Posts Tagged ‘Aarde na firmament resensie’

Resensie: “Aarde na firmament” (Lina Spies)

Tuesday, June 14th, 2022

 

 

 

Resensie: Aarde na firmament deur Lina Spies. Naledi, 2022.

Resensie: Neil Cochrane

 

Lina Spies is een van ’n groep Afrikaanse vrouedigers wat gedurende die 1970’s debuteer – ’n dekade waarin bundels deur vrouedebutante ’n oplewing beleef. Mens dink hier aan debutante soos Sheila Cussons, Antjie Krog, Petra Müller, Wilma Stockenström, Rosa Keet, Eveleen Castelyn en Rika Cilliers. Sedert haar debuutbundel, Digby vergenoeg (1971), lewer Spies ’n eiesoortige bydrae tot die Afrikaanse poësie en kan sy tereg as ’n deurwinterde en geliefde digter bestempel word. Menige skoolkind het haar gedigte in die Afrikaans-klas behandel – “Op die dood van Riëtte”, “’n Paternoster vir Suid-Afrika”, “Lied van die kinders” en “Anne Sexton en Kie” om ’n paar te noem. Spies se liefde vir en toewyding aan die digkuns is onteenseglik. Hiervan getuig haar elf digbundels, talle artikels oor die digkuns en ander digters se werk en vakwetenskaplike boeke. Sy is ook psalmberymer en vertaler.

Haar akademiese bydrae, “Wat is poësie?: die misterie van ’n ondefinieerbare genre” (2007) wat in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans verskyn, bly vir my een van die mees informatiewe beskouings oor die poësie. Hierdie artikel is verpligte leesstof vir alle poësieliefhebbers, aspirantdigters en letterkundestudente. Hierin diskrediteer Spies die beskouing dat goeie poësie deur iederman geskryf kan word:

Die vermoë om te kan dig, is in laaste instansie ’n gawe. Juis omdat die materiaal van die digter algemeen menslike besit is, nl. die taal, kan elke mens onder dwang of deur blote wilskrag soms ’n “gedig” maak, maar hy sal nie daarin slaag om sy maaksel asem in te blaas nie. Soos die geval is met ’n talent vir die musiek en vir die skilderkuns, is die ontvanger van die gawe van die woord hom of haar reeds vroeg daarvan bewus. (Spies, 2007:106)

Ek hoop almal wat so ywerig dig op sosialemediagroepies en meedoen aan amateuragtige “digkompetisies” neem hierdie woorde ter harte. Poësie is nie ’n vorm van vryetydsbesteding of egomassering deur vriende en familie nie. Dit is nie fotoplakwerk of die bou van legkaarte op ʼn loom Sondagmiddag nie. Gewis gaan dit nie om die aantal “likes” wat jy kry nie.

Terug na die bundel onder bespreking. Die spreker se herwaardering vir die aardse bestaan word in die bundeltitel en motto’s aangestip. Dit funksioneer as ʼn deurlopende tema en kom reeds in die openingsgedig ter sprake: “Daagliks staan ek op die aarde/met sy mak diere en sy plantegroei/en verlustig my in die skoonheid daarvan”. Sinmaking is dikwels in die natuurlike wêreld verskuil vir diegene wat bereid is om waar te neem en te luister. Hierdie aspek word goed verwoord in gedigte soos “Saluut aan die lewe”, “Pryslied”, “Oggendgroet”, “Lente op Stellenbosch” en “Liefdesbetuiging van die tuinier van Agapé”. Wysheid is ook te bespeur in die klein dinge soos ’n vlinder wat vasvlieg teen ’n spandoek of om ’n dooie duifie te begrawe. Dit is juis hierdie alledaagshede wat die spreker akuut bewus maak van skoonheid en sterflikheid.

Deurlopend is ’n spreker aan die woord wat uit bitter én soet erdekruike drink, maar steeds met verwondering en vreugde die aardse lewe koester. Dié lewenshouding word bevestig in die pandemiegedigte in die kort gedigreeks, “Pandemie” waarin die spreker sterk fokus op die verrykende aspekte van die grendeltydperk en waardering uitspreek dat sy nie net oorleef het nie, maar steeds met welbehae kan lééf:

 

Maar op kort afstande my beskore,

verheug ek my tree vir tree

oor die lewe en die liefde

van wie nie verskietende sterre was nie

maar in gedwonge geskeidenheid

bly skyn aan die hemelboog van my hart.

 

Spies is bekend vir verse waarin religiositeit en Bybelse intertekste ʼn belangrike rol speel. Dit is ook die geval in haar jongste bundel waarin die spreker se genoegdoening pens en pote met sekulêre dinge verband hou. Hier is nie sprake van gedigte waarin sy reikhalsend uitsien na die hemelse paradys en die aardse bestaan afsweer nie. Nee, haar Godsbewussyn en die goddelike vind sy juis in die aardse verkenningsveld – Mozart se musiek, die Bolandse landskap, haar digkuns, vriendskappe en die diereryk (óók troeteldiere).

Spies se vorige verse oor haar afgestorwe katte is roerend en hiermee het sy dan ook die grense van die elegie verskuif, want digters hoef nie slegs oor ontslape digters, kinders of lewensmaats te treur nie. Weereens verskyn ʼn baie interessante katgedig getiteld “New England se wraakgodin” waarin Spies se verknogtheid aan katte en Emily Dickinson op ʼn verrassende wyse saamgesnoer word. Die gedig sluit ook baie nou aan by Spies se uitmuntende verse oor die alleenloperbestaan. Die spreker kom egter hier tot ʼn vernuwende insig oor die rol van troeteldiere in die pilaarheilige se lewe én watter implikasies die verlies van geliefde katte en honde vir hom of haar kan inhou.

ʼn Elegiese toon oorheers in gedigte waarin die spreker peins oor die verganklike aard van die lewe. In dié verse is son- en skemerbeelde besonder effektief om die spreker se besinnings oor haar lewensgang te beklemtoon. ʼn Pragtige voorbeeld is “Elegie by sonsondergang” – ʼn andersoortige elegie – waarin die ouer spreker haar verdriet en verliese erken, maar steeds nie gereed is om afskeid te neem van hierdie lewe nie: “Al wat ek vra, is ʼn nag sonder maan./ Kwynende son, skyn nog ʼn bietjie langer!” Ons het nie hier met ʼn konvensionele roudig te doen nie. Hierdie gedig is eerder ʼn smeekgebed om langer te lewe.

ʼn Hoogtepunt is die elegiese liefdesgedig “Daardie dag”. Die gesprekstrant, suiwer eenvoud en doodgewone menslikheid van hierdie vers beïndruk. Soms is ʼn gestroopte vers die beste vers. Hierdie leser verloor gou belangstelling in oorgestileerde verse. Die vere maak nie die voël nie.

In Aarde na firmament kom bekende temas in Spies se digterskap aan bod – gesprekke met Emily Dickinson, die natuur, die kunste en die onpeilbare paaie van die liefde. Tog slaag sy daarin om plek-plek ʼn ander invalshoek te bied op die temas wat haar nog altyd na aan die hart lê. Daar is ʼn beskeidenheid, teerheid en dankbaarheid wat opval en miskien tekenend is van ʼn spreker wat verganklikheid lynreg in die oë moes kyk.

Spies het nog nooit geskroom om te dig oor die kleiner persoonlike sfeer nie. Die gevaar hiervan is dat haar gedigte dikwels vasgemessel is in ʼn insulêre bestaan en spesifieke belangstellings wat naderhand oordrewe en eenselwig voorkom. Is Stellenbosch en die Boland werklik só idillies? Is Mozart die enigste komponis wat ontroer? Is daar geen ander digterlike gespreksgenoot as Dickinson nie? Ongelukkig fokus die gedigte in haar jongste werk weereens te veel op die private hemel en hel.

ʼn Sterker aansluiting by wyer sosiopolitieke wêrelde ontbreek. Waar is die gedigte met ʼn satiriese en ironiese strekking (à la Eybers)? Gedigte wat ondermyn, relativeer en ontstel. Minder idealistiese verwondering. Meer kritiek en minder dankbaarheid. Spies het reeds bewys dat sy gedigte kan skryf met meer om die lyf. Die selfironiserende toon in “Vrygesel” uit Dagreis (1976) is ʼn goeie voorbeeld. So ook die eerlike bitterheid in “Uitwiskunde” uit Van sjofar tot sjalom (1987). Hoe dit ook al sy, kan ek nie die digter blameer vir my voorkeure nie.

Spies se digterlike vakmanskap is bo verdenking. Haar jongste verse getuig van goeie afronding en weldeurdagte keuses, alhoewel kleinighede steur soos te veel versreëls wat met “en” en “om” begin. Soms kan die snoeiskêr oorbodige en verslete adjektiewe soos “besmetlike koronavirus” en “glimmende maanlig” afknip. Woorde soos “musiseer” is gewoon te hoogdrawend. Dis is ook jammer dat Spies nie haar hand aan vaste versvorme waag nie, maar telkens op die vrye vers steun.

Liefhebbers van behoudende digkuns sal aanklank vind by Spies se elfde digbundel. Daar is ʼn paar verrassings, maar Spies is nie ʼn waaghals nie. Hopelik sal hierdie bundel ingewyde en oningewyde poësielesers aanspoor om die hele Spies-oeuvre te lees of te herwaardeer. Ek glo dat lesers vertroud moet wees met ʼn digter se totale digterskap, want om slegs haar mees resente bundel te verken, laat nie reg geskied aan ʼn belangrike digter soos Spies nie. Johann de Lange se keur uit haar werk, Die skyn van tuiskoms (2010), is ʼn goeie wegspringpunt.

Naledi Uitgewers verdien ʼn pluimpie vir die keurige versorging. Hierdie uitgewery lewer goeie werk. Doen so voort.

 

Met Aarde na firmament gaan Spies nie Papegaaiberg verskuif nie. Sy voer wel ʼn oortuigende gesprek oor die élan vital waaroor ons beskik. Sy openbaar ook hoe waardevol dit is om waarderend te leef. Vandag. Hier en nou. Op die aarde.

 

Bronnelys

Spies, Lina. 2007. Wat is poësie?:die misterie van ʼn ondefinieerbare genre. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 14(1):93-109. Aanlyn beskikbaar: https://www.savn.org.za/images/stories/documents/TNA/TNA%2020071.pdf