leef nie.”

Terug op Ficksburg het Tieho die liefde van sy lewe ontmoet en getrou. Sy droom om gesinsman te word, is bewaarheid. Maar die verlange bly altyd dié digter se deelgenoot… as gevolg van werksverpligtinge sien hy sy gesin net een maal ’n maand.

Hoe het die plaaslike gemeenskap Tieho se digtalent raakgesien?

’n Vriend vertel hoe Tieho ’n gedig voorgedra het tydens ’n Kaizer Chiefs- en Pirates-wedstryd. “Ek het net hierdie wondermooie stem in die agtergrond gehoor, maar sou nooit kon droom dat dit Tieho se gedig is nie…”

Dit was toe die dood vir die derde maal aan Tieho se deur kom klop, dat hy trefseker geweet het wat sy roeping in die lewe is: Hy moes sy digterskap uitleef; dit uitdra na ander sodat die bloeigrond van sy eie verdriet ook vir hulle genesing sou bring.

Wie was dit? Wie het die dood kom haal? Die digter laat sak sy kop. ’n Aar bult op sy voorkop en sy pyn is tasbaar. Mampone. Sy geliefde moeder is op 29 Desember 2016 onverwags aan ’n asma-aanval oorlede. “Sy het geweet sy gaan dood,” sê hy moeisaam. “My kinders,” was haar laaste woorde toe sy twaalfuur die nag almal byeen geroep het. “Sy het vroeër die dag al ons wasgoed gedoen.” Die kamera toon ’n paar wasgoedpenne wat verwese aan ’n kaal wasgoedlyn bly dobber. En weer tref dit my: I wish I’d said se beeldmateriaal beweeg soos vloeibare poësie self – danksy die direkteur van fotografie, Phumelani Mdlalose en sy span wat die kinematografie behartig het.

Vir die soveelste maal vee Tieho die trane weg. “My moeder het bevestig dat ek ’n digter is. Ek het nie die kwalifikasies nie, maar in my hart weet ek ek is ’n egte digter, een in murg en been.”

Dan helder sy gedig op en hy vertel van die AVBOB Poësieprys wat sy lewe onherroeplik verander het. Afgesien van ’n welkome kontantbedrag, is dit die digkunsreuse en mentors wat deurlopend in sy talent belê met raad en leiding. Tieho is ook die trotse eienaar van ’n Facebook-digblad, genaamd “Mohloding oa Lethabo”, waar hy oor bykans enige onderwerp dig.

 

3.

 

Vanjaar, met die uitbraak van Covid-19, is die AVBOB Poësieprojek meer relevant as ooit. Ons almal staar dood en verlies in die gesig; al is dit dalk nie dood in die letterlike sin van die woord nie, is dit waarkynlik ekonomies. Of metafories. Suid-Afrika treur, en gewone mense, ontluikende digters en lesers uit alle strata van die samelewing sal opnuut die transformerende krag van poësie ontdek. Ten spyte van die verdelende magspolitiek van politici, is die boodskap van dié projek dieselfde: dit is ’n oproep na eenheid en genesing. Daar is hoop en daar ís lewe na die dood.

Hier volg die volledige programskedule:

Episode 1: Tieho Mkhendane (2017 AVBOB Poetry Prize Sesotho)

Episode 2: Nokukhanya Mahlalela (2018 AVBOB Poetry Prize Siswati)

Episode 3: Kutsi Emmanuel Lindinkosi Mpanza (2017 AVBOB Poetry Prize isiZulu)

Episode 4: Kgabo Sebatjane (2018 AVBOB Poetry Prize Sepedi)

Episode 5: Tom Dreyer (2018 AVBOB Poetry Prize Afrikaans)

Episode 6: Nthabiseng Cujane (2017 AVBOB Poetry Prize Setswana)

Episode 7: Kedibone Mphethi (2019 AVBOB ‘What if, South Africa’ Prize English)

Episode 8: Patrick Khosa (2018 AVBOB Poetry Prize Xitsonga)

Episode 9: Lynthia Julius (2017 AVBOB Poetry Prize Afrikaans)

Episode 10: Mfana Solomon Skhosana (2018 AVBOB Poetry Prize isiNdebele)

Episode 11: Simphiwe Nolutshungu (2018 AVBOB Poetry Prize isiXhosa)

Episode 12: Caroline F Archer (2017 AVBOB Poetry Prize English)

Episode 13: Maṱodzi Magoro (2018 AVBOB Poetry Prize Tshivenda)

Die AVBOB Poësiekompetisie skop vanjaar af op 1 Augustus en sluit op 30 November. Die wenners van die 2019 AVBOB Poësiekompetisie word in Augustus aangekondig. Vir meer inligting besoek die AVBOB Poetry Facebookblad of www.avbobpoetry.co.za.

 

Verwysings:

www.avbobpoetry.co.za.

https://www.avbobpoetry.co.za/Blog/View/42

 

  •